Openbaring 3:14-22. Boodskap aan die gemeente van Laodisea

Dit is so

Jesus kondig aan dat Hy die “amen” is. Amen is ʼn Hebreeuse woord wat beteken dit is waar of dit is so. Dus sal elke Woord wat tot die gemeente gespreek word kom uit die mond van die Een wat die waarheid spreek. Elke belofte wat Hy maak sal uitgevoer word. In die evangelie van Johannes word Jesus drie en twintig keer aangehaal waar Hy “amen, amen”, wat vertaal word as “voorwaar, voorwaar”, sê. Hy kon met gesag spreek aangesien Hy God is wat die verlede, hede en toekoms in Sy hande vashou. Hy is dan ook die Skepper van alles en dit verbind hierdie gedeelte met Jesaja 65 wat praat van die God van waarheid en die Een wat ook die nuwe hemele en nuwe aarde sal skep. Net hier in Openbaring en in Jesaja 65 word die “amen” gebruik as ʼn naam. Jesaja 65:15b-17 Maar sy knegte sal Hy noem met ‘n ander naam, sodat hy wat homself seën in die land, hom sal seën by die God van waarheid; en hy wat sweer in die land, sal sweer by die God van waarheid, omdat die vorige benoudhede vergeet is en verborge vir my oë. Want kyk, Ek skep nuwe hemele en ‘n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie. Die konsep van ʼn nuwe hemel en aarde sal weereens beklemtoon word in Openbaring 21. Daarom sou dit die gemeente van Laodisea oproep om aandagtig te luister na Sy woorde en ag te slaan op Sy waarskuwings. Hy is die Waarheid en dus is daar ʼn oproep op hulle om ook in die waarheid te wandel en op te hou met kompromieë. Vir hierdie gemeente word daar geen positiewe boodskap gegee nie. Dit kom nie voor of daar enige een was wat brandend vir die Woord en die evangelie was nie.

Julle is lou

In die nabye omgewing van Laodisea was daar Hierapolis wat warm water, bekend vir hul medisinale waarde, en Kolosse wat weer koue water, wat heerlik was om te drink, gehad het. Laodisea, daarenteen, het water gehad wat lou was. Dit moes van ver af na die dorp gelei word met pype, wat dan veroorsaak het dat die water lou was.  Daarom is daar ʼn ironie in Christus se woorde aan hierdie gemeente omdat hulle sê dat hulle aan niks gebrek het nie en tog het Loadisea die belangrikste lewensaar van water nie gehad nie. Hierdie water wat van ver af gelei is was lou en het jou naar gemaak. Jesus gebruik hierdie toestand van die water in Laodisea as ʼn metafoor vir die kerk in Laodisea. Hier moet ons waak om enigsins die idee te hê dat God dit goedkeur dat iemand koud rakende die evangelie is. Die warm en koud het te make met die funksionaliteit van die water teenoor water wat geen waarde het nie. Dit is baie duidelik dat God die wat ongeregtigheid doen haat. Psalm 5:5-6 Want U is nie ‘n God wat behae het in goddeloosheid nie; die kwaaddoener sal by U nie vertoef nie. Die onsinniges sal voor u oë nie standhou nie; U haat al die werkers van ongeregtigheid. Hierdie gemeente het God naar gemaak. Watter aanklag teen hulle!? Hierdie kerk het geen doel gedien nie. Hulle het soos die wêreld gelyk. Die kompromieë wat hulle gemaak het, het hulle getuienis vernietig. Hierdie gemeente kon nie genesing bring of ʼn lafenis wees vir die wêreld nie. Hoe meer die kerk soos die wêreld lyk hoe minder het dit enige effek. Die kerk behoort uit te staan in die omgewing waar God hulle geplaas het sodat almal dit sal sien. Baie het die idee dat ons meer soos die wêreld moet lyk en praat om werklik effektief te wees as getuies, maar niks kan verder van die waarheid verwyder wees nie. Gelowiges se lewens moet die wêreld wat wil voortleef in hul sonde ongemaklik maak. ‘n Heilige lewe sal ʼn persoon in die wêreld aankla of aantrek, maar geen wêreldling gaan gemaklik wees om net met hul lewens soos gewoonlik aan te gaan in die gelowige se teenwoordigheid nie. Die term wêreldling sluit verseker ook die lou “Christen” in. Daar bestaan nie so iets soos ʼn nominale Christen nie. Die gelowige se strewe na heiligheid en om God te behaag sal altyd ʼn steen des aanstoots vir die sogenaamde gelowige en die wêreld wees en hy/sy sal veral vervolging van die eerste groep ervaar. Die mense wat Jesus die meeste gehaat het was die sogenaamde kerkmense van Sy dag. Sy lig het veroorsaak dat mense wat wou voortleef in hulle sonde nie naby Hom wou bly nie. Johannes 3:19-21 En dit is die oordeel: Die lig het in die wêreld gekom, maar die mense het die duisternis liefgehad bo die lig, omdat hulle dade boos was. Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel kan word nie. Maar wie volgens die waarheid leef, kom na die lig, sodat sy dade bekend kan word, dat hulle in God gedoen is. Hou jy van gelowiges wat aan die brand is? Wil jy graag saam met hulle wees en by hulle uitkom of is jy meer gemaklik by diegene wat kompromieë maak of in die wêreld se geselskap. Is sommige mense vir jou net “te” terwyl ander “lekker” ouens is saam met wie mens darem ʼn ou vuil grappie kan deel? Verstaan ons nie dat vriendskap met die wêreld vyandskap met God is nie. Jakobus 4:4 Egbreeksters! Weet julle dan nie dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God beteken nie? Wie ook al ‘n vriend van die wêreld wil wees, maak homself ‘n vyand van God. Hierdie gemeente het beslis nie geluister na die waarskuwing van die Psalmdigter nie. Psalms 1:1-2 Gelukkig is die mens wat nie die raad van goddeloses volg, nie op die pad van sondaars gaan staan en nie in die byeenkoms van spotters sit nie, maar wat vreugde vind in die wet van die Here en sy wet dag en nag mymerend prewel. Geen kerk of individu moet hulself bluf om te dink dat God geneë is met ʼn lewe van kompromieë ten opsigte van Sy Woord nie. Nee, jy maak Hom naar.

Julle is arm

Hierdie gemeente het hulle materiële voorspoed gebruik as ʼn barometer van die Here se seën. Baie mense en kerke gebruik vandag nog hierdie maatstaf om te wys dat hulle deur God geseën is. Die term “guns” word ook dikwels gebruik en hoe ryker jy materieel is hoe groter is God se “guns” of seën. Ons kan maar net na ʼn paar Nuwe Testamentiese figure kyk om te weet dat hierdie nie die waarheid is nie. Selfs Jesus en sy dissipels kan as alles behalwe ryk beskrywe word en Paulus, wat ʼn getroue volgeling van Christus was, vertel dat hy met tye gebrek gely het. Filippense 4:12 Ek weet wat dit is om te min te hê, en ek weet wat dit is om oorvloed te hê; ek is in elke opsig in al hierdie dinge ingewy: om versadig te wees, sowel as om honger te ly; om oorvloed te hê, sowel as om gebrek te ly. Die hartseer was dat hulle rykdom in die tyd waarin hulle gelewe het, eerder  ʼn aanklag teen hulle was, aangesien enige gelowige, soos in die gemeentes wat aan die brand was vir die Here, gekenmerk is deur armoede omdat hulle uitgesluit is van normale onderhandelinge in die afgode tempels. 1 Timoteus 6:10 Want geldgierigheid is die wortel van alle kwaad. Die hunkering na rykdom het sommige mense laat afdwaal van die geloof, en hulle het hulleself met baie smarte deurboor.

Hierdie stad was bekend vir hulle materiale en hulle wol. Hulle was ook bekend vir hul oogsalf en hul mediese skool. Die ironie is dat God die stad se roem gebruik om die gemeente aan te spreek dat die dinge waaroor hulle spog juis die dinge is waarin hulle geestelik gebrek ly. Hierdie gemeente was arm, naak en blind. Die teenoorgestelde van wat hulle gedink het. Hierdie boodskap is ook van toepassing vandag. Ons dink ons kan sonder God klaarkom. Ons is selfversorgend en het geen hulp nodig nie. Baie sal sê dat hulle beslis weet dat hulle afhanklik is van God en tog sal hulle lewens nie daarvan getuig nie, want hul jaag na geld as sekuriteit. Hoe maklik bluf ons nie onsself nie. God wil hulle goud gee wat met vuur gelouter is; ʼn uitdrukking in die Skrif van ʼn persoon wat God suiwer van alle ongeregtigheid en skoon was van sy sonde. Maleagi 3:2-3 Wie kan die dag  van sy koms verduur, wie kan staande bly  wanneer hy verskyn? Ja, daardie dag is soos die vuur van die smelter en soos die loog van wassers. Hy sal gaan sit as iemand wat silwer smelt en suiwer. Hy sal die Leviete reinig en hulle soos goud en silwer suiwer. Hulle sal aan die Here behoort, en offers in geregtigheid bring. Dit het dieselfde betekenis as die wit kleed wat hulle van Hom moet ontvang. Die Sardis gelowiges se klere was nie bevlek nie, aangesien hulle getrou was in hul wandeling.  Die gelowiges wat deur die groot verdrukking gegaan het, het wit stolas of klere ontvang. Openbaring 7:13-14 In antwoord daarop het een van die ouderlinge vir my gevra: Hierdie mense wat die lang wit stolas dra, wie is hulle, en waar kom hulle vandaan? Ek het hom geantwoord: Meneer, u is die een wat weet. En hy het vir my gesê: Dit is die mense wat uit die groot verdrukking  kom. Hulle het hulle lang stolas gewas, en wit gemaak in die bloed  van die Lam. Die metafoor van die salf en hulle wat eintlik blind is, laat ons onmiddellik dink aan die woorde van Jesus in Johannes 9. Johannes 9:39-41 En Jesus het gesê: Ter wille van ‘n beslissing het Ek na hierdie wêreld gekom, sodat dié wat nie sien nie, kan sien, en dié wat sien, blind kan word. Van die Fariseërs wat by Hom was, het dit gehoor en vir Hom gesê: Ons is tog nie ook blindes nie? Jesus het vir hulle gesê: As julle blind was, sou julle geen sonde hê nie, maar nou sê julle, Ons sien. Daarom bly julle in julle sonde. Die gelowige se groei word gekenmerk deur ʼn nederige afhanklikheid en erkenning van tekortkominge in sy/haar geestelike lewe. Het jy onderskeidingsvermoë? Kan jy die ware van die valse onderskei?

Bekeer julle

Ten spyte van hulle toestand word hulle opgeroep om tot inkeer te kom. Vir hulle wat hoor is daar nog ʼn vandag. Hebreërs 3:13-15 Maar spoor mekaar elke dag aan, solank daar nog van “vandag” sprake is, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie. Ons het inderdaad deelgenote van Christus geword, mits ons enduit stewig bly vashou aan ons aanvanklike geloofsvertroue – soos gesê word: Vandag, as julle sy stem hoor, moenie julle harte verhard, soos tydens die opstand nie. Sy oproep is juis vanuit Sy liefde vir hierdie gemeente. God se waarskuwings en Sy boodskappers se waarskuwing kom altyd vanuit liefde. As God ook tug is dit omdat Sy begeerte is dat ons tot inkeer sal kom en ons rug op die sonde sal draai. In Hebreërs vergelyk hy hierdie liefde wat sy kinders tug met ʼn liefde wat ʼn vader vir sy kinders het. Niks kan vir ʼn liefdevolle vader erger wees as om te sien hoe sy kinders se optrede en gedrag hul lewens verwoes nie. Daarom is ware teregwysing en tugtiging  ʼn teken van liefde. Hebreërs 12:5-6 En julle het die aansporing wat julle as kinders aanspreek, heeltemal vergeet: My seun, moenie die dissiplinering van die Here geringskat nie, en moenie moedeloos word wanneer jy deur Hom  bestraf word nie; want die een vir wie die Here liefhet, tug Hy, en Hy straf elke seun  wat Hy aanneem.

Jesus staan buite

Verder kom die boodskap na hierdie gemeente dat Hy, wat die hoof is van die liggaam, aan die buitekant van hierdie gemeente staan en klop. Die kerk se ware hoof staan aan die buitekant van die kerk en die kerk is in der waarheid onthoof. Hierdie is so ʼn goeie beeld van Laodisea en van elke kerk wat dink dat hulle sonder die Hoof, Christus kan funksioneer. Hulle is beslis soos ʼn afkop hoender wat in alles vashardloop en hulleself geestelik vernietig. Die oproep tot hierdie gemeente is om die deur van die gemeente oop te maak sodat die Verlosser kan binnekom. Watter feesmaal sal dit nie wees nie? Watter vreugde sal nie gevind word met Hom aan ons etenstafel nie. Sal hulle nie soos die Emmausgangers kon getuig: Was ons harte nie brandend in ons toe Hy met ons langs die pad gepraat en die Skrifte vir ons uitgelê het nie? Lukas 24:3.

Slot

Die boodskap aan Laodisea is dat hulle in ʼn klub verander het. Die leuse op die deur is dalk nog dieselfde as aan die begin, die missie en vissie is dalk nog daar êrens op ʼn dokument, maar hulle beteken niks. Die doel, nl. om God te verheerlik en te dien, is lankal by die agterdeur uit en die teendeel is waar – hulle maak Hom naar! Die Here het die huis verlaat. Soveel kerke vandag bestaan net in naam, maar die Here is nie meer daar nie. God kom hulle waarsku en Hy klop van buite. Kyk na jou lewe deur God se oë. Meet jouself aan Sy standaard en nie deur die oë van die wêreld waar geld en aansien belangrik is nie. Wees anders – wees heilig. Slegs indien Hy die hoof van die kerk en van jou lewe is, sal dit verander in  ʼn offer wat vir Hom aanneemlik is. Diegene wat vashou tot die einde en volhard sal nie net gered word nie, maar sal ook saam met die Vader en die Seun op die troon sit. Hierdie beeld sal ons ook sien as ons in die Hemel geneem word in Hoofstuk 4 en 5. As Christus praat getuig die Gees in die gelowige se harte. Jesus vertel aan sy volgelinge dat as Hy weggaan die Gees sal kom en dat Hy hulle sal herinner aan wat Hy gesê het. Johannes 14:26 Die Parakleet, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle in alles onderrig en julle aan alles herinner wat Ek vir julle gesê het. Luister jy na die Gees se aanklag en vermaning in jou lewe? Hoor jy hoe Hy jou herinner aan Christus se Woord.

Jesaja 55:1-3 Kom, almal wat dors is, kom na die water! En wie geen geld het nie, kom koop en eet! Kom koop sonder geld, sonder koste, wyn en melk! Waarom weeg julle silwer af vir wat nie brood is nie, en bestee julle moeitevolle arbeid aan wat nie versadig nie? As julle aandagtig na My luister, sal julle eet wat goed is, sal julle julle aan ryk kos verlustig. Maak julle ore oop en kom na My toe; luister, sodat julle kan leef! Ek wil met julle ‘n ewige verbond sluit, getrou aan die bestendige liefde  vir Dawid.