Inleiding
Ouers is verteenwoordigers van God in hulle gesinne. Hy beskryf Homself in Eksodus 34:6 aan Moses as volg: “Die Here, die Here, ‘n barmhartige en genadige God, geduldig, oorvloedig in troue liefde en waarheid.” Hierdie karakter eienskappe is die eienskappe wat elke ouer in die ouerhuis teenoor sy kinders moet openbaar, want die gelowige ouer se optrede in die gesin is ʼn beeld van God se verhouding met Sy kinders. Daarom is dit van kardinale belang dat die gelowige ouer in elke aspek van sy rol as ouer sy besluite en gedrag op die Woord baseer en nie op wat die tydsgees bepaal nie. God openbaar vanuit die narratief van die Ou Testament hoe ouers se verkeerde gedrag ʼn inpak op die familie en op die kinders se verhouding met God in hulle lewens het. Een van die eerste foute wat ons vind met die grootmaak van kinders vind ons alreeds by die aartsvaders.
Unieke geskenke van God
Rebekka, die vrou van Isak, was onvrugbaar. Isak het God gesmeek om vir hulle kinders te gee. Genesis 25:21 Isak het by die Here gepleit ter wille van sy vrou, want sy was onvrugbaar. Die Here het hom verhoor, en Rebekka, sy vrou, het swanger geword. Een van die eerste dinge wat elke huwelikspaar moet besef, of hulle sukkel om kinders te hê al dan nie, is dat elke kind wat gebore word vanuit God se hand kom en dus ʼn geskenk is. Baie het die idee dat dit net nog een van die boksies is wat ek moet afmerk in my wandeling deur die lewe. Skool, bekwaam vir beroep, trou en werk, kinders, kleinkinders …. Daarom is daar by baie nie die erns van hierdie taak wat God aan jou toevertrou het nie. Hierdie taak, van kinders grootmaak, is primêr aan die man en die vrou in die huwelik toevertrou en nie aan ʼn ouma of oupa, die skool of selfs die kerk nie. God sal van elke ouer verantwoordelikheid vra vir die grootmaak van hulle kinders.
Rebekka en Isak ontvang ʼn tweeling van God. In hierdie blog wil ek nie stilstaan by God se beloftes rakende die twee seuns nie, maar slegs kyk na die ouers se grootmaak van hierdie kinders. Die twee seuns het hemelsbreed van mekaar verskil, fisies sowel as in hul persoonlikhede. Esau se hare was rooi en hy was ʼn harige man. Hy was ʼn jagter en ʼn man van die veld. Ons sien later in die verhaal dat Jakob glad nie harig was nie, dat hy glad nie van jag gehou het nie en dat hy eerder iemand was wat by die huis doenig was. Genesis 25:27 Die seuns het opgegroei. Esau het ‘n knap jagter geword, ‘n man van die veld; en Jakob was ‘n fatsoenlike man wat in tente gewoon het. Een van die eerste dinge wat elke ouer hartlik kan beaam is hoe hulle kinders van mekaar verskil. God het elke kind uniek geskape en hoewel hulle dalk sekere familie trekke deel, het elkeen verseker sy eie persoonlikheid en geaardheid, met swak en sterk punte. Selfs identiese tweelinge se persoonlikhede verskil van mekaar. Daarom is een van die grootste foute wat ʼn ouer kan maak om sy kinders met mekaar te vergelyk of teen mekaar af te speel. “Hoekom kan jy nie meer soos Jakob wees en meer by die huis rond hang nie?”, “Hoekom kan jy nie meer soos Esau wees en gaan jag nie?”, “Jakob, ek weet nie hoe jy eendag vir jou familie gaan sorg as jy nie meer soos jou ouer broer is nie.” Klink hierdie bekend? Selfs al maak jy nie die fout om hierdie gedagtes te verbaliseer nie, is dit alreeds verkeerd net om dit in jou gedagtes toe te laat. Om kinders met mekaar te vergelyk is seker een van die grootste onregte wat jy as ouer teen jou kinders kan pleeg. Nie net is jy besig om aan hulle te kommunikeer dat jy nie tevrede is met die persoonlikhede en sterkpunte waarmee hulle gemaak is nie, maar ook is jy eintlik besig om aan God te sê dat jy nie tevrede is hoe Hy hulle gemaak het nie. God het my kinders verskillend gemaak en ek moet hulle persoonlikhede en geaardhede bestuur sodat God in hulle lewens verheerlik sal word, maar nie om hulle te verander om na my beeld te lyk nie. Ons praat nie hier van sonde wat toegelaat moet word nie, maar dinge soos introvert, ekstrovert, kunssinnig, sportief, perfeksionisme, ens. Om lief te wees vir jou kind beteken om hulle te leer ken, sodat jy vir hulle die beste kan gee en hulle kan geniet, soos God ons ken en weet wat vir elkeen van ons se siel die beste is.
Ons vind twee seuns wat beslis nie deur hulle ouers bestuur was om God te verheerlik nie, maar waar hul karaktereienskappe eerder gesien word as rede om die een bo die ander voor te trek. “Ag hy/sy is so baie soos ek” maak, net soos vandag, alle sonde aanvaarbaar. Esau word nooit geleer om nie impulsief te wees en net vir sy fisiese te sorg nie. Daar teenoor is Jakob maar te gereed om sy broer se swakpunte uit te byt en tot sy eie voordeel te gebruik. Die verhaal van die lensiesop is ʼn klassieke voorbeeld waarin hierdie sondes van hulle na vore kom. Esau kom van die veld en is rasend honger. Jakob was die hele tyd by die huis en het heerlike lensiesop gemaak. In plaas daarvan dat Jakob net met sy broer deel, gebruik hy dit tot sy voordeel om sy broer se eersgeboorte reg van hom te neem. Hierdie gebeurtenis laat jou wonder of daar enige opvoeding in hierdie huis gedoen is. As jy die verhaal van Jakob verder lees kom jy agter dat hulle kennis van God ook maar gebrekkig was.
Onenigheid tussen ouers
Isak het kinders van God ontvang toe hy alreeds 60 jaar oud was. Hy is dus al ʼn ouman toe sy kinders volwassenheid bereik het en hy kon op hierdie stadium nie meer sien nie. Hy besef dat sy dae min is en besluit om sy seun Esau as die oudste te seën. Hy vra Esau om vir hom wild te gaan jag en sy geliefkoosde dis voor te berei, sodat hy hom kan seën. Rebekka het alles afgeluister en besluit om ʼn plan te maak dat Jakob in die plek van Esau geseën kan word. Miskien was die rede hoekom sy dit gedoen het, omdat sy by hul geboorte ʼn boodskap van God ontvang het dat die oudste die jongste sou dien en sy het gevoel om vir God “so bietjie handjie by te sit” om die belofte uit te voer. Hoe die saak ook al sy ons sien dat sy Jakob se kant kies en planne word beraam om Isak ʼn rat voor die oë te draai. Hier vind ons die tweede groot fout in baie huishoudings. In plaas daarvan dat Pa en Ma ʼn verenigde front in terme van die opvoeding van hul kinders is, is hulle verdeel en het elkeen sy eie agenda. Wanneer ʼn ma, ʼn goddelike vrou is, wat aan haar man onderdanig is, sal hierdie nooit ʼn probleem word nie. Hoe tragies as ʼn ma saam met haar kind of kinders konkel teen die pa, vir wie hulle as die koning in hul huis moet sien – iemand wat geëer en se opdragte gerespekteer moet word. ʼn Pa en Ma moet ten alle tye ʼn eenheid vorm en uit een mond praat. Kinders sal probeer om die ouers teen mekaar af te speel om dit wat hulle wil hê te verkry. Kinders moet weet daar kom groot moeilikheid indien hulle reeds ʼn antwoord van een ouer op ʼn versoek ontvang het en hulle gaan vra dan die ander ouer vir ʼn meer gunstige resultaat. As die ma dalk nie met ʼn besluit van die pa saamstem nie kan sy dit eenkant met hom alleen gaan uitpraat en as hulle nie tot ʼn gelyk kan kom nie is die rol van die ma om haar onder die man te plaas en haar man te ondersteun in sy besluit. Dit verg volwassenheid van die vrou en ʼn groot stuk nederigheid om die man te ondersteun en selfs by hom te bly staan al loop dinge skeef a.g.v. sy besluit.
Voortrek
Rebekka doen die teendeel en ondermyn haar man se gesag om hierdie seun, haar witbroodjie wat graag by die huis gebly het, te ondersteun om vir hom ʼn beter toekoms te verseker as vir sy broer. As jy spanning en onenigheid in jou huis wil bring moet jy jou kinders onregverdig behandel en een bo die ander een voortrek. Hoe baie keer hoor jy ouers sê: “Dit is my blou oog kind.” Daar is sekerlik nie iets wat groter ongelukkigheid in ʼn huis veroorsaak as daardie woorde of gesindheid teenoor een kind nie. Wil jy hê jou kinders moet grootword en weet wat regverdigheid is? Hierdie God wat jy aan jou kinders wil bekendstel is ʼn God wat in alle opsigte regverdig is. God het mense geskep na Sy beeld en onder hierdie skepsels het Hy kinders. Nie alle mense is God se kinders nie. Elke kind van Hom is ʼn geliefde van Hom en daar is geliefdes van Hom in elke stam en taal en volk en nasie. Hy het elkeen van Sy kinders ewe lief. Galasiërs 3:26-28 Want deur die geloof is julle almal kinders van God in Christus Jesus, want julle wat in Christus gedoop is, het Christus soos ‘n kleed aangetrek. Daar is nou nie meer Jood of Griek, nie meer slaaf of vryman, nie meer manlik en vroulik nie; want julle almal is één in Christus Jesus! Al sy gawes het Hy oor elkeen van hulle uitgestort. Efesiërs 1:3 Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus! Dit is Hy wat ons in Christus geseën het met elke geestelike seëning in die hemel. Daarom word elke kind van die Here ook opgeroep om hulle broers en susters lief te hê. 1 Johannes 4:10-11 Hierin bestaan die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het, en sy Seun gestuur het as versoening vir ons sondes. Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ook óns mekaar lief te hê. Die waarskuwing word aan ons gegee dat ons nie kan sê dat ons God liefhet as ons nie ons mede-broers en susters liefhet nie. 1 Johannes 4:20 As iemand sê, “Ek het God lief”, en sy broer haat, is hy ‘n leuenaar. Want wie sy broer, wat hy sien, nie liefhet nie, kan nie God liefhê, wat hy nie sien nie. Die grootste leerskool in liefde vind in die huisgesin plaas waar broers en susters met verskillende behoeftes en persoonlikhede moet leer om mekaar te dien en lief te hê. Indien jy een kind voortrek is jy nie net onregverdig teenoor die ander nie, maar jy maak dit ook vir hulle moeilik om mekaar lief te hê, omdat hulle ʼn wrok teen die witbroodjie sal opbou. ‘n Liefdevolle ouer, het al sy/haar kinders ewe lief.
Ketting reaksie
Jakob en sy ma is kop in een mus. Jakob luister na sy ma en trek Esau se klere aan met diere vel oor sy oop arms, terwyl sy ma die geliefkoosde kos van Isak voorberei. Die tragedie is dat nadat hulle Isak bedrieg het en alles op die lappe kom word hierdie gesin opgebreek. Hierdie spreekwoord is waar: Die wyses onder vroue bou elkeen haar huis, maar sotheid breek dit eiehandig af. Spreuke 14:1 Jakob moet vlug vir sy broer.Hoe tragies dat ʼn voortrekkery veroorsaak dat families uit mekaar uit spat en dat hierdie wonde nooit genees tensy die kind voor God buig en sy ouers vryspreek nie.
Die tragiese van hierdie opvoeding wat Jakob ontvang het is dat hy dit net so weer oordra in die grootmaak van sy kinders. Deur die verhaal van Jakob ontdek ons dat Jakob twee seuns gehad het wat hy liewer gehad het as die ander. Vir die een, Josef, maak hy ʼn spesiale mooi jas wat hom behoorlik laat uitstaan. Genesis 37:3 Israel was lief vir Josef, meer as vir al sy ander seuns, want hy was vir hom die seun van sy ouderdom. Hy het vir Josef ‘n lang rok met moue gemaak. Hy maak sy geliefde seun deur sy optrede die gehate en uitgeworpene tussen sy broers. Die weersin teen hom is so erg dat hulle self beplan om hom om die lewe te bring. Met die verloop van die verhaal, as Simeon gevange geneem word deur Josef in Egipte om sy broers op die proef te stel, ontdek ons die tragiese gesprek van Jakob met sy seuns as hulle terugkeer van Egipte sonder Simeon met die boodskap dat hulle Benjamin wou saamneem na Egipte. Genesis 42:36-38 Jakob, hulle vader, het vir hulle gesê: “Julle maak my kinderloos! Josef is nie meer daar nie, en Simeon is nie meer daar nie, en Benjamin wil julle neem. Alles is teen my!” Ruben sê toe vir sy vader: “Pa kan maar my twee seuns doodmaak as ek hom nie na pa terugbring nie. Laat hom in my sorg; ek sal hom persoonlik na pa terugbring.” Maar hy antwoord: “My seun sal nie saam met julle aftrek nie, want sy broer is dood, en net hy alleen het oorgebly. As ‘n noodlottige ramp hom tref op die pad waarop julle gaan, sal julle my grys hare met verdriet in die doderyk laat afgaan.” Die hele verhaal is so tragies. Het Jakob niks geleer in sy eie grootword nie? Het hy nie self ondervind hoe vernietigend dit is as ʼn ouer ʼn kind voortrek nie? As jy dit beleef het in jou gesin, al was jy die een wat voorgetrek was, besef die vernietigende effek daarvan op jou familie en bid dat die Here jou sal help om hierdie onreg nooit in jou gesin toe te laat nie en sodoende die ketting reaksie van vernietiging sal breek. God haat dit as ek in my lewe en ook in my gesin twee maatstawwe het. Spreuke 20:10 Twee soorte gewig, twee soorte maat — hulle altwee is vir die Here ‘n gruwel.
Slot
God het sy kinders onvoorwaardelik lief en is regverdig. Hy trek niemand voor nie en stort sy seën oor elkeen van sy kinders uit. Elke kind is ʼn unieke geskenk met die opdrag om hierdie karakter eienskappe van God vir hulle te leer deur vir hulle ʼn omgewing te skep waarin hulle Hom kan leer ken uit jou mond en jou voorbeeld. Mag jou kinders hiervan getuienis lewer wanneer hulle eendag bely dat jou God ook hulle God is.
