Op n dag het Jakob by ‘n put aangekom. Hy het gesien hoe die herders die skape na die put bring om hulle te laat drink. Terwyl hy daar was, het Ragel met haar pa se skape daar aangekom. Sy was n baie mooi meisie.
Die skaapwagters het vir Jakob gesê dat Ragel Laban se dogter was. Jakob was baie bly, want Laban was die oom waarna Rebekka, sy ma, hom gestuur het.
Jakob het die klip waarmee die put toe was van die put af gerol en vir Ragel se skape water gegee. Hy het haar vertel wie hy is en sy het gehardloop om vir haar pa, Laban, te vertel.
Laban het Jakob met ope arms verwelkom en hom gevra om by hulle te bly. Jakob het baie van Ragel gehou en het vir Laban gesê dat hy sewe jaar lank vir hom sal werk as hy met Ragel mag trou. Laban het ingestem en Jakob het sewe jaar lank hard gewerk. Vir Jakob het dit gevoel soos ‘n kort tydjie, want hy was baie lief vir Ragel.
Toe die sewe jaar verby was, het Laban ‘n groot fees gehou, maar hy het ‘n skelm plan gehad. Hy het, in plaas van Ragel, sy ouer dogter Lea, vir Jakob gegee om mee te trou. Jakob het dit nie agtergekom nie omdat haar gesig bedek was. Die volgende oggend het Jakob besef dat hy met Lea getrou het. Hy was baie kwaad vir Laban.
Laban het vir Jakob gesê dat dit in hulle land nie reg is om die jonger dogter te laat trou voordat die ouer een getrou het nie. Laban het toe vir Jakob gesê dat hy ook met Ragel mag trou as hy nog sewe jaar vir hom werk. Jakob het ingestem en ‘n week later het hy met Ragel getrou. Hy het nog sewe jaar vir Laban gewerk.
Jakob was baie lief vir Ragel, maar hy het ook vir Lea gesorg en hulle het ‘n groot gesin gehad.
