Onreg

Inleiding

Elke ouer het ook grootgeword in ʼn ouerhuis. Sommige van hierdie ouerhuise was goddelike huise, maar baie was nie en so het elke ouer ook ʼn verwysingsraamwerk vanwaar hy/sy na die taak van kinderopvoeding kyk. Sommige het baie negatiewe ervarings en het verbete besluit om nooit soos hul ouers wees nie. Indien jy ʼn leser van hierdie blog is, kan aanvaar word dat jy die taak van kinderopvoeding ernstig opneem en die beste vir jou kinders wil hê. Jy wil doen wat reg is en in elke situasie optree soos wat God dit van jou vra. Dit is ʼn wonderlike voorneme en ons het reeds gesien hoe God jou hierin sal help en bystaan. Hierdie voorneme kan egter ook ʼn verlammende effek hê indien die vrees om dalk verkeerd op te tree, verhoed dat jy enigsins optree. Hierdie blog gaan jou in sommige gevalle terugneem na jou eie ouerhuis, en wys dat selfs die onregverdige optrede van aardse ouers deur God gebruik is om jou te vorm. Hierdie terugblik moet jou vrymaak van vrees en jou fokus weer vestig op God wat die enigste regverdige ouer is – jou Hemelse Vader, wat jou liefhet. Hierdie wêreld is onregverdig – jy, as ouer, is soms onregverdig en handel vanuit jou eie seer en ervarings. Wat maak ek met my eie en die wêreld se onreg teenoor my kind?

Foute

Ons kan nie in die harte van ons kinders sien nie en gaan hulle soms onregverdig tug.  Dit is wonderlik hoe die Bybel dit ook baie duidelik stel dat ouers nie te alle tye sonder foute sal wees in die tugtiging van hul kinders nie. Hebreërs 12:10 Want hulle het ons vir ‘n kort rukkie getug volgens dit wat vir hulle reg gelyk het, maar Hy tot ons beswil, sodat ons deel kan kry aan sy heiligheid. Ons het alreeds in die vorige blog geskrywe dat gelowige ouers hulle kinders uit liefde tug en dus wil hê dat tugtiging vir hul kinders tot voordeel moet wees. Tog, ten spyte van al die beste intensies, gaan elke aardse vader en moeder met tye hierin faal. Ons weet nie alles nie en ken maar gebrekkig en dus gaan ons met tye verkeerdelik straf. Baie ouers huiwer in hulle dissiplinering juis oor hierdie rede. “Hoe kan ek seker wees ek straf regverdig?” Miskien omdat hulle op ʼn stadium onregverdig gestraf is of bloot voel dat hulle nie daarvoor opgewasse is nie. God weet dat ons gebrekkige kennis het en tog het Hy die ouer die opdrag gegee om ten spyte daarvan steeds hulle kinders te dissiplineer. Dit is God se opdrag en daarom kan jy verseker wees dat die kind uit jou tekortkominge dinge gaan leer waarby hulle in die toekoms gaan baat vind. Hiervoor is dit egter belangrik om eerlik met jou kinders te wees, veral wanneer hulle ouer word en met jou kan begin redeneer. Jy mag en moet kan sê: “Ek was verkeerd, ek is jammer” sonder om jou gesagsposisie in gedrang te bring. Jou kinders sal eerder meer respek vir jou hê as minder.  

Steeds gehoorsaam

Ons het alreeds gewys dat elke individu onder gesag staan en weer gesag het oor ander. Daarom is dit so belangrik dat kinders moet besef dat alhoewel die gesag wat oor hom/haar geplaas word nie altyd regverdig gaan wees nie, die Here gehoorsaamheid aan daardie gesag verwag. Die wonderlikste voorbeeld van ʼn absolute regverdige persoon wat aan gebrekkige ouers gehoorsaam was vind ons by Jesus. Daar was die keer toe hy twaalf jaar oud was en hy weggeraak het. Sy ouers was op pad terug huis toe en het gedink dat hy by ʼn ander reisgeselskap was. Nadat hulle hom nie tussen die ander reisigers gevind het nie keer hulle terug na Jerusalem. Hulle vind hom na drie dae waar hy besig was om aan die leermeesters in die tempel terrein vrae te vra en na hulle te luister. Wanneer hulle hom vind volg die volgende gesprek. Lukas 2:48-49 Toe sy ouers Hom sien, was hulle baie ontsteld. Sy moeder sê toe vir Hom: “Kind, hoe kon jy so iets aan ons doen? Kyk, jou vader en ek het angstig na jou gesoek.” Maar Hy antwoord hulle: “Waarom het julle na My gesoek? Het julle nie geweet dat Ek met die dinge van my Vader besig moet wees nie?” Die woord maak dit duidelik dat sy ouers hom nie verstaan het nie en dan volg die volgende woorde: Toe het Hy saam met sy ouers vertrek en in Nasaret aangekom, en Hy was gehoorsaam aan hulle. Maar sy moeder het al hierdie dinge in haar hart bewaar. Lukas 2:51. Jesus was gehoorsaam aan sy ouers. As daar ooit in die geskiedenis gebrekkige ouers was, was dit sekerlik Josef en Maria en tog was Jesus aan hulle gehoorsaam. Soms al voel jy dat jy jou kind nie verstaan nie, moet jy steeds toesien dat hy/sy aan jou gehoorsaam is en moet jy nie twyfel aan jou opdrag aangaande dissipline nie.

In elkeen van ons se lewens gaan ons onder gesag staan wat nie regverdig is nie en baie keer onder mense wat willens en wetens onregverdig is. Baie vroue ontdek dit in hulle huwelike en ja, selfs huwelike met gelowiges. Hier kan ons na Sara en Rebekka verwys wat albei deur hulle mans in situasies geplaas is waar hulle hulle moes voordoen as hul mans se susters. Elkeen van hierdie vroue was gehoorsaam aan hulle mans en binne hierdie gehoorsaamheid het hulle geleer dat God in alles in beheer is en by elkeen van hulle se situasies ingegryp het en hulle verlos het. Laat jou dogters groot word met die besef dat selfs ouers wat hulle liefhet foute gaan maak en dat hulle steeds aan hulle gehoorsaam moet wees. Net so gaan hulle mans ook foute maak, maar steeds gehoorsaamheid verwag. So leer hulle om hulle vertroue in God as hoogste gesag te plaas en nie in die direkte gesag wat oor hulle geplaas is nie. Verder leer hulle om onregverdigheid te aanvaar en die persoon wat onregverdig was te vergewe al was die persoon moedswillig. ʼn Vrou wat met hierdie uitkyk die wêreld binne gaan sal ʼn vreugde wees vir haar man en sal ook in die werksplek ʼn vreugde wees.  Deur openlik oor jou feilbaarheid, en tog selfversekerd oor jou outoriteit, op te tree leer jy jou kinders om onreg te verwerk en te aanvaar. Jou kinders sal hierby baat vind ook wanneer hulle  onregverdig behandel word in die skool. Hier sal hulle onder gesag staan wat pryse verkeerdelik sal toeken, onregverdige spanne sal kies, kinders sal voortrek en dikwels onregverdig sal straf. Deur in die ouerhuis te leer dat alles in die lewe nie regverdig is nie, omdat mense feilbaar is, maar dat God steeds gehoorsaamheid vereis, alles sien en totaal in beheer is, sal hulle sonder verwyte en wrokke deur hulle skoolloopbaan gaan. Hulle sal besef dat alles wat hulle ervaar daar is om hulle geestelik te vorm om die man en vrou te wees waarvoor God hulle bestem het. Romeine 8:28 Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir hulle wat Hom liefhet, vir hulle wat volgens sy voorneme geroep is.

Hoe wonderlik om ʼn gerustheid te hê dat alle gesag van God af kom en ek daarom in Hom kan vertrou as hoogste gesag in my lewe. Menslike gesag kan teleurstel, maar God sal nooit. Die Bybel stel dit so mooi dat ons nooit ons vertroue in mense moet stel nie. Psalm 146:3 Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie. Al die gesagstrukture was teen Jesus in opstand en het saam gestaan om Hom tot die dood toe te veroordeel en tog was God in beheer van elke oomblik en het Hy nooit beheer verloor nie. Handelinge 4:27-28 “Want inderdaad, in hierdie stad het hulle – Herodes en Pontius Pilatus, saam met die heidennasies en die volke van Israel – saamgespan teen u heilige Dienskneg Jesus, wat U gesalf het om alles te doen wat U deur u hand en u plan vooruit beskik het dat dit gebeur. Net so kon Paulus ontdek dat die goewerneurs wat sy hofsake hanteer het, al wou hulle omkoopgeld hê en al wou hulle die Joodse leiers met tye gelukkig maak, deur God gebruik is om hom in die gevangenis te hou. Ons kan vandag sien dat dit deel van sy beskerming was en die tyd was waarin hy meeste van sy briewe geskrywe het. Kan jy dink hoe baie Paulus sou gemis het indien hy met ʼn lang gesig in die gevangenis gesit en almal rondom hom blameer het? Terwyl hy in die gevangenis was het hy besef dat sy grootste opdrag was om God se Woord uit te dra in ʼn wêreld wat verlore gaan. God sou mense oor sy pad stuur en ook soldate langs hom met boeie sal laat vasmaak, net soos die man langs Jesus aan die kruis, wat bedoel was vir die ewigheid. Jou kinders sal ʼn getuie wees in elke gebied wat hulle betree as hulle hierdie uitkyk op die lewe het.

Opstaan teen onreg

In die tyd waarin ons leef is elke mens maar te bewus van sy/haar regte. Moet ek nou my kind leer om net alle onreg te aanvaar? Mag my kind nooit sy kant van die saak verduidelik of met my redeneer nie? Hierdie is die tipe vraag wat Paulus vra wanneer hy vra of ons nou meer sonde moet doen sodat die genade meer kan word.  Is dit nou so dat hoe meer onregverdig ek in die huis is, hoe meer leer my kinders gehoorsaamheid en hoe om in hierdie onregverdige wêreld te floreer? Verseker nie!

Die Here verwag nie van my of my kinders om te alle tye net om te rol en onregverdigheid te aanvaar nie. Deur die geskiedenis kan ons sien dat dit juis Christene was wat teen veral onreg teenoor ander, opgestaan en dit verander het.  Ons het alreeds ʼn paar voorbeelde genoem van hoe daar opgetree moet word wanneer  jy  onregverdig behandel word. Die eerste was van Jesus wat dit aan sy ouers duidelik gemaak het waarvoor Hy bestem was en tog, ten spyte van sy ouers se onvermoë om hom te verstaan, steeds aan hulle gehoorsaam was. ʼn Aantal kere in Paulus se lewe leer ons hoe Paulus optree in tye waar die gesag wat oor hom geplaas is onregverdig teenoor hom, in stryd met hulle eie reëls, optree.  Daar is die keer toe hy en Silas geslaan en sonder enige verhoor in die tronk gegooi is, ten spyte daarvan dat hulle Romeinse burgers was. Nieteenstaande hierdie skending van hulle regte vind ons Paulus en Silas die Here prys in die middernagtelike ure. Handelinge 16:25 Om middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing, en die gevangenes het na hulle geluister. Almal van ons weet hoe wonderlik God dit gebruik het en hoe Hy ʼn tronkbewaarder daardie nag gered het. Die volgende oggend het Paulus dit egter baie duidelik aan die geregsdienaars gemaak dat dit wat hulle gedoen het nie in lyn was met die regsprosedures nie. Handelinge 16:37 Maar Paulus het die geregsdienaars geantwoord: “Hulle het ons sonder verhoor in die openbaar laat slaan en in die tronk laat gooi, alhoewel ons Romeinse burgers is, en nou wil hulle ons stilletjies uitgooi? Beslis nie! Laat hulle ons self kom uitlei.” Daar was ook ʼn tyd wat hy homself moes beroep op die hoogste gesag van die land, naamlik die keiser, om ʼn regverdige verhoor te probeer ontvang.

Ouers moet binne elke gegewe situasie, afhangende van die kind se ouderdom, vir hom/haar die geleentheid gee om sy saak te stel voor daar gestraf word. Doen dit biddend in afhanklikheid van die Here. Jy as ouer het hieroor beheer, maar daar gaan gevalle wees waar ouers nie beheer oor die onregverdige behandeling van hul kinders het nie. In die meerderheid gevalle sal hulle moet leer om slegs die ander wang te draai. Lukas 6:29 As iemand jou op die een wang slaan, draai vir hom ook die ander een. En as iemand jou bokleed vat, moet hom ook jou onderkleed nie weier nie. Die ander wang draai veronderstel dat die persoon jou met die agterkant van sy hand sou slaan en dus jou ʼn hou sou gee wat in hierdie tyd as vernederend beskou is. Daar gaan tye wees wat jou kinders in die wêreld daarbuite verneder, beroof en onregverdig gestraf gaan word. Hier gaan dit nie net oor die fisiese verlies wat hy/sy kan ly nie, maar ook die emosionele en psigiese verlies en vernedering. Die ouerhuis is die veilige hawe waarna hulle kan terug keer nadat hulle gewond is en waar hulle geleer kan word hoe om hierdie onregte te hanteer, daaruit kan leer en daaruit groei.

Leer hulle om onregverdigheid te aanvaar waar hulle nie die geleentheid gegun word om iets daaraan te kan doen nie, om vreugde te hê ten spyte daarvan, wetende dat God die enigste regverdige Vader is en dat Hy alles weet en sien. Leer hulle om diegene wat hul verkeerdelik benadeel vry te spreek en nie toe te laat dat ʼn wrok in hul lewe ʼn houvas kry nie. Leer as gesin saam om te sing in die gevangenis en elke dag die Here te dank dat Hy besig is om ons te vorm en te leer om die man of vrou te wees wat deur Hom gebruik sal word. Kind en ouer kan saam leer om minder te word sodat Hy meer in hul lewe kan wees. Johannes die Doper sou aan die vertel wat aan hom die boodskap bring dat baie agter Jesus aanloop en deur hom gedoop word: Hy moet meer word, en ek minder. Johannes 3:30. Niemand is meer verneder as ons Verlosser nie. Die lyding en vernedering wat ek ontvang is niks in vergelyking met wat Christus, Godself, ontvang het nie.

Slot

Net omdat ek weet dat ek soms onregverdig gaan straf, beteken nie dat ek nie moet straf nie. God het in sy almag mense aangestel om Sy kinders groot te maak en Hy gee die opdrag. Dit mag dalk nie so voel nie, maar God is besig om ons te vorm en te maak soos wat ons leer om aan Hom, die hoogste gesag, gehoorsaam te wees. Om onreg te verduur is iets wat ons kinders moet leer, want dit is deel van die lewe. Dit beteken natuurlik nie dat ek doelbewustelik daarom onregverdig teenoor hulle gaan wees nie! Dit feit is egter dat elke ouer hieraan gaan skuldig wees, omdat ons sondig en feilbaar is. Dit is egter nie ʼn verskoning om in vrees terug te deins vir die Goddelike opdrag van dissiplinering van ons kinders nie. Wees jy maar net gehoorsaam en God sal alles laat meewerk ten goede. HY het dit belowe!