Op ʼn dag het God vir Abraham ‘n baie moeilike taak gegee. Hy het aan Abraham gesê om sy geliefde seun, Isak, na ‘n berg te neem en hom daar as ‘n offerande aan God te offer. Abraham was baie lief vir sy seun Isak, maar hy het ook God vertrou met alles en het vroeg die volgende oggend vertrek om te doen wat God van hom gevra het.
Hy en Isak het ‘n paar stukke hout vir die vuur gepak en saam met twee slawe na die berg gegaan wat God hulle gewys het. By die berg gekom het hulle die slawe agter gelos. Isak het die hout gedra, en Abraham het die vuur en die mes gedra. Op pad teen die berg uit, het Isak vir sy pa gevra waar die lam is vir die offerande. Abraham het geantwoord dat God self ‘n lam sou voorsien.
Toe hulle by die plek kom wat God gewys het, het Abraham ‘n altaar gebou en die hout daarop gepak. Hy het toe vir Isak op die altaar gelê. Net toe Abraham gereed was om God se opdrag uit te voer, het ‘n engel van die Here hom geroep en gesê om nie sy seun te offer nie. Dit was ‘n bewys dat Abraham regtig God vertrou het, want hy was bereid om selfs sy eie seun te offer.
God het gesê dat Hy Abraham en sy nageslag sou seën omdat hy na Hom geluister het. Toe sien Abraham ‘n ram wat in die bosse vasgevang was en het daardie ram as ‘n offer in die plek van Isak geoffer.
