Na baie jare het Jakob ʼn boodskap van God gekry dat hy moet teruggaan na die land vanwaar hy weggevlug het. Hy was baie bang, want hy het nie geweet of Esau nog kwaad was vir hom nie. Jakob het gebid en vir God gevra om hom te help. Hy het egter nog steeds sy eie planne gemaak en baie geskenke vooruit gestuur om sy broer gelukkig te maak. Hy het ook sy gesin in groepe verdeel en hulle vooruit oor die Jabbokrivier gestuur. Hy het alleen agterna gekom.
Daardie nag het Jakob alleen langs die rivier geslaap. ‘n Man het aan hom verskyn. Die man was God. Hy het met Jakob begin stoei. Hulle het die hele nag lank gestoei. Toe het die man Jakob se heup aangeraak en dit het seer geword. Teen dagbreek het die man vir Jakob gesê om hom te laat gaan, maar Jakob het geweier totdat die man hom geseën het.
Die man het vir Jakob gesê dat hy nie meer Jakob genoem sou word nie, maar Israel, want hy het met God en mense gestry en oorwin.
Jakob het besef dat hy met God gestoei het. Hy het die plek Pniël genoem, want hy het gesê: “Ek het God van aangesig tot aangesig gesien en nogtans bly lewe.”
Die volgende oggend het Jakob oor die rivier getrek en Esau ontmoet. Esau was nie meer vir hom kwaad nie en was bly om hom en sy familie te sien.
Jakob en Esau het vrede gemaak en elkeen weer op hul eie gaan bly.
