Moses het grootgeword in Egipte. Eendag het hy gesien hoe ‘n Egiptenaar een van sy mense, ‘n Israeliet, slaan. Hy was baie kwaad en het die Egiptenaar doodgemaak. Hy het die man se liggaam in die sand weggesteek.
Die volgende dag het Moses twee Israeliete sien baklei. Hy het probeer om hulle te keer en gesê: “Hoekom slaan julle mekaar? Julle is mos broers!” Maar een van die mans het gesê: “Wil jy my ook doodmaak, soos jy die Egiptenaar doodgemaak het?”
Moses het bang geword, want hy het besef dat mense uitgevind het wat hy gedoen het. Hy het geweet hy is in groot moeilikheid. Die farao het gehoor wat gebeur het en wou Moses doodmaak; daarom het Moses gevlug na ‘n land ver weg, die land Midian.
Toe Moses in Midian aankom, het hy by ‘n put gaan sit. Hy het gesien hoe sewe susters water probeer kry vir hulle skape, maar ander skaapwagters het hulle weggejaag. Moses het die susters gehelp en vir hulle skape water gegee.
Die susters se pa, Réhuel, het gehoor wat Moses gedoen het en hom genooi om by hulle te bly. Moses het later met een van die dogters, Sippora, getrou, en hulle het ‘n seuntjie gehad.
