7 “Dit sê die Heilige, die Ware,
wat die sleutel van Dawid hou,
wat oopmaak, en niemand sal dit toesluit nie,
wat toesluit, en niemand sal dit oopmaak nie.”
Jesus is die een wat die sleutels van Dawid vashou en die outoriteit het om oop te maak en te sluit. Hierdie vers is so bietjie anders as die een in hoofstuk 1:18b waar Christus die sleutel vashou van die dood en Hades. Hier is Hy ook die een wat die sleutels van Dawid vashou en dus wys Openbaring ons dat Christus soewerein is en dat alle mag in Sy hande is. Hy is nie net die wortel van Dawid nie. Openbaring 5:5 Toe sê een van die ouderlinge vir my: Hou op huil! Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die wortel van Dawid, het oorwin, sodat Hy die boekrol en die sewe seëls daarvan kan oopmaak. Hy is die een wat die outoriteit het oor wie toegelaat word is Sy koninklike paleis. Die sleutel van die huis van Dawid is ʼn aanhaling uit Jesaja. God kondig in hierdie gedeelte aan dat Hy die outoriteit sal wegneem van Sebna en dit aan Eljakim sal gee. Eljakim sal ʼn kleed van God ontvang en die outoriteit hê oor Jerusalem en Juda. Jesaja 22:22 Ek sal die sleutel van die huis van Dawid op sy skouer plaas. Hy sal oopmaak, en niemand sal toesluit nie; hy sal toesluit, en niemand sal oopmaak nie. God gee dus die outoriteit aan Eljakim om te bepaal wie binne die poorte toegelaat word. God gee selfs aan ʼn goddelose koning, koning Kores van die Mede en die Perse outoriteit. Jesaja 45:1 So sê die Here vir sy gesalfde, vir Kores, wie se regterhand Ek vasgegryp het om nasies voor hom te verslaan, deur konings te ontwapen om voor hom deure oop te maak, sodat poorte nie vir hom gesluit sal bly nie.
Verwerp deur die wêreld, welkom by God
In hierdie gedeelte word aan die gemeente in Filadelfia verklaar dat Christus die finale sleutels oor wie in Sy koninkryk toegelaat word in sy hande vashou. Hy is dus die finale outoriteit en die enigste outoriteit wat hierdie gemeente hoef te vrees. Jesus vertel in Johannes 10 die gelykenis van die herder wat sy skape lei. Hier kondig Hy aan dat Hy ook die deur is en dat die wat kan ingaan om redding te ontvang alleen deur Hom kan ingaan. Johannes 10:9 Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind. In die verhaal van die herder is Jesus die een wat uitgebeeld word in verskillende rolle nl. herder, hekwagter en die deur. Hy is dus ook die een wat beheer het oor die oopmaak en toemaak van die deur. Wat het dit vir hierdie gemeente beteken? Hulle het geleef in ʼn stad waar hulle deur die heidene vervolg sou word en finansiële skade sou lei a.g.v. hulle belydenis van geloof in Jesus Christus. Hulle is uitgesluit van funksies en besigheidsgeleenthede. Selfs tussen die Jode en in die sinagoges was hulle nie welkom nie. Hulle was totale uitgeworpenes in die samelewing. Christus kondig vir hulle aan dat al is al die deure van die dorp vir hulle gesluit is die belangrikste deur, wat nooit vir hulle gesluit sal word nie, vir hulle oop. Die Hemelse stad met twaalf poorte of hekke sal vir hulle nie gesluit wees nie en hulle sal hier welkom wees en met vreugde kan ingaan. Openbaring 21:12 Die stad het ook ‘n groot en hoë muur met twaalf poorte, en by die poorte is daar twaalf engele. Op die poorte is name gegraveer, die name van die twaalf stamme van die kinders van Israel. Waarom sal jy bekommerd wees en hartseer raak omdat jy oral op aarde uitgesluit word, wetende dat jy die Hemelse sal ontvang, dit wat jy nie kan verloor het nie? Openbaring 3:12 Wie oorwin, sal Ek ‘n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal nooit weer daar uitgaan nie… Het Jesus nie aan sy volgelinge vertel dat die ingang na die ewigheid nou is nie? Lukas 13:24 Beywer julle om by die smal deur in te gaan, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan, maar sal dit nie regkry nie. Die weg tot die ewigheid sal altyd deur die nou ingang wees. Dit sal nooit die gewilde pad wees of die pad wat deur die meerderheid gevolg word nie. Dit is die pad wat jy dikwels teen populêre opinie, alleen sal loop. Die roete waar jy deur almal gehaat sal word. Matteus 10:22 En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot aan die einde, dié sal verlos word. Dit is dan ook presies wat hierdie gemeente ervaar het. Al was hulle sodanig vervolg dat hulle al swak was, het hulle des nie teenstaande vasgehou aan God se Woord. Hulle het die Woord bly verkondig ten spyte van verdrukking en vervolging.
Volharding
Dit is die eienskap van ʼn ware gelowige. Openbaring 14:12 Hiervoor het die heiliges volharding nodig, hulle wat die gebooie van God nakom, en in Jesus bly glo.
Is jy bereid om sy Woord te bly verkondig in ʼn wêreld wat antagonisties is?
Daar was ʼn tyd wat dit deel was van die Westerse kultuur om te bely dat jy ʼn Christen is. Baie het dit dan ook in hierdie gees gedoen, sonder die nodige geloof en vrug wat ʼn ware belydenis vergesel. Hierdie kultuur het drasties in die laaste 10 jaar verander en hoe nader ons aan Jesus se terugkeer kom, hoe meer gaan dit verander. Vandag word die openbare belydenis van geloof in Jesus Christus alreeds op baie plekke verban. Maar meer nog, die opregte leef as Kind van die Here, word nie meer geduld nie en was nog nooit geduld nie, selfs nie onder sogenaamde “Christene” nie. Ons moet volhard in die Woord, die ware Woord en nie die verdraaiing van baie hoofstroom kerke nie. Dit is dan ook wat dit beteken dat hulle nie net vasgehou het aan Sy Woord nie, maar Hom ook nie verloën het nie. Is jy soos Petrus wat om die kampvure sê dat jy Hom nie ken nie of in jou werksplek eerder stilbly. Dit was nie die eienskap van die Filadelfia gemeente nie. Nee, in teenstelling, ten spyte van fisiese lyding het hulle aangehou. God belowe aan hulle dat hierdie mense uit die sinagoge van die Satan sal kom en voor hulle buig en erken dat Hy hulle lief het. Daar sal ʼn dag van oordeel wees vir almal wat ons vervolg het en die spot met ons as gelowiges gedryf het. Ons sal as konings in die ewigheid saam met Christus regeer en ons sal nie net die engele nie maar ook die wêreld oordeel. In Mattheus 19 vra Petrus aan die Here wat diegene sal ontvang wat alles verlaat het en Hom gevolg het. Jesus antwoord Petrus soos volg: Amen, Ek sê vir julle: In die nuwe bedeling, wanneer die Seun van die Mens op sy glansryke troon sit, sal julle wat My gevolg het, ook op twaalf trone sit en oor die twaalf stamme van Israel regspreek. En elkeen wat huise of broers of susters of vader of moeder of kinders of grond agterlaat ter wille van my Naam, sal honderd maal soveel ontvang, en die ewige lewe erf. Matteus 19:28-29. Die interessante van hierdie gedeelte is dat Jesus dan deur ʼn gelykenis in hoofstuk 20 aan die apostels toon dat almal wat Hom sal volg dieselfde beloning as hulle sal ontvang. Matteus 20:10 Toe die eerstes kom, het hulle gedink dat hulle meer sal kry, maar ook hulle het elk ‘n denarius gekry. Hierdie erkenning sal ons nie op aarde ontvang nie, maar wel volkome in die ewigheid.
Die uur van beproewing
10. “Omdat jy aan my opdrag gehoorsaam was om te volhard, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele bewoonde wêreld gaan aanbreek, om die bewoners van die aarde op die proef te stel.”
Hulle volharding in hierdie tyd, te midde van fel teenkanting, sal veroorsaak dat hulle bewaar sal word van die uur van beproewing. Al die Afrikaanse vertalings vertaal die Griekse frase met die preposisie “ἐκ τῆς ὥρας” (ek tēs hōras) as “bewaar in die uur van”. Die Grieks is baie duidelik en word in die meerderheid van Engelse Bybels(NIV,ESV,NLT,NASB,NLT) korrek vertaal as “bewaar uit die uur van”. Dit maak ʼn enorme verskil in die verstaan van hierdie gedeelte, aangesien in sou beteken dat die gelowige teenwoordig is, maar dinge net rondom hom/haar sou gebeur sonder om enige negatiewe inpak te hê. Uit beteken egter dat die gelowige uitgehaal en dus nie teenwoordig sal wees nie. Wat is die implikasie hiervan? Beteken dit dat gelowiges nie deur die groot verdrukking sal gaan waar hulle deur die Satan, sy volgelinge en die Antichris vervolg en uitgemoor sal word nie? Hier is dit belangrik om te onthou dat Christene deur die geskiedenis verdruk, gemartel en vermoor is vir hulle geloof. Die intensiteit hiervan gaan volgens Openbaring net eksponensieel toeneem met die koms van die Antichris. Christene word gewaarsku dat hulle deur hierdie vervolging sal gaan. Openbaring 7:14 Ek het hom geantwoord: “Meneer, u is die een wat weet.” En hy het vir my gesê: Dit is die mense wat uit die groot verdrukking kom. Hulle het hulle lang stolas gewas, en wit gemaak in die bloed van die Lam. As dit so duidelik vanuit Openbaring, die res van die Bybel en die geskiedenis van die Kerk is dat Christene deur vervolging sal gaan, waaruit sal ons dan bewaar word? Wat is die “toets” of “beproewing” waarvan gepraat word? Dit is duidelik dat “Die groot verdrukking” en “die uur van beproewing” nie dieselfde gebeurtenis kan wees nie, want gelowiges kan nie ter selfde tyd daartydens vermoor en daaruit bewaar word nie. ʼn Belangrike leidraad is dat, in kontras met die verdrukking en die vervolging van die gelowiges, hierdie vers dit duidelik maak dat die toets waarvan daar gepraat word oor die hele wêreld sal wees. Met hierdie uur van beproewing sal “al die bewoners op die aarde” getoets of beproef word. Die oomblik as ons twyfel aangaande enige teks in die Skrif moet ons eers die antwoord in die res van die boek wat ons lees en dan in die res van die Skrif gaan soek. Daar sal altyd ʼn gedeelte wees wat dit wat ons nie verstaan nie nog beter aan ons sal verduidelik.
God se wraak
Verder aan in Openbaring lees ons van toetse of dan beproewings wat al die inwoners van die aarde sal tref en dit het te make met God se wraak. Dit is duidelik dat Openbaring aan ons openbaar dat daar ʼn groep sal wees wat, net soos die Israeliete van ouds, nie onder God se wraak sal deurloop nie. Gedurende die tien plae in Egipte kondig God aan dat vanaf die vierde plaag die land Gosen, waar die Israeliete gewoon het, nie meer deur die plae getref sou word nie. Die plae van Egipte lyk net soos die wraak wat die wêreldlinge tref en die interessante is dat dit telkens sewe keer aangekondig word. Eerstens deur die trompette en daarna deur die sewe wraakbakke. Sewe dui nie net op God se volmaakte getal nie, maar herinner ons ook daaraan dat die laaste sewe plae net die Egiptenare getref het. In Openbaring vind ons dat God sy volgelinge merk voordat Hy die aarde en die wat daarin is tref in sy wraak. Dit is in teenstelling met die wêreldlinge wat deur die Antichris gemerk sal word met die getal 666.
- Openbaring 7:3 Moenie die land of die see of die bome beskadig, voordat ons die diensknegte van ons God met ‘n seël op hulle voorkoppe gemerk het nie.
- Openbaring 9:4 En hulle is aangesê om nie die gras van die aarde of enige plant of boom te beskadig nie, maar slegs daardie mense wat nie die seël van God op hulle voorkoppe het nie.
Dit is dus baie duidelik dat daar ʼn groep sal wees wat bewaar sal word van God se wraak. Hierdie groep sal ons in diepte bespreek as ons hierdie gedeeltes hanteer, maar ek kan nou alreeds sê dat hulle uit die Joodse volk sal kom.
Weggeneem op die wolke
Wat dan van die ander gelowiges? Dit word weereens aan ons openbaar dat die meerderheid van hulle uitgemoor sal word tydens die groot verdrukking. Openbaring 6:11 Daarop is aan elkeen van hulle ‘n lang wit stola gegee, en hulle is aangesê om nog ‘n kort rukkie te rus, totdat hulle medediensknegte en broers, wat ook soos hulle doodgemaak gaan word, voltallig sou wees. Die Een wat beheer sal neem van die sewe trompette en die wraakbakke is die Een wat op die wolk sal sit en vanuit Daniel en Mattheus aan ons geïdentifiseer word as Christus. Wat weet ons van Christus se koms op die wolke en die gelowiges wat met sy tweede koms nog nie deur die Antichris en sy magte vermoor is nie? Matteus 24:30-31 Dan sal die teken van die Seun van die Mens aan die hemelruim verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rouklaag, en hulle sal die Seun van die Mens sien kom op die wolke van die hemel met krag en groot heerlikheid. Hy sal sy engele stuur met luide trompetgeskal, en hulle sal sy uitverkorenes uit die vier windrigtings versamel, van die een uithoek van die hemele tot by die ander. Dit word ook verder verduidelik, net ʼn paar verse later, met die woorde: en hulle niks vermoed het totdat die vloed gekom en almal meegesleur het nie, só sal ook die koms van die Seun van die Mens wees. Dan sal daar twee op die land wees – een sal saamgeneem en die ander agtergelaat word. Twee sal by die meule maal – een sal saamgeneem en die ander agtergelaat word. Matteus 24:39-41. Ja, Christus sal sy kinders kom haal en hulle sal Hom tegemoet gaan in die wolke. Dan eers sal God sy wraak oor die aarde laat kom. Die boodskap aan die gemeente van Filadelfia het dus nie te make met die Groot Verdrukking nie, want daardeur sal alle gelowiges wat nog leef op aarde gaan. God sal hulle egter “bewaar uit die uur van” sy wraak wat met sy koms met trompetgeskal aangekondig sal word.
God se wraak
Hierdie is dan ook die tyd wanneer ryk en arm, slaaf en vry die berge sal vra om hulle te bedek van die aangesig van Hom wat kom op die wolke. Hulle besef die straf het aangebreek. Christus maak dit dus duidelik deur Sy Woord dat die gelowige wel deur die wraak van die wêreld sal gaan, maar nooit deur enige, en beslis nie die finale, wraak van God nie. Daardie wraak is deur Christus in ons plek gedra. Wat die gelowige wel kan weet is dat selfs in die felste aanslag teen hulle, God hulle geestelik sal bewaar en dat hulle nooit hulle redding sal verloor nie. Filippense 1:6 juis hiervan oortuig dat Hy, wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voltooi tot op die dag van Christus Jesus. Christus het vir ons gebid net voor sy kruisiging dat die Vader elke gelowige sal bewaar. Johannes 17:15 Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar. Hier is dit ook duidelik dat God ons nie uit die wêreld se verdrukking en vervolging sal wegneem, soos baie beweer dat Christus ons as gelowiges sal wegraap uit die Groot Verdrukking nie, maar wel dat Hy ons geestelike toestand sal bewaar.
Die belangrikste om te besef is dat die Groot Verdrukking en die tydperk van die Wraak van God nie dieselfde is nie. Die eerste tref slegs die gelowiges en word veroorsaak deur die Satan en die Antichris en sy magte. Die tweede tref slegs die ongelowiges. Selfs al glo jy dat elke gelowige ook deur die tydperk van wraak sal gaan moet jy na aanleiding van Openbaring bely dat die gelowiges gemerk sal word en nie deur die wraak getref sal word nie.
Staan vas
Christus roep gelowiges in Filadelfia, en so ook elke gelowige deur die geskiedenis, op om sterk te staan. Elke gelowige moet bewus wees dat ons elkeen deur baie verdrukkinge in hierdie wêreld sal deurgaan. 2 Timoteus 3:12 Almal wat godvresend in Christus Jesus wil leef, sal inderdaad vervolg word. Dit is dus nie net ʼn moontlikheid dat jy as gelowige vervolg sal word nie, maar ʼn sekerheid. Daarom moet ons sterk staan en nie toelaat dat ons ons oorwinningskroon verruil vir ʼn aardse kroon nie. Ons het nie ʼn begeerte soos die wêreld om deur mense geëer te word nie, nee, die eer wat ons soek is van die konings van alle Konings. Die vier beloftes wat aan hierdie gelowiges gemaak word is ʼn aanhaling uit Jesaja.
- Jesaja 62:2 Nasies sal jou geregtigheid sien, en al die konings jou roem. Aan jou sal ‘n nuwe naam gegee word; die mond van die Here self sal dit bepaal.
- Jesaja 65:15 Julle sal julle naam agterlaat om deur my uitverkorenes in verwensings gebruik te word. Die Heer, die Here, sal jou doodmaak; maar aan sy diensknegte sal Hy ‘n ander naam gee.
Ons sal ook vir ewig ʼn pilaar in die tempel, wat in Openbaring as Here God en die Lam geïdentifiseer word, van God wees. Openbaring 21:22 ‘n Tempel het ek egter nie in haar gesien nie, want die Here God, die Almagtige, en die Lam is haar tempel. Hy in ons en ons in Hom. Ook sal Hy op ons die naam van God en die stad van God skrywe. Dit is ʼn verwysing na Esegiël. Esegiël 48:35 Rondom is dit agttienduisend el; en die naam van die stad is van nou af: Die-Here-is-daar.
Slot
Oor en oor word aan hierdie gemeente en aan ons belowe dat God met ons sal wees. God belowe aan elke ontmande in Jesaja dat as hulle sy gebooie gehoorsaam hulle iets sal ontvang wat baie meer werd is as seuns en dogters. Jesaja 56:4-5 Want so sê Ek, die Here, vir die eunugs, vir dié wat wel my Sabbatte onderhou, wat dit kies waarin Ek vreugde vind, en wat vashou aan my verbond: Ek sal vir hulle iets gee wat beter is as seuns en dogters: In my tempel en teen my mure sal Ek hulle gedenk met ‘n teken en ‘n naam. ‘n Ewige naam sal Ek aan hulle gee wat nie uitgewis sal word nie. Is dit jou grootste begeerte om deur Hom geëer te word? Om sy verering te ervaar? Soek jy die vreugde wat Hy alleen kan bied of is die aardse eer en kroon jou begeerte? Hou vas aan Sy Woord en hou aan om dit te verkondig en te leef te midde van teenkanting, wetende dat die beloning wat voorlê alles wat jy hier moet deurgaan oortref. Romeine 8:18 Ek is oortuig dat die lyding van die huidige tyd nie vergelyk kan word met die heerlikheid wat bestem is om aan ons geopenbaar te word nie.
