Openbaring 3:1-6.Boodskap aan die gemeente van Sardis

Inleiding

Christus stel homself aan hierdie gemeente voor op ʼn soortgelyke wyse as aan die gemeente in Éfese. Hy is die een wat die sewe sterre, die sewe engele, en die sewe Geeste van God het. Hy is die een wat die gemeente in sy beskerming het en hulle is dus nie afhanklik van ander of van ander se beskerming nie. Verder is Hy ook die een wat die sewe Geeste het wat wys na die Heilige Gees wat brand op die lampstaanders. Openbaring 4:5 Vanuit die troon het daar weerligstrale, dreunings en donderslae gekom. En voor die troon het sewe vuurfakkels gebrand – die sewe Geeste van God. Dit wat ʼn gemeente in staat stel om aan die wêreld ʼn getuienis te wees is die werking van die Heilige Gees. 

Skyn Godsdiens

Sardis is ʼn kerk wat vas aan die slaap is. Hierdie kerk lyk wonderlik van buite. Hulle het ʼn naam en staan bekend as ʼn aan die brand gemeente. In vandag se terme sou ons waarskynlik kon sê dat hul eredienste gepak is en die musiek begeleiding die beste in die omgewing is. Hulle programme deur die week is gelaai en elke lidmaat voel dat hy besig is met die Here se dinge. Mense in die omgewing praat van hierdie gemeente se aktiwiteite en daar is baie wat wil aansluit. Tog waarsku God hulle dat hulle besig is om iets wat dood is te probeer mooi maak. Jy kan blosser op ʼn lyk se wange sit om die grys doodskleur te verbloem, maar dit maak nie lewend nie. Op die ou end is dit nie belangrik wat mense sê nie, maar wat God van die kerk sê. Dit gaan nie oor die uiterlike nie, maar die hart.

Wat was hierdie gemeente se probleem?

Ons het reeds aangetoon dat Jesus die beeld van homself gebruik om elke gemeente se sterk punte sowel as probleme aan te toon. Jesus verwys na Homself as die een wat die sewe geeste het, dit is die Heilige Gees wat dit moontlik maak vir elke kandelaar (gemeente) om brandend te bly. Omdat dit duidelik nie as ʼn sterk punt in die gemeente genoem word nie, dui dit dan op die gemeente se probleem. Dit sal ook bevestig word aan die einde van die boodskap, maar reeds vanuit hierdie inleiding kan gesien word dat hulle nie vir Christus getuig het nie. Hulle was nie die brandende fakkel wat aan die wêreld lig voorsien het nie. Hierdie kerk is nie deur die Satan gedreig met vervolging nie en ook is hierdie gemeente nie geïnfiltreer deur valse leringe nie. Hierdie gemeente het dit maklik gehad. Hulle is aanvaar deur die omgewing en die ander inwoners van Sardis en het as gevolg hiervan ʼn gerustheid gehad. Sodra die omgewing ons nie vervolg nie raak die kerk vas aan die slaap. Dalk klink dit vreemd omdat ons tog ook opgeroep word om so ver moontlik met almal in vrede te lewe. Die feit bly egter staan dat Jesus sy volgelinge keer op keer gewaarsku het dat liefde vir Hom vyandskap met die wêreld sal beteken. Indien jy dit nie ervaar nie, beteken dit dat jou liefde vir Hom dalk nie meer so brandend was as aan die begin nie, presies dit wat met Sardis gebeur het. Daarom roep die Here hierdie gemeente op om wakker te skrik.

Die interessante van Sardis is dat dit ʼn baie sterk stad was en nie een keer ʼn oorlog verloor het nie. Tog het dit twee keer geval, omdat die stad nie op die uitkyk was vir vyande nie. Die beeld  van ʼn dief wat onverwags toeslaan sou dus onmiddellik die gemeentelede aangespreek het. As hulle nie regmaak nie sou Hy op hulle afkom soos ʼn dief in die nag. Hierdie metafoor het Jesus ook in sy boodskap aan die dissipels gebruik om hulle te waarsku aangaande sy wederkoms. Matteus 24:42-43 Bly daarom waaksaam, omdat julle nie weet op watter dag julle Here kom nie. Dit moet julle weet: As die huiseienaar geweet het tydens watter nagwaak die dief kom, sou hy gewaak het en nie by sy huis laat inbreek het nie. Hierdie metafoor word ook deur die skrywers van die Nuwe Testament aan hulle hoorders gekommunikeer.

  • 1 Thessalonisense 5:2 want julle weet self baie goed dat die dag van die Here soos ‘n dief in die nag kom.
  • 2 Petrus 3:10 Die dag van die Here sal egter kom soos ‘n dief, ‘n dag waarop die hemele met ‘n gedruis tot ‘n einde sal kom, en die elemente sal uitbrand en vergaan, en die aarde en wat daarop gedoen is, ontbloot sal word.

Hierdie gemeente se lampstaander was nie meer besig om lig te gee nie. Hulle “werke is nie volkome voor God gevind nie”.

Hoe maak hulle dit reg?

Dink terug

Hoe maak hulle weer die vlam brandend? Hulle moet terug dink aan die tyd toe hulle brandend was vir die Here. Baie mense loop oor van die Blye Boodskap nadat hulle tot bekering gekom het en kan nie wag om vir ander te vertel nie. Hulle spandeer tyd met die Woord en bid dat die Here hulle geleenthede sal gee om met familie en vriende te praat. Hulle doen beslis waartoe die Woord ons oproep in Timotheüs. 2Timoteus 4:2 Verkondig die woord, hou tydig en ontydig aan, weerlê, bestraf, bemoedig in alle geduld en deur lering. Onthou jy daardie opgewondenheid? Hoe wonderlik toe jy ontdek het dat Sy kruisdood jou vrygemaak het van al jou sonde. ʼn Verlosser wat jou uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld! Dit was die grootste wonder. Maar mettertyd het ander dinge belangriker geraak. Geestelike dinge maak jou nie meer opgewonde nie. Alles geestelik het net roetine gelykstaande aan opstaan, werk, eet en slaap in jou lewe geword. Christus roep hulle op om te onthou hoe hulle die boodskap van redding ontvang en gehoor het. Onthou jy die goeie nuus, die blye boodskap? Onthou jy hoe jy dit gehoor het? Iemand was gehoorsaam en het jou van hierdie wonderlike boodskap vertel. Roep dit in herinnering en verder – bewaar dit.  

Herdenk

Dit is tog opvallend hoe God, deur die Ou Testament, die volk oproep om dinge wat Hy in hulle lewens gedoen het te herdenk. Hiervan is die Pasga en die besnydenis voorbeelde wat gereeld deur die volk van God herdenk is. So was daar ook monumente wat opgerig is om God se oorwinnings te herdenk. Een van hierdie monumente is opgerig na hulle deurtog deur die Jordaanrivier. God gee die opdrag aan Josua om aan die volk oor te dra. Josua 4:2-3 Neem vir julle twaalf manne uit die volk, een man uit elke stam, en gee aan hulle opdrag, Tel vir julle twaalf klippe op daar in die middel van die Jordaan, op die plek waar die voete van die priesters stewig staan. Neem dit saam met julle deur die rivier en sit dit neer op die plek waar julle vannag gaan oornag. Die volk moes herinner word aan God se groot dade aan hulle. Die volk van God het al die dinge wat God vir hulle gedoen het vergeet. Rigters 2:10 Nadat ook daardie hele geslag met hulle voorouers verenig is, het daar ‘n ander geslag ná hulle opgestaan wat nie die Here geken het, en ook nie die dade wat Hy vir Israel gedoen het nie. Die woestyntyd is verby en dit het goed gegaan. God het hulle gewaarsku dat as hulle sy bevele nie bewaar nie, hulle Hom sou vergeet as dit goed gaan. Deuteronomium 8:11-14 Wees versigtig dat jy nie die Here jou God vergeet deur nie sy gebooie, sy beslissings en vaste voorskrifte wat ek vandag vir jou voorskryf, na te kom nie. Wees versigtig dat, wanneer jy eet en versadig word en goeie huise bou en bewoon, en jou beeste en kleinvee vermeerder, en jy vir jouself baie silwer en goud verkry, en alles wat jy het, meer word, dat jou hart dan nie hoogmoedig raak en jy die Here jou God vergeet wat jou uit Egipteland, uit ‘n plek van slawerny, uitgelei het nie. Dit is presies wat met die gemeente van Sardis gebeur het. Hoe meer die voorspoed en die aanvaarding van die omgewing vir hulle belangrik geraak het, hoe meer het hul getuienis agterweë gebly. God roep hulle op om hulle te bekeer. Bekeer in die Grieks is μετανοέω(metanoeó). Dit beteken om jou denke te verander. Bring jou denke weer in lyn met God se Woord. Fokus op dit wat werklik van belang is.

Oorwinning

Hulle wat bekeer sal saam met Hom wandel in wit klere. Hierdie waarskuwing vind ons weer later in Openbaring. Openbaring 16:15 Kyk, Ek kom soos ‘n dief! Gelukkig is die een wat wakker bly en sy klere byderhand hou, sodat hy nie naak loop, en die mense sy skaamte sien nie. Die woord vir besoedel in die Grieks word later in Openbaring gebruik vir die besoedeling met afgodery. Hulle klere was dus besoedel deur hulle wandeling en kompromieë met die heidene van Sardis en die besoedeling met die afgode. Jy wil nie graag uitstaan nie. Jy wil soos die ander lyk en inpas by die samelewing. Dit sal jou die Ewige Lewe kos. Jesus se waardigheid in hoofstuk 5 word gekoppel aan sy oorwinning. Net so hier word die waardigheid van diegene wat mag wandel saam met Christus gekoppel aan hulle wat oorwin.

Hierdie gemeente is byna totaal geestelike dood en tog, ten spyte van die meerderheid, is daar ʼn klein groepie wat nog steeds aan die brand is. Hierdie groepie sal beklee word met wit klere. Hulle name sal ook nie uitgewis word uit die boek van die Lewe nie. Wanneer Moses vir die Here vra om die volk se sondes te vergewe nadat hulle die kalf in die woestyn aanbid het, of om maar liewer sy naam uit die boek te haal, spreek God Moses soos volg aan: …Wie ook al teen My gesondig het, hom sal Ek uit my boekrol uitwis. Eksodus 32:33. In Daniel word ook geprofeteer dat as die Here weer kom, die wie se name in die boek geskrywe is, verlos sal word. Daniël 12:1 En in dié tyd sal Migael  opstaan, die groot vors, wat die mense van jou volk bystaan. Dit sal ‘n tyd van verdrukking wees, soos daar nog nie was sedert ‘n nasie ontstaan het, en tot in hierdie tyd nie. Maar in hierdie tyd sal jou volk gered word, elkeen wie se naam gevind word waar dit in die boekrol opgeskryf is. Hoe skrikwekkend is die gedagte dat my naam nie in die boek van die lewe gevind sal word nie?! Sou ek die Hemelse prys gee vir ʼn aardse aanvaarding en vrede?

 Wanneer die sewentig terugkom nadat hulle uitgestuur is en getuig dat die bose geeste aan hulle onderworpe is, sê Jesus aan hulle dat daar dinge is wat aan hulle groter vreugde moet verskaf as dit. Lukas 10:20 En tog moet julle nie bly wees net omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie. Wees eerder bly dat julle name reeds in die hemel opgeskryf is. Is dit jou grootste vreugde? Is jy soos die man wat die skat vind in die veld en bereid is om alles hiervoor te verkoop of soos die handelaar wat die pragtigste pêrel ontdek het en alles daarvoor prys gegee het? Jou lewe en gedrag wys wat werklik vir jou belangrik is.

“Ek ken jou”

Die mense wat Christus se naam bely se naam sal deur Christus bely word voor sy Vader. Hierdie frase moes elke gelowige onmiddellik laat dink het aan Jesus se woorde. Lukas 12:8 Ek sê vir julle, elkeen wat My voor die mense bely, hom sal die Seun van die Mens ook bely voor die engele van God. Maar wie My voor die mense verloën, sal voor die engele van God verloën word. Was jy al skaam om op te staan vir die Woord van God? Skaam om Sy naam te bely aan ʼn familielid of vriend of bang om verwerp te word? Skaam om aan die wêreld te bely wat jy glo? Hierdie beeld moet die ergste vrees wees vir elke gelowige: dat ek eendag voor Christus sal staan en dat Hy voor die Vader sal sê dat Hy my nie ken nie. Jesus vertel aan baie van die wat hom volg dat daar ʼn dag sal kom wat Hy sal bely dat Hy hulle nie ken nie. Lukas 13:26-27 Dan sal julle begin sê, Ons het saam met u geëet en gedrink, en u het in ons strate onderrig gegee. Maar hy sal vir julle sê, Ek weet nie waar julle vandaan kom nie. Gaan weg van my af, julle almal wat onreg pleeg. “Onreg pleeg” in die Grieks is om ongeregtigheid te doen. Hulle wat nie in lyn met God se Woord gelewe het nie. Hulle bely dat hulle selfs onderrig ontvang het en saam met hom geëet en gedrink het. In Sardis, en ons vandag , sou hulle sê: “Here ons was elke Sondag in die erediens en ons het nagmaal gebruik.” Die vraag wat in ons ore sal weergalm is: “Het julle my Naam bely en heilig gelewe?” As jy geestelike ore het sal jy luister. Jy sal jou bekeer en ʼn nuwe rigting inslaan. Jy sal jou sonde bely en terugkeer na jou eerste werke soos die oproep vir Efesiërs was.

Slot

Satan het nie nodig om hierdie gemeente te versoek of lyding te gee nie. Hulle is alreeds dood. Daar waar geen vervolging of stryd is nie is ‘n gemeente waaroor die Satan baie gelukkig is. Dit is die gemeente wat geen opposisie teen die wêreld waarin hulle lewe opper nie. Wanneer jy ʼn klip in die water gooi maak dit rimpels. Die kerk wat nie rimpels maak in die omgewing nie is ʼn dooie kerk. Miskien staan jy bekend as ʼn moeilikheidmaker – iemand wat altyd iets geestelik wil sê of die Bybel onder sy arm dra. Wees bly aangaande hierdie aanklagte teen jou. Matteus 5:11 Gelukkig is julle wanneer  die mense julle om My ontwil  beledig en vervolg  en vals beskuldig  van alles wat sleg is.

Die wêreld rondom ons verander elke dag en die aanslag van die duiwel op die ware kerk word al hoe feller. Daar is baie wat wegskram van die kwessies van die dag met die verskoning dat hulle fokus op die dinge wat “regtig saak maak.” Hierdie kwessies word gewoonlik so gekies dat dit die minste kontroversieel is en so is dat almal maar te bly is om daaraan deel te neem. Onthou die wêreld is vol humaniste, mense wat ander wil help in hul fisiese nood en armoede. Die geestelike nood van mense veroorsaak egter ʼn dilemma, want nou word daar van my verwag om mense te vertel van hul sonde, en hul nood vir ʼn Redder. Hiér is die oorlog en hiér is die nood en hiér is dit nodig dat jy as soldaat van Christus bereid sal wees om jou lewe te verloor, sodat jy as oorwinnaar saam met Hom kan lewe!