Inleiding
Die boodskap aan die 7 gemeentes word gevolg deur die beloning wat vir elke gelowige wag wat tot die einde volhard, nl. die Hemel, die plek waar ons verewig in God se teenwoordigheid sal wees. Menslik is dit onmoontlik om hierdie realiteit te beskryf. Om God te sien het tot nou toe sekere dood beteken. Die Ou Testamentiese mens is verbied om enigsins in God se teenwoordigheid te kom en selfs die allerheiligste van die Tempel was vir die gewone mens net ʼn vae begrip.
Die Hemel se deur is oop.
Johannes word toegelaat om in die allerheiligste in te beweeg waar God op sy troon sit. Die feit dat Hy sit op sy troon is ʼn beeld van sy heerskappy en dat Hy soewerein is oor alles. Dit sal dan ook later weer beklemtoon word in die lofprysing van die vier en twintig ouderlinge. In die Ou Testament was die allerheiligste se ingang bedek met die voorhangsel en net die hoëpriester kon een keer ʼn jaar daar ingaan. In die Hemel sien Johannes ʼn troon met Een wat daarop sit vanwaar alles beheer word en hul oorsprong het. Dit is soos ʼn beheertoring by ʼn lughawe waar geen vliegtuig kan land of opstyg sonder toestemming van die beheertoring nie. Die reënboog rondom God se troon is ʼn verwysing na Esegiël se visioen. Esegiël 1:28 Die helder gloed rondom het gelyk soos ‘n reënboog wat in die wolke verskyn op ‘n reëndag. Dit is hoe die verskyning van die heerlikheid van die Here gelyk het. Toe ek dit sien, het ek neergeval met my gesig teen die grond. Daarna het ek ‘n stem hoor praat. Die reënboog maak die eerste keer sy verskyning na die sondvloed aan diegene wat God begenadig het. Hierdie verskyning van die reënboog is dus ʼn uitdrukking van God se genade wat gesien en ervaar sal word deur elke persoon wat in die Hemel toegelaat word. Sy troon lyk soos jaspis, ʼn deurskynende helder steen, wat later in Openbaring weer gebruik sal word vir die nuwe Jerusalem waar Sy heerlikheid sal wees. Die leser van openbaring sou dus in Hoofstuk 21 dadelik God se teenwoordigheid identifiseer met die gebruik van dieselfde steen.
Vier en twintig oudstes.
Daar is ʼn redelike meningsverskil oor wie hierdie groep verteenwoordig. Daar is diegene wat dit opdeel in twee groepe van twaalf en verduidelik dat die een die Ou Testamentiese gelowiges in terme van die twaalf stamme van Israel verteenwoordig en die ander die Nuwe Testamentiese gelowiges in terme van die twaalf apostels verteenwoordig. Voor ek getalle wil opbreek of nuwe betekenis daaraan gee sou ek eers wou sien of die getal vier en twintig nie op sy eie ʼn betekenis vanuit die Ou Testament het nie. Ons vind in Kronieke dat Dawid die priesters vir diens opdeel in vier en twintig groepe. Lees gerus 1 Kronieke 24 om te sien hoe Dawid hulle opgedeel het. Behalwe die aantal word hierdie mense ook oudstes of ouderlinge genoem. Die oudstes was in die Ou Testament ook die verteenwoordigers van die mense. So is die oudstes elke keer bymekaar geroep as Moses ʼn boodskap aan die volk gehad het. Eksodus 19:7 Moses het gegaan, die oudstes van die volk ontbied, en aan hulle al hierdie woorde wat die Here hom beveel het, voorgehou. Daarom kan ons sien dat die getal vier en twintig en die oudstes ʼn groter groep mense verteenwoordig. Hulle draai dan ook wit klere en elkeen ʼn στεφάνους(staphanos), ʼn oorwiningskroon. Ons sal ook later in Openbaring sien dat al die gelowiges wat deur die groot verdrukking gaan geklee word in wit klere. Openbaring 7:14 Ek het hom geantwoord: “Meneer, u is die een wat weet.” En hy het vir my gesê: Dit is die mense wat uit die groot verdrukking kom. Hulle het hulle lang stolas gewas, en wit gemaak in die bloed van die Lam. Jesus vertel ʼn gelykenis van ʼn koning wat ʼn bruilofsmaal gee vir sy seun. As Hy in die bruilofsaal kom vind Hy ʼn man wat daar sit sonder ʼn bruilofskleed. Matteus 22:11-12 Toe die koning ingaan om die gaste te sien, sien hy daar ‘n man sonder ‘n bruilofskleed aan. En hy vra hom, ‘Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder ‘n bruilofskleed? Maar die man het geswyg. Dit is baie duidelik in hierdie gelykenis dat die mense wat genooi word van die strate af kom en dus nie toegang tot bruilofsklere sou gehad het nie. Die gelykenis bring die hoorder tot die besef dat hierdie kleed deur die koning aan elkeen geskenk moes gewees het. Openbaring wys ons daarop dat hierdie kleed gewas is in die bloed van die Lam. Hierdie kleed wat aan elke gelowige gegee sal word is Christus se geregtigheid. Verder dra die oudstes ook ʼn kroon. Die kroon wat hulle dra word ook aan die gemeente in Filadelfia belowe indien hulle volhard. Openbaring 3:11 Ek kom gou; hou vas aan wat jy het, sodat niemand jou oorwinnaarskrans wegneem nie. So word hierdie kroon ook regdeur die hele Nuwe Testament aan die gelowiges belowe. Voorbeelde hiervan vind ons in:
- 1 Korinthiërs 9:25 Almal wat deelneem, pas in alle opsigte dissipline toe – hulle nogal om ‘n verganklike oorwinningskrans te ontvang, maar ons ‘n onverganklike.
- Jakobus 1:12 Gelukkig is die man wat versoeking deurstaan, want as hy die toets slaag, sal hy die oorwinningskrans van die lewe ontvang, wat God beloof het aan hulle wat Hom liefhet.
Hierdie vier en twintig ouderlinge sit ook op vier en twintig trone. In Mattheus 19 vra Petrus vir Jesus, na die gebeurtenis van die ryk jong man wat nie bereid was om alles prys te gee en Jesus te volg nie, wat hulle sou ontvang wat alles verlaat het. Matteus 19:28 Jesus het vir hulle gesê: “Amen, Ek sê vir julle: In die nuwe bedeling, wanneer die Seun van die Mens op sy glansryke troon sit, sal julle wat My gevolg het, ook op twaalf trone sit en oor die twaalf stamme van Israel regspreek. Jesus maak dit dan duidelik in Hoofstuk 20 dat al die gelowiges eendag dieselfde as die apostels sal ontvang. Ons het dus nou vanuit die Skrif duidelike verwysings na vier en twintig, wat ʼn groter groep verteenwoordig, wat beklee is met Christus se geregtigheid, wat oorwinnaarskrone dra en op trone sit. Met al hierdie leidrade wie is hierdie groep dan? Die een groep waarna nie duidelik in Openbaring verwys word nie wat wel in die Hemel sal wees is die Ou Testamentiese gelowiges. Hierdie groep is na my mening hierdie Ou Testamentiese gelowiges. Hulle is vier en twintig, ʼn getal wat ʼn groter groep verteenwoordig, is as oudstes verteenwoordigers van die volk. Hierdie Ou Testamentiese gelowiges sal net soos die ander gelowiges deel wees van God se heerlikheid en hulle is gered op dieselfde manier as alle gelowiges, alleenlik in die bloed van die lam. Met Christus se sterwe word Hades vir die gelowiges oopgebreek en iets hiervan word gesien met hulle wat met die opstanding aan mense verskyn. Matteus 27:52-53 Die grafte is geopen en baie liggame van ontslape heiliges is opgewek. Hulle het ná sy opstanding uit die grafte gekom, die Heilige Stad binnegegaan en aan baie verskyn. Die deur van die Hemel het vir hulle met Christus se opstanding oop gegaan. Daarom sê Jesus ook vir die man langs Hom aan die kruis dat hy vandag saam met Hom in die Paradys sal wees. Lukas 23:43 Jesus het hom geantwoord: Amen, Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die paradys wees.
Heilig
Vanuit die troon kom weerligstrale, dreunings en donderslae. God se teenwoordigheid in Openbaring sowel as in die Ou Testament word gekenmerk deur dreunings en donderslae. As God aan die volk op die berg Sinai verskyn is dit met weerligstrale en gedonder. Eksodus 19:16 Op die derde dag, toe dit oggend word, was daar donderslae en weerlig en ‘n swaar wolk oor die berg, en ook die baie harde geluid van ‘n ramshoring. Die hele volk in die kamp het gebewe. Interessant is dat ons hier, soos in Openbaring 4, die geluid van ʼn ramshoring, wat dieselfde woord in die LXX is, hoor. Verder is hier ook sewe vuurfakkels wat brand wat geïdentifiseer word as die Heilige Gees, waar die sewe die perfekte getal is wat die Gees se Goddelikheid openbaar. Interessant is dat ons ook by Sinai die vuur kry wat daarop neerdaal. Dit is dan ook die vuur wat die “gemeente” van God in die woestyn lei net soos die Heilige Gees die Kerk in die Nuwe Testament lei. Hier is dan nog ʼn leidraad dat Christus wil hê dat die leser die beelde van Openbaring 4 moet identifiseer met die Ou Testamentiese gelowiges.
In die Hemel sien ons ʼn see van glas. Ons sal deur die hele Openbaring sien dat die Hemel uitgebeeld word met figure van die Ou Testamentiese Tempel. Daarom moet ons altyd die woorde van Openbaring probeer identifiseer met ʼn beeld uit die Ou Testament. Die see was die plek in Salomo se tempel waar die priesters moes was. 2 Kronieke 4:2 en 6. Toe het hy die See gemaak, ‘n gietstuk tien el van rand tot rand, sirkelvormig en vyf el hoog. ‘n Maatlyn van dertig el kon dit omspan. Hy het ook tien waskomme gemaak, en vyf aan die regterkant en vyf aan die linkerkant geplaas om daarin af te spoel – alles wat gebruik is vir die brandoffer is daarin skoon gespoel. Die See was egter net vir die priesters om hulle in af te spoel. Die see lyk soos kristal wat weereens ʼn verwysing is na God se verskyning aan Israel op die berg. Eksodus 24:10 Hulle het die God van Israel gesien. Onder sy voete was dit soos ‘n plaveisel van lasuursteen, so helder soos die hemelruim self.
Daar is vier lewende wesens in die middel en rondom die troon. Hierdie lewende wesens word uitgebeeld soos die Serafim in Jesaja en die gerubs van Esegiël. So het die lewende wesens die getal vlerke gelyk aan die beeld van Jesaja 6, terwyl hulle aangesigte soos die in Esegiël lyk. Die aangesigte verskil van die in Esegiël, waar die gerubs elkeen al vier gesigte het. Die vier lewende wesens verteenwoordig dus al hierdie engele en ook al die skepsels deur die geskiedenis. Ook interessant is dat die gerubs in Genesis voor die tuin staan en Eden beskerm word van enige oortreder en tog hier in teenstelling is die deur oop en die gerubs is voor en rondom Sy troon saam met die ander engele. Verder is hulle vol oë wat ʼn verwysing is na Sagaria. Sagaria 4:10 Want wie het die dag van klein dinge gering geskat? Hulle sal bly wees en sal die skietlood in die hand van Serubbabel sien. Hierdie sewe is die oë van die Here wat die hele aarde deurkruis. God is bewus van alles wat gebeur op aarde en niks gebeur sonder Sy goedkeuring nie. Hulle boodskap, eerder as hul voorkoms, is die fokus. Hulle boodskap is dieselfde as die Serafim in Jesaja 6 wat uitroep Heilig, Heilig, Heilig. As ʼn Woord twee keer herhaal word was dit belangrik om gehoor te gee. Hier kom heilig drie keer voor, die volmaakte, goddelike getal. As ons dink aan God, dan dink ons aan die Heilige God. Niks sal in die Hemel kom wat nie heilig is nie. Hy is so heilig dat die Serafim van Jesaja hulle voete en oë bedek vir Hom. Dit laat ons dink aan Job se woorde aangaande God. Job 4:18 Kyk, in sy dienaars stel Hy geen vertroue nie, en by sy engele ontdek Hy dwaling.(Ou Vertaling)
Slot
Slegs deur God se genade het die mens toegang tot hierdie Heilige plek. Slegs deur Die kleed van geregtigheid van Jesus Christus is ons aanvaarbaar in die troonsaal. Slegs deur die inwoning van die Heilige Gees word ons geseël as deelgenote van God se heilige skepping en kan ons voor God verskyn. Hy is alles, weet alles en sien alles.
Niemand kan voor hierdie God roem nie. Daar is niks wat ons kan doen om voor hierdie God te kan staan nie. Daarom moet die vier en twintig ouderlinge hulle krone voor Hom neerlê. Hiermee bely hulle dat hulle krone ook aan Hom te danke is en dat alle lof en dank alleen aan Hom gebring moet word. As gelowiges kan ons bely dat net Hy alleen waardig is. Net Hy alleen moet die eer ontvang. Alles wat plaasvind is deur Sy raadsplan en volgens Sy wil het alles ontstaan. As gelowiges verstaan ons dat ons geheel en al afhanklik van Hom is. Ons redding is in Hom en die kroon wat ons eendag sal ontvang is Sy kroon wat ons dra. Augustinus het dit mooi gestel: “Wanneer God ons verdienste kroon, kroon Hy niks anders as Sy eie gawes nie.” Die Hemel is oop.
