Josef was in die tronk, maar God was steeds met hom. Twee ander mense was ook daar: die skinker en die bakker van die koning van Egipte. Hulle het iets verkeerd gedoen en daarom het die koning hulle in die tronk gesit.
Een nag het die skinker en die bakker elkeen ‘n droom gehad. Hulle was baie bekommerd omdat hulle nie geweet het wat die drome beteken nie. Josef het hulle gevra: “Hoekom is julle so bekommerd?” Hulle het gesê: “Ons het elkeen ‘n droom gehad, maar daar is niemand om dit vir ons te verduidelik nie.”
Josef het gesê: “Vertel my julle drome. God sal my help om dit vir julle te verduidelik.”
Die skinker het sy droom eerste vertel: “Ek het ‘n droom gehad van ‘n wingerdstok met drie takke. Dit het druiwe gedra en ek het die druiwe gepars, die sap in die koning se beker gegooi en dit vir hom gegee.”
Josef het gesê: “Dit beteken dat jy oor drie dae uit die tronk sal kom en weer vir die koning sal werk.”
Die bakker het toe sy droom vertel: “Ek het gedroom ek dra drie mandjies vol brood op my kop. Die voëls het die brood uit die boonste mandjie geëet.”
Josef het gesê: “Dit beteken dat oor drie dae die koning jou sal straf en jy sal sterf.”
Drie dae later het die koning ‘n groot fees gehad. Hy het die skinker uit die tronk laat kom en hom weer sy werk terug gegee, maar die bakker het gesterf, net soos Josef gesê het.
Josef het vir die skinker gesê om aan hom te dink en vir die koning te vertel van hom, maar die skinker het van Josef vergeet.
