Inleiding
Openbaring 7 kan in twee dele verdeel word. Ons lees van twee groepe mense, een ʼn telbare getal en die ander ʼn ontelbare menigte. Deur die geskiedenis is daar baie gedebatteer oor wie hierdie twee groepe verteenwoordig en sommige glo dat dit een en dieselfde groep mense is. Daar is egter vir my ʼn duidelike verskil tussen die twee groepe. Eerstens is die eerste groep telbaar en word daar duidelik vir ons vertel uit watter nasie hulle kom. Ten tweede is die een groep nog op die aarde terwyl die ander groep, die ontelbare menigte, voor die troon van God is. Briljante, godvresend teoloë verskil hier van mekaar. Al twee verduidelikings neem egter geensins weg van die feit dat God absoluut in beheer van hul redding is en dat Hy hulle sal vashou en die oorwinning sal gee nie. Ons gaan in hierdie blog inskrywing fokus op die eerste groep wat genoem word, nl. die 144 000.
Verseël
Die hoofstuk begin om ons te vertel van vier engele wat op die hoeke van die aarde staan en die winde daarvan weerhou om op die aarde te waai. Die vier hoeke van die aarde is tipies deur die Skrif ʼn beskrywing van die hele wêreld.
- Daniël 8:8 Die bokram het homself besonder groot voorgedoen. Maar toe hy sterk geword het, het die groot horing afgebreek. Vier opvallende horings het in die plek daarvan gegroei, na die vier windrigtings van die hemel.
- Matteus 24:31Hy sal sy engele stuur met luide trompetgeskal, en hulle sal sy uitverkorenes uit die vier windrigtings versamel, van die een uithoek van die hemele tot by die ander.”
Die vier winde wat hulle vashou het heelwaarskynlik te make met die vier perde wat in hoofstuk ses uitgestuur is. Ons sien hierdie korrelasie tussen die vier winde en perde in Sagaria wat na die vier winde van die hemel verwys as iets wat uitgaan. Sagaria 6:5 En die engel antwoord my en sê: Dit is die vier winde van die hemel wat uitgaan nadat hulle voor die Heer van die hele aarde verskyn het. Ons weet dat hierdie perde kom om te vernietig en dus is dit duidelik waarom die opdrag kom dat hulle eers moet wag totdat diegene wat aan die Here behoort verseël is. Niks sal dus op aarde plaasvind sonder God se opdrag nie.
Die 144000
Die eerste groep mense waarvan ons lees is telbaar en word opgemaak uit 144 000 mense uit die stamme van die kinders van Israel. Die 144 000 word geseël voor die winde losgelaat word. Deur die geskiedenis is hierdie getal uit verband uit geruk en word dit gebruik as dwaling deur veral die Jehova Getuies wat onder meer glo dat daar slegs 144000 mens in die hemel gaan wees en dat God die ander sal hervestig op ʼn nuut geskepte aarde. Die teks is egter baie duidelik en ons hoef nie te bespiegel oor waar die getal vandaan kom nie. Dit word opgemaak uit twaalfduisend mense uit elk van die twaalf stamme van Israel.
Hierdie groep mense wat ʼn seël op die voorkop het is ʼn beeld wat uit Esegiël kom met betrekking tot die gelowige Israeliete wat gemerk word, voordat die res van Jerusalem verwoes word. Esegiël 9:4-5 en sê vir hom: Deurkruis die stad, deurkruis Jerusalem, en maak ‘n kruisie op die voorkoppe van die mense wat sug en kla oor al die afskuwelikhede wat daarin gedoen word. Vir die ander mans het Hy, waar ek dit hoor, gesê: Deurkruis die stad agter hom aan en slaan dood. Julle moet nie ‘n traan stort of deernis hê nie. Die seël voor die verwoesting laat ons ook onmiddellik dink aan God se beskerming van die Israeliete in Egipte. Vanaf die vierde plaag is hulle nie meer deur enige plaag getref nie, maar deur God beskerm. Ook van die finale plaag, waar alle eersgeborenes gesterf het, is hulle beskerm deur die bloed op die deurkosyn wat die engel van die dood by die huis laat verby gaan het. Ongeag of jy glo dat hierdie getal mense slegs uit die Jode bestaan en of dit alle gelowiges insluit, is dit wonderlik om verseker te kan wees van God se bewaring. Dit is duidelik dat die ewige bewaring van die gelowiges se siele ʼn besliste realiteit is. Ook die demoniese magte wat vrygelaat word in hoofstuk 9 word beveel om nie diegene aan te raak wat die seël op hulle voorkoppe het nie. Op hierdie stadium wil ons Romeine 8 aanhaal wat vertel dat niks in die hemel of op die aarde ons kan skei van die liefde wat daar is in Jesus Christus nie en dat ons dus meer as oorwinnaars is. Die gelowige vrees nooit mense nie, maar wel Hy wat siel en liggaam in die hel kan werp. Matteus 10:28 En moenie diegene vrees wat die liggaam kan doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Vrees eerder Hom wat beide die siel en die liggaam in Gehenna kan laat vergaan.
Die merk
Elke persoon is gemerk. Jy dra of die merk van Christus of die merk van die dier. Hierdie geld nie slegs vir die eindtyd nie, maar deur die geskiedenis is Christene “gemerk” as kinders van God. Ons lees van hierdie seël in Efesiërs, waar die inwoning van die Heilige Gees gelowiges verseël as kinders van God en ook in Openbaring 22.
- Efesiërs 1:13 In Hom is julle, toe julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het, verseël met die Heilige Gees, wat beloof is.
- Openbaring 22:4 Hulle sal sy aangesig sien, en sy Naam is op hulle voorkoppe.
Die hoëpriester het twaalf stene op sy bors en twee stene op sy skouers gedra wat die stamme van Israel verteenwoordig het. Wat interessant is, is dat hierdie stene ook in die Grieks van die Ou Testament, seëls genoem word. Aaron verteenwoordig dus as hoë priester die hele volk en hy word weer op sy voorkop verseël met ʼn seël waarop staan: “heilig aan die Here” Eksodus 28:36 Jy moet ‘n roset van suiwer goud maak en daarop graveer, soos wanneer ‘n seëlring gegraveer word, Heilig vir die Here. Israel was afgesonder vir die Here en behoort aan Hom. In hoofstuk 14 sien ons weer hierdie groep van 144 000 en nou word ons vertel wat hierdie merk op hulle voorkoppe is. Openbaring 14:1 Toe het ek gesien, en kyk, die Lam staan op die berg Sion, en saam met Hom is daar honderd vier-en-veertigduisend mense met sy Naam, en ook sy Vader se Naam, op hulle voorkoppe geskryf.
Die ware Israel
Die getal 144 000 is slegs ʼn simboliese getal. Ons sien dit uit die feit dat hierdie getalle weereens gebruik word met die bou van die tempel in Openbaring 21 Openbaring 21:16-17 Die stad is vierkantig uitgelê, haar lengte is dieselfde as haar breedte. Hy het toe die stad met die meetstok gemeet, twaalfduisend stadion – die lengte, breedte en die hoogte daarvan is dieselfde. Hy het ook die muur van die stad gemeet – honderd vier-en-veertig el hoog in mensemaat, wat ook die engelemaat is. As ons kyk na die verskillende stamme behoort elkeen onmiddellik op te let dat die stam van Dan nie genoem word nie. Die rede hiervoor is dat Dan een van die twaalf stamme van Israel was wat van die begin af teen God gesondig het en afgode aanbid het. Daar is ʼn skokkende vers in Rigters wat praat oor die stam van Dan. Rigters 18:30 Die nakomelinge van Dan het die godsbeeld toe vir hulle opgerig. Jonatan, seun van Gersom, seun van Moses, hy en sy seuns was priesters vir die stam van Dan tot die tyd toe die land se mense in ballingskap gegaan het. Kan jy dink dat hierdie mense vanaf die Rigterstyd tot en met hul ballingskap afgode aanbid het en priesters gehad het wat nie van Aaron se afstammelinge was nie? Dan word ook in 1 Konings genoem in verband met hulle afgode, waar die volk in twee geskeur word a.g.v. Salomo se sonde en Israel onder leiding van koning Jerobeam afgode in Dan oprig. 1 Konings 12:28-29 Nadat die koning raad gevra het, het hy twee goue kalwers laat maak en vir die mense gesê: Lank genoeg het julle nou na Jerusalem opgetrek! Hier is jou gode, Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het! Hy het die een in Bet-El geplaas; die ander een het hy in Dan geplaas. Dit wat hulle jare terug in die woestyn aanbid het word nou weer in Israel aanbid. Ook interessant is dat wanneer Jakob sy twaalf seuns seën, hy die volgende van Dan sê: Dan is ‘n slang op die pad, ‘n horingslang op die gebaande weg, wat die hakskene van ‘n perd pik, en sy ruiter val agteroor. Genesis 49:17. Dit het tot gevolg gehad dat baie mense Dan aan die slang in die tuin gekoppel het. Nie net hulle nie, maar baie in Israel was nooit volgelinge van God en dus ware gelowiges nie. Paulus maak dit in Romeine baie duidelik dat nie alle Jode waarlik deel is van die volk van God nie. Geen individu moet ooit dink dat jou lidmaatskap aan ʼn spesifieke kerk, of, in hierdie geval ʼn stam van Israel, enigsins toegang tot die Ewige Lewe verseker nie. Paulus maak dit baie duidelik wat die uiteinde van die Jode sal wees in sy slotsom oor die Jode in Romeine 9-11. Aan die einde van die dae, as die volle getal heidene ingegaan het in God se redding, sal die Jode redding ervaar. Romeine 11:25-27 Om te voorkom dat julle eiewys sal wees, broers, wil ek nie hê dat julle onkundig moet wees oor hierdie misterie nie: Daar het gedeeltelik ‘n verharding oor Israel gekom, totdat die volle getal van die heidene ingekom het. Op hierdie manier sal die hele Israel verlos word. Soos daar geskryf staan: Die Redder sal uit Sion kom, en Hy sal die goddeloosheid uit Jakob verwyder. En dit sal my verbond met hulle wees wanneer Ek hulle sondes wegneem.” Hierdie redding van die Jode word deur die Ou Testament belowe. Amos 9:11-12 Op daardie dag sal Ek die vervalle skuiling van Dawid herstel. Ek sal die bresse toebou en die ruïnes herbou om te wees soos in die dae van weleer, sodat hulle dié wat oorgebly het van Edom en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, in besit kan neem, is die uitspraak van die Here, wat dit gaan doen. (Soortgelyke teksverse kan ook gevind word in Jesaja 61:1–9; Jeremia 31:15–40; Esegiel 36:8–38; Hosia 2:14–23; 11:8–11; 14:4–7). So vertel Sagaria ook aan die volk dat daar ʼn tyd sal kom wanneer twee derdes van hulle uitgewis sal word en dat die derde wat oorbly weer die naam van die Here sal aanroep. Sagaria 13:8-9 In die hele land sal dit gebeur, is die uitspraak van die Here, twee-derdes sal uitgeroei word, omkom, en ‘n derde sal oorbly. En die derde deel sal Ek na die vuur bring en hulle louter soos ‘n mens silwer louter, en hulle toets soos goud getoets word. Hulle sal my Naam aanroep en Ek sal hulle antwoord. Ek sal sê, Hulle is my volk, en hulle sal sê, Die Here is ons God. Hierdie groep wat simbolies bestaan uit 144 000, soos alreeds genoem is in Openbaring 14, sal ook die groep wees wat die nuwe lied sal sing, hieroor sal meer gesê word as ons daarby kom, maar die lied wat gesing word herinner ons aan die lied van Moses in Eksodus 15 na aanleiding van God se bevryding van die volk deur die Rooi see.
Slot
Die vraag aangaande die Joodse volk, wat deur God in die Ou Testament uitverkies is as Sy volk, word gedurig gevra. Ons het reeds gesien dat die vier en twintig ouderlinge in die hemel die Joodse Ou Testamentiese gelowiges verteenwoordig. Daar is egter ook die beloftes dat God ʼn klein gedeelte van die Joodse volk sal terugbring, ʼn oorblyfsel, nadat die volledige getal heidinne in die koninkryk van God ingekom het. Voor daardie dag sal hulle as volk baie verdrukking deurmaak, soos wat enige historikus alreeds kan getuig. Lukas 21:24 Hulle sal val deur die skerpte van die swaard en as gevangenes na al die nasies weggevoer word, en Jerusalem sal deur die nasies vertrap word, totdat die bestemde tyd van die nasies vervul is. Hierdie volk, simbolies verteenwoordig deur 144000, sal terugkeer na God deur te erken dat Jesus Christus die Seun van God is en hy hul finale offer vir vergifnis van sonde is. Net soos vir elkeen van ons, is redding slegs deur Jesus Christus en sonder God se uitverkiesing en genade sal niemand na Hom toe kan kom nie.
Ons sal met die volgende blog inskrywing fokus op die tweede groep mense wat genoem word in Openbaring 7, die menigte uit elke volk en taal en nasie. ʼn Menigte wat jou en my insluit, as God se uitverkore volk.
