Openbaring 2: 18-29 Die boodskap aan die gemeente in Tiatira.

Inleiding

Die boodskap aan Tiatira kom van die Seun van God. Die interessante is dat die titel, “Seun van God” nie in hoofstuk 1 voorkom nie, alhoewel die beskrywing van Hom, soos in al die boodskappe aan die gemeentes, voorkom. Hy word beskryf as iemand met oë soos vlammende vuur en met voete van blink koper. Hierdie beskrywing is ʼn aanhaling uit die boek van Daniel waar Daniel se drie vriende deur Nebukadneser in die vuuroond gegooi word. Die Een wat saam met hulle in die vuur gesien word, word deur Nebukadneser in sy gebrekkige kennis, as ʼn godeseun beskrywe. Daniël 3:25 waarop hy toe antwoord en sê: Kyk! Ek sien vier manne los rondstap binne-in die vuuroond, en daar is geen letsel aan hulle nie; en die vierde se voorkoms is soos dié van ‘n godeseun. Die Hebreeus hier is “seun van Elohim” of “seun van god”. Dit is dan ook hoekom Openbaring 2 nie soos in hoofstuk 1 na Jesus as “Seun van die mens” verwys nie, maar wel “Seun van God” sodat die leser dadelik die verband moet kry met Daniel 3 waar die vierde persoon in die vuuroond die Seun van God is. Die titel Seun van die mens is ʼn verwysing na Daniel 7 en die twee titels word afwisselend vir die tweede persoon van die Drie-Eenheid gebruik. Aan die einde van hierdie boodskap word na Psalm 2 verwys,  wat  ʼn sterk klem het op die Seun. Ten tye van hierdie skrywe is na beide die god Apollo Tyrimnaeus, wat die beskermer van Tiatira was, en die goddelike keiser verwys as seuns van die god Zeus. Daarom word daar ʼn oproep gemaak op die hoorders om die ware Seun van God te vertrou. Die gemeente in Tiatira word ook vermaan om vir geen vervolging te vrees nie aangesien die Seun van God in hulle midde sal wandel, net soos wat Hy saam met Daniel se vriende in die vuuroond was.

Werke

Hierdie gemeente se liefdes- en dienswerk, in kontras met die van Éfese, is meer as aan die begin. Weer eens begin God met die positiewe. Hierdie gemeente het gewerk en diens gelewer. Ongelukkig het hulle die suiwerheid van die evangelie prysgegee en God hou dit teen hulle. Dit wys weer vir ons hoe belangrik ons geloof in die ware God is. Ons word gered deur geloof in die ware God en nie deur ons werke nie!

Valse profete

Hierdie gemeente het, in teenstelling met die gemeente in Éfese, valse profete wat kompromieë verkondig het, geduld. Tiatira was bekend vir hulle handel en handewerk. Lydia was ʼn voorbeeld hiervan. Handelinge 16:14 ‘n Vrou uit die stad Tiatira, ‘n purperhandelaar met die naam Lidia… Die gilde vergaderings en die besigheidstransaksies is dan gehou in die tempel van die beskemergod. Hieraan mag gelowiges geen deel  gehad het nie, aangesien hulle baie duidelik vanuit die Skrif hierteen gewaarsku is. 1 Korintiërs 10:19-21 Wat bedoel ek hiermee? Dat ‘n afgodsoffer tog iets is, of dat ‘n afgod iets is? Nee, maar wat hulle offer, offer hulle aan demone, nie aan God nie – en ek wil nie hê dat julle aan demone deel moet hê nie. Julle kan nie die beker van die Here drink én die beker van demone nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here én aan die tafel van demone nie. Omdat hierdie opdrag van die Here definitief  ʼn nadelige invloed op hul werk en handel in die stad sou gehad het, sou enige iemand wat die gemeente begin leer dat hulle deel aan hierdie dinge kon hê en dat dit nie so erg is nie, aanklank by lidmate vind. 2Timoteus 4:3-4 Want daar kom ‘n tyd wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar omdat hulle ore gestreel wil word deur wat hulle hoor, sal hulle vir hulleself leermeesters na eie begeerte uitsoek. Hulle sal hulle doof hou vir die waarheid, en hulle tot versinsels wend. Miskien is aan hulle verkondig dat hulle net moet glo dat gode nie bestaan nie en dat die ete in tempels ens. dan geen effek op hulle sal hê nie.

Isebel

Die vrou wat na haarself as ʼn profetes verwys en hierdie valshede versprei het, ontvang die bynaam Isebel wat verwys na Isebel, die bekende vrou van Agab, ʼn goddelose koning. 1 Konings 16:31 En asof dit maar sommer ‘n kleinigheid was om met die sondes van Jerobeam, seun van Nebat, te volhard, neem hy toe as vrou Isebel, dogter van Etbaäl, die koning van die Sidoniërs. Hy het Baäl gaan dien en in aanbidding voor hom gebuig. Sy was die vrou wat 450 Baal profete en 400 Astarte profete onderhou het terwyl sy baie ware profete vermoor het en ons lees hoe Obadja ander weggesteek het om haar wreedheid te ontvlug. 1 Konings 18:13 Is daar nie vir my heer vertel wat ek gedoen het toe Isebel die profete van die Here uitgemoor het nie? Ek het ‘n honderd man van die Here se profete weggesteek, vyftig hier en vyftig man daar, in grotte, en hulle van brood en water voorsien. Sy was dan ook die een wat Elia dreig met die dood en voor wie hy wegvlug uit vrees.

Openbaring sal later aan ons uitwys dat die valse profeet die mense sal mislei om die Antichris te aanbid en te volg. Hierdie valse profeet lyk soos ʼn lam maar die oomblik as sy mond oopgaan hoor jy die stem van ʼn draak. Openbaring 13:11 Toe het ek ‘n ander dier uit die aarde sien opkom. Hy het twee horings gehad, net soos ‘n lam, maar hy het soos ‘n draak gepraat. Die draak in Openbaring is die Satan, die een wat mislei. Enige valse profeet se leerstellings kom net van een plek – die duiwel. As gelowiges werklik die gevaar van valse leer besef en van waar dit kom, sal ons dit baie sterker teenstaan. Ons maak dit baie keer af as skadelose harekloof en gebruik maklik die Skrifgedeelte wat sê dat ons nie in sinnelose praatjies moet verval nie om stil te bly oor dwaalleer. 2 Tim 2:16 Maar die onheilige, onsinnige praatjies moet jy vermy; want hulle sal al verder voortgaan in goddeloosheid. Hierdie het egter verwys na praatjies oor geslagsregisters en onbelangrike gebruike. Enige lering wat nie vanuit die Skrif kom nie is vals en het sy oorsprong by die vader van die leuens, Satan, en moet beveg word. Later word na hierdie hele valse godsdiens verwys as Babilon. Babilon is die groot hoer, die een wat mense verlei. Openbaring 17:2-3 Die konings van die aarde het met haar gehoereer, en die aardbewoners het dronk geword van die wyn van haar hoerery. Ek is deur die Gees meegevoer na ‘n woestyn, en het daar ‘n vrou sien sit op ‘n helderrooi dier, wat oortrek was met godslasterlike name, en wat sewe koppe en tien horings het. Interessant is dat die klere van die vrou op die draak ook kenmerkend is van die weefstowwe waarvoor Tiatira bekend gestaan het. Openbaring 17:4 Die vrou het purperrooi en helderrooi klere gedra, en was versier met goud, edelstene en pêrels. In haar hand het sy ‘n goue beker gehou, vol afskuwelikhede, en die onrein dinge van haar hoerery. Hierdie valse vrou, Isebel, en al haar volgelinge, haar kinders, is deel van hierdie stad. Net soos Agab deur haar verlei is so word die kerk in Tiatira ook deur hierdie vrou en haar leer mislei. Dit begin met klein kompromieë en eindig met totale afvalligheid van God. Ons loop, staan en sit saam met ongelowiges en eet later lekker aan dieselfde tafel van sonde. Onthou dat die Woord sê dat ook diegene wat sonde goedpraat, skuldig staan voor God. Romeine 1:32 “….mense wat al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen.” God sal haar straf en haar oorgee aan ʼn siekbed. So sal ook al haar kinders gestraf word as hulle hulle nie bekeer nie. Die Een wat oë het soos vuurvlamme en alles weet en voor wie daar geen geheim is nie sal hulle straf.

Kennis van Satan

Daar was ook ʼn leer wat verkondig is aangaande die diepe geheime van die Satan. Baie verkondig vandag nog steeds hierdie valse leer. Hulle profeteer en vertel mense dinge aangaande Satan, wat nie in die Skrif voorkom nie, en maak asof hulle ʼn diepe kennis van hom het. Dit gaan gepaard met bindings van plekke en artikels asof die Satan deur ʼn mens gebind, gehiet en gebied kan word of nog erger die gelowige deur die Satan gebind of besete kan wees. Ons leer in die Skrif dat self Migael geen lastering teen die Satan geuiter het nie. Judas 1:9 Selfs Migael, die aartsengel, toe hy van die Duiwel verskil, en met hom oor die liggaam van Moses geargumenteer het, het dit nie gewaag om ‘n lasterlike oordeel uit te spreek nie, maar gesê: Mag die Here jou straf! Die gedeelte in Judas beskrywe mense wat hemelwesens, en alles wat hulle nie ken nie, belaster. Enige iemand wat dink dat hy of sy mag het om die Satan te bind of van ʼn plek te weerhou kan gerus weer hierdie gedeelte lees. Watter arrogansie. Ons word nêrens in die Skrif opgeroep om enige navorsing of dieper kennis van die Satan of hemelse magte te bekom nie. Dit wat die Skrif ons leer is genoegsaam.  Die duiwel ken die menslike swakheid maar te goed en weet dat mense hou van enige vorm van mag. Hy sal mense hierdie valse mag gee en hulle dronk maak daarvan. Moenie in die donker speel nie! Menige nuuskierige mense is al deur hierdie dwalings totaal verwoes.

Verder is dit belangrik om ook te noem dat baie vandag weer begin om duiwels uit gelowiges te dryf. Niks kan groter godslastering wees as om uit ʼn gelowige, wat ʼn tempel van God genoem word en waarin die Heilige Gees woon, ʼn bose gees te dryf nie. Sal God en die bose in dieselfde plek woon? Dit is baie duidelik vanuit die Skrif dat die huis wat weer gevul word met die bose geeste ʼn huis is wat leeg en skoon gevee is. Matteus 12:44-45 Dan sê hy, Ek sal terugkeer na my huis wat ek verlaat het. En by sy terugkeer kry hy dit onbewoon, uitgevee en aan die kant gemaak. Dan gaan hy en neem sewe ander geeste saam met hom, slegter as hyself, trek in en woon daar. Die uiteinde van daardie mens is erger as sy begin. So sal dit ook gaan met hierdie bose geslag. Natuurlik kan gelowiges vashou aan sonde en moet hulle met hierdie sonde breek. Dit is egter nie ʼn teken van duiwel besetenheid nie, maar bloot ʼn houvas van sonde. Hierdie houvas word gebreek deur die Heilige Gees wat gelowiges gewillig maak en die krag gee om dit te oorkom. Menige sielkundige probleme het hul oorsprong in Charismatiese bewegings waar die duiwel uit mense gedryf is. Wanneer ʼn persoon dan weer val vir sonde, beteken dit nou dat die duiwel weer terug is!? In watter angs moet so ʼn persoon nie leef nie. Nee, in Christus is jy vry! Bely jou sonde en laat dit staan.

Verder is dit ook belangrik om te noem dat die enigste persone wat die mag ontvang het om duiwels uit te dryf, die twaalf apostels was en die 70 wat deur Christus twee-twee uitgestuur is.

  • Lukas 9:1  En Hy het sy twaalf dissipels saamgeroep en aan hulle mag en gesag gegee oor al die duiwels en om siektes te genees.
  • Lukas 10:17  En die sewentig het met blydskap teruggekom en gesê: Here, ook die duiwels onderwerp hulle aan ons in u Naam.

Nêrens word gelowiges opgeroep om duiwels uit te dryf in die briewe aan die gemeentes nie en in Handelinge is dit duidelik dat die krag net deur die apostels, wat ook die 70 insluit aangesien hulle ook uitgestuurdes(apostels) was, plaasvind. Diegene wat aan hierdie leer vashou en valse leer verkondig sal van God die straf vir hulle dade ontvang. Die debat is nie of demone bestaan of nie, maar wel dat die mens geen mag oor hulle het nie. Ons kan verseker vir mense bid, maar dit is net God, deur sy Gees, wat mense van die duiwel kan verlos.

Beloning

God sal hulle wat enduit aan sy Woord vashou beloon. Die beloning wat elke gelowige, wat bly by die leer van God, sal ontvang, is ʼn aanhaling in Psalm 2 in die LXX. Hier word die Seun beskrywe as die een wat al hierdie dinge van Sy Vader sal ontvang. Psalms 2:8-9 Vra dit van My en Ek sal volke gee as jou erfdeel, die uithoeke van die aarde as jou eiendom. Jy sal hulle met ‘n ysterstaf herder; soos ‘n pottebakker se voorwerp sal jy hulle stukkend slaan(vertaling uit LXX). Deur die Skrif word aan die gelowige belowe dat ons saam met Hom sal heers en dat ons van Hom die gesag sal ontvang om ook te oordeel, ja, selfs oor engele.

  • Openbaring 20:4 Ek het ook trone gesien, en aan dié wat daarop sit, is mag verleen om te oordeel. Ek het die siele gesien van hulle wat onthoof is vanweë die getuienis oor Jesus en die woord van God. Dit is hulle wat nie neergeval het om die dier en sy beeld te aanbid nie, en nie die merk op die voorkop of op die hand ontvang het nie. Hulle het lewend geword, en saam met Christus regeer, ‘n duisend jaar lank.
  • 1 Korinthiërs 6:3 Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie? Hoeveel te meer die dinge van die alledaagse lewe?

Ons wat gehoorsaam is en bly volhard word ook die môrester belowe. Die môrester word in Openbaring beskryf as Christus. Openbaring 22:16 Ek, Jesus, het my engel gestuur om teenoor julle oor hierdie dinge in die gemeentes te getuig. Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die helder môrester. Dit is ook ʼn terugwysing na Numeri waar ʼn profesie uitgespreek word van die septer was sal opstaan uit Israel. Numeri 24:17 Ek sien hom, maar dit is nie nou nie, ek neem hom waar, maar hy is nie naby nie. ‘n Ster uit Jakob tree na vore, ‘n heerserstaf uit Israel verskyn; hy verbrysel die slape van Moab, en vernietig al die kinders van Set. Hoe wonderlik word hierdie profesie nie vervul in Openbaring nie. Verder het die Romeine geglo dat die keisers afstammelinge van die godin Venus is en wys op hulle soewereiniteit oor alles. Hier wys God die gelowiges dat Christus alleen soewerein is en heerskappy het oor alles. Ons hoef niks of niemand te vrees nie. Ons Koning heers oor alles en ons sal saam met Hom heerskappy ontvang.

Slot

Baie mense probeer aan die wêreld ʼn valse beeld van heiligheid voorhou. Om heilig te lewe het slegs een betekenis en dit is om gehoorsaam te wees aan die Woord van God. Dade van liefde en diens sal hieruit voortvloei. So ook sal ʼn ywer vir die ware Woord brandend wees en sal enige valse leer of kompromie summier beveg word. Streef na heiligheid en die duiwel sal van jou af wegvlug. Jakobus 4:7 Onderwerp julle dus aan God. Weerstaan die Duiwel, dan sal hy van julle wegvlug. In die wêreld sal dit voorkom asof die gelowiges oorwin is deur die wêreld en die Satan. Openbaring 11:7 Wanneer hulle hulle getuienis klaar gelewer het, sal die dier wat uit die onpeilbare diepte verrys, teen hulle oorlog maak, en die oorhand oor hulle kry, en hulle doodmaak. Die ironie is dat diegene wat lyk asof hulle oorwin is, die ware oorwinnaars is en hierdie belonings sal ontvang. Die martelare is die oorwinnaars. 1Johannes 5:4-5 want elkeen wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dít is die oorwinning wat die wêreld oorwin – ons geloof. Wie anders oorwin die wêreld as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?