Openbaring 6 (Deel1)

Inleiding

In hoofstuk 6 van Openbaring word die seëls een vir een deur die Lam, Christus, oopgemaak. Ons sien hoe die eerste vier seëls die vier perde van die apokalips te voorskyn bring met die katastrofiese gevolge vir elkeen op aarde. Daar is sekerlik al baie gesê oor hierdie vier perde en hul betekenis, maar wat belangrik is, en dalk iets is wat moeilik is vir die gelowige, is om te besef dat hierdie perde telkens uitgestuur word deur God self.  Die belangrikste van hierdie openbaring aan Johannes is sekerlik dat alles wat nou op die aarde plaasvind sy oorsprong het in die Lam wat die seëls oopmaak. Die soewereiniteit van God is iets waarvoor elke kind van God se sy knie moet buig ongeag of jy dit verstaan of nie. Wat belangrik is om tekens te onthou wanneer jy iets nie verstaan nie, is dat God homself aan ons openbaar as Hy homself aan Moses beskryf in Eksodus. Eksodus 34:6 Die Here het reg voor hom verbygegaan en uitgeroep: Die Here, die Here, ‘n barmhartige en genadige God, geduldig, oorvloedig in troue liefde  en waarheid. Hy kan nie teen Sy eie karakter optree nie en alles wat Hy doen spruit dus uit wie Hy is, of jy dit nou verstaan, daarmee saamstem of nie. Dit is tragies hoe baie gelowiges die idee het dat ons oorgelewer is aan mense se besluite, dat God onderhorig is aan die mens se wil en dat God dit nie kan teengaan nie. Hoe mens-gesentreerd is hierdie teologie nie? Dit is ʼn leuen wat die mens wil verhef tot ʼn god. Die waarheid word duidelik aan ons openbaar in die Skrif. Luister wat die Psalmdigter van God verklaar. Psalms 115:3 Ons God is in die hemel; alles wat Hom behaag, doen Hy. Selfs ʼn heidense koning , Nebukadneser, wat deur God soos ʼn dier gemaak word wat gras moes eet aangesien hy nie ag geslaan het op God se waarskuwing deur Daniel nie. Hy moet uiteindelik bely dat God oor alles regeer. Daniël 4:35 Al die bewoners van die aarde word as niks gereken; Hy doen met die hemelse leër en die bewoners van die aarde wat Hy wil. Daar is niemand wat sy hand kan afweer of vir Hom kan vra nie, Wat het U gedoen?

Perde

Mense is geneig om hierdie perde te probeer verstaan in terme van tydperke wat op mekaar volg. Dit is egter duidelik dat dit eerder verskeie rampe uitbeeld wat deur die geskiedenis, inmekaargeweef en herhaaldelik plaasvind. Die vier perderuiters maak dus nie op ʼn bepaalde tyd hulle verskyning nie,  maar is ruiters wat al vanaf Christus se Hemelvaart uit gegaan het en sal aanhou uitgaan tot met Sy wederkoms. Jesus het aan Sy volgelinge hierdie rampe wat die vier perderuiters sal bring beskryf as geboortepyne. Markus 13:7-8 Wanneer julle van oorloë en gerugte van oorloë hoor, moet julle nie verskrik raak nie. Dit moet gebeur, maar dit is nog nie die einde nie. Want nasie sal teen nasie in opstand kom, en koninkryk teen koninkryk. Daar sal aardbewings op een plek ná die ander voorkom, en daar sal hongersnood wees. Hierdie dinge is die begin van die smarte. Elke gelowige moet bewus wees dat hierdie wêreld waarin ons leef vervloek is en nie ons tuiste is nie. Romeine 8:20-21 Want die skepping is onderwerp aan ‘n sinlose bestaan, nie uit eie keuse nie, maar deur Hom wat dit daaraan onderwerp het. Die skepping hoop om self vrygemaak te word van verslawing aan die verganklikheid, met die oog op die heerlike vryheid van die kinders van God. Die gelowiges wat in die tyd van die Romeinse onderdrukking geleef het en die eerste hoorders van Openbaring was het baie wrede martelings ervaar en aanskou hoe Nero gelowiges gemartel het na die vernietigende brand in Rome in 64n.C. Daar was aardbewings in 60n.C wat stede verwoes het. Die vulkaniese uitbarsting van die berg Vesuvius het in 79n.C. plaasgevind. Ons lees van die hongersnood in Handelinge en later ook weer in 92n.C. Met hierdie openbaring aan Johannes kon die gelowige nou mekaar versterk in die geloof en bely dat God, ja Jesus Christus die Lam, in volle beheer is van al hierdie tragedies wat hulle en ander getref het en dat Hy ʼn plan en doel met alles het. In Esegiël word al hierdie rampe, die hongersnood (14:13) die wilde diere(14:15), die swaard(14:17) en die dood(14:19), uitgebeeld as God se straf vir die nasies en om die regverdiges se geloof te toets. Dit is duidelik dat gelowiges onder hierdie rampe sal deurgaan. Ons weet egter dat God se straf ons nie gaan tref nie en daarom is die verduideliking dat hierdie ruiters en perde toetse vir die gelowiges aandui. Die gelowige moet dus na hierdie vier perde kyk as iets positiefs vir hulle lewens en God wat hulle wil louter sodat hulle nog meer vrug sal kan dra.

Die wit perd en ruiter.

Die wit perd en ruiter word deur baie geïdentifiseer as Christus, soortgelyk aan Openbaring 19. As ons egter na die ruiter in Openbaring 19 gaan kyk sal ons sien dat hierdie ruiter totaal verskil van die ruiter in Openbaring 6. Selfs die krone verskil. Die ruiter in hoofstuk 6 ontvang ʼn kroon, terwyl Christus in Openbaring 19 baie krone dra. Hierdie wit perd en ruiter is ook nie die Antichris soos baie veronderstel nie, aangesien die vier perde eerder rampe verteenwoordig as individue. Dit is ook duidelik in Sagaria 6, waar soortgelyke perde deur God uitgestuur word. Ons sien dat drie van die perde en ruiters negatief is en dus sal dit van pas wees om die eerste perd ook as negatief te klassifiseer.  Interessant is dat Jesus elke keer as Hy sy dissipels waarsku aangaande die eindtye, Hy hulle elke keer waarsku aangaande valse profete wat sal kom. Markus 13:21-22 As iemand dan vir julle sê, ‘Kyk, hier is die Christus! of Kyk daar! moet julle dit nie glo nie. Want vals christusse en vals profete sal na vore tree, en hulle sal tekens en wonders doen om, indien moontlik, die uitverkorenes te laat afdwaal. Dit is dan ook waarom hierdie perd en ruiter die kleredrag van Christus het. Die Bybel vertel ons dat die kenmerk van die valse profete, deur die Ou en Nuwe Testament,  was dat hul boodskappe hul luisteraars se ore gestreel het. 2 Timoteus 4:3 Want daar kom ‘n tyd wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar omdat hulle ore gestreel wil word deur wat hulle hoor, sal hulle vir hulleself leermeesters na eie begeerte uitsoek. Hulle het aan hulle hoorders verkondig dat daar vrede is. Dit is opmerkend dat die ruiter net ʼn boog in sy hand het sonder enige pyl. Een van die interessante dinge rakende hierdie valse profete is dat hulle aan die mense verkondig dat hulle nie dit wat die ander drie perde sou bring sou ervaar nie. Jeremia 14:12 Wanneer hulle vas, luister Ek nie na hulle klaagroep nie; en wanneer hulle brandoffers en graanoffers bring, aanvaar Ek hulle nie. Maar met die swaard, hongersnood en pessiekte sal Ek ‘n einde aan hulle maak. Toe het ek gesê: Ag, Here, my Heer, kyk, die profete sê vir hulle, Julle sal geen swaard sien nie, en geen hongersnood lê vir julle voor nie, maar voortdurende vrede gee Ek vir julle op hierdie plek. Die wêreld, en baie in die kerk, het ʼn soeke na hierdie aardse vrede. Dus kan ons verseker wees dat hierdie boodskap en beloftes ook hoogty sal vier met die koms van die Antichris. Hier moet ons dit net weer duidelik stel dat hierdie gebeure deur die geskiedenis van die kerk sal plaasvind en dus rampe/toetse is wat aangekondig word en nie individu aandui nie. Hy kom voor soos die ware maar elke gelowige wat die Skrif ken sal weet dat God nie ʼn aardse vrede belowe het nie. Lukas 12:51-53 Dink julle dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring? Nee, sê Ek vir julle, eerder verdeeldheid, want van nou af sal vyf mense in een huis verdeeld wees, drie teen twee en twee teen drie. Daar sal verdeeldheid wees: vader teen seun en seun teen vader, moeder teen dogter en dogter teen moeder, skoonmoeder teen haar skoondogter en skoondogter teen skoonmoeder. Hierdie sal eerder die ervaring wees van elke gelowige. Tog sal hierdie valse leer en valse boodskappe so erg raak dat as dit nie is dat God die uitverkorenes bewaar nie, ons ook deur hierdie valse leer meegesleur sou word. Matteus 24:24 Want vals christusse en vals profete sal na vore tree, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, indien moontlik, selfs die uitverkorenes te mislei.

Hulle sal ook gekenmerk word deur wonders en tekens wat hulle sal doen as nabootsing van die ware ruiter op die witperd van Openbaring 19.  ʼn Tydperk van vrede kan die grootste gevaar wees vir die Kerk van die Here. Hoe maklik kan ons dan op ons gemak raak en die wêreldse dinge najaag net soos die ongelowiges. Die Weste beleef vir ʼn redelike tyd ʼn mate van vrede en as ons eerlik is moet ons getuig dat die kerk nog nooit so ʼn afvalligheid beleef het soos juis in hierdie tyd van vrede nie. ʼn Tyd van aardse vrede is dus net so ʼn tyd van suiwering van die ware Kerk as die ander drie perde. Christus, die Lam, gee aan hierdie ruiter die kroon van oorwinning om dus te kan doen waarvoor hy uitgestuur word. Die Skrif leer ons ook dat God die dwaling sal stuur sodat die ongelowiges sak en pak agter die valse sal aangaan. 2Thessalonisense 2:11-12 En daarom laat God die krag van dwaling oor hulle kom, sodat hulle die leuen sal glo, en sodat almal wat nie die waarheid glo nie, maar behae vind in die ongeregtigheid, veroordeel kan word. Daarom sal die ruiter, soos Openbaring dit stel, uit gaan as oorwinnaar en sal hy oorwin.

Vuurrooi perd en ruiter.

Hy neem vrede weg wat ʼn goeie aanduiding is dat ons die eerste perd korrek geïdentifiseer het. Weereens is dit nodig vir die gelowige om te erken dat agter hierdie ruiter die Lam is wat die seëls oopmaak sodat die opdrag aan hierdie ruiter gegee kan word om alles te doen waarvoor God hom uitgestuur het. Jesaja 46:10-11 Ek wat van die begin af die afloop aankondig, van lank gelede af dit wat nog nie gebeur het nie; Ek wat sê, My raadsbesluit sal standhou; alles wat Ek wil, sal Ek uitvoer, Ek wat uit die ooste ‘n roofvoël roep, van ‘n ver land af iemand roep vir my raadsbesluit. Ja, Ek het dit aangekondig; Ek sal dit beslis laat gebeur. Ek het dit gereedgemaak; Ek sal dit beslis uitvoer. Hy is ook die God wat doodmaak en lewendig maak volgens Deuteronomium. Deuteronomium 32:39 Sien tog nou in dat Ek, ja, Ek die Een is; daar is geen god naas My nie. Ek maak dood en Ek maak lewend; Ek verpletter, ja, Ek maak gesond, en niemand red uit my hand nie. Hy is in beheer van alles wat op aarde plaasvind en alles vind plaas soos Hy dit in sy raadsplan bepaal het. Hier is dit belangrik om te let op die dwaling wat deur so baie kerke verkondig word, nl. dat dit die duiwel is wat lewens kom steel en God net voorspoed en gesondheid aan elke gelowige belowe.

Die swart perd en ruiter.

Hierdie perd en ruiter bring hongersnood in die wêreld. ʼn Denarius was die betaling van ʼn werker vir ʼn dag se werk. Dit beteken dat die geld wat ʼn werker sou verdien hy daarmee net ʼn rantsoen koring sou kon koop. ʼn Persoon sou kon oorleef op ʼn rantsoen koring, maar as hy ʼn familie het sou hy eerder die gars moes koop met sy geld vir die dag. Jy sal dus werk net om aan die lewe te bly. Die frase wat daarop volg in Openbaring 6: Ek het toe iets soos ‘n stem tussen die vier lewende wesens hoor sê: …en moenie dat daar skade kom met die olyfolie en die wyn nie, word op verskillende maniere deur kommentare vertolk. Hongersnood was nog altyd die dryfkrag van inflasie. 2 Konings 6:25 Daar was ‘n groot hongersnood in Samaria; ja, kyk, hulle het die stad beleër totdat ‘n donkiekop teen tagtig sikkel silwer, en ‘n kwart kab duiwemis teen vyf sikkel silwer verkoop is. Wat tog interessant is, is dat in die tyd waarin hierdie boek geskrywe is, die Romeine baie graag in wyn en olie handel gedryf het, aangesien dit ʼn goeie inkomste vir hulle voorsien het. Dit het hulle in so ʼn mate gedoen dat daar ʼn tekort was aan koring, terwyl daar ʼn oorvloed was aan wyn. Om hierdie rede moes koring van Egipte of die Swartsee ingevoer word. Die hongersnood sou altyd die grootste invloed op die armstes hê. Hier kan ons net weer daarop let dat God die een is wat ryk en arm maak. 1 Samuel 2:7 Die Here maak arm en Hy maak ryk; Hy verneder, ook verhoog Hy. Daarom kan die gelowige nooit roem oor die finansiële sukses wat hy bereik het nie, maar moet altyd sy oë oophou vir diegene in sy gemeente, en ook in die wêreld, wat gebuk gaan onder finansiële nood. Galasiërs 6:10 Laat ons dan, terwyl ons die geleentheid het, aan almal goed doen, maar veral aan die huisgesin van die geloof. Daarom sien ons ook in Handelinge hoe belangrik dit vir die kerke was om te voorsien in die gemeente in Jerusalem se behoeftes aangesien hulle op daardie stadium deur ʼn hongersnood geteister was. Handelinge 11:28-29 En een van hulle, met die naam Agabus, het na vore gekom en deur die Heilige Gees voorspel dat ‘n swaar hongersnood oor die hele wêreld sou kom. Dit het in die tyd van Claudius gebeur. Die dissipels het daarom besluit dat elkeen van hulle volgens vermoë ‘n bydrae sou stuur vir die versorging van die broers wat in Judea woon. In die gemeentes uit die sewe wat getrou was aan die Here kon ons sien hoe hul toewyding aan God veroorsaak het dat almal finansieel swaar gekry het. Verder wil hierdie teks ook weereens vir ons die aandag daarop vestig dat God die een is wat die bevele uitvaardig en dus in beheer is van elke natuurramp, hetsy droogte of vloed, hongersnood of pes.

Die vaal perd en ruiter.

Hierdie perd en ruiter bring die dood. Dit wat hy bring word alreeds aangedui in die vorige twee perde wat voor hom uitgegaan het, maar hier is die uiteinde van die plae, swaard en die pes, die dood. Al wat hier bykom wat nie genoem word met die rooi en swart perd nie is die wilde diere. Ja selfs die wilde diere wat mense sal doodmaak sal hulle opdrag van God ontvang. Al hierdie perde se gevolge sal gelowiges sowel as ongelowiges tref. Met hierdie perd volg nie net die dood nie, maar ook Hades. Hades, in teenstelling met die dood, sal slegs die ongelowiges se uiteinde wees. Ons weet dit omdat ons kan sien wat die uiteinde van die gelowiges is nadat die vyfde seël gebreek is. Openbaring vertel ons dat aan die einde die dood en Hades in die vuurpoel gegooi sal word. Openbaring 20:14 Toe is die dood en die Hades in die vuurpoel gegooi. Dit is die tweede dood, die vuurpoel. Hierin kan die gelowige vrede en vertroosting vind dat alles met ʼn doel en plan plaasvind en dat God nêrens beheer verloor het nie. Daarom hoef ons nooit diegene te vrees wat ons liggame sal dood maak nie. Al kan hulle ons liggame doodmaak weet ons dat hulle nooit dit wat van ware belang is van ons wegneem nie. Matteus 10:28-31 En moenie diegene vrees wat die liggaam kan doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Vrees eerder Hom wat beide die siel en die liggaam in Gehenna kan laat vergaan. Word twee mossies nie vir ‘n assarius verkoop nie? En nie een van hulle sal op die grond val sonder julle Vader nie. En julle – selfs die hare op julle kop is almal getel. Moet dan nie bang wees nie – julle is meer werd as baie mossies.

Slot

Christus is in beheer en God is soewerein. Hiervoor buig ons as mens in ons onvermoë om alles te verstaan ons knie en erken dat Hy God is. Ons hou vas in swaar tye aan Sy beloftes en Sy karakter as liefdevolle God en Vader wat ons nooit sal begewe of verlaat nie. So sien ons in hierdie wêreld rampe en hartseer en ellende, met die vooruitsig van ʼn nuwe Jerusalem wat voorberei word vir elke gelowige wat tot die einde toe volhard. Openbaring 21:3-4 Ek het toe ‘n harde stem van die troon af hoor sê: Kyk, God se woonplek is by die mense. En Hy sal by hulle woon; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal elke traan  uit hulle oë afdroog. En die dood sal nie meer daar wees nie; ook nie rou of ‘n gehuil of pyn sal meer bestaan nie; want die eerste dinge  het verbygegaan.