Inleiding
Elke brief aan die gemeentes word ingelei deur ʼn beskrywing van Christus wat alreeds in Hoofstuk 1 genoem is. Christus is die begin en die einde van Openbaring. Hy is die hoofkarakter in die Skrif en ook hier in Openbaring. Hierdie Jesus is die een voor wie ons moet neerval en wie ons moet aanbid. Johannes, wat die openbaring wat aan hom gegee is, neergeskryf het onthul aan ons wie hierdie Jesus is. Terwyl Jesus nog op die aarde was, het Johannes na homself verwys as die geliefde. Johannes 13:23 Een van sy dissipels, hy vir wie Jesus liefgehad het, het teen Jesus se bors geleun. In hierdie vers vertel Johannes dat hy as die geliefde op die bors van Jesus geleun het. Nou, met die verskyning van Christus in Openbaring, vertel Johannes aan ons dat, toe hy Hom sien, hy soos ʼn dooie aan Sy voete geval het. Openbaring 1:17 Toe ek Hom sien, het ek voor sy voete neergeval soos ‘n dooie, maar Hy het sy regterhand op my gelê en gesê: “Hou op om bang te wees – Ek is die Eerste en die Laaste. So baie mense in die kerk het die idee dat Jesus hulle “maatjie” is, iemand wat hulle kan hiet en gebied en wat maar net tevrede is met jou net soos jy is. Niks kan verder van die waarheid wees nie. Hy word openbaar as die Grote God wat opdragte gee aan die gemeentes om in te val by Sy opdragte en Sy woorde te gehoorsaam.
Efesiërs
Die inleiding “Dit sê Hy….” is ʼn ou Testamentiese formule wat 21 keer net in die klein profete aangehaal word. Die “Hy” is die Jahwe (die Here) van die Ou Testament en elke brief is ʼn profetiese woord aan die gemeente. Hy stel Hom verder voor as die een wat die sewe sterre vashou en wandel tussen die sewe goue lampstaanders. Met hierdie inleiding spreek Hy telkens die gemeente se probleem aan. Hy is die een wat alles van hulle weet en bewus is van hoe hulle lewe. Hy gaan hulle bemoedig en teregwys.
Suiwerheid
Hy begin deur hulle te prys aangaande hul toegewydheid en erns aangaande die suiwerheid van hulle leer. Vir hierdie gemeente was die leer wat verkondig word baie belangrik. Hulle was soos goeie Bereans. Handelinge 17:11 Die mense daar was meer welwillend as dié in Thessalonika. Hulle het die boodskap baie geesdriftig ontvang en die Skrifte daagliks bestudeer om vas te stel of dit so is. Valse apostels en leraars was deur die geskiedenis van die kerk nog altyd ʼn probleem. Dit is so interessant dat Paulus juis die Efesiër gemeente waarsku teen wrede wolwe wat die kerk sal binne dring en valshede sal verkondig. Handelinge 20:29-30 Ek weet dat wrede wolwe ná my vertrek julle geledere sal binnedring en die kudde nie sal spaar nie. Selfs uit julle eie geledere sal daar manne na vore kom wat verdraaide dinge verkondig om die dissipels agter hulle aan weg te lok. Die Woord aan hierdie gemeente is duidelik dat hulle klem op suiwer leer deur God hoog aangeskryf word en dat dit ʼn belangrike en goeie eienskap van die kerk is. Baie mense vandag wil ons die idee gee dat dogma of leerstellings van die kerk nie so belangrik is nie en dit word as blote hare kloof beskryf. Die Woord is baie duidelik dat die kerk hulleself moet rig volgens die Woord en alles wat hulle doen en glo moet toets aan die Woord. Gemeentes wat ligtelik omgaan met die Woord maak asof dit wat in die Woord staan gelyk is aan mense se opinies. Die kerk moet op alles wat hulle verkondig kan sê: “So spreek die Here Here.” Die Efesiër gemeente was ʼn gemeente wat bereid was om te werk vir Sy Naam. Sy Naam word hier gebruik vir die objek van hulle geloof. Dit wat ons glo en verkondig is gelyk aan Sy Naam. Kan jy sien hoe ernstig dit is dat ons moet seker maak dat dit wat ons glo en verkondig waar is? Ons is besig met Sy Naam. As die derde gebod sê dat ons nie sy Naam ydellik mag gebruik nie het dit ook te make met die valse verkondiging van die Woord. As ons sê: “So spreek die Here” terwyl Hy dit nooit gespreek het nie, is ons gelyk aan die valse profete waarteen God deur Jeremia waarsku. Jeremia 14:14-15 Die Here het toe vir my gesê: “Dit is leuens wat die profete in my Naam profeteer. Ek het hulle nie gestuur nie en hulle nie opdragte gegee nie. Ek het nie met hulle gepraat nie. Dit is ‘n vals visioen, sinlose waarsêery en ‘n bedrogspul uit hulle eie harte wat hulle vir julle as profesieë opdis. Daarom, so sê die Here oor die profete wat in my Naam profeteer, terwyl Ek hulle nie gestuur het nie, hulle wat aanhou sê dat die swaard en hongersnood nie in hierdie land sal kom nie, ‘Deur die swaard en hongersnood sal daardie profete omkom. In hierdie gedeelte sê God ook hulle spreek in “my Naam”. Dit is absolute arrogansie om dinge te verkondig asof God dit gesê het, terwyl Hy dit nooit gesê het nie. Nie net word hierdie profete beskryf as mense wat valshede verkondig nie, maar dit selfs glo. Esegiël 13:6 Hulle visioene is vals, ‘n leuenagtige voorspelling, hulle wat telkens sê, Dit is die uitspraak van die Here. Die Here het hulle egter nie gestuur nie. En dan wag hulle nog dat die woord vervul sal word!
Pasop vir leraars wat dogma en leerstellings minderwaardig ag en die vrome “Hier preek ons net Christus” as ʼn leuse voorhou. Sonder die korrekte dogma kan die Jesus Christus wat verkondig word baie vinnig ʼn valse Christus of afgod word.
Hulle eerste liefde versaak.
Wat beteken dit dat hulle hulle eerste liefde versaak het? Baie dink dit beteken dat die gemeente nie meer liefde vir mekaar gehad het nie. Ander glo weer dat dit te make het met die gemeente wat nie meer die Here lief gehad het soos aan die begin nie. In die aanhef van die brief wys Christus daarop dat Hy tussen die goue lampstaanders wandel. Die gemeente word dus beskryf as ʼn ligdraer. Hulle word verder opgeroep om hulle te bekeer en weer die eerste werke te doen. Die kerk moet die lig vir die wêreld wees deur die evangelie uit te dra na die wêreld wat verlore gaan. Matteus 5:14-15 Julle is die lig vir die wêreld. ‘n Stad wat op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie. Mens steek ook nie ‘n lamp op en sit dit onder ‘n maatemmer nie, maar op ‘n lampstaander, en so gee dit lig vir almal in die huis. Dit was ook Jesus se laaste opdrag aan sy volgelinge om die wêreld in te gaan en mense dissipels van Hom te maak. Jesus waarsku sy volgelinge dat mense se liefde sal koud word. In hierdie gedeelte word hierdie probleem in Efese aangespreek en terselfdertyd word die kerk herinner aan sy taak. Matteus 24:11-14 Baie vals profete sal verskyn en hulle sal baie mense mislei. En omdat die wetteloosheid sal toeneem, sal baie se liefde afkoel. Wie egter volhard tot aan die einde, dié sal verlos word. Hierdie evangelie van die koninkryk sal oor die hele wêreld verkondig word as getuienis vir al die nasies. En dan sal die einde kom. ʼn Persoon wat lief is vir iemand is altyd gretig om ander van hierdie geliefde te vertel. Dink aan ʼn verliefde jongman of meisie oor hul geliefde, ʼn ouma of oupa oor hul kleinkinders, ouers oor hul kinders. Hulle vertel staaltjies, haal foto’s uit en is trots om hierdie geliefdes aan die wêreld voor te stel. Tog is die teendeel waar van so baie wat in die kerk sit. Baie het selfs ʼn suiwer teologie, maar deur die week is hulle stil aangaande hulle sogenaamde “geliefde”. God belowe dat Hy hulle kandelaar sal verwyder. Hierdie kerk se lamp sal verwyder word van die plek waar hy staan, aangesien hy nie meer lig uitstraal nie. Net soos ʼn dooie lig geen doel het nie en vervang sal word, so ook hierdie gemeente.
Hierdie gedeelte van die brief aan die Efesiërs sluit af met die formule “Hy wat ʼn oor het, laat hom hoor” (direk vertaal uit die Grieks). Dit is ʼn aanhaling van die woorde in Markus 4, nadat Jesus vertel van die lamp wat nie onder ʼn maatemmer geplaas moet word nie en ook in Lukas 8, waar die gelykenis van die saaier vertel word. Markus 4:23 Laat dié wat ore het om te hoor, luister! Lukas 8:8 En nog ‘n deel het in vrugbare grond geval, en dit het gegroei en ‘n honderdvoudige opbrengs gelewer. Nadat Jesus hierdie gelykenis vertel het, roep Hy uit: Laat dié wat ore het om te hoor, luister! Al twee gedeeltes word afgesluit met ʼn waarskuwing dat as hulle nie gehoor gee nie, dit wat hulle dink hulle het, weggeneem sal word. Markus 4:25 Want wie het, aan hom sal gegee word. En wie nie het nie, van hom sal ook dit wat hy het, weggeneem word. Lukas 8:18 Let daarom op hoe julle luister. Wie het, aan hom sal gegee word. En wie nie het nie, van hom sal selfs dit wat hy dink hy het, weggeneem word. Hierdie tweede generasie gelowiges het die entoesiasme van die eerste generasie gelowiges in Éfese verloor, nl. om die evangelie te verkondig aan die mense in Éfese. Is jy soos die Efesiër gemeente? Het jy jou eerste liefde verlaat? Geen kerk mag die naam van Jesus Christus dra sonder individue wat uitgaan en deur die week ligdraers is nie. Doen die eerste werke. Raak weer opgewonde oor die evangelie. Praat met mense tydig en ontydig. 2 Timoteus 4:1-2 Ek vermaan jou ernstig voor God en Christus Jesus, wat die lewendes en die dooies gaan oordeel, en ook met die oog op sy verskyning en sy koninkryk: Verkondig die woord, hou tydig en ontydig aan, weerlê, bestraf, bemoedig in alle geduld en deur lering.
Nikolaiëte
Hierdie groep het volgens oorlewering rond gegaan en deel gehad aan die heidense praktyke van die dag. Miskien was hulle boodskap dat, as ons met die heidene saamgaan en ook meedoen aan hulle gebruike, ons ʼn groter invloed in ons samelewing sal hê. Baie mense het nog steeds hierdie idee dat die kerk nie so verskillend van die wêreld moet wees dat ons uitstaan en sodoende nie werklik die samelewing kan beïnvloed nie. Ons moenie wit of swart wees nie, maar eerder ʼn meer grys is die aanvaarbare middel. Baie keer word gelowiges wat op die Woord staan en dit verkondig soos dit daar staan as te radikaal beskryf. Ons word deur baie van ons dag opgeroep om meer gematig te wees in wat ons glo en nie sonde aan te spreek as sonde nie. Sonde is foute of selfs net gevolge van hoe ons groot geword het. Baie vind dit Christelik om na sonde as “geneties” te verwys eerder as rebellie teen God. Ons wys nie meer die wêreld daarop dat niemand buite wedergeboorte goed is nie. Nee, vandag se vals leraars beskou almal as goeie mense wat goeie besluite kan neem. So word daar verskonings vir sonde gemaak en na verlorenes verwys as inherent goeie mense wat weens genetika of omstandighede foutjies maak. Sonde word afgemaak as nie so erg nie of word selfs nie meer as sonde gesien nie, maar iets om op trots te wees, om oor fees te vier! God word die liefdevolle Jesus, wat sonde oorsien en lief is vir sondaars. Maar wat sê die Woord? Psalm 5:5-6 Want U is nie ‘n God wat behae het in goddeloosheid nie; die kwaaddoener sal by U nie vertoef nie. Die onsinniges sal voor u oë nie standhou nie; U haat al die werkers van ongeregtigheid. Is dit wat jy aan die wêreld verkondig – dat hulle onder die oordeel van God staan en dat sy wraak oor hulle is en hulle veroordeel gaan word? 2 Tessalonisense 1:8 in ‘n vuurvlam, terwyl Hy wraak uitoefen op hulle wat God nie erken, en die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie. Dit is dus duidelik dat die Nikolaiëte teen die Woord in probeer het om sogenaamd heilig te lyk, maar eintlik sonde teen God gepropageer het. Die interessante is dat hoe meer die kerk soos die wêreld lyk hoe minder is hul goddelike invloed. Hoe meer heilig ons lewe hoe groter is ons invloed en hoe duideliker skyn ons lig.
Met wedergeboorte vind daar ʼn metamorfose plaas wat vir die wêreld sigbaar is en as gevolg daarvan sal ons ook vervolg word. 1 Petrus 4:3-4 Immers, julle het in die tyd wat verby is, al oorgenoeg deel gehad aan dit wat die heidene wil doen: uitspattigheid, begeerte, dronkenskap, brassery, drinkpartytjies en verfoeilike afgodediens. Hulle verstom hulle daaroor dat julle nie meer meedoen aan hierdie selfde stroom losbandigheid nie, en sê lasterlike dinge. Christus maak dit duidelik dat hierdie gemeente, net soos Hy, die valse, afgewaterde, verdraagsame teologie, asook die mense wat dit verkondig en aanhang, gehaat het. Wees verseker dat verdraagsaamheid teenoor enige sonde, teen God se wil is. Menslike opinie wil ons oortuig dat ʼn sagter aanslag en meer buigsame lering liefdevol en volgens God se karakter is, maar dit is vals en God haat dit. Sy toorn is oor die goddelose en Hy vra opregte berou van sonde. Om iemand met sy verlore toestand te konfronteer is meer liefdevol as om hom/haar gerus te stel dat God hul leefstyl oorsien of selfs goedkeur sodat hulle tydelik gesus kan wees.
Slot
Die brief sluit af met ʼn oproep aan die gemeente om gehoorsaam te wees en te doen wat God van hulle vra. Aan diegene wat gehoor gee en volhard word die belofte van die ewige lewe en deel aan die boom van die Lewe gegee. In teenstelling met die gehoorsames, sien ons met ons geestesoë die beeld van Adam en Eva wat uit die tuin van Eden gedryf is en nie meer deel gehad het aan die boom van die Lewe nie. Die boom van die Lewe wys op God se teenwoordigheid en daarom is die “Hy” wat wandel tussen die goue kandelare en die boom van die Lewe die aanduiding op Christus se teenwoordigheid in die kerk. Die boodskap vir Efese is ook ʼn boodskap vir elkeen van ons. Jesus Christus het by jou en my kom woning maak en Sy lig aan ons toevertrou. ʼn Lig wat waar en suiwer is en daar is om die vuilheid van die wêreld uit te wys, maar ook die pad na God aan te wys. Het jy daardie liefde vir die mense rondom jou? Is jy besig met die ware leer van Jesus, haat jy die verkeerde en is jy besig om ander van Hom te vertel?
