Baba Moses

Na die dood van Josef het die Israeliete baie geword. Die nuwe farao het bang geword dat hulle dalk sterker sou word as sy eie mense. Om hulle te probeer keer, het die farao besluit om die Israeliete slawe te maak. Hy het hulle gedwing om baie hard te werk deur swaar bakstene te dra om groot geboue te bou. Maar selfs al het hulle so hard gewerk, het God steeds gesorg dat die Israeliete meer mense geword het.

Dit het die farao nog kwater gemaak. Hy het ‘n baie slegte plan gehad: Hy het gesê dat al die Israelitiese seuntjies in die rivier gegooi moet word.

Daar was ‘n vrou met die naam van Jogebed. Sy was getroud met Amram. In dié tyd het hulle ‘n pragtige babaseuntjie gehad. Sy het hom vir drie maande vir die farao se soldate weggesteek. Sy kon hom egter nie vir altyd wegsteek nie, en toe het sy ʼn plan probeer maak. Sy het ‘n mandjie gemaak en dit met teer gesmeer sodat dit nie sou sink nie. Sy het die baba in die mandjie gesit en hom in die Nylrivier laat dryf.

Die baba se sussie, Mirjam, het langs die rivier geloop en gekyk wat gaan gebeur. Toe het die farao se dogter na die rivier toe gekom om te bad, en sy het die mandjie gesien. Sy het dit oopgemaak en die baba sien huil. Sy het hom jammer gekry en geweet dit is een van die Israeliete se babas.

Mirjam het vinnig nader gehardloop en vir die farao se dogter gevra: “Sal ek iemand gaan roep om die baba vir jou te versorg?” Die farao se dogter het ingestem, en Mirjam het haar eie mamma gaan haal! So het die baba se eie ma hom versorg totdat hy groot genoeg was. Daarna het hy by die farao se dogter gaan woon, en sy het hom Moses genoem, want sy het hom uit die water gehaal.