Inleiding
God het elke samelewing hiërargies gestruktureer. Daar is individue oor wie jy aangestel is en weer individue wat oor jou aangestel is. God is die oorsprong van alle gesag. Romeine 13:1 Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel. As jy dus in opstand kom teen enige gesag kom jy in opstand teen God. Dissipline is die direkte verband tussen jou en enige gesag, of dit nou is om dit te gehoorsaam of om dit af te dwing en albei is ewe belangrik vir God. Indien jy in ʼn gesagsposisie geplaas is, is dit dus baie belangrik dat jy toesien dat jy in daardie posisie gehoorsaam word deur die mense onder jou gesag te dissiplineer. Dit behels dat jy hulle moet leer en onderrig en tug. Net so moet jy jouself dissiplineer om die gesag bo jou te gehoorsaam en bereid wees om te leer, onderrig te word en ook getug te word indien jy ongehoorsaam is. Dit is belangrik om te onthou dat die hiërargiese struktuur waarin jy geplaas is, daar is om jou te beskerm. God het die mens gemaak en weet wat vir ons goed is. Jy het seker al die uitdrukking gehoor dat “Uiterste mag, verdorwe”. Dit beteken dat iemand wat voel dat hulle aan niemand rekenskap vir hul dade hoef te gee nie, iemand is wat korrup sal word en moreel totaal sal verval.
Verwerp van gesag
Miskien moet ons begin om vir mekaar af te vra of daar wel situasies is waar ons die reg het om aan die owerstes wat bo-oor ons aangestel is ongehoorsaam te wees. Hier is daar meer as genoeg voorbeelde van individue wat in die Bybel teen gesag in opstand gekom het en wat hul rede daarvoor was. Daniel en sy drie vriende is goeie voorbeelde van manne van God wat in opstand gekom het onder goddelose regeerders. Dit is interessant dat hulle slegs in opstand gekom het as daar van hulle iets gevra is wat in stryd was met wat die hoogste gesag, naamlik God, van hulle gevra het. Petrus en die ander apostels stel hierdie beginsel baie duidelik as hulle voor die Joodse raad verhoor word. Handelinge 4:19-20 Toe antwoord Petrus en Johannes en sê vir hulle: Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis; want vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie. Die beginsel is baie duidelik dat die gesagstruktuur slegs verontagsaam mag word indien dit in stryd is met die hoogste gesag, nl. God. As ouer is dit baie belangrik om hierdie beginsel in jou huis te demonstreer, selfs al stem jy nie noodwendig met die gesag bo jou se reëls en regulasies saam nie. Elke persoon wat die gesag wat bo-oor hom/haar aangestel is verontagsaam, kan seker wees dat hulle eie gesag ook op dieselfde manier hanteer sal word.
Reg om te tug
Elke gesag het van God die reg ontvang om diegene wat ongehoorsaam aan sy opdragte en bevele is, te tug. So gee Hy aan die leiers van ʼn land die reg van die swaard. Romeine 13:4 want hy is ‘n dienaar van God, jou ten goede. Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is ‘n dienaar van God, ‘n wreker om die een wat kwaad doen, te straf. Wanneer die regering die swaard verkeerdelik gebruik sal God eendag van hulle rekenskap eis. So sal God ook van elke gesagstruktuur rekenskap eis oor die manier waarop hulle hul Goddelike gesag gebruik of misbruik het. Ook jy as ouer sal eendag rekenskap gee van die manier waarop jy jou kinders regeer het. In vandag se taal van eufemismes klink “regeer” dalk na te ʼn sterk woord – te outokraties. Dit is egter presies wat ouerskap behels en indien dit geskiet in gehoorsaamheid aan die voorbeeld van Jesus Christus, word jou huisgesin ʼn voorbeeld van die Koninkryk van God in die kleine. Daar is bepaald verskillende leierskap style, maar daar sal verseker tye wees, waar jy met reg jou gesag outokraties sal uitoefen met: “Want ek sê so!” Vir enige kind om hierdie gesag te gehoorsaam moet hulle grootgemaak word met dissiplinering. Jy moet jou kind dissiplineer en die grense waarbinne sy eie wil kan geld baie duidelik maak. Die Amerikaanse filosoof Elbert Hubbard het met reg gesê: “’A river without banks is called a swamp’” Hierdie grense sal gereeld getoets word en ondanks populêre opinie, is dit juis hierdie grense wat ʼn kind veilig laat voel, eerder as die “vryheid” om te doen wat hulle wil. Soos ʼn elektriese heining moet hierdie grense soms met pyn afgedwing word, jou kinders ten goede.
Liefde
Tug is ʼn daad van liefde en nie van woede nie. So het God ook aan die ouers die reg gegee om hulle kinders te tug en om dit te doen soos wat Hy as liefdevolle Vader ook sy eie kinders tug. Hebreërs 12:6 want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. Die ouer is dus besig om God se voorbeeld te volg deur die opdrag om hul kinders in liefde te tug te gehoorsaam. Enige vader of moeder wat sy/haar kinders tug uit woede of ongeduld is nie besig om hulle goddelike opdrag uit te voer nie. As jy kwaad is gaan koel eers af voordat jy jou kind tug. Boetie of sussie kan maar in die badkamer of studeerkamer wag. Tug wat uit woede plaasvind breek af eerder as om te onderrig en op te bou. Die kind ervaar dan nooit die liefde van die ouer nie, maar eerder hul frustrasie. Maak seker dat wanneer die tugtiging dan plaasvind dit vir die regte redes gedoen word. God tug nie sy kinders in woede uitbarstings nie. Wanneer God Sy kinders tug is dit uit liefde en omdat Hy die beste vir ons wil hê. Hy wil ons beskerm en lei om in gehoorsaamheid die lewe te ontdek wat Hy vir ons bestem het. Jeremia 29:11 Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee. Hierdie teks word so baie keer uit konteks uit aangehaal. God het besluit om Sy volk te tug en na Babilon te stuur a.g.v. hulle sondes. Hulle is as slawe weggevoer na hierdie vreemde land waar hulle vir sewentig jaar lank sou woon. Hy gee aan die mense wat alreeds in ballingskap is, hierdie boodskap deur Jeremia. God weet wat Hy vir hierdie volk beplan en wat Hy vir hulle wil leer met hulle ballingskap in Babilon. Hebreërs 12:11 Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ‘n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ‘n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is.
Beskerming
Sou God werklik sy kinders liefhê as Hy hulle nie gestraf het nie? Is dit werklik liefde om ʼn kortstondige vrede in die huis te hê eerder as om die verkeerde aan te spreek en jou kind in liefde te straf. Spreuke13:24 Wie sy roede terughou, haat sy seun; maar hy wat hom liefhet, besoek hom met tugtiging. Geen ouer kan dus verklaar dat hulle hulle kinders liefhet as hulle nie ook hulle kinders tug nie. Tog stel die Bybel dit nog sterker as wat ons baie keer wil sê. Een van die metodes van tugtiging word in hierdie vers baie duidelik genoem, nl. die stok of die staf soos in die LXX(Griekse vertaling van die Ou Testament) beskrywe. Die teks gaan verder om die ouer in te lig dat as hulle nie hulle kinders ook met die stok slaan nie hulle hulle kinders haat. Dit is die teenoorgestelde van hoe mense vandag voel, is dit nie? Soveel gelowiges het ingekoop in die wêreldse manier van kinders grootmaak dat enige pakslae of lyfstraf van kinders as barbaars of oudtyds afgemaak word. Miskien moet ons weereens aan mekaar die vraag vra of God se Woord betroubaar en waar is. Is dit die ware kennis waarvolgens elke gelowige hulle lewens moet inrig? 2Timotheus 3:16-17 Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus. Baie keer kry ek die idee dat gelowiges dink dat die wêreldse beskouing rakende die grootmaak van hul kinders, wat lynreg bots met wat God sê, beter is as wat God se opdragte in Sy Woord is. Miskien het jy net nodig om na die resultate te kyk van hierdie “nuwe” metodes van dissiplinering om agterkom dat die wysheid van die wêreld dwaasheid by God is. Hoekom beskrywe die Bybel ouers wat hulle kinders nie lyfstraf gee nie as individue wat hulle kinders haat? Miskien is die beste manier om dit te illustreer met twee voorbeelde uit die alledaagse lewe. Jou seun of dogter luister nie dadelik as jy praat nie. Hulle beskou dit as ʼn spelletjie as hulle pa of ma hulle roep en draai om en hardloop weg as hulle geroep word eerder as om onmiddellik te kom en te luister. As jou kind by ʼn pad wegdraai en weghardloop en jou nie onmiddellik gehoorsaam nie sal die uiteinde van hierdie wrede spelletjie jou kind se liggaampie onder ʼn voertuig wees. Dan dink niemand meer die speletjie is oulik nie. Dink aan ʼn pa wat aan sy tiener dogter sê dat sy haar behoorlik en kuis moet aantrek. Hier is ʼn man wat weet hoe mans/seuns se koppe werk en sy dogter wil beskerm teen verkeerde belangstelling of haar reputasie wil beskerm. Hier praat ons net van die fisiese beskerming, maar dit gaan soveel verder. Luister hoe God in die Woord ouers waarsku van die konsekwensies van ongedissiplineerd kinders. Spreuke 23:13-14 Hou die tug nie terug van die seun nie; as jy hom met die roede slaan, sal hy nie sterwe nie. Jy sal hom wel met die roede slaan, maar sy lewe van die doderyk red. As jy jou kind wil red van die hel sal jy hom/haar groot maak met dissipline. Kan daar groter liefde as dit wees? ʼn Ouer wie se grootste begeerte is om sy seun of dogter te bewaar van die ewige oordeel in die hel, kan alleenlik beskryf word as ʼn liefdevolle ouer. Wil ek hê my kind moet hel toe gaan of gaan ek God gehoorsaam om hom/haar in liefde te tug.
Groei
ʼn Kind wat met bestraffing groot word is ʼn kind wat sal groei in wysheid. Geen kind kom met wysheid die wêreld binne nie. Spreuke 22:15 As die sotheid vassit in die hart van die seun, die tugroede sal dit daaruit verwyder. Dit is dan ook waarom God ons as sy kinders tug, sodat ons in wysheid kan groei en ontwikkel. Spreuke 29:15 Die roede en die bestraffing gee wysheid; maar ‘n seun wat aan homself oorgelaat word, steek sy moeder in die skande. Saam met die positiewe van die roede en bestraffing vind ons ook hoe ʼn kind lyk wat dit nie van sy ouers ontvang nie. So ʼn seun of dogter sal hulle ouers in die skande steek. Ons het al by ʼn vorige inskrywing verwys na van Dawid se seuns en wat die uiteinde van hulle lewens was. Daar is nog ʼn voorbeeld uit Dawid se huis, nl. sy seun Adonia wat groot geword het sonder enige vermaning van Dawid. 1Konings 1:6 En sy vader het hom sy lewe lank nie gekrenk deur te sê nie: Waarom maak jy so? Bowendien was hy ook baie mooi van gestalte, en sy moeder het hom ná Absalom gebaar. Hy is so arrogant dat hy die troon van sy vader wil bestyg sonder dat sy vader enige bevel aangaande sy koningskap gegee het. Wanneer Dawid vir Salomo as koning aanstel moet Adonia soos ʼn dwaas aan die horings van die altaar in die tempel vasklou en pleit vir sy lewe.
Wanneer
Kinders is kinders en doen soms simpel en onverantwoordelike dinge. Baie keer weet hulle nog nie van beter nie en is dit juis waarom jy as ouer daar is om hulle te leer. Net soos wat die Bybel ons elke dag onderrig in wat vir God belangrik is en hoe Hy wil hê dat ons moet lewe, so moet ouers hulle kinders leer. Dit is dus nodig om te weet wanneer of waarvoor ʼn kind gestraf moet word. Die belangrikste riglyn om te volg is dit: Die oomblik wanneer jou gesag as ouer uitgedaag word, direk of indirek, moet ʼn kind gestraf word. Hierin moet jy konsekwent wees. In die Ou Testament was die juridiese wet dat as ʼn kind nie sy ouers wou gehoorsaam na volgehou teregwysing nie, hy/sy deur die volk gestenig moet word. Die rede vir hierdie streng optrede is dat die kwaad uit hulle midde uitgeroei moet word. Deuteronomium 21:21 Dan moet al die manne van sy stad hom stenig, dat hy sterwe. So moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei, en die hele Israel sal dit hoor en vrees. Hierdie seun sal die volk skade berokken en daarom moet hy uitgeroei word vanuit die volk. Dit is dan ook die beginsel wat toegepas moet word in die plaaslike kerk dat ʼn persoon wat volhard in sonde, nadat hy/sy vermaan is, uit die gemeente verwyder moet word. 1Korintiers 5:13 Maar die wat buite is, oordeel God. Verwyder tog dié slegte mens onder julle uit. Hierdie lewens sal voortwoed soos ʼn kanker as dit nie onmiddellik uitgesny word nie. 2Timotheus 2:17-18 en hulle woord sal voortwoeker soos ‘n kanker, onder wie daar Himenéüs en Filétus is, wat van die waarheid afgedwaal het, omdat hulle sê dat die opstanding al plaasgevind het; en hulle keer die geloof van sommige om. Die beginsels is dus straf vir volgehoue en doelbewuste ongehoorsaamheid.
Dalk help die volgende voorbeeld: Jy straf nie ʼn kind omdat hy/sy ʼn glas per ongeluk gebreek of laat val het nie. Jy straf hom/haar wel indien jy herhaaldelik gewaarsku het teen enige aksie wat die breek van die glas veroorsaak het, hetsy om dit te probeer dra, te hardloop of bal te skop in die huis, ens. ʼn Minder direkte uitdaag van gesag kan bloot disrespek wees in enige vorm. Kinders wat sonder dissipline en pakslae grootword het, het gewoonlik geen respek vir hulle moeders nie. Hulle sal neerhalend met hulle praat en hulle ma soos ʼn vloerlap behandel. Die oomblik as die man sien dat sy vrou deur enige kind met disrespek behandel word is die oomblik dat hy daardie kind met die roede besoek en hom/haar waarsku dat dit nooit in sy huis geduld sal word nie. Die wyse waarop ʼn jongman met sy ma werk is ʼn goeie vooruitskouing van hoe hy eendag sy vrou sal behandel. Leer jou dogters om ʼn man te soek wat sy ma met eerbied, respek en deernis hanteer, want dit sal presies wees hoe hy haar sal hanteer.
Slot
Ware liefde is nie die leë en kunsmatige liefde van die wêreld nie. Ware liefde is die Bybelse liefde en die vrug van hierdie is nie net vir die gesin nie, maar ook vir die samelewing tot aanwins. Hierdie liefde verg en vereis dissipline. Die belangrikste is dat ouers wat in opdrag van God in gehoorsaamheid aan Hom hul kinders met goddelike dissipline groot maak die ewigheid saam met hul kinders sal geniet.
