Openbaring 2:8-11. Boodskap aan Smirna

Inleiding

Die brief begin weer met “Dit sê Hy..” wat, soos alreeds genoem, ʼn aanhaling uit die Ou Testament is, wat wys op die profetiese Woorde van Jahwe(God) wat volg. Weereens sal die beskrywing van Homself wat uit hoofstuk 1 kom hierdie gemeente aanspreek of vertroos. Hy is die Eerste en die Laaste. Die Een wat met hulle en óns praat, is in beheer van die geskiedenis en toekoms van die wêreld en regeer oor alles. Vir elke gelowige beteken dit dat God in beheer is van alles wat hom/haar hier op aarde te beurt val. Daarom kon die volgelinge van Christus getuig dat dit wat met Christus gebeur het nie ʼn toevallige of onbeplande voorval was waarvan God onbewus was nie. Handelinge 4:27-28 Want inderdaad, in hierdie stad het hulle – Herodes en Pontius Pilatus, saam met die heidennasies en die volke van Israel – saamgespan teen u heilige Dienskneg Jesus, wat U gesalf het om alles te doen wat U deur u hand en u plan vooruit beskik het dat dit gebeur. Die dood – die finale vrees van elke mens – het Christus nie onverhoeds betrap dat God skielik ‘n plan B moes maak nie. Nee, dit was deel van die plan en is finaal deur Christus oorwin. Hy was dood, maar lewe weer. Daarom word hierdie gemeente opgeroep om niks en niemand te vrees nie.

Lyding
Hierdie gemeente is een van die twee gemeentes, Smirna en Filadelfia, wat aan die brand was vir Christus. Al twee gemeentes word gekenmerk deur lyding vir die evangelie. Is dit nie interessant hoe lyding die kerk altyd suiwer nie? Christus sê hierdie gemeente word in die wêreld se oë as arm beskou en tog noem Hy hulle ryk. Aangesien hulle Christene was wat nie kompromieë met die wêreld gemaak het nie sou hulle, in die tyd waarin die brief geskryf word, nie op normale maniere kon handel dryf nie. Die merk van die dier, wat sou veroorsaak dat hulle kon koop en verkoop, het hulle alreeds verwerp en hulle het die gevolge daarvan aan hul lywe gevoel. Ons rykdom as gelowiges lê nie in wat ons besit nie, maar in ons toewyding aan Christus en ons bereidheid om vir Hom te leef en te sterf. Die verskil tussen hierdie twee gemeentes is dat daar ʼn belofte aan Filadelfia is dat hulle vasgehou sal word deur die tyd van lyding, maar baie in Smirna sou hul lewens verloor. Deur die geskiedenis was daar Christen martelare wat vrygelaat is, terwyl ander doodgemaak is. Die belofte is nie dieselfde vir alle gelowiges nie. Ons sien in Handelinge hoe Jakobus, een van Jesus se apostels, deur Herodes vermoor word, terwyl Petrus deur ʼn engel uit die gevangenis bevry word. Die Hebreërs skrywer praat ook hiervan. Hebreërs 11:35 Vroue het hulle dooies deur opstanding terugontvang; ander weer is gemartel toe hulle nie die vrylating wou aanvaar nie, sodat hulle ‘n beter opstanding kon verkry. As Jesus aan Petrus bekend maak hoe hy God sou verheerlik deur sy sterwe as martelaar vra Petrus wat van Johannes sal word. Hierop antwoord Jesus: As Ek wil hê dat hy bly totdat Ek kom, wat het dit met jou te doen? Volg jy My! Johannes 21:22. Ons lyding vir Christus kan uitloop op die dood of God kan ons bewaar. Die feit is egter dat ons beslis sal ly. 2 Timoteus 3:12 Almal wat godvresend in Christus Jesus wil leef, sal inderdaad vervolg word. Een ding waarvan die gelowige egter verseker kan wees as dat, wat ookal die fisiese uiteinde van ons lyding, God sal ons te midde daarvan, nooit alleen laat nie. Hebreërs 13:5-6 Julle leefwyse moet vry wees van geldgierigheid. Wees tevrede met wat julle het, want Hy het gesê, Ek sal jou beslis nie verlaat nie, en ook nie in die steek laat nie, sodat ons met vertroue kan sê: Die Here is vir my ‘n helper – ek sal nie bang wees nie. Wat sal ‘n mens aan my doen?

Sinagoge van die Satan.
Open 2:9 “Ek weet ook van die lastering deur diegene wat beweer dat hulle Jode is, en dit nie regtig is nie, maar ʼn sinagoge van die Satan”
Hierdie woorde is vir baie in vandag se kerk skokkend. Baie mense het al deur die geskiedenis hierdie woorde misbruik asof dit beteken dat alle Jode aan die sinagoge van die Satan behoort. Niks kan verder van die waarheid wees nie. Die Woord van God is duidelik aangaande die Jode, nl. dat dit God se uitverkore volk is. Christus self was ʼn Jood en al sy apostels was Jode. Die vroeë kerk was ook gevul met baie Jode wat tot geloof in die Messias gekom het en Hom as hulle persoonlike Verlosser aanvaar het. Verder is selfs Openbaring gevul met Ou Testamentiese simbole, gebruike en aanhalings. Tog is dit duidelik dat die apostels dit aan die Jode duidelik gemaak het dat hulle Christus gekruisig het en dat hulle skuldig staan. Kom ons kyk na ʼn paar van Petrus se preke aan die Jode en Joodse leiers:
• Handelinge 2:22-23 Israeliete, luister na hierdie woorde! Jesus van Nasaret was ‘n man wat deur God aan julle bekend gemaak is deur kragtige dade en die wonders en tekens wat God deur Hom in julle midde verrig het, soos julle self ook weet. Julle het hierdie man, wat deur die vaste plan en voorkennis van God uitgelewer is, deur die hand van wettelose mense gekruisig en doodgemaak.
• Handelinge 3:14 Julle, egter, het die Heilige en Regverdige verloën, en geëis dat ‘n moordenaar vir julle begenadig word.
• Handelinge 5:30 Die God van ons vaders het Jesus opgewek, wat julle doodgemaak het deur Hom aan ‘n kruishout te hang.
Dit is baie duidelik dat die apostels nooit doekies omgedraai het aangaande die Jode se skuld aan die moord van Christus nie en tog, nieteenstaande die feit, was hul begeerte altyd daar dat die Jode tot inkeer sal kom. Hiervan is Paulus se aanhaling in Romeine ʼn duidelike bewys. Romeine 10:1Broers, my hartewens en my gebed tot God vir my volk is dat hulle verlos mag word. Waarom word hulle dan die sinagoge van die Satan genoem? Dit is tog duidelik dat die benaming slegs van toepassing is op diegene wat hulself voorgedoen het as mense wat die wil van God soek, maar dit nie werklik gesoek het nie. Hulle wou daarop aanspraak maak dat hulle aan God se volk, die Jode, behoort, maar het in wese nie belang gestel om na God se Woord te luister nie. Oor die rede hoekom diegene die sinagoge van die Satan genoem word kan slegs gespekuleer word. In die begin van die verkondiging van die evangelie was alle Jode deur die Romeinse regering as deel van die Joodse geloof gesien en as gevolg hiervan nie aktief vervolg nie. Hoewel die Jode Christene vervolg het, soos gesien deur Saulus, was die regering nie deel daarvan nie. Dit verander alles gedurende Nero toe Christene onder verdenking geplaas is. Daarna was Jode maar te gewillig om Christene aan die regering uit te lewer en het hulle seker gemaak dat die regering van die dag bewus was dat Christene nie ʼn Joodse sekte was nie. Alreeds in Handelinge vind ons Jode wat saam met heidene gewerk het om Christene te vervolg. Handelinge 13:50 Die Jode het egter die godsdienstige vroue uit die vooraanstaande kringe en ook die leiers van die stad aangehits, en hulle het ‘n vervolging teen Paulus en Barnabas ontketen en hulle uit hulle gebied verdryf. Hulle vervolging van die kerk sou openbaar aan wie se kant hulle werklik was. Die naam Satan beteken dan ook teëstander. Net so sal baie kerke vandag bekend staan as sinagoges van die Satan. Hulle doen hulle voor as Christene, maar vervolg diegene wat werklik op die Woord van God staan en dit suiwer verkondig. Hulle is teëstanders van God met hul menslike opinies en akademiese argumente. Hiermee maak hulle bekend dat hulle aan die kant van die wêreld staan. Sonde is vir hulle nie meer sonde nie en die eer van die wêreld is belangriker as die eer van God. Johannes 12:43 Hulle het immers die eer van mense meer liefgehad as die eer van God.

In beheer van tyd
Open 2:10 “…Tien dae lank sal julle verdruk word.”
Die tyd van lyding is bepaal en beperk. Die tien dae is, soos die meeste getalle in Openbaring, ʼn simboliese getal en het sy oorsprong in die Ou Testament. Daniel en sy drie vriende word vir tien dae op die proef gestel aangesien hulle nie deel wou neem aan die eet van offervleis nie. Daniël 1:12 Toets asseblief u dienaars tien dae lank. Hulle moet ons van die groente gee, sodat ons dit eet, en water, sodat ons dit drink. Sou hulle eerder hulself aan die regering van die dag onderwerp en deelneem aan die heidense gebruike, of sou hulle getrou bly aan God en sy opdragte? Gelowiges word belowe dat diegene wat getrou bly tot aan die einde die kroon sal ontvang. Elke gelowige word opgeroep om te volhard in geloof tot die einde van hulle lewens. In die gelykenis van die Saaier word aan ons getoon dat daar baie mense sal wees wat bely dat hulle gelowiges is en ja, selfs die boodskap met blydskap sal aanvaar, maar dat hulle nie sal volhard tot aan die einde nie. Die interessante van hierdie gelykenis dat lyding en rykdom dit was wat veroorsaak het dat twee van die vier groepe nie volhard het en vrug gedra het nie. Matteus 13:20-22 Die saad wat op die rotsagtige plekke gesaai is, is hy wat hierdie woord hoor en dit dadelik met vreugde ontvang. Maar omdat hy nie wortel geskiet het nie, hou hy net ‘n rukkie; as verdrukking of vervolging vanweë die woord plaasvind, struikel hy dadelik. En die saad wat tussen die dorings gesaai is – dit is hy wat hierdie woord hoor, maar die bekommernis van hierdie wêreld en die verleiding van rykdom verstik die woord, en dit bly sonder vrug. Wedergeboorte word nêrens in die Woord as ʼn eenmalige gebeurtenis beskryf sonder volharding wat daarop volg nie. Oor en oor word die gelowige opgeroep dat alleen hulle wat volhard gered sal word. Markus 13:13
Julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie enduit volhard, dié sal gered word. Hierdie groep wat volhard en die kroon sal ontvang hoef nooit die tweede dood te vrees nie. Hulle sal dus vry wees van die finale oordeel. Hierdie kroon is die oorwinningskroon wat aan die gelowiges die belofte gee dat hulle as konings sal regeer op die nuwe aarde. Openbaring 22:5 Daar sal ook nie meer nag wees nie. Die behoefte aan die lig van ‘n lamp en die lig van die son sal nie meer bestaan nie, omdat die Here God hulle sal verlig, en hulle vir ewig en ewig as konings sal heers. Die gevolg van ʼn aardse dood is ʼn Hemelse oorwinning. Die boodskap aan die gemeente van Smirna en aan ons is duidelik. God hou ons tye in Sy hand. Die dag waarop ons tyd op aarde verby is, is alreeds deur Hom bepaal en wanneer dit aanbreek, dit wat die meeste mense se grootste vrees is, hoef diegene wat tot dan in Hom volhard het niks te vrees nie. Inteendeel, op aarde sal jy verloor, maar in die Hemel sal jy die oorwinnaar wees. Daarom het die gelowige geen vrees vir die dood of wat hulle op aarde sal ly nie aangesien Christus ons voorganger is en ook met ons is in ons tye van vervolging. Paulus stel dit so mooi as hy in Romeine 8 vertel dat niks ons kan skei van die liefde wat daar in Christus Jesus is nie. Hier verklaar hy ook aan elke gelowige dat ons meer as oorwinnaars is. Romeine 8:37 Maar in dit alles is ons selfs meer as oorwinnaars deur Hom wat sy liefde aan ons bewys het.

Slot
Watter lewe kies jy – ʼn aardse oorwinnaar en ʼn lewe van wêreldse oorvloed of een wat verlang na die toekomstige Hemel en aarde waar ons met Christus sal heers as konings? Christus maak hierdie keuse en die gevolge daarvan duidelik in Sy Woord:
Markus 8:34-38 Nadat Hy die skare saam met sy dissipels nader geroep het, het Hy vir hulle gesê: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg. Want wie sy lewe wil red, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My en die evangelie verloor, sal dit red. Wat baat dit ‘n mens immers as hy die hele wêreld as wins bekom, maar sy lewe verloor? Wat sou ‘n mens gee as losprys vir sy lewe? Want wie hom vir My en my woorde skaam in hierdie owerspelige en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die Mens Hom skaam wanneer Hy in die heerlikheid van sy Vader kom, saam met die heilige engele.