Openbaring 5

Inleiding

Wie is waardig om die boekrol oop te maak? Ons lees later van die Boek van die Lewe wat in Openbaring gekoppel word aan die Lam wat aan ons ʼn goeie aanduiding gee dat dit hierdie boek is wat verseël is. Openbaring 21:27 En niks wat besoedel is, en niemand wat iets gruweliks en vals gedoen het, sal ooit toegang tot haar kry nie, slegs hulle wat opgeteken is in die boekrol van die lewe van die Lam. Johannes huil wanneer hy besef dat niemand waardig is om hierdie boekrol oop te maak wat verseël is nie.

Die meeste van die antieke geskrifte was geskrywe net aan een kant van die medium, hetsy klei, papirus of klip. Daar is net op die agterkant ook geskrywe as daar te min plek was. Die feit dat hier op albei kante geskryf is, is dus uitsonderlik en dit laat ons onmiddellik dink aan die skrywe in Esegiël. Esegiël 2:9-10 Ek sien toe, kyk, daar is ‘n hand uitgestrek na my – met ‘n boekrol! Hy het dit voor my oopgerol. Op die voor- en agterkant daarvan was daar geskryf; treurliedere, versugtinge en weeklagte was daarop neergeskryf. Hier is die verskil dat dit wat Esegiël beskrywe het nie hier die inhoud van die boekrol weergee nie, maar wel wat gebeur wanneer elke seël gebreek word. Verder is dit ook belangrik om daarop te let dat die tien gebooie ook geskrywe is op albei kante van die kliptafels. Eksodus 32:15 Moses het omgedraai en van die berg afgegaan met die twee tafels met die Getuienis in sy hand, tafels waarop aan al twee kante geskryf was; op die voorkant en op die agterkant was daar geskryf. As ons hierdie beeld ingedagte hou kan ons ook verstaan waarom niemand hierdie seëls kon oopmaak nie, aangesien niemand die wet nog ooit kon onderhou nie. Romeine 3:10 soos daar geskryf staan: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie; daar is niemand verstandig nie, daar is niemand wat God soek nie. Almal het afgedwaal; saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie. Hierdie boek is verseël met sewe seëls. Regsdokumente is gewoonlik afgesluit met sewe getuies se name. Hierdie dokumente was dan verseël en die getuies se seël is dan op die warm was ingedruk. Niemand sou die reg hê om met hierdie dokumente te peuter nie. Kyk maar net na so ʼn openbaring waarvan vertel word in Jesaja. Jesaja 29:11 Vir julle het die openbaring van al hierdie dinge geword soos die woorde van ‘n verseëlde boekrol, wat hulle gee aan iemand wat kan lees, en sê: Lees dit asseblief! Dan sê hy: Ek kan nie, want dit is verseël.

Wie is waardig?

God hou die boek in sy hand en ʼn stem gaan uit wat vra wie waardig is om dit te kan oopmaak. Niemand in die Hemel of op die aarde is in staat om die boek se seëls te breek nie. Johannes huil omdat niemand gevind kan word nie en dit wil voorkom of God se plan nie uitgevoer sal kan word nie. Dan sê een van die ouderlinge vir hom om op te hou huil want daar is Een wat in staat is. Hoe gepas dat die ouderling, as verteenwoordiger van die Ou Testamentiese gelowiges, vir Johannes uit die Ou Testament aanhaal om te wys dat die Een wat waardig is die Een is van wie die Ou Testament getuig het. Hy is die leeu van die stam van Juda van Genesis 49 waar Jakob sy seuns seën. Genesis 49:9 ‘n Leeuwelpie is Juda; van die prooi, my seun, het jy opgestaan. Hy sak af, gaan lê soos ‘n leeu, soos ‘n leeuwyfie. Wie sal hom opjaag? Die septer sal nie van Juda  wyk nie, ook nie die heerserstaf tussen sy voete nie, totdat hy aan wie dit behoort,  kom, en volke aan hom  gehoorsaam is. Hy is ook die wortel van Dawid, ʼn aanhaling uit Jesaja. Jesaja11:1 Maar ‘n takkie sal spruit uit die stomp van Isai, en ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra. Wanneer ons die Ou Testamentiese voorspellings lees vind ons dat Jesus al die profetiese uitsprake rakend Homself vervul het. Dit is presies hoe Jesus na sy opstanding homself openbaar aan twee mans wat op pad was na Emmaus toe. Lukas 24:27 Hierna het Hy begin om al die Skrifte oor Hom, vanaf Moses en die Profete, vir hulle uit te lê. Hy is die oorwinnaar.

Hoe het Hy oorwin?

Hier is waar die paradoks van die Christelike geloof na vore kom. Hoe sou die een in wêreldse oë lyk wat die oorwinnaar is? Johannes draai om om hierdie oorwinnaar te aanskou en voor hom staan ʼn lam.  ʼn Lam is ʼn afhanklike en hulpelose dier. Tog is dit nie al nie, nie net is Hy die lam nie, maar ook ʼn lam wat geslag is. Is dit nie wat die Woord ons leer nie? 1Korinthiërs 1:27 Maar die dwaashede van die wêreld het God uitgekies om die wyses te beskaam, en die swakhede van die wêreld het God uitgekies om die sterkes te beskaam. Die koninkryk waaraan ons as gelowiges deel het is ʼn onderstebo koninkryk. Die wat swak is, is sterk. Lees maar gerus weer die bergpredikasie en ontdek hierdie koninkryk. Hier is die afhanklikes gelukkig en die vervolgdes is gelukkig en die wat honger en dors na wat reg is word versadig. Die Kerk deur die geskiedenis het altyd verstaan dat hulle krag in swakheid openbaar word. Hulle krag was nie in die swaard nie, maar juis in die bloed van die martelare. Daarom word die gelowiges ook in Openbaring beskryf as diegene wat die Lam volg. Openbaring 14:4 Hulle is die mense wat hulle nie met vroue besoedel het nie, omdat hulle kuis is. Hulle volg die Lam, waar Hy ook al gaan. Hulle is uit die mense losgekoop, as eerstelinge vir God en die Lam. Ons is volgelinge van ons Verlosser en Oorwinnaar. Die Lam wat geslag is, is die oorwinnaar. Vir die leser van die Ou Testament roep hierdie beeld natuurlik ʼn oorwinningsdag na vore. Dit was aan die einde van die negende plaag wat God aan die volk die opdrag gee om ʼn lam vir elke familie te slag en die bloed van hierdie lam teen die deurkosyn te smeer. Hierdie lam sou die wraak van God keer en veroorsaak dat die doodsengel by hierdie huis verby sou beweeg. Dit is dan presies wat Christus aan die kruis kom doen het. Hy kan ook gesien word in Jesaja as die skaap wat na die slagpale gaan. Jesaja 53:7 Hy is mishandel, maar hy het hom daaraan onderwerp en nie sy mond oopgemaak nie – soos ‘n skaap wat ter slagting  gebring word, soos ‘n ooi wat voor haar skeerders  stom is. Hy het sy mond nie oopgemaak nie. Hy het die wraak van God vir elke gelowige kom dra en hulle sodoende vrygemaak van die wraak wat aan die kom is en uitgebeeld word in die res van Openbaring. Daarom hoor ons ook die stem van Johannes die Doper wanneer hy Jesus sien met die woorde: Kyk die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! Johannes 1:29. Hierin lê die sleutel tot die ontsluiting van die res van Openbaring. Sonder hoofstuk 5 sou ons as gelowiges Openbaring in vrees moes bejeën. Al die magte en kragte, ja die Satan met die sewe koppe en die draak, ja almal is oorwin deur die Lam. Die opstanding word nie genoem nie, maar word veronderstel in die Lam wat lewe. Sy opstanding was die oorwinning wat behaal is en geproklameer word in die wêreld tot vandag. Sonder die opstanding is daar geen oorwinning nie. 1Korinthiërs 15:17-18 En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof vergeefs, en is julle steeds in julle sondes. Dan is ook diegene wat in Christus ontslaap het, verlore.

Die Lam se voorkoms.

Die Lam het sewe horings. Horings het in die Ou Testament te make met krag en mag. Deuteronomium 33:17 Sy eersgebore bul is statig; en sy horings is buffelhorings;

daarmee sal hy volke saam wegstoot tot by die uithoeke van die aarde. Hulle is die tienduisende van Efraim, hulle is die duisende van Manasse. Ons kan ook kyk na Daniel en die voorspelling van die magte en heersers wat sou kom en hoe hulle uitgebeeld word met horings. Die sewe wys ons na die volheid en volledigheid van sy mag. Hierdie mag is nie menslike mag nie, maar die sewe geeste van God. Hierin lê die krag. Dit is ook waar die krag van elke gelowige vandaan kom. Ons krag is in die Heilige Gees. Sagaria 4:6 Toe het hy geantwoord en vir my gesê: Dit is die boodskap van die Here aan Serubbabel, Nie deur mag of deur krag nie, maar deur my Gees, sê die Here, Heerser oor alle magte.

Hy het ook sewe oë. Dit is dan ook ʼn verwysing na Sagaria.

  • Sagaria 3:9 Kyk daarom na die steen wat Ek voor Josua neergesit het, ‘n enkele steen met sewe oë. Kyk, Ek sal ‘n inskripsie daarop graveer en Ek sal die sondeskuld van hierdie land in een enkele dag wegneem, is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte.
  • Sagaria 4:10 Want wie het die dag van klein dinge gering geskat? Hulle sal bly wees en sal die skietlood in die hand van Serubbabel sien. Hierdie sewe is die oë van die Here wat die hele aarde deurkruis.

So baie kan oor hierdie verse in Sagaria gesê word. Kyk maar net na die verwysing van die sondeskuld van hierdie land wat eendag weggeneem sal word, ook ʼn verwysing na wat Christus aan die kruis sou kom doen. Die leser word dadelik bewus gemaak dat hierdie beeld wys dat die Lam ook God is, aangesien die beeld in Sagaria na God verwys. Die sewe geeste is ook ʼn verwysing na die Heilige Gees wat die werk van God deur die wêreld sal verrig.

Die Lam is waarlik God

Die Lam ontvang die boek uit die regterhand van Hom wat op die troon sit. Wanneer Hy dit doen val almal rondom die troon voor Hom neer in aanbidding. Dit is presies wat gebeur het voor die Een wat op die troon sit. Aangesien niemand anders in die Hemel aanbid mag word as God nie word die Lam vir die leser weereens geïdentifiseer as God. Openbaring 22:8-9 Ek, Johannes, is die een wat hierdie dinge gehoor en gesien het. Toe ek dit gehoor en gesien het, het ek in aanbidding neergeval aan die voete van die engel wat hierdie dinge aan my gewys het. Maar hy het vir my gesê: Moet dit nie doen nie! Ek is net ‘n dienskneg saam met jou en jou broers, die profete, en saam met diegene wat vashou aan die woorde van hierdie boekrol. Aanbid God! Hulle besing sy waardigheid aangesien Hy geslag is en mense vir God gekoop het uit elke geslag en taal en volk en nasie. Sy heiliges kom uit mense regoor die wêreld. Die gelowige kan nooit vashou aan ʼn bepaalde groep of volk nie aangesien die broederskap waaraan hy deel het uit alle volke en tale en nasies bestaan. Hoe hartseer dat baie wat in die kerk sit hulle nog steeds identifiseer met “hulle mense” en daarmee verwys na ʼn spesifieke bevolkingsgroep of taalgroep. Ons as gelowiges bely dat ons deel is van almal deur die geskiedenis wat deur die Lam vrygekoop is. Hierdie gelowiges word beskrywe as priesters deur God gemaak en dat hulle as konings sal heers oor die hele aarde. Dit was die beskrywing van die Joodse nasie wat deur God gekies is. Eksodus 19:6 Vir My sal julle ‘n koninkryk van priesters en ‘n heilige nasie wees. Dit is die woorde wat jy aan die Israeliete moet oordra. Hier word gelowiges uit alle nasies met dieselfde woorde beskryf. Watter voorreg het ons nie!? Ons is God se uitverkore volk.

Skare om die troon

Dan sien ons nog ʼn groter groep rondom die troon wat ook die Lam aanbid. Die getal van hierdie skare is ʼn aanhaling van Daniel wanneer hy die Oue van dae sien. Daniël 7:10 ‘n Rivier van vuur het gevloei en voor Hom uit gestroom. Duisend maal duisende  was tot sy diens, en tienduisend maal tienduisende het voor Hom gereed gestaan. Die regbank het plek ingeneem, en die boekrolle is oopgemaak. Hier volg dan weer ʼn doksologie of lofprysing en elke aspek van hierdie aanbidding kan alleen aan God toegeskryf word en tog aanbid hulle hier die Lam. Hoe iemand Openbaring kan lees en weggaan sonder om die Lam se goddelikheid te erken gaan my verstand te bowe.

En dan die belydenis wat van elke skepsel uitgaan. Ja, selfs sy vyande sal moet bely. Filippense 2:9-11 Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en aan Hom die Naam geskenk wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elke knie sal buig – van diegene in die hemel en op die aarde en onder die aarde – en elke tong sal bely, Jesus Christus is die Here! tot eer van God die Vader. Jy gaan of nou, terwyl jy leef, die Here erken as Koning en sy Naam bely of jy sal dit eendag doen voordat jy saam met die Satan en al sy magte in die put van vuur gegooi word.

Slot

Die Lam van God is in ons plek geslag en het die wraak van God gedra. Deur sy bloed het ons deel geword van ʼn priesterdom, ʼn heilige volk wat aan God behoort. Hierdie Lam gee aan elke gelowige die krag van die Heilige Gees, sodat ons kan volhard tot die einde. Sy oë sien alles en Hy is in beheer van alles. Geen vervolging of hartseer wat ons op aarde ervaar kan vergelyk word met die heerlikheid wat vir ons as uitverkorenes van God wag nie. Saam met Christus sal ons oor die aarde heers as konings en saam met elke skepsel sal ons Hom aanbid “Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die sterkte, vir ewig en ewig, Amen!”