Inleiding
So baie kinders wat groot word in sogenaamd “gelowige” huise verloën die Here as volwassenes en wil niks met godsdiens of die kerk te make hê nie. Baie wonder hoe dit moontlik is dat kinders wat in sulke “goeie” huise groot geword het kan wegdraai van die waarheid. Dalk is dit nou maar eenmaal so dat sekere kinders die pad sal byster raak, ongeag hoe hulle grootgemaak is – of is dit? Die Woord het soos altyd, al die antwoorde op ons geestelike vrae. Ons het in die vorige blog gekyk na die opdrag van God in Deuteronomium oor hoe ons ons kinders aangaande Hom moet onderrig en ook gesien wat met ʼn nasie gebeur indien die opdrag nie nagekom word nie. Ons gaan weer eens na die Woord met die vraag oor afvallige kinders uit goddelike huise en gaan leer uit die lewe van Eli, Samuel en Dawid.
Eli
Agtergrond
Eli was een van die priesters gedurende die einde van die rigters tydperk. Ons lees in 1 Samuel van ʼn man met die naam van Elkana en sy twee vrouens, Hanna en Peninna, wat gedurende sy priesterskap geleef het. Hanna kon nie kinders hê nie. Sy het aan God ʼn gelofte gedoen dat as Hy haar ʼn manlike kind sou gee sy die seuntjie aan die Here sal gee. 1Samuel 1:11 en sy het ‘n gelofte gedoen en gesê: HERE van die leërskare, as U waarlik die ellende van u diensmaagd aansien en aan my dink en u diensmaagd nie vergeet nie, maar u diensmaagd ‘n manlike kind skenk, dan sal ek hom aan die HERE gee al die dae van sy lewe; en geen skeermes sal op sy hoof kom nie. God skenk aan haar ʼn seun en sy noem hom Samuel, wat beteken “van die Here gebid.” Nadat sy die seun gespeen het neem sy hom na Eli om hom aan die Here toe te wy. Die Woord bring ons binne die huis van hierdie priester Eli en deur die Heilige Gees ontdek ons ʼn man wie se gesin alles behalwe goddelik is.
Gebrekkige dissipline
Eli het twee seuns gehad, nl. Hofni en Pinehas wat ook saam met hom priesters was. Die Bybel vertel ons dat hulle goddelose manne was. Die LXX vertaal hierdie Hebreeuse woord as λοιμοί(loimoi) wat “ʼn pes” beteken. Hulle het van die offervleis wat mense gebring het om aan God te offer gesteel en in plaas daarvan om die gekookte vleis te neem het hulle ook sommer van die rou stukke vleis by die mense gevat. Hulle sonde het gemaak dat die mense die offers wat hulle aan God moes bring verag het. 1Samuel 2:17 En die sonde van die jongmanne was baie groot voor die aangesig van die HERE, want die mense het die offer aan die HERE verag. Verder het hulle ook by die vroue geslaap wat diens moes doen by die Tent van Samekoms. Die Bybel vertel ons dat Eli eers as ʼn ou man sy seuns oor hierdie wandade aangespreek het, maar dat hulle nooit uit hulle ampte onthef is of gestraf is vir hulle wandade nie. Die straf vir die dade van hierdie seuns moes die dood gewees het. ʼn Straf wat sekerlik vir enige pa baie moeilik sou gewees het. Ons weet egter dat die meeste wandade van kinders nie by die ergste begin nie, maar dat dit ʼn glipperige afdraand is van dade van ongehoorsaamheid wat al van kleins af ongestraf gebly het. Dit is baie duidelik dat hierdie seuns van Eli sonder enige straf en vermaning groot geword het. Deur slegs die wenkbroue te lig en die tong te klik vir sogenaamde onbenullige sonde, eindig ons met kinders wat slegs oor die vingers getik wil word as hulle steel of moor. Hierdie kinders het nie met die vrees van die Here groot geword nie en het geen ontsag vir Sy gebooie gehad nie. God stuur ʼn man na Eli om Hom tereg te wys en sy staf aan te kondig. As ons na God se woorde luister ontdek ons wat die probleem was in hierdie huis. 1Samuel 2:29 Waarom verag julle my slagoffer en my spysoffer wat Ek in my woning beveel het, en eer jy jou seuns meer as vir My deur julle vet te voer met die beste van elke offergawe van my volk Israel? Eli het meer eer aan sy kinders bewys as aan God. God se offers en opdragte kon maar deur sy seuns vertrap en geminag word, maar hy het sy seuns steeds met respek behandel. Ons sien hierdie tendens ook vandag. Kinders wat die verkeerde doen bly ongestraf, solank daar net vrede in die huis is. Jou kinders en hul houding jeens jou is belangriker as dit wat God bepaal en wat Hy van my vra. Dis asof mense banger is dat hulle kinders vir hulle sal kwaad wees as God. “My kinders moet van my hou.” Asof God jou aangestel het om jou kinders se vriende te wees en hulle gelukkig te hou. Ons wil tog nie ons kinders verloor nie, maar is bereid om hul ewige siele te verloor. So akkommodeer ons en maak ons verskonings. Kinders slaap rond/bly saam en ouers aanvaar dit deur vir boeta en sy meisie een bed op te maak as hulle kom kuier – solank hulle net kom kuier! Hierdeur wil jy jou kinders wys hoe lief jy hulle het, maar die teendeel is waar. Ware liefde lei mense na Christus. Deur vir jou kinders duidelik die boodskap te gee, van kleins af, dat God en sy gebooie eerste plek in jou lewe geniet, sal hulle leer om ontsag en respek vir God en sy Woord te hê en besef dat hierdie leefwyse van my ouers gewortel is in die Waarheid en nie net een of ander klug of huigelary is nie.
Die Bybel vergader stof
Hierdie dae waarin Eli priester was, was dae waarin die Woord van die Here skaars was. 1Samuel 3:1 En die seun Samuel het die HERE gedien voor Eli, en die woord van die HERE was skaars in die dae: gesigte was daar nie baie nie. Die Woord van God wat in die tempel was, is nie geleef en ook nie gepreek nie. Watter goddelose tyd was dit nie!? In hierdie tyd roep God tot Samuel terwyl hy in die tempel slaap. Samuel dink elke keer dat dit Eli is wat hom roep. Die Bybel gee ons die rede waarom Samuel nooit sou verwag dat God met hom sou praat nie. 1Samuel 3:7 Maar Samuel het die HERE nog nie geken nie; ook was die woord van die HERE nog nie aan hom geopenbaar nie. Die LXX skrywe hierdie vers soos volg: en dit was voor Samuel God geken het en die Woord van die Here aan Hom openbaar is. Hoe word jy groot in die priester se huis, met al vyf boeke van Moses in die tempel, en tog ken jy nie die Here nie? In hoeveel huise, waar ouers elke Sondag in die kerk sit, is dit nie waar nie? Elke Sondag voor kerk word die stof van die Bybel afgeblaas of soms bly dit sommer regdeur die week in die kar. Kan jy verstaan waarom hierdie seuns van Eli goddeloos was? As dit nie was vir God se ingrepe om ʼn jong seun te ontmoet nie, wat sou Samuel se uiteinde nie gewees het nie?
Samuel
Besig, besig, besig
Tog sal jy geskok wees as jy hoor hoe Samuel sy kinders groot gemaak het. Ons sou verwag dat, nadat hy ontdek het wat die uiteinde van Eli en sy seuns se lewens was, hy met groot noukeurigheid sy eie kinders sou grootmaak en nie dieselfde foute as Eli sou begaan nie. Tog lees ons in 1 Samuel 8:3 Maar sy seuns het nie in sy weë gewandel nie: hulle het onregverdige wins agternageloop en omkoopgeskenke aangeneem en die reg verdraai. Wat het gebeur? Die vorige hoofstuk gee ons ʼn leidraad in wat fout gegaan het met hierdie seuns se opvoeding. 1Samuel 7:16-17 Hy het van jaar tot jaar rondgetrek na Bet-el en Gilgal en Mispa, en Israel op al hierdie plekke gerig. Dan gaan hy na Rama terug, want daar was sy huis; en daar het hy Israel gerig en daar vir die HERE ‘n altaar gebou. Samuel was besig! Kan jy jou indink, met al sy reise en om as regter in die hele Israel op te tree, hoe min tyd hy by die huis was. As hy net die Woord as riglyn vir hierdie deel van sy lewe ook gebruik het. Moses was net so oorlaai met die werk om regter te wees oor die hele Israel. Eksodus 18:13 En die volgende dag het Moses gesit om reg te spreek vir die volk; en die volk het voor Moses gestaan van die môre tot die aand toe. Moses se skoonpa wys hom tereg dat hierdie nie goed is vir hom en ook nie vir die volk nie en dat hy leiers moet aanstel om hom in hierdie taak by te staan. God stel dan sewentig leiers aan om Moses by te staan in hierdie taak. Dit was nie al nie. Eksodus 18:25 Moses het bekwame manne uit die hele Israel gekies en hulle as hoofde oor die volk aangestel—owerstes oor duisend, owerstes oor honderd, owerstes oor vyftig en owerstes oor tien. Hoekom was hierdie riglyne nie deur Samuel nagevolg nie? Ons kan baie keer dink dat ons besig is met God se taak vir ons lewens, ja en self in Samuel se geval met die werk van die Here, en tog kan ons Sy opdragte vir ons lewens mis. God maak dit duidelik dat die hoogste roeping vir jou lewe by jou gesin begin. Ongeag watter roeping andersins op jou lewe rus en wat se werk jy vir die Here verrig het, Hy wil hê jy moet terugkeer na jou huis waar jou eerste prioriteit en roeping is. In die Nuwe Testament maak God dit duidelik dat geen leier van Sy kerk iemand mag wees wie se kinders nie godvresende lewens lei nie. Titus 1:5-6 Om hierdie rede het ek jou in Kreta agtergelaat, dat jy nog verder sou regmaak wat oorgebly het, en van stad tot stad ouderlinge sou aanstel soos ek jou beveel het— as iemand onberispelik is, die man van een vrou, gelowige kinders het wat nie beskuldig word van losbandigheid of tugteloos is nie. Ons kan ook kyk na 1Timotheus 3 se vereistes aan ʼn ouderling. 1Timotheus 3:4-5 een wat sy eie huis goed regeer en sy kinders met alle waardigheid in onderdanigheid hou. Maar as iemand nie weet om sy eie huis te regeer nie, hoe sal hy vir die gemeente van God sorg dra?
Blind vir foute
Ons weet dat Samuel baie ernstig oor al God se bepalings was en dat hy inderdaad ʼn Goddelike man was. Tog stel hy sy kinders aan as Rigters vir die volk. Hierdeur word dit duidelik dat hy óf nie sy eie kinders geken het nie, óf blind was vir hul tekortkomings en foute. Hoe dit ookal sy dit bly ʼn aanklag teen Samuel se lewe. Hy was so besig met die dinge van die Here dat hy sy eie kinders nie geken het nie, want enige ouer wat tyd met sy kinders spandeer sal hulle beslis ken en hulle foute kan sien. Samuel is dan ook nie die een wat hulle teregwys nie, maar die oudstes van Israel moes hulle aankla.
Dawid
Baie vroue
Dan sien ons dieselfde tendens in Dawid se lewe. Hy het die uiteinde van Samuel geken en het geweet van sy seuns se ongehoorsaamheid en tog gee hy nie ag op hierdie waarskuwings nie. Dawid het baie kinders gehad by baie vroue. Die naam van die vrou by wie hy elke kind gehad het word pertinent in die Skrif genoem, omdat hierdie vroue die kinders groot gemaak het. Die absolute verwoesting van meer as een vrou en die gevolge hiervan op die kinders is baie duidelik te sien in die Woord. Dit is baie keer sigbaar vanuit die narratief hoe die mens, in stryd met God se opdrag, sy lewe en diegene rondom hom/haar in duie laat stort. In die tuin van Eden het God gewys dat Hy aan die man een vrou gegee het. By elke man wat hierdie opdrag van God verontagsaam het sien ons duidelik die gevolge in hulle verhoudings met hulle vroue en in hul nageslag se lewens.
Geen konsekwensies vir verkeerde dade
Een van Dawid se seuns was Amnon. Hy raak verlief op sy halfsuster Tamar en kry ʼn plan om haar in sy kamer in te lok met die plan om haar te verkrag. Jy kan sien dat hierdie jong mans grootgeword het om te kry net wat hulle harte begeer het. Hulle was soos diere wat deur hulle drange gedryf is. Dawid hoor hiervan en raak volgens die Woord baie kwaad. Weereens moet ons, net soos in die geval van Eli, sê dat die kwaad raak of ontsteld wees nie naby kom aan die straf wat God vir so ʼn daad bepaal het nie. Sê God nie in sy Woord dat iemand wat ʼn vrou verkrag wat ʼn maagd is en nie aan ʼn man verloof is nie met haar moet trou en vir die res van sy lewe vir haar moet sorg en nooit van haar mag skei nie? Dit was gedoen sodat die vrou vir die res van haar lewe versorg sou word. Tog het niks met Amnon gebeur nie en dit dek die tafel vir die wraak van Tamar se broer Absalom. Kan jy sien hoe ontrafel ʼn huisgesin as die vader nie regeer en sy kinders tot verantwoording roep en hulle dissiplineer nie? Hierdie seuns het in Dawid se huis geleer dat daar geen konsekwensies is vir verkeerde dade nie.
Pleit vir lewe
Absalom vermoor vir Amnon en vlug vir sy lewe. Die verhaal eindig nie hier nie en ons vind vir Dawid wat verlang na Absalom. 2Samuel 13:39 En die gees van koning Dawid het baie verlang om na Absalom uit te gaan, want hy het homself getroos oor Amnon, dat hy dood was. Moes Dawid se gees nie ontsteld gewees het oor hierdie seun se afskuwelike daad nie? Sou ons nie verwag het dat Dawid by God sou pleit om hierdie goddelose seun van hom te red nie? Sou dit jou gebed wees: “Here ek hoef nooit my seun/dogter weer te sien nie, maar asseblief red sy/haar lewe.” Ons sien hoe Dawid voor God gepleit het vir sy sterwende baba. 2Samuel 12:16 En Dawid het die aangesig van God gesoek vir die kind, en Dawid het ‘n tyd lank gevas en na binne gegaan en die hele nag deur op die grond gelê. Hoekom sien ons nie dieselfde vir hierdie seun van Hom se geestelike genesing nie? Baie ouers sal hulle kinders se sondes oorsien net om nog steeds by hulle te kan uitkom en saam met hulle te kan kuier. Weereens word die kinders meer geëer as God wat hul sonde haat.
Op Dawid se bevel kan Absalom egter terugkeer sonder dat daar enige gevolge vir sy sonde is. Na afloop van tyd kan hy selfs in Dawid se teenwoordigheid verskyn en ʼn soen van Dawid ontvang. 2Samuel 14:33 Toe het Joab na die koning gegaan en hom dit meegedeel. En hy het Absalom geroep, en dié het na die koning gegaan en voor hom gebuig met sy aangesig na die aarde toe, voor die koning; en die koning het Absalom gesoen. Geen tugtiging, geen straf. Miskien lyk dit vir jou soos ware liefde van ʼn vader vir sy kinders – die Ou Testamentiese verhaal van die verlore seun. Niks kan egter verder van die waarheid wees nie. Hier is geen berou nie – geen neerbuig as ʼn slaaf nie, maar ʼn seun wat weggekom het met moord. Net soos God die tug wat Hy liefhet behoort elke Vader wat sy kinders werklik liefhet, hulle groot te maak tugtiging en kastyding. Hebreërs 12:7 As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? Hieroor sal ons nog baie meer breedvoerig vanuit die Skrif gesels.
Misplaaste liefde
Absalom voer weereens ʼn plan in die mou en sy pa moet vlug vir sy lewe. Daar breek ʼn geveg uit tussen Absalom en sy manne en die van Dawid. Dawid se woorde aan Joab, Abisai en Ittai, die leiers, is dat hulle saggies moet werk met Absalom. Dit is dieselfde Absalom wat mense vermoor het en nou sy eie pa probeer vermoor. Hoe kan hierdie man net verby hierdie misdrywe van sy seun kyk asof dit niks is nie? Absalom word doodgemaak en ʼn mens sal verwag dat Dawid dankbaar sal wees vir elke man wat sy lewe opgeoffer het vir hom. Jy sal verkeerd wees as jy dit dink. Toe die boodskap Dawid bereik dat die oorwinning behaal is, is Dawid se eerste vraag hoe dit met Absalom gaan. Absalom is dood en Dawid is verpletter. 2Samuel 18:33 Toe het die koning baie ontroerd geword en opgeklim na die bovertrek van die poort en geween; en hy het rondgeloop en só gesê: My seun Absalom, my seun, my seun Absalom! Ag, as ek self maar in jou plek gesterf het! Absalom, my seun, my seun! As hy maar net so voor die Here gehuil het vir sy kinders se geestelike redding! Al die manne wat hulle lewens gewaag het vir Dawid sluip die stap binne asof hulle iets verkeerd gedoen het. Joab wys Dawid tereg met die woorde wat op ons elkeen se lippe was. 2Samuel 19:5-6 Toe kom Joab by die koning in die huis en sê: U het vandag die aangesig van al u dienaars beskaamd gemaak, wat vandag u lewe en die lewe van u seuns en dogters en die lewe van u vroue en die lewe van u byvroue gered het, deur lief te hê diegene wat u haat, en te haat diegene wat u liefhet; want u gee vandag te kenne dat owerstes en onderdane vir u niks is nie, want ek merk vandag dat, as Absalom lewendig en ons almal vandag dood was, dit dan in u oë reg sou gewees het.
Slot
Geen ouer wat sy kinders meer liefhet as vir God en Sy opdragte kan waarlik ʼn goddelike ouer genoem word nie. Jou grootste liefde moet God wees en gehoorsaamheid aan Sy Woord moet jou lewe kenmerk en jou gedrag bepaal. Kinders wat in ʼn ouerhuis onder leiding van die Woord grootword sal net soos hulle ouers Goddelike mense wees. Onder leiding van die Woord beteken nie net die neerlê van reëls en regulasies nie, maar die diepe kennis, liefde en vrees vir God wat duidelik sigbaar is in die manier waarop ouers optree en leef. Die vraag wat ons in die inleiding gevra het, het ontstaan omdat ons nie in die huise van mense kan sien nie en dit veroorsaak dat wat ons in die praktyk sien en die beloftes van die Woord nie ooreenkom nie. God belowe ons egter dat sy Woord vir ons genoegsaam is om ons te leer en te onderrig. 2Timotheus 3:16 Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus. Met hierdie drie verhale het God ons in die binnekamer van ouerhuise gevat, sodat ons kan ontdek waarom kinders van sogenaamde goddelike ouers uitdraai en wegdraai van die Here.
God is getrou en sy beloftes is waar.
