Terg

Inleiding

Om ter terg is vir sommige ʼn lekker speletjie. Jy kry dit egter gewoonlik by kinderagtige mense wat dit snaaks of vermaaklik vind om ten koste van ander grappies te maak om een of ander reaksie by hulle te ontlok. Die gedagte aan ʼn seun wat ʼn dogter se vlegsels afknip of ‘n drukspyker op iemand se stoel sit kom dadelik by mens op. Dit is gewoonlik net vir die persoon wat die grappies maak lekker. Dit lyk vir baie onskuldig en ons vind dikwels die idee dat mens darem maar ʼn grap moet kan vat! Om te terg is egter net die minder ernstige weergawe van uittart en dit het gewoonlik negatiewe gevolge. Indien dit ʼn bepaalde manier van lewe word kan dit ander moedeloos en selfs rebels maak. Jy weet nooit waar jy met sommige mense staan nie en in die ouerhuis kan hierdie gevaarlik wees, juis omdat dit die vaste anker en veilige hawe vir ons kinders moet wees.

Uittarting

God gee ʼn waarskuwing aan die ouers om nie hulle kinders te vertoorn nie. Efesiërs 6:4 En vaders: Moenie julle kinders uittart nie, maar voed hulle op deur die dissipline en teregwysing van die Here. Die woord in die Grieks παροργίζω (parorgizó) kan irriteer, vertoorn, opwek tot woede beteken. As ons wil weet wat hierdie woord beteken in die Woord het ons nodig om na die gebruike daarvan in die Skrif te gaan kyk. Dit is interessant dat oral waar hierdie woord in die Ou Testament(LXX) gebruik word dit te make het met die volk of ʼn individu, gewoonlik die koning, wat God opwek tot toorn deur hulle volgehoue sonde en rebellie teen God. 2Kronieke 34:25  Omdat hulle My verlaat en vir ander gode offerrook laat opgaan het, om My te terg met al die werke van hulle hande, daarom sal my grimmigheid oor hierdie plek uitgestort en nie uitgeblus word nie.

Dan was daar ook die voorbeeld van die volk wat Moses vertoorn het in die woestyn. Die volk het gekla oor die toestand waarin hulle hulleself bevind aangesien Moses en Aaron hulle uit Egipteland uitgelei het. Hulle argument met Moses was dat dit met hulle beter gegaan het in Egipte, aangesien hulle in die woestyn nie eers water het om te drink nie. God praat met Moses en roep hom op om hierdie keer met die rots te praat en nie soos vantevore die rots te slaan nie. Moses is keelvol vir die volk en geïrriteerd en in plaas daarvan om met die rots te praat, slaan hy die rots. Die Psalmdigter wys na hierdie verhaal en vertel die leser dat hierdie gebeure baie negatief vir Moses was. Psalm 106:32  Hulle het Hom ook vertoorn by die waters van Mériba, en dit het met Moses sleg gegaan om hulle ontwil.

Dit is ook wat sommige ouers doen in die opvoeding van hulle kinders. Ons gaan na ʼn paar voorbeelde kyk om te sien hoe ouers, soms dalk onwetend, hul kinders terg  en hulle sodoende laat sondig. Hierdie aksies gaan kinders op die beste irriteer en op die slegste woedend en rebels maak, albei dinge wat jy as ouer ten sterkste wil vermy.

Ander dinge belangriker as my kinders.

Net soos die volk ander afgode gedien het en God tweede gestel het in hulle lewens, so kan ouers hulle kinders afskeep en ander dinge belangriker maak. Die kind moet verstaan dat God eerste is in die huis en dat die ma en pa se verhouding daarna primêr is. Die pa en die ma kan sorg dat hulle tyd vir mekaar het sodra die kinders in die aand in die bed is. As daar goeie dissipline is waarin die kind ʼn vasgestelde tyd het om elke aand bed toe te gaan, sal hierdie nooit ʼn probleem wees nie. Die kind moet weet dat daar elke aand tyd gemaak sal word waarin hy/sy met die ouers sal kan speel en gesels en hulle onverdeelde aandag het. Die meeste van die tyd sal ouers kan getuig dat die televisie inbraak op hierdie tyd maak en die aandag van die ouers en die kinders verdeel. Skakel die televisie af! ʼn Kind wat aandag van sy ouers kry sal ook makliker gedissiplineer kan word en met minder teëstribbeling sy ouers gehoorsaam. Hierdie tyd sal vir die kind kosbaar wees en hulle sal niks wil doen om hierdie geleentheid skipbreuk te laat lei nie. Gee jou kinders een aand wat vir julle as gesin spesiaal gaan wees en wat julle die hele aand net met mekaar gaan spandeer. Vrydae aande is gewoonlik ʼn goeie familie aand. Die kinders moet weet dat hulle te alle tye geraadpleeg sal word in verband met reëlings aangaande hierdie aand. Dit kan wees dat julle as gesin die familie aand moet aanskuif na ʼn ander aand omdat iets onvermydelik voorgeval het. Hierdie aande sal kosbaar wees vir jou kinders en selfs as hulle tieners is sal hulle hierdie aande bo ander geleenthede verkies. ʼn Kind wat afgeskeep word sal rebels word en in opstand kom teen enige tugtiging. In die teksvers in Efesiërs (hierbo genoem) word in teenstelling met jou kind vertoorn, die woord ἐκτρέφω(ektrephō) genoem. Die woord word vertaal as “voed hulle op”, maar het ʼn betekenis om met liefde gekoester te word. Kan jy sien hoe belangrik die koestering van jou kinders is indien jy hulle nie wil vertoorn nie. Dan gaan die vers aan om te sê dat in hierdie koestering, vermaning en tug moet plaasvind. Dit is baie belangrik vir elke ouer om te onthou dat tug sonder liefde ʼn teenoorgestelde uitwerking sal hê. Kinders wat nie gekoester word nie ervaar tug as die enigste aandag wat hulle kry en daarom sal tugtiging eerder nog meer ongehoorsaamheid na vore bring. ʼn Kind wat ervaar dat hy/sy gekoester word en aandag kry sal ʼn kind wees wat alles in hulle vermoë sal doen om nie hulle ouers teleur te stel nie.

Ondankbare ouers

Moses se woede was teenoor die volk a.g.v. hulle ondankbaarheid. Hulle was onvergenoegd in alles. Elke keer as Moses met die behulp van die Here aan hulle iets gegee het, het hulle daaroor gekla. As die Here manna gee dan kla hulle omdat hulle nie vleis kry nie. Luister wat God dan vir hulle sê: Julle sal nie net een dag eet nie, nie twee dae, nie vyf dae, nie tien dae of twintig dae nie, maar ‘n volle maand lank, totdat dit by julle ore uitkom en julle walg, omdat julle die Here wat in julle midde was, verwerp en voor Hom gekerm het deur te sê, Waarvoor het ons uit Egipte weggetrek? Numeri 11:19-20. Ouers kan op dieselfde manier hulle kinders vertoorn deur nooit tevrede te wees nie. Niks is ooit goed genoeg nie! Kinders ervaar dat hulle nooit kan opweeg teenoor hulle ouers se standaard vir hulle nie. As hulle 99% behaal word daar gevra hoekom hulle die 1% verloor het en as hulle 100% kry word aan hulle gesê dat die vraestel sekerlik nie op standaard was nie. Baie kinders raak vertoorn en/of later totaal moedeloos. Dit is waarteen Kolossense ook waarsku. Kolossense 3:21 Vaders, julle moenie julle kinders treiter, sodat hulle moedeloos word nie.  Ons sal in die volgende paragraaf na die betekenis van treiter kyk, maar hier is dit belangrik om daarop te let dat kinders nie net deur ouers vertoorn kan word nie, maar ook moedeloos gemaak kan word. Leer jou kinders ken en moet hulle nooit hulle teen mekaar of ander kinders afspeel nie. Nie een van hulle is dieselfde nie en hulle vermoëns sal beslis van mekaar verskil. Spoor hulle aan om dit wat hulle doen te geniet en vir die Here te doen en dat prestasies nie hulle grootste dryfveer moet wees nie. Elke kind moet onthou dat alles wat hy ontvang het van God af kom en dat daar niks is waarop hulle kan roem nie. God leer dit ook aan die gemeentes en spesifiek aan die Korintiër gemeente, waar sommige mense gedink het dat hulle beter as ander was. 1Korintiërs 4:7  Want wie trek jou voor? En wat het jy wat jy nie ontvang het nie? En as jy dit dan ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie? So kan die kind, net soos elke gemeentelid, ander se talente en gawes geniet en waardeer, aangesien hulle verstaan dat niemand enige iets ontvang het op grond van hulle eie verdienste nie, maar alleen op grond van God se genade. Geniet jou kinders. Moet verseker ook nie jou lewe deur hulle probeer leef nie. God het hulle gemaak en ja, hulle het tekortkominge waarin God die ouer gaan gebruik om hulle te begelei en hulle op te bou, sodat hulle die man en vrou sal wees wat God sal behaag in alles.

Treiter

Die woord in die grieks is ἐρεθίζω(erethizó), en kan gebruik word om emosie te laat opborrel. In 2Korintiers word hierdie woord gebruik in ʼn positiewe lig. 2 Korinthiërs 9:2 Want ek ken julle bereidwilligheid, waarmee ek oor julle by die Macedoniërs spog – dat Agaje al sedert ‘n jaar gelede gereed is, en dat julle ywer die meeste van hulle aangespoor het. Hier die woord vir aangespoor. In die konteks van Kolossense is dit aanspoor op ʼn negatiewe manier. Hierdie woord word ook in Spreuke 19 in die LXX gebruik. Spreuke 19:7  Al die broers van die arme haat hom; hoeveel te meer hou sy vriende hulle ver van hom af! Hy jaag agter hulle aan met woorde—weg is hulle!  Hierdie gedeelte praat van ʼn arme wat soveel bedel en hulp soek by mense dat tot sy vriende hulle uit die voete maak as hulle hom sien. Dit is nogal ʼn humoristiese beeld. Die beeld is van ʼn arm man was so knaend is dat tot sy vriende weghardloop as hulle hom sien. Jy kan jou kinders frustreer as jy ʼn ma of pa is wat knaend is en aanhou neul. As jy ʼn opdrag gee wat verontagsaam word moet die kind getug word, maar om aan te hou neul gaan eerder jou kind opstandig maak as om hulle te kry om jou te gehoorsaam. Moenie probeer om jou kinders deur jou aanhoudende gekla te kry om opdragte uit te voer nie. Praat een keer, nie tel tot drie of enige: “As jy nou weer….” nie. Indien jy verontagsaam word, tug. Anders word jy soos kraan wat drup en word jy ʼn frustrasie. Die woord het ook te make om iemand tot woede op te wek. In Afrikaans sal ons sê: “Om die leeu se snorbaard te trek” of in Engels “to poke the bear”.

Ouers kan ook al spelende terg en veral pa’s maak hulle hieraan skuldig. Dink bv. aan ʼn pa of ma wat ʼn speelding of lekkerny na ʼn kind uithou maar elke keer as hy/sy dit wil vat, dit wegruk of dit buite bereik hou. Dit word ʼn lekker speletjie – tot op ʼn punt waar die kind moedeloos gaan word en/of gaan begin huil. Ken die lyn tussen speel en frustreer. Ongelukkig bly hierdie tipe “speel”  baie keer nie by speelgoed of lekkergoed nie, maar word dit deel van ernstige dinge. Kinders weet later nie meer of sy pa/ma met hom speel of nou ernstig is nie. Word iets regtig belowe, of sal dit altyd net so buite bereik gehou word. Hy weet ook nie of dit wat sy pa vir hom/haar oordra die waarheid is en of hy net hulle been trek nie. Ouers kan so aanhou met treiter dat kinders, soos die teks tereg daarop wys, moedeloos word. As daar gespeel word moet die kind bewus wees dat my ouers met my speel en as die ouer ernstig is moet die kind dit weet. Niks is erger as iemand wat maak of hy ernstig is en daarna vir jou vertel dat hulle sommer ʼn grap gemaak het nie. Weet jou kinders dat as jy ernstig is jy dit bedoel wat jy sê? Luister hoe die Spreukedigter so ʼn persoon beskryf. Spreuke 26:18-19 Soos een wat onverskillig vuurpyle, dodelike pyle afskiet, so is die man wat sy naaste bedrieg en sê: Ek speel somaar. Jou kind moet leer om sy ouer te kan lees en dit sal hom bewaar van baie moeilikheid. Vaders wat al grappende simpel of onmoontlike opdragte gee, moenie verbaas wees as opdragte halfhartig en dalk glad nie uitgevoer word selfs wanneer dit die dag legitiem is nie. Kinders moet besef wanneer ouers ernstig is. Dit stel grense wat hom/haar sal beskerm, nie net in sy ouerhuis nie, maar ook in die lewe daarbuite. Net so moet ouers hulle kinders ken en weet wanneer hulle of broers of susters se geterg besig is om te ver te gaan. Veral by tieners raak hierdie baie sensitief. Om te terg oor ʼn lawwe kuif of te veel parfuum is dalk gesond tussen huisgenote, en help dat ons onsself nie te ernstig opvat nie, veral waar kinders terselfdertyd geliefd en gekoester voel, maar dit kan gou te ver gaan.

Verbreekte beloftes

Terg het ook te make met ouers wat beloftes maak en dit nie uitvoer nie. Die Bybel is baie duidelik dat ons ja, ja moet wees en nee, nee. Mattheus 5:37  Maar laat julle woord wees: Ja ja, nee nee. Wat meer as dit is, is uit die Bose. As jy dus jou kind dreig met ʼn pakslae moet hy/sy verseker weet dat dit is wat sal gebeur indien hy/sy nie gehoorsaam is nie. Party ouers sal dreig en weer dreig en nog ʼn keer dreig. As jy dan jou kind tug is dit gewoonlik uit frustrasie en teen hierdie tyd het jou kind geen idee meer hoekom hy juis hierdie keer geslaan is nie. Hy word geleer dat hy getug word omdat jy frustreerd raak en nie a.g.v. sy eie ongehoorsaamheid nie. Verder moet die kind weet dat as my ouers iets vir my gesê het, hulle dit sal waar maak. Dit is natuurlik nie net op die vlak van tugtiging nie. As Pappa of Mamma iets belowe moet hulle weet dat dit slegs in die uiterste gevalle, en dan met ʼn ander alternatief wat aangebied word, verander sal word. Niks frustreer ʼn kind meer en maak hulle meer opstandig as ouers wat nie hul woord hou nie. Daar is kere wat jy aan jou kind die versekering gee dat as jy by die huis kom julle die bal sal skop of in die see sal gaan swem en dan kom jy by die huis moeg en uitgewas en verbreek sommer maklik hierdie “ja” wat jy aan jou kind gegee het. Die Psalmdigter stel dit so mooi: al het hy gesweer tot sy skade, hy verander nie. Psalm 14:4c. Kan jou kinders jou vertrou in dit wat jy gesê het. Net soos die ‘ja’ is die ‘nee’ ook belangrik. ʼn Nee word nie ʼn halwe nee of  ʼn ja as hulle aanhou neul of ʼn kerm nie. Daarom is jou nee nie net ʼn besluit wat vanuit ʼn bepaalde emosie geneem word nie, maar a.g.v. ʼn weldeurdagte en legitieme rede. Hier is dit belangrik om weereens na die pa en ma se rolle te verwys. Kinders sal dikwels ouers teen mekaar probeer afspeel om Pa se nee te verander deur Ma se ja of andersom. Indien die een ouer alreeds ʼn antwoord gegee het, moet hulle daarby volstaan. Hierdie is nie gegiet in steen nie, maar elke huishouding kan ʼn manier vind om hierdie beginsel toe te pas. Die belangrikste is dat daar uit een mond gepraat moet word en dat geen kind toegelaat moet word om ouers teen mekaar af te speel nie.

Slot

As jou oggend en aand praatjies nie ooreen stem nie kan jy seker wees dat jy kinders sal grootmaak wat geïrriteerd en opstandig sal wees. Hulle moet op jou kan reken en jou kan vertrou. God is getrou en Sy beloftes is waar. God wil goddelike ouers gebruik om hierdie eienskap van Hom aan sy kinders te demonstreer. Wees ʼn liefde volle vader en moeder wat jou kinders ken en hulle liefhet. Gee aandag aan jou kinders en wees in woord en daad konsekwent. Speel met hulle, maar moenie verander in ʼn ligsinnige maatjie wat aanhoudend terg en hindernisse stel sodat jy kan lag wanneer hulle sukkel om dit te oorkom nie. Moedig aan sonder om te kritiseer en jou drome deur hulle waar te probeer maak. God vra in sy Woord dat hulle jou moet gehoorsaam en eer. Leef dan so dat dit vir hulle ʼn vreugde sal wees.