Jakob en die Leer na die Hemel

Jakob het sy pa Isak en sy broer Esau bedrieg en het gevlug na sy oom Laban toe, omdat hy bang was dat Esau hom sou doodmaak.

Dit was n ver pad na sy oom toe en een aand nadat hy ver gestap het was hy baie moeg. Hy het ‘n klip geneem om as ‘n kussing te gebruik en het gaan lê om te slaap.

Terwyl Jakob geslaap het, het hy ‘n baie spesiale droom gehad. Hy het ‘n leer gesien wat van die aarde tot in die hemel gestrek het. Engele het op en af op die leer geklim. Bo-aan die leer het Jakob die Here gesien, wat met hom gepraat het.

Die Here het vir Jakob gesê: “Ek is die God van jou oupa Abraham en jou pa Isak. Ek sal by jou wees en jou beskerm, waar jy ook al gaan. Jou nageslag sal baie wees en hulle sal oor die hele aarde versprei. Ek sal jou terugbring na hierdie land toe en Ek sal my belofte aan jou hou.”

Jakob het wakker geword en was baie verbaas en bang. Hy het gesê: “Die Here is regtig hier, en ek het dit nie besef nie.” Hy het die klip waarop hy geslaap het, geneem en dit regop gesit as ‘n gedenkteken. Hy het die plek Bet-El genoem, wat “Huis van God” beteken.

Jakob het ook ‘n belofte aan die Here gemaak en gesê: “As U by my is en my beskerm op hierdie reis, en my veilig terugbring na my pa se huis toe, dan sal U my God wees.”

Lewer kommentaar