Inleiding
Die brief aan Pergamus begin weereens met ʼn aanhaling omtrent Christus uit hoofstuk 1. Hierdie keer, soos ook vir al die vorige gemeentes, met ʼn beeld van Hom wat spesifiek van toepassing is op die toestand van hierdie gemeente. Hy staan voor hulle as ʼn dreigende regter a.g.v. hul sonde. Hy het die skerp tweesnydende swaard wat die Woord van God is. Dit is daar om te wond en te genees. Dit sal diegene in die gemeente wat volhard in sonde ontbloot, hulle sny en as hulle hulle bekeer, ook genees. Tog gaan God eers aan hulle uitwys en hulle prys vir dit wat hulle reg doen. Hierdie gemeente, net soos die gemeente in Smirna, was getrou in hulle getuienis aangaande hulle geloof in Christus. Sommige is selfs tot die dood gemartel vir hulle geloof waarvan Antipas ʼn voorbeeld was.
Die troon van Satan
Soos in Smirna word die Satan aangewys as die groot vervolger en teëstander van die kerk. In hierdie stad is sy troon. Pergamus was die sentrum van die heidense godsdiens in die Romeinse regering. Hier is ʼn tempel vir Augustus, die Romeinse keiser, gebou en was die hoofstad van die kultus van keiser aanbidding. Dit was verder ook verwag van inwoners van Griekse stede om aan die afgode te offer en deel te neem aan die keiser se verering. Hier is baie afgode aanbid, o.a. Asclepius, die slang god van genesing. Een van die embleme van die stad was dan ook ʼn slang, wat heel moontlik die rede was waarom hierdie stad vergelyk is met die troon van Satan. Ons kan hier verwys na twee verse in Openbaring waar Satan die slang genoem word.
- Openbaring 12:9 Die groot draak, die slang van weleer, wat Duiwel en Satan genoem word, die verleier van die hele bewoonde wêreld, is toe uitgegooi. Hy is op die aarde neergegooi, en saam met hom ook sy engele.
- Openbaring 20:2 En hy het die draak, die slang van weleer, wat Duiwel en Satan is, gegryp en hom vasgeketting vir ‘n duisend jaar lank.
Verder het hierdie stad ook ʼn beeld wat lyk soos ʼn troon vir Zeus gebou wat ook slange in gehad het. Openbaring vertel ons dat Satan die dier sy troon en outoriteit gee en ons kan weet dat die goddelose regering soos Pergamus hulle outoriteit en aardse mag om gelowiges te vervolg van die Satan ontvang. Openbaring 13:2 Die dier wat ek gesien het, het net soos ‘n luiperd gelyk, met pote soos dié van ‘n beer en ‘n bek soos dié van ‘n leeu. Die draak het sy krag en sy troon en groot mag aan hom oorgedra. Daarom is dit so gevaarlik vir die kerk of enige individu om hulle vertroue in ʼn regering of ʼn nuwe leier te plaas. Ons weet vanuit die Skrif dat alle gesag van God af kom, maar dit is duidelik dat God die duiwel toelaat om vir ʼn tydperk op die aarde te heers. Die duiwel kan egter niks doen as God dit nie toelaat nie. (Ons het in vorige Blog inskrywings in diepte gekyk na die soewereiniteit van God en gaan nie nou weer hieraan aandag gee nie.)
Ons vertroue is op die Here wat sit op sy troon en heerskappy het oor alle magte en kragte. Efesiërs 1:20-22 wat Hy uitgeoefen het in Christus, toe Hy Hom uit die dood opgewek het, en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele, bo elke owerheid en gesag en mag en heerser, ja, bo enige naam wat genoem kan word, nie alleen in hierdie bedeling nie, maar ook in die toekomstige. Hy het alles onder sy voete gestel, en Hom aan die kerk gegee, as Hoof oor alles. Die boodskap aan ons is duidelik. Ongeag die regering of gesag waaronder jy staan, jy moet aan God en aan Hom alleen onderdanig wees. Selfs al bly jy op ʼn plek waar jy oortuig is, die Satan self woon, hoef jy nie te vrees nie, want Christus staan ook gereed met Sy swaard om jou te beskerm.
Die swaard in Christus se hand kan ook wys na sy oordeel oor die wat die swaard op aarde ontvang het, nl. die regerings. Die verwoesting van die nasies in Openbaring 19 vind dan ook plaas met ʼn swaard wat uit Sy mond gaan. Openbaring 19:15 Uit sy mond het ‘n vlymskerp swaard gekom om die nasies mee te tref, en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer. Hy sal ook self die parskuip van die geweldige toorn van God, die Almagtige, trap.
As ons getuies van Christus is wat in die lig wandel sal ons beslis ook vervolg word. Die Griekse woordorde wat Antipas beskrywe as die getroue getuie is ʼn verwysing terug na Jesaja 43 waar God se uitverkorenes opgeroep word om sy getuies te wees. Jesaja 43:10-12 Julle is my getuies, is die uitspraak van die Here, my dienskneg wat Ek uitgekies het, sodat julle My kan ken, in My kan glo, en kan insien dat dit Ek is. Voor My is daar nie ‘n god gevorm nie, en ná My sal daar nie een wees nie. Ek, ja, Ek is die Here, en daar is geen verlosser buiten My nie. Ek is die Een wat dit bekend gemaak het; Ek het verlos en dit aangekondig – Ek, nie ‘n vreemde onder julle nie. En julle is my getuies, is die uitspraak van die Here, dat Ek God is.
Waarskuwing
Daar was ook opposisie van binne die gemeente. God se swaard is daar om hulle te waarsku. Bíleam was ʼn valse profeet in die Ou Testament wie se lewe gekenmerk was deur ʼn liefde vir geld. Hy het nadat God alreeds vir hom ʼn opdrag gegee het , nl. om nie saam met koning Balak se manne te gaan nie, tog weer tot God genader net omdat die proposisie met die volgende boodskapper beter gelyk het. Hy word dan ook met God se swaard gedreig as die Engel van die Here voor hom staan met ʼn swaard in sy hand. In die brief van Petrus beskrywe hy vir Bíleam. 2 Petrus 2:15 Omdat hulle die reguit pad verlaat het, het hulle verdwaal, en hulle begewe op die pad van Bileam, die seun van Bosor, wat lief was vir onregmatige loon. Die verleiding om afgodsoffers te eet en te hoereer, verwys baie duidelik vanuit die Ou Testament en ook vanuit Openbaring na die aanbidding van afgode. Daar was manne in hierdie gemeente wat vir hul eie voordeel, die gemeente verlei het om deel te neem aan die heidense afgodery. Hoe maklik sou hulle nie kon aanhou met hulle besighede as hulle tog maar die knie net so nou en dan voor die afgode buig en nou en dan deelneem aan die offers nie? Wanneer hulle besigheid wou doen sou dit gedoen moes word by ʼn ete ter verering van een of ander god en dus sou gelowiges nooit aan hierdie besigheidstransaksie kon deel hê nie.
Baie gelowiges hoor glad nie hierdie waarskuwing nie, bloot omdat hulle nie dink dat dit op hulle van toepassing is nie. Ons aanbid nie afgode nie. Daar is geen beeldjies waarvoor ons buig of vreemde tempels waar ons offer nie? Of is daar…?
Mammon
In Openbaring sal ons nog lees van die merk van die dier waarsonder niemand sou kon koop of verkoop nie. Sonder om nou in diepte daaroor in te gaan, is hierdie versoeking gerig op die mens se aanbidding van geld en baie val nou alreeds vir hierdie god. Baie buig nou ook die knie vir materiële voordele. So maklik kan ons in vennootskappe met ongelowiges gaan ter wille van finansiële voordele al is dit in stryd met God se Woord. 2Korinthiërs 6:14 Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter vennootskap kan daar wees tussen reg en onreg? Of watter verbondenheid kan daar wees tussen lig en duisternis? Sal jy oneerlik wees terwille van geld of belasting ontduik? So aanbid ons God op Sondae maar buig die knie voor Mammon(geldgod). Jesus waarsku sy volgelinge dat hulle nie God en Mammon kan dien nie. Matteus 6:24 Niemand kan twee base dien nie. Want hy sal óf die een haat en die ander een liefhê, óf hy sal aan die een lojaal wees en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie. Daarom roep Jesus sy volgelinge op om hulle vertroue in Hom te plaas en nie op die aardse dinge nie. Jy moet God bo alles stel en God se orde in sy Woord moet ook die manier wees waarvolgens jy jou lewe orden. Indien jou vrou en kinders afgeskeep word terwille van jou gejaag na geld is jy beslis besig met ʼn afgod of as jy Sondae die gemeenskap van gelowiges mis a.g.v. jou werk of sport aanbid jy ʼn afgod.
Sommige mense kan nie wag dat hulle stiltetyd en die Here se dinge afgehandel kan wees, sodat hulle kan aangaan met hulle aanbidding van geld nie. Amos 8:4-6 Luister hierna, julle wat die behoeftiges vertrap, en daarop uit is om weerloses in die land uit te wis deur te sê, Wanneer is nuwemaan verby, sodat ons weer koring kan verkoop, en die Sabbat, sodat ons die graansakke kan oopmaak?” net om ‘n efa kleiner te maak en ‘n sikkel groter, en om te kul met ‘n vals weegskaal, om armes vir geld te koop en behoeftiges vir ‘n paar sandale. Die uitskotgraan sal ons ook verkoop. Baie leiers in kerke vandag, sal enige iets verkondig vir geld, net soos die valse leiers van ouds. Miga 3:11 Haar leiers spreek ‘n oordeel uit vir omkoopgeskenke! Haar priesters gee onderrig teen betaling! Haar profete maak voorspellings vir geld! Hulle steun nogal op die Here en sê, Is die Here nie in ons midde nie? Geen onheil sal ons tref nie! Hoe maklik om selfs te verkondig dat ons ʼn beter en groter getuienis sal hê as ons deelneem aan die heidense praktyke! So ook het hulle vasgehou aan die leer van Nikolaïete waaroor ons alreeds gesels het in blog aangaande Efese.
Gehoorsaamheid en beloning
Teen hierdie groepe moes die gemeente onmiddellik optree soos wat God se Woord van hulle vra. 1Korinthiërs 5:11-13 Nou skryf ek aan julle om nie om te gaan met iemand wat homself ‘n gelowige noem, maar ‘n hoereerder of ‘n gierigaard is, of ‘n afgodedienaar of ‘n kwaadprater of ‘n dronkaard of ‘n rower nie; met so iemand moet julle nie eers saam eet nie. Waarom sou ek die buitestanders oordeel? Moet julle nie eerder diegene in julle eie geledere oordeel nie? God sal die buitestanders oordeel. Verwyder die slegte mens uit julle midde. God sal gehoorsaamheid aan Hom beloon. Die eerste beloning is om saam die verborge manna te eet. Hierdie manna verwys na die belofte wat Christus maak aan sy volgelinge dat Hy die ware manna is wat uit die Hemel neergedaal het. Die belofte behels dus dat ons elke dag aan Hom kan deel hê en eendag sal deel aan die feesmaal van die Bruidegom. Sou die gelowige die Ewige feesmaal van Christus verruil vir die eet van afgodsoffers? Die volk het, a.g.v. Bíleam se verleiding, God se versorging deur die hemelse manna verruil vir die aanbidding van die afgode van Moab. Die tweede beloning wat genoem word is die geskenk van ʼn wit steen. Die Griekse woord vir steen(ψῆφον, pséphos) word net twee keer in die Nuwe Testament gebruik, hier en in Handelinge. Handelinge 26:10 wat ek ook inderdaad in Jerusalem gedoen het. Met die volmag wat ek van die leierpriesters ontvang het, het ek baie van die heiliges in die tronk laat opsluit, en as hulle om die lewe gebring is, het dit met my instemming gebeur. Die woord vir instemming in die Afrikaans kom van die Grieks vir steen. In daardie tyd is ʼn steen gebruik in stemmings prosesse. In van die Antieke Griekse geskrifte lees ons dat ʼn wit steen ʼn positiewe stem beteken in teenstelling met die swart steen wat ʼn negatiewe stem beteken het. Die wit word verder ook in Openbaring gebruik om reinheid en regverdigheid aan te toon. Openbaring 7:14 Ek het hom geantwoord: Meneer, u is die een wat weet. En hy het vir my gesê: Dit is die mense wat uit die groot verdrukking kom. Hulle het hulle lang stolas gewas, en wit gemaak in die bloed van die Lam. Daar word dus na die gelowige verwys as die een wat ʼn gunstige stem en ʼn nuwe naam van God ontvang het. Die wat gehoorsaam is sal die ewige tuiste saam met Christus ontvang. Hierdie nuwe naam verwys na die intieme gemeenskap wat ons sal hê met die bruidegom. Ons sal nie net deel wees van ʼn groot groep van gelowiges nie, nee, elke gelowige sal in ʼn intieme verhouding met Christus staan. Verder word daar ook meer breedvoerig na hierdie naam verwys in hoofstuk 3 van Openbaring. Openbaring 3:12 Wie oorwin, sal Ek ‘n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal nooit weer daar uitgaan nie. Verder sal Ek ook die Naam van my God daarop graveer, en die naam van die stad van my God, dit is die nuwe Jerusalem, wat van my God uit die hemel neerdaal, en ook my nuwe Naam.
Die Nuwe Jerusalem is dan ook die bruid van Christus wat uit die Hemel neerdaal, ʼn beskrywing van Sy Kerk. Hierdie “naam” het in al die gevalle te make met die intieme verhouding van elke gelowige met Christus Jesus. Om hierdie naam te ken wys ook nie net na ʼn kognitiewe kennis nie, maar na ‘n intieme liefdesverhouding soos wat die Griekse woord ook na die liefdesverhouding tussen ʼn man en sy vrou verwys. Ons sal in die Hemel individue wees wat elkeen ons taak van God sal ontvang en elkeen met God in verhouding sal staan. Ons bruidegom word ook in Openbaring beskrywe as “Hy wat ʼn naam het wat net Hy ken.” Openbaring 19:12 Sy oë was soos ‘n vlammende vuur, en op sy kop was daar baie krone. En Hy dra ‘n geskrewe Naam, wat niemand ken nie, behalwe net Hy self.
Sou jy wou hoereer met ander afgode en hulle dien in ruil vir die verhouding met Christus en om deel te wees van die bruilof, as die vrou van Christus? Die wêreld sal nie hierdie nuwe naam ontvang nie en nie deel hê aan die bruilofsfees nie. Hierdie nuwe naam word ook in die Ou Testament belowe aan die onmandes(eunogs) wat getrou is aan God. Jesaja 56:4-5 Want so sê Ek, die Here, vir die eunugs, vir dié wat wel my Sabbatte onderhou, wat dit kies waarin Ek vreugde vind, en wat vashou aan my verbond: Ek sal vir hulle iets gee wat beter is as seuns en dogters: In my tempel en teen my mure sal Ek hulle gedenk met ‘n teken en ‘n naam. ‘n Ewige naam sal Ek aan hulle gee wat nie uitgewis sal word nie. Die Hoëpriester het verder ook twee stene op sy skouers gedra waarop al die name van die stamme van Israel op geskrywe was. Hierdie was dan ook die groep waarvoor hy ingetree het en offers gebring het. Hierdie beeld is baie ryk. Watter beloning sal dit nie wees nie! Waarom sal jy jou siel verkoop vir dit wat nie ewig is nie?
Slot
Dit is nie lekker om tereggewys te word nie. Ons hou daarvan om goeie dinge te hoor en daarop wil ons graag fokus. Ongelukkig het ons baie keer in die gemeente, maar ook in ons eie lewe, ʼn blinde kol en sien ons ons eie tekortkoming en sonde nie raak nie. God sien alles en waarsku ons omdat Hy ons liefhet en omdat ons deur ons blindheid Sy naam laat skade lei. Dat ons vir Christus gaan ly is verseker, maar ons weet dat Hy met ons sal wees. Ons het egter soms die idee dat as ek vir Christus ly beteken dit dat ek in alles heilig lewe. Dalk is dit waar, maar dalk is jy net besig om in daardie spesifieke aspek waarvoor jy ly heilig te lewe. Jy spreek dalk ander se sonde aan en dit is hoekom jy ly, maar die sonde in jou eie lewe sien jy nie raak nie. Christus toon vir ons dat die positiewe nie maak dat hy nie die negatiewe raaksien en die gemeente sal tereg wys nie. Sonde moet nooit geduld of ligtelik afgemaak word nie. Dit is nie ʼn weegskaal, waar die goeie teen die slegte geweeg word en die swaarste een wen nie. Nee, God wil hê dat ons al ons sonde moet bely en laat staan, uit liefde en dankbaarheid vir Sy geregtigheid en uit vrees vir Sy swaard.
