Openbaring 6:9-11. Die oopmaak van die vyfde seël

Lyding

Die oopmaak van die vyfde seël is die onthulling van die Christen martelare. Die marteling van gelowiges is ʼn vervulling van ‘n belofte wat God aan sy volgelinge maak ten opsigte van mense se reaksie aangaande hul toewyding aan Hom.

  • Matteus 24:9 Dan sal hulle julle oorlewer om verdruk te word en julle doodmaak, en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam.
  • Markus 13:9 Maar wat julle betref, wees op julle hoede! Hulle sal julle aan sanhedrins oorlewer, julle sal in sinagoges geslaan word en voor prokurators en konings teregstaan ter wille van My, sodat julle voor hulle kan getuig.
  • Lukas 21:12 Maar voor al hierdie dinge oor julle kom, sal hulle julle gevange neem en julle vervolg. Hulle sal julle aan die •sinagoges oorlewer en in die tronke opsluit; hulle sal julle voor konings en prokurators sleep ter wille van my Naam.

Dit is vir my baie interessant hoe baie mense wat bely dat hulle gelowiges is en aan God se beloftes vaskleef, geen probleem het om hierdie belofte in die wind te slaan nie. Dit is asof God se belofte dat gelowiges vervolg sal word nie geld vir ons in die Weste nie. Die beloftes aangaande God se voorsiening en beskerming word oral beklemtoon, maar waar dit die mens negatief stem word dit bloot geïgnoreer of verplaas na “ander mense in ander lande of tye.” Daar word selfs kursusse aangebied om ons sogenaamd voor te berei vir “as dit ons eendag tref”, met dit klem op die “as”. Dit is egter nie ʼn “as” nie, maar ʼn “wanneer” en die antwoord is “nou alreeds.” God belowe ons dat elke gelowige in sy leeftyd vervolging sal ondervind. Hier kan ons na ʼn paar verse kyk wat hierdie punt beklemtoon.

  • Johannes 15:20 Onthou die woorde wat Ek vir julle gesê het: ‘n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie. As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg. As hulle my woorde gehoorsaam het, sal hulle ook julle woorde gehoorsaam.
  • Matteus 5:10-12 Gelukkig is dié wat vervolg word ter wille van geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. Gelukkig is julle wanneer  die mense julle om My ontwil  beledig en vervolg  en vals beskuldig  van alles wat sleg is. Wees bly en jubel,  omdat julle beloning  groot is in die hemele.  Hulle het immers die profete  vóór julle net so vervolg.
  • 2 Timoteus 3:12 Almal wat godvresend in Christus Jesus wil leef, sal inderdaad vervolg word.

Kan jy sê jy glo die Skrif en nie ook bely dat elke gelowige volgens die Skrif vervolg sal word nie? Wel, waarom ervaar jy dit dan nie? Miskien is die antwoord opgesluit in 2Timotheus 3:12. Lewe ons nog godvresende lewens? Vrees ons God meer as wat ons enige mens of opinies van mense vrees. Elke gelowige moet bely dat die Woord van God lynreg in opposisie staan teenoor die tydgees van die dag. As dit dan waar is waarom sal dit nie ʼn gegewe wees dat diegene wat hierdie kleed van God aantrek en in wie se lewens hierdie Skrif geleef word, nie ook intens vervolging sal ervaar nie. Die rede waarom so baie gelowiges dit nie ervaar nie is omdat ons geleer het om stil te bly en te konformeer met die samelewing. Ons het begin lyk soos die wêreld. Die wêreld geniet ons teenwoordigheid en ons kleredrag en gedrag is soortgelyk aan die wêreld waarin ons leef. As ons nie meer vreemd vir die wêreld voorkom en hulle nie gefrustreerd met ons lewensuitkyk is nie, is die rede dalk dat ons nie werklik nuut gemaak is nie. Met wedergeboorte begin daar ʼn transformasie in die gelowige se lewe. ʼn Lewe wat nou streef na heiligheid. Ons ondergaan ʼn metamorfose en word van ons ellendig aardse, sondige denke verlos. Maar as jy lyk soos ʼn wurm en optree soos een, is  jy dalk nog een. Het jy dalk die gedagte dat die wêreld Jesus vandag anders sou behandel as 2000 jaar terug? Indien Jesus vandag op aarde sou leef en Sy boodskap aan die wêreld verkondig hoe lank sou dit neem voordat hulle Hom sou teregstel? Jy ervaar nie lyding nie, omdat jy stilbly wanneer jy moet praat, omdat jy konflik probeer vermy en omdat jy, in teenstelling met populêre opinie, nie liefdevol is nie, maar liefdeloos. Jy sal eerder toekyk hoe iemand verlore gaan as om hom/haar te konfronteer oor sonde en voor te stel aan die Verlosser wat hulle van hul ellendige bestaan kan verlos. Vir diegene wat dink om stil te bly in hierdie goddelose wêreld en nie God se standaard en oordeel aan die wêreld en vriende en werk kollegas te deel nie, is die teksvers in Matteus vir ons ʼn waarskuwing. Matteus 10:32-33 Daarom, elkeen wat My voor die mense bely, sal Ek ook voor my Vader in die hemele bely. Maar wie My voor die mense verloën, sal Ek ook voor my Vader in die hemele verloën.

By die voete van die altaar

Indien jy nie Christus voor die mense bely nie sal jy nie eendag hier gevind word nie. Sodra die vyfde seël gebreek word vind ons hierdie groep gelowiges onder die altaar. Dit is elkeen, en dus elke gelowige, wat op aarde vir Christus gelei het – die martelare vir die evangelie. Hulle lewens het hulle gegee as ʼn offer aan die Koning van alle konings soos elke gelowige ook opgeroep word om te doen. Romeine 12:1 Broers, op grond van die barmhartigheid van God roep ek julle dus nou op om julle liggame beskikbaar te stel as ‘n offer wat lewend en heilig is, en vir God aanneemlik. Dit is julle sinvolle godsdiens. Die siele wat ons hier vind is individue wat hulle lewens as ʼn offer toegewy het aan Christus; hulle wat om vir Hom te lewe en Sy naam te bely hoër geag het as die lewe self. Die slagting van hierdie martelare het te make met hulle eenheid met die geslagte Lam van God en nie soseer dat elkeen hulle lewens verloor het a.g.v. marteling nie. Dit blyk ook duidelik in die res van Openbaring. Openbaring 20:4 Ek het ook trone gesien, en aan dié wat daarop sit, is mag verleen om te oordeel. Ek het die siele gesien van hulle wat onthoof is vanweë die getuienis oor Jesus en die woord van God. Dit is hulle wat nie neergeval het om die dier en sy beeld te aanbid nie, en nie die merk op die voorkop of op die hand ontvang het nie. Hulle het lewend geword, en saam met Christus regeer, ‘n duisend jaar lank.

Hierdie siele roep uit dat God wraak moet neem op die aardbewoners. Die leser behoort geskok te wees as hulle hierdie woorde lees. Wat het gebeur? Hoe kan gelowiges dit bid? Word daar nie aan gelowiges ʼn opdrag gegee dat hulle hulle vyande moet lief hê en bid vir die wat hulle vervolg nie? Matteus 5:44 Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê en bid vir hulle wat julle vervolg. Dit is duidelik dat God wil hê dat ons mense wat ons sleg behandel en ons selfs vervolg en martel, moet liefhê en vir hulle moet bid. Dit is ook baie duidelik in die gebed van Stefanus terwyl klippe op hom reën. Handelinge 7:60 Hy het op sy knieë geval en met ‘n harde stem uitgeroep: “Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie!” En met dié woorde het hy ontslaap. Tog vertel Jesus ook ʼn gelykenis aan sy volgelinge van ʼn vrou wat aanhou pleit by ʼn regter om aan haar reg te laat geskied. Jesus vertel hierdie verhaal om gelowiges te leer dat hulle moet bid dat Christus weer moet kom en wraak moet neem teenoor diegene wat die Kerk vervolg. Hierdie weduwee se gebed is: Laat reg aan my geskied in my saak teen my opponent. Lukas 18:3b. Ons vind hierdie gebed ook in baie van die Psalms; ʼn oproep tot wraak. Hier, en ook in die Psalms, gaan dit nie oor die individu wat my vervolg en slegte dinge van my sê, dus persoonlike wraak nie, maar wraak op die totale vervolgers van die Kerk. Psalms 79:10 Waarom moet die nasies sê: Waar is julle God? Laat dit voor ons oë onder die nasies bekend word: die wraak oor die bloed van u diensknegte wat vergiet is. God is ʼn God van geregtigheid en daarom sal Hy die wêreld moet straf. Die oproep van die gelowiges is dus ʼn regverdige oproep en ʼn oproep dat elke karaktertrek van die volmaakte God uitgeoefen sal word. Wanneer gelowiges die ewigheid betree styg hierdie gebede steeds op. Daar sal ʼn dag aanbreek waarop die genade tyd verby sal wees en God regverdig sal oordeel. Daarom roep die skrywer van Hebreërs sy hoorders op om ag te slaan op die boodskap wat hy verkondig. Hebreërs 3:7-8 Daarom, soos die Heilige Gees sê: Vandag, as julle sy stem hoor, moenie julle harte verhard, soos tydens die opstand die dag van versoeking  in die woestyn. Terwyl ons leef moet ons mense oproep om hulle te bekeer want daar sal ʼn dag van wraak aanbreek vir hulle wat nie hulle knie nou alreeds voor God wil buig nie.

Goddelike versekering

Daar word aan hierdie martelare gesê dat hulle vir nog ʼn ruk moet wag. Tog ontvang hulle goddelike versekering van hul geregtigheid as hulle beklee word met wit stolas of wit klere, hulle hoef niks meer te vrees nie. Hulle kan nou rus totdat al die gelowiges dood is en hulle voltallig sal wees. Hier kan ons net weer opmerk dat God die getal van die gelowiges bepaal het voor die grondlegging van die aarde en hulle getal ken. Hierdie gelowiges is op die beste plek moontlik. Hulle word in hoofstuk 14 as die saliges of gelukkiges in Grieks μακάριος (makarios)beskryf. Dit is dieselfde woord wat gebruik word in die bergpredikasie. Openbaring 14:12-13 Hiervoor het die heiliges volharding nodig, hulle wat die gebooie van God nakom, en in Jesus bly glo. Ek het toe ‘n stem uit die hemel hoor sê: Skryf neer! Gelukkig is die dooies wat van nou af in die Here sterf. Ja, sê die Gees, sodat hulle mag rus van hulle geswoeg, want hulle dade volg hulle.

Mag ons soos die dissipels bly en dankbaar wees, wanneer ons waardig geag word om vir ons Verlosser te lei. Handelinge 5:40-41 En nadat hulle die apostels ontbied het, het hulle hulle laat gesel, hulle beveel om nie in die Naam van Jesus te praat nie, en hulle vrygelaat. Daarna het hulle van die Sanhedrin weggegaan, bly dat hulle waardig bevind is om ter wille van sy Naam skandelik behandel te word. Ons word omring deur ʼn skare geloofsgetuies wat geduldig wag tot ons gebede saam met hulle sin sal opstyg van die voete van die altaar.