Inleiding
Wat vir jou belangrik is sal baie gou duidelik word vir jou kinders. Ons leer ons kinders goeie maniere en higiëne, omdat dit dinge is wat belangrik is vir hulle sosiale aanvaarding en hul gesondheid. Daar is sekerlik nie ʼn ouer wat nie vir hul kinders die towerwoordjies, asseblief en dankie, leer nie. Net so is jou tande geborsel van die eerste dag af wat daar een verskyn het en jy sal dit doen tot die dag wat jy nie meer kan nie, en indien jy dan nog leef, sal iemand anders dit vir jou doen! Hierdie is dinge waaroor ons nie eers twee keer dink nie en hoewel die analogie verseker gebrekkig is in terme van die enormiteit van ons denke rakende God, wys dit op die belangrikheid van goeie gewoontes wat van vroeg af deur ouers by hul kinders ingeskerp moet word. Ons praat hier nie net van vrot tande nie, maar van die Ewigheid en jou kind se siel. Vir kinders om hul ouers te gehoorsaam en op hul stem te reageer is ongelooflik belangrik, omdat dit nie net ʼn kind se lewe rig nie, maar dit ook sal beskerm in tye van gevaar. Hiervoor is dit belangrik dat die ouer geëer en ja, ook gevrees moet word.
Vrees
God gee ʼn duidelike opdrag aan Sy volk dat die ouers hulle kinders in sy weë moet grootmaak en moet onderrig. In Deuteronomium, as God deur Moses met die volk praat oor hoe hulle hulle nageslag moet onderrig, moes Moses hulle God se voorskrifte en beslissings leer. Die ouers moes God vrees en alles wat God beveel het nakom en ook hulle kinders so leer. Om God te vrees is sekerlik een van die mees kontroversiële woorde vandag in die Skrif. Dit is asof mense dit graag wil weg vertaal en net ʼn ligter betekenis daaraan gee. Dit kan tog nie beteken dat God werklik van ons vra dat ons Hom moet vrees nie? Vrees, soos in bang wees? Is Hy nie ʼn liefdevolle God wat wil hê dat ons in ʼn liefdevolle verhouding met Hom moet staan nie? Dit is asof die mens voor God se karaktertrekke wil staan en beoordeel watter van God se goddelike eienskappe hulle dink is goed al dan nie. Die arrogansie van die mens! As God vir ons deur Sy Woord openbaar wie Hy is, verwag Hy van ons aanbidding en ontsag en nie arrogansie dat ons beter weet as Hy en regter mag wees aangaande sy eienskappe om dit met menslike maatstawwe te beoordeel nie. As God vir ons in die Psalms openbaar dat Hy elke dag toornig is, kan ons verseker weet dat dit ʼn goddelike karakter is. Een wat Hom verheerlik, sy regverdigheid en geregtigheid openbaar en dat dit volmaak is. Psalm 7:12 God is ‘n regverdige regter, en ‘n God wat elke dag toornig is. Daarom, as God ons oproep om Hom te vrees, is dit presies wat ons moet doen. Hierdie vrees in die Grieks is die woord waarvandaan ons die woord fobie kry, en beskryf ʼn intense vrees. Jy kan hierdie vrees duidelik sien in Eksodus wanneer God op die berg Sinai verskyn en die volk letterlik bewe van vrees. Hy is nie hul maatjie nie, Hy is hul God!
Hierdie vrees vir God is ook dit wat ons beskerm van die verkeerde. Spreuke 16:6 Deur liefde en trou word die skuld versoen, en deur die vrees van die HERE wyk ‘n mens af van die kwaad. Dus is dit belangrik dat elke gelowige God vrees en Sy Woord met die hoogste agting bejeën. Dit beteken natuurlik dat die Woord van God jou hele lewe moet deurspoel en dat jy elke dag in die leerskool van God moet wees om te leer en te groei in sy Woord. Gelowiges wat God se Woord nie ken en bestudeer nie sal nie hulle nageslag in die Woord van God kan onderrig nie. Hoe meer jy in jou lewe ontdek met Wie jy te make het en hoe meer jy vanuit die Skrif ontdek wie jy is, hoe meer sal jou vrees vir God groei. ʼn Ouer wat God vrees sal kinders grootmaak wat die hoogste ontsag en vrees vir God sal hê. Hulle sal dit sien in die manier wat jy leef en praat en jouself, asook hulle, dissiplineer om te doen dit wat Hom gelukkig maak. Hy sal die middelpunt wees van dit waaroor jul huis en lewens gaan. Ja die standvastige en magtige God van jou huis, ʼn ononderhandelbare hoogste prioriteit.
Liefde
Voor God die ouers in Deuteronomium 6 wys op watter manier hulle hulle kinders moet onderrig is daar ʼn verdere oproep dat die ouer en elke gelowige “…die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag.” Deuteronomium 6:5. Dit beteken dat die gelowige niks of niemand in sy lewe meer moet liefhê as God nie. Baie mense vind dit onmoontlik om die vrees vir God en die liefde wat ons vir Hom moet hê met mekaar te versoen. Dit is egter vreemd, want elkeen wat grootgemaak is deur ʼn liefdevolle ouer, ken hierdie begrip. Ek het my pa ongelooflik liefgehad, maar het hom ook gevrees. Ek wou hom nooit teleurstel nie en het geweet dat hy my en my broers sonder twyfel sou straf indien ons verkeerd sou optree. Hoeveel te meer geld hierdie beginsel vir God, ons Heilige Vader. Sonder hierdie liefde, wat volmaak tot uitvoering kom in Jesus Christus, sou ons verlore wees. Hy het jou so liefgehad, dat Hy Sy Seun, Jesus Christus, gestuur het, sodat jy in ʼn verhouding met Hom kan wees. Jesus het die toorn van God, weggeneem vir diegene wat in Hom glo, diegene in wie die liefde in gehoorsaamheid tot dade oorgaan. Galasiërs 5:6 Want in Christus Jesus is besnedenheid of onbesnedenheid van geen belang nie, maar wel geloof wat deur liefde werksaam is. As jy God liefhet gaan dit verseker deurspoel na jou kinders en hulle gaan grootword om te weet dat hulle pa en ma niks belangriker ag as om vir God te lewe en Sy naam groot te maak nie. As ons deur God se riglyne aan ouers rakende die grootmaak van kinders gaan, sal jou prioriteite wys of jy God werklik liefhet met alles wat binne jou is.
In jou huis
Deuteronomium 6:7 en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan. Hierdie woord vir skerp word in die 2020 vertaling vertaal met herhaal. Die woord in die Hebreeus word gebruik vir ʼn spies of swaard wat skerp gemaak is. Dit is dus nie ʼn eenmalige onderwysing nie, maar die aanhoudende inskerp van God se Woord aan jou kinders. Elke persoon wat al ʼn mes op ʼn slypsteen skerpgemaak het weet hoe ʼn langsame proses dit is. Dit is nie ʼn eenmalige skuur wat die mes vir ewig sal skerp hou nie. Nee, dit is ʼn weldeurdagte besluit en ʼn ingeoefende proses om my messe skerp te hou deur elke dag te sorg dat dit vlymskerp bly. Hier word ook veronderstel dat hulle die Woord moet leer ken deur herhaling en memorisering. Interessant is dat die LXX die woord wat in die Hebreeus gebruik word vir skerpmaak met die woord in die Grieks vir aanhits gebruik. Ons vind hierdie woord in die verhaal van Herodes se broer se vrou wat haar dogter gestuur het om Johannes die Doper se kop op ʼn skottel te vra. Mattheus 14:8 Toe sê sy, nadat sy deur haar moeder aangehits was: Gee my hier op ‘n skottel die hoof van Johannes die Doper. Sy het haar dogter aangepor en aktief beïnvloed om hierdie besluit te neem. Haar grootste begeerte was om hierdie Johannes, wie sy so gehaat het, dood te maak. Verstaan jy wat hierdie woord aan jou wil deurgee – jy wat God met ʼn passie liefhet en wie se grootste begeerte is dat jou kinders dieselfde passie as jy sal hê? Maak dit vir hulle lekker om die Woord te leer. Hou vasvrae, kyk wie kan ʼn vers uit hul kop voordra. Daar is vele bordspeletjies wat spesifiek Bybelkennis toets. Speel dit in plaas van Monopoly of Cluedo en geniet dit saam met jou kinders
Dit is nie al nie, die teks gaan verder om te sê dat ons ook met ons kinders daaroor moet praat as ons in die huis sit. Een van die wonderlikste plekke waar ons aan ons kinders die Woord kan leer en daaroor praat is by die etenstafel. ʼn Etenstafel is die een plek waar ons elke dag ten minste twee keer by sal aansit. Enige familie wat nie ʼn tafel met stoele het nie kan gerus een aanskaf met die sekere wete dat dit een van die grootste beleggings in jou gesinslewe sal wees. Daar is nie ʼn plek op aarde waar kinders en ouers groter en blywender gesprekke sal hê as juis by die eetkamertafel nie. Hier word hande gevat en saam gebid en vergifnis aangebied en ontvang waarsonder geen gesin kan funksioneer nie. Maak hierdie geleenthede deel van die lees uit God se Woord en om oor Sy Woord te gesels met mekaar.
As jy op pad is.
As julle saam in die kar ry is nog ʼn wonderlike geleentheid om te groei in God se Woord. So baie gelowiges ry in hulle voertuie met kinders wat elkeen op sy of haar foon of tablet is en dus in sy eie wêreld verkeer. Hierdie is ʼn wonderlike geleentheid om geestelike liedere saam te sing of musiek aan te sit waarmee die gesin saam die Here kan prys. Dit is ook ʼn geleentheid om buite die voertuig te kyk na God se skepping en te gesels oor die grootheid van God wat diere, plante en die hemelruim gemaak het. Ons en ons kinders moet gereeld in verwondering gebring word aangaande hierdie groot God wat ons aanbid. Ek onthou hoe ek baie keer saam met my ouers deur Meiringspoort gery het en opgekyk het na die majestueuse berge rondom my. Ek het dan onmiddellik gedink aan die vers in die Woord wat vertel van al die mense op die aarde wat sal skreeu dat die berge op hulle moet val wanneer Christus weer sal kom. Om hieroor met jou kinders te praat, of oor die wolke en te deel dat God belowe dat hy op ʼn wolk sal terugkom. Daar is soveel waaroor ek vanuit God se Woord kan gesels as ek myself aktief instel om die motor rit ʼn geestelike bedieningstyd te maak. Vind diere en praat oor waar hulle voorkom in die Skrif. As jy ʼn donkie sien praat oor Bileam en die donkie of vra hulle waar daar ʼn donkie in die Bybel voorkom. Miskien sal dit julle neem om oor Josef en Maria te praat of oor Jesus en sy intog. Daar is soveel om met mekaar te deel. Ons voertuig en reis word nou ʼn kerk. Hier kan ook genoem word dat terug reis Sondae na die erediens ʼn gulde geleentheid is om oor die preek te praat en wat dit vir elkeen beteken het.
As jy gaan lê of as jy opstaan.
As jou kinders gaan slaap wil hulle gewoonlik die tyd saam net so ʼn bietjie rek voordat hulle in droomland invaar. Gebruik hierdie geleentheid om ʼn Bybelverhaal vir hulle voor te dra en saam met hulle te bid en die Here te dank vir die dag wat verby is. As daar die aand mense by julle kuier, moenie hierdie gewoonte agterweë laat nie. Deel jou gaste mee dat jy saam met jou kinders wil Bybel lees en bid voor hulle gaan slaap en doen dit dan saam met die kuiergaste. Hier word die kinders geleer dat stiltetyd by my ouers die hoogste prioriteit is en dit word nie net gedoen wanneer dit hulle pas nie. Wanneer hulle môre oggend wakker word, word hulle begroet met ouers wat alreeds tyd alleen met die Here spandeer het en in Sy teenwoordigheid gewandel het. Sal hulle aangesigte nie “blink” soos die van Moses wat in die teenwoordigheid van God was nie? 2Korintiers 3:7-8 En as die bediening van die dood, met letters op klippe gegraveer, in heerlikheid was, sodat die kinders van Israel nie die oë kon vestig op die aangesig van Moses nie vanweë die heerlikheid van sy aangesig, wat tog moes vergaan, hoeveel te meer sal die bediening van die Gees dan nie in heerlikheid wees nie? Hulle word wakker gemaak met die wete dat God ook heerskappy voer oor alles in hierdie dag.
Sy Woorde raak deel van jou gedagtes.
Deuteronomium 6:8 Ook moet jy dit as ‘n teken bind op jou hand, en dit moet as ‘n voorhoofsband tussen jou oë wees. Omdat hulle nie almal ʼn Bybel in hulle hande gehad het nie roep God hulle op om verse neer te skryf en om hulle hande en op hulle voorkoppe te bind. God se Woord sal dus elke oomblik by hulle wees, sodat hulle dit weer en weer kan lees en kan herkou en deel van hulle totale gedagtes kan maak. Dit was dan ook in die openbaar gedra sodat almal die gedeeltes kon sien wat vandag in jou gedagtes is en wat jy deel van jou lewe wil maak. Kan jy sien hoe prakties dit kan wees as dit wat die Here met jou in jou stiltetyd gedeel het weer gedeel word met jou gesin en met diegene met wie jy in aanraking kom? Hoe maklik sal jy nie die gedeeltes in God se Woord kan onthou as jy deur die loop van die dag dit twee, drie en selfs meer kere met mense deel en daaroor gesels nie? Jou kinders sal leer dat hulle ouers geen vrees het vir wat mense van hulle dink nie, maar dat hulle een begeerte het en dit is om Sy Woord met ander te deel. Soos wat hulle ouer word en hul eie Bybelstudie begin doen sal hierdie dan ook deel van hul lewe word en kan daar lekker gesels word oor wat die Here vir elkeen in hul stiltetyd geleer het.
Die Woord word in my huis uitgedra.
Deuteronomium 6:9 En jy moet dit op die deurposte van jou huis en op jou poorte skrywe. My huis word geken as ʼn plek waar die Here gedien en waar Hy die Koning is. Dit is wat dit beteken om Sy woorde op die deurposte van jou huis en op jou poorte te skrywe. Mense sal weet dat as hulle na jou huis kom hulle met God se Woord bedien sal word op een of ander stadium. Die ouer/s van die huis is soos Josua wat aan die hele volk bekend maak vir Wie hy en sy huis sal dien. Josua 24:15 Maar as dit verkeerd is in julle oë om die HERE te dien, kies dan vir julle vandag wie julle wil dien: òf die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien het, òf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon; maar ek en my huis, ons sal die HERE dien. My kinders moet weet dat ons nie die wêreld se begeertes of wat vir hulle belangrik is gaan volg nie, maar dat ons as huisgesin die Here gaan volg en Hom gaan verheerlik in alles. Die wêreld gaan gereeld hulle idees in jou huis wil indra en partykeer word jou kinders as instrumente gebruik om wêreldse idees in die huis te bring. As vader en moeder sorg ek dat dit wat my kinders lees en kyk die Here verheerlik en nie in stryd is met dit wat Sy Woord ons leer nie. Soos hulle groter word sal hulle hierdie besluite self kan neem en sal hulle self by die skool en vriende kan opstaan vir dit wat die Woord bepaal, omdat hulle dit in hulle ouerhuise geleer het. Kinders leer om op te staan vir die Here by hulle ouers wat nie skroom om ander van God te vertel en hulle nooit skaam vir Sy Woord nie. As hulle rondom die braaivleisvure of in die sitkamer gesels weet die kinders dat as iets gesê of vertel word wat in stryd is met God se Woord hulle onmiddellik hulle pa of ma se stem sal hoor wat sal spreek so sê die Here Here.
Vergeet
Hoe tragies dat baie ouers geen van bogenoemde doen nie. Hulle skaam hulle vir die evangelie en huiwer om op te staan vir wat die Woord leer. So word kinders en kleinkinders groot sonder enige ware kennis van God. Hulle weet van “Liewe Jesus” of dit wat hulle dalk êrens in ʼn klaskamer by die skool van God lees of hoor, maar die krag van die Evangelie is vir hulle onbekend. Dit is sekerlik een van die grootste skokke wat ʼn leser van Rigters ontdek. Dit is die tydperk net na Moses en Josua geleef het. Die volk het God se magtige tekens gesien en ervaar: die pad wat deur die see vir hulle gekloof is, water wat uit ʼn rots geloop het, manna in die woestyn, kwartels genoeg vir twee miljoen plus mense, God se straf van ʼn ekstra veertig jaar in die woestyn en so kan ons aangaan. Ons sal verwag dat ouers dit aan hulle kinders vertel het, dat die oumense in die stadspoorte dit met verbygangers sou gedeel het en tog was dit nie wat hierdie volk opgewonde gemaak het nie. Hulle het presies gedoen waarteen die Here hulle gewaarsku het. Deuteronomium 6:10-12 En as die HERE jou God jou inbring in die land wat Hy aan jou vaders, Abraham, Isak en Jakob, met ‘n eed beloof het om jou te gee—groot en mooi stede wat jy nie gebou het nie, en huise vol van allerhande goed wat jy nie gevul het nie, en uitgekapte reënbakke wat jy nie uitgekap, wingerde en olyfbome wat jy nie geplant het nie—en jy eet en versadig word, neem jou dan in ag dat jy die HERE nie vergeet wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het nie. Hulle was so ingetrek deur die allerdaagse dat God tweede viool in hulle lewens begin speel het. Hulle het geld nagejaag en daaroor gesels, die take van die dag was die groot prioriteit in die gesin en die hier en nou het geseëvier in hulle lewens. Stiltetyd is afgewater en eredienste was van minder belang as al die dinge wat moet gebeur. Dan breek die tyd van die Rigters aan. Hierdie tyd word gekenmerk aan absolute goddeloosheid, omdat mense ander dinge belangriker geag het as God. Luister na die geslag wat dan opstaan na Moses en Josua se generasie. Rigters 2:10 En toe ook daardie hele geslag by hulle vaders versamel is, staan daar ‘n ander geslag ná hulle op wat die HERE en ook die werk wat Hy vir Israel gedoen het, nie geken het nie. Weet verseker dat dit die generasie is wat sal opstaan as ouers nie aktief hul kinders bedien met God se Woord en vir Hom sal lewe nie.
Slot
Jy kan nie aan ander iets oordra wat jy nie self het nie. Indien jy God nie vrees en Hy jou eerste liefde is nie, sal jy dit nie aan jou kinders kan oordra nie. Hulle sal dwarsdeur jou sien en weet dat jy voorgee. Indien jy “goeie” kinders wil hê wat pragtige maniere het kan jy dalk nog met streng morele wette en dissipline ʼn skyn moraliteit projekteer. Indien jy egter kinders wil grootmaak wat die Here ken, vir Hom lief is en Hom vrees, moet jy eerstens self aan hierdie eienskappe voldoen. Volg die Bybel se praktiese raad oor hoe om hierdie entoesiasme aan hulle oor te dra en jy sal die grootste geskenk aan jou kinders en kleinkinders gee, nl dat hulle vir God sal ken en vir ander sal vertel van ʼn pa of ma, ouma of oupa wat ʼn Man of Vrou van God was. Maleagi 3:16 Toe het die wat die HERE vrees, met mekaar gespreek; en die HERE het dit opgemerk en gehoor, en daar is ‘n gedenkboek voor sy aangesig geskrywe vir die wat die HERE vrees en sy Naam eer.
