Moses en die Brandende bos.

Eendag was Moses soos gewoonlik besig om skape in die veld op te pas. Meteens sien Moses ‘n bos wat aan die brand is, maar die bos het nie uitgebrand nie. Hy het nader gestap om te kyk wat aan die gang was. Toe het God uit die bos na hom geroep: “Moses! Moses!” Moses het geantwoord: “Hier is ek.”

God het vir Moses gesê: “Moenie nader kom nie. Trek jou skoene uit, want die grond waarop jy staan is heilig. Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, Isak en Jakob.”

Moses het dadelik sy skoene uitgetrek, maar was bang.

God het egter verder met hom gepraat en gesê dat Hy gesien het hoe swaar die Israeliete in Egipte gekry het. Hy het gehoor hoe hulle huil en Hy gaan vir Moses stuur om hulle uit Egipte uit te lei.

Moses was nog steeds bang en het gevra: “Maar wie is ek om dit te doen?”

God het geantwoord: “Ek sal by jou wees. As jy die volk uit Egipte gebring het, sal julle My op hierdie berg aanbid.”

Moses het toe gevra: “As die mense vra wat U Naam is, wat moet ek vir hulle sê?”

God het gesê: “Sê vir hulle: Ek is wat Ek is. Jy moet sê: Ek is het my gestuur.”

God het vir Moses gesê om nie bang te wees nie, want Hy sou by Hom wees en hom help.