Inleiding
Die natuur en sy wette is vir elke mens ʼn tipe fondasie. Ja, dit kom met siklusse van seisoene en veranderings, maar die son kom op, gaan onder en die kragte wat op ons inwerk is konstant en hou ons stewig op die vaste grond. Hierdie aarde is egter in God se hand en Hy doen daarmee wat Hy wil. Met die oopmaak van die sesde seël beantwoord God nie net die gebede van die heiliges nie, maar wys Hy ook dat Hy in beheer is van alles, ook die aarde en die kragte wat dit vir die mens moontlik maak om hier te leef en Hy sal dit tot ʼn einde bring op die dag wat Hy daarvoor bepaal het.
Natuurrampe
Met die oopmaak van die sesde seël sien ons die vernietiging van die aarde en heelal soos ons dit ken. Dit sal ʼn tydperk wees van tekens aan die hemel en tekens op aarde van ʼn wêreld wat uitmekaar val. Ons sien baie soortgelyke beelde in die Ou Testament:
- Jesaja 13:10-11 Ja, die sterre aan die hemelruim, en Orion met sy sterrebeelde laat nie meer hulle lig skyn nie. Die son word donker sodra dit opkom, en die maan straal nie sy lig uit nie. Ek sal van die wêreld rekenskap eis oor boosheid, en van goddeloses oor hulle sondeskuld. Ek sal ‘n einde maak aan die hoogmoed van vermeteles; die trots van geweldenaars sal Ek verander in vernedering.
- Esegiël 32:6-8 Ek sal die aarde tot by die berge deurdrenk met jou bloed wat vloei. Die stroombeddings sal vol wees van jou. Wanneer Ek jou uitdoof, sal Ek die hemelruim oordek; Ek sal sy sterre laat verdonker; die son sal Ek met wolke bedek en die maan sal nie sy lig laat skyn nie. Al die ligbronne aan die hemelruim sal Ek bo jou laat verdonker. Ek sal duisternis oor jou land bring. Dit is die uitspraak van my Heer, die Here.
Ook in Joël vind ons ʼn hele aantal gedeeltes wat soortgelyk is aan dit wat beskrywe word in Openbaring 6. Petrus haal byvoorbeeld een van die verse van Joël aan as hy aan sy hoorders op Pinksterdag verkondig dat hulle hulle moet bekeer. Joël 2:30-31 Ek sal tekens gee in die hemel en op aarde: bloed en vuur en kolomme rook. Die son sal verander word in donkerte, en die maan in bloed, voordat die groot en verskriklike dag van die Here kom. Die teks wat egter die naaste is aan die aanhaling van Open 6:13 en 14a is die teks in Jesaja 34. Jesaja 34:4 Al die hemelliggame sal wegsmelt, en soos ‘n boekrol sal die hemel opgerol word. Al die hemelliggame sal verskrompel soos die blare
van ‘n wingerdstok verskrompel, soos verskrompelde vrugte aan ‘n vyeboom.
Ons beleef nou alreeds aardbewings en natuurrampe, maar Jesus sê dat dit wat ons nou beleef slegs geboortepyne is, en dat dit elke gelowige moet herinner aan die finale oordeel wat op pad is, die dag wanneer die Seun van die Mens weer op die wolke verskyn en die kragte van die hemel geskud gaan word. Matteus 24:29-30 Onmiddellik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy lig nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. Dan sal die teken van die Seun van die Mens aan die hemelruim verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rouklaag, en hulle sal die Seun van die Mens sien kom op die wolke van die hemel met krag en groot heerlikheid. Hierdie vernietiging van die Kosmos word ook herhaal deur Petrus in sy tweede brief. 2 Petrus 3:10 Die dag van die Here sal egter kom soos ‘n dief, ‘n dag waarop die hemele met ‘n gedruis tot ‘n einde sal kom, en die elemente sal uitbrand en vergaan, en die aarde en wat daarop gedoen is, ontbloot sal word.
Met die oopmaak van die sesde seël sien ons baie duidelik dat die verhale in Openbaring en die hoofstukke nie kronologiese op mekaar volg nie. Die vernietiging van die hemel en die aarde word weer beskryf in Openbaring 21. Openbaring 21:1 Toe het ek ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het tot niet gegaan, en die see bestaan nie meer nie. Hierdie wêreld met alles daarop sal tot ʼn einde kom. Die beelde wat met die oopbreek van die sesde seël beskryf word sal weer beskryf word in latere gedeeltes van Openbaring. So byvoorbeeld vind ons dat die aardbewing weer in Hoofstuk 16 beskrywe word. Openbaring 16:18 En weerligstrale, ‘n gerammel en donderslae het gevolg, en ook ‘n vernietigende aardbewing, soos wat nog nie plaasgevind het sedert daar mense op aarde was nie – so geweldig was die aardbewing.
Vrees
Enige persoon wat al ʼn aardbewing beleef het, ken die angs wat gepaard gaan met wanneer dit wat veronderstel is om vas te wees, begin beweeg en wanneer aardse stabiliteit soos water begin vloei en dit waarop jy gedink het jy kan reken, onvoorspelbaar verander. Dit is maar net ʼn fraksie van die vrees wat die mens sal beetpak met die oopbreek van die sesde seël. Al die mense op die aarde, van die magtiges en rykes tot die armstes van die armes sal vreesbevange wees as hierdie dag aanbreek. Hulle sal alles in hulle vermoë probeer doen om te vlug en weg te kom van die aangesig van die Lam. Hierdie beeld herinner aan Adam en Eva wat wegkruip vir God na hul sonde in die tuin. Hierdie beeld kom ook uit Jesaja en Hosea waar die mense gestraf word vir die aanbidding van afgode.
- Jesaja 2:18-19 Die nuttelose afgode – met hulle is dit uit en gedaan. Mense sal in die grotte tussen rotse skuilgaan en in gate in die grond, uit vrees vir die Here, vanweë sy verhewe glansrykheid, wanneer Hy opstaan om die aarde te verskrik.
- Hosea 10:8 Die offerhoogtes van Awen, die sonde van Israel, sal uitgedelg word. Dorings en dissels sal op hulle altare groei. Dan sal hulle vir die berge sê, Bedek ons! en vir die heuwels, Val op ons!
Jesaja vertel ons in die volgende vers dat mense al hul nuttelose afgode van goud en silwer wegwerp. Al die dinge wat so belangrik was sal hulle nou prysgee. So baie mense vandag is besig met hulle afgode van silwer en goud. Hulle sal selfs hul siele verkoop om hul fisiese begeertes te bevredig. Jesus praat van hierdie mense as Hy in Matteus vra wat dit ʼn mens baat as hy die hele wêreld win. Matteus 16:26 Wat sal dit ‘n mens dan baat as hy die hele wêreld as wins bekom, maar sy lewe verloor? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy lewe? As die sesde seël oopgemaak word is hierdie vers ʼn realiteit. Alles wat jy in die wêreld het en al die mag en invloed sal jou nie kan vrykoop van hierdie oordeel wat sal plaasvind nie. Elke individu sal op daardie oomblik besef dat die straf en God se wraak op hande is. Wat in jou lewe is so belangrik dat jy jou ewige siel in gedrang sal bring? Sal jy nie soos iemand in ʼn boot wat vernietiging in die gesig staar alles oorboord gooi om net jou lewe te bewaar nie? Waarom doen jy dit nie nou nie?
Finale oordeel
Die oopmaak van die sesde seël is die uitbeelding van die finale oordeel, wanneer die Lam op die wolke verskyn en Hy sy wraak op die aarde sal uitwoed. Al hierdie groepe mense wat sal probeer wegkruip van die Here word weer genoem in Openbaring 19 wanneer die engel die voëls roep om al hierdie mense se vleis te eet. Openbaring 19:18 om die vleis van die konings en die vleis van die chiliarge te eet, die vleis van magtiges en die vleis van perde en hulle ruiters, die vleis van almal – vry mense sowel as slawe, geringes sowel as magtiges. Hier word Christus, die Lam beskrywe as die een wat op die wit perd ry. Hierdie is alles beelde van dieselfde gebeurtenis. Niemand kan van God af wegvlug nie, en die finale oordeel word bevestig in Openbaring 20:11 Toe het ek ‘n groot wit troon gesien, en Iemand wat daarop sit. Die aarde en die hemel het van sy aangesig af weggevlug, en daar was nie meer plek vir hulle nie.
Skuldig
Slegs iemand wat skuldig is vlug vir die gereg. Vers 17 toon aan dat die wêreld vlug vir die toorn wat aan die kom is. Is dit nie interessant dat hierdie mense die bewustheid het dat hulle skuldig is voor God nie? Dit laat jou dink aan dit wat die Gees Paulus laat skrywe het in Romeine. Romeine 1:18-19 Die toorn van God word vanaf die hemel geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van mense wat volhou om die waarheid deur ongeregtigheid te probeer onderdruk, aangesien dit wat van God geweet kan word, aan hulle bekend is. God het dit immers aan hulle bekend gemaak. Dit is nie dat die mens nie weet dat daar ʼn God is nie, maar dat hulle dit weet maar wil voortleef in hulle goddeloosheid. Die gedeelte in Romeine gaan voort om te vertel dat mense kan sien dat daar ʼn God is deur na sy werke in die Skepping te kyk. Niemand kan na die skepping kyk en sê dat dit net toevallig of per ongeluk hier is nie. Alles in die skepping getuig van ʼn haarfyn beplanning. Alles is interafhanklik van mekaar en as daar aan een kaart getrek word stort alles in mekaar. Die aarde se afstand van die son en die afstand van die maan teenoor die aarde, die samestelling van die gasse, alles in perfekte balans vir die voortbestaan van lewe. Daarom beskou die Woord hierdie mense as dwase al dink hulle dat hulle wys is. Romeine 1:22 Alhoewel hulle beweer dat hulle wys is, het hulle dwaas geword. Hoe dwaas kan iemand nie wees wat in ʼn grot tekeninge teen die mure sien en verklaar dat dit net ontstaan het nie. Wie sou verwag om ʼn hoop yster op ʼn skrootwerf te sien en dan die volgende dag ʼn vliegtuig in die plek van die yster te sien en dan te verklaar dat dit net ontstaan het, sommer so vanself! Nee, die Woord verklaar dat die probleem eerder is dat die mense nie God wil hê nie. Hulle soek nie “Een” wat aan hulle voorskryf wat hulle moet doen nie.
Slot
Met die oopmaak van die sesde seël is die genadetyd vir die mens verby. Die Ruiter op die Wit perd bring die finale oordeel – die dag van wraak is hier. Dit is die “groot dag van die Here”. In Joel en Nahum, wat hierdie dag van wraak beskryf, word daar net soos hier in vers 17 gevra wie sal kan bestaan?
- Joël 2:11 En die Here self verhef sy stem voor sy leërmag uit, want geweldig groot is sy leër, ja, magtig is hulle wat sy bevel uitvoer. Voorwaar, die dag van die Here is groot, uitermate verskriklik – wie kan dit verduur?
- Nahum 1:5-6 Die berge bewe voor Hom, die heuwels stort ineen. Die aarde lê verwoes voor Hom, ja, die wêreld met al sy bewoners. Wie kan staande bly voor sy verontwaardiging, wie kan sy brandende toorn weerstaan? Wanneer sy woede uitbars soos vuur, spat rotse voor Hom uiteen.
Daar is niks wat hulle kan beskerm van die ewige oordeel wat nou aangebreek het nie. Die vraag is hoe sal iemand kan staande bly voor hierdie heilige God. Petrus vra die volgende: As die regverdige beswaarlik verlos word, wat sal van die goddelose en sondaar word? 1 Petrus 4:18. Die enigste verlossing is in die Lam wat hulle verwerp het. In Sy bloed is ons as gelowiges losgekoop. 1 Petrus 1:18-19 Julle weet tog dat julle nie met iets vergankliks, soos silwer of goud, losgekoop is uit julle sinlose leefwyse, wat deur julle voorvaders aan julle oorgelewer is nie, maar dat julle losgekoop is met die kosbare bloed van Christus – Hy wat soos ‘n lam is, vlekloos en sonder liggaamsgebrek. Ons as kinders van God is nie meer skuldig nie. Daardie dag sal vir elke ware kind van God, wonderlik wees, omdat ons onder die bloed van die Lam sal wees. Die wraak wat vir my bestem is het op die Lam aan die kruis neergekom. Hy is my rots waarna ek gevlug het wat vas sal staan, in teenstrydigheid met die goddelose wat aan die einde van die wêreld in rotsskeure hulle skuiling wil gaan soek.
Psalms 18:3 en 32 Die Here is my rotsvesting, my bergskuiling, my bevryder. My God is my rots by wie ek skuil, my skild en die horing van my redding, my toevlugsoord. Ja, wie is God behalwe die Here? Wie is ‘n rots buiten ons God?
