Helper

Inleiding

Die vrou word opgeroep in haar huwelik om onderdanig te wees aan haar man en haar taak is om haar man se helper te wees. Genesis 2:18  Ook het die HERE God gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ‘n hulp maak wat by hom pas. Om iemand se helper te wees beteken om hom te ondersteun om die taak waarvoor hy/sy geroep is te kan uitvoer. So ook is God die mens se helper, want sonder Hom sal ons nooit dit waartoe ons geroep is kan doen nie. Die Bybel is vol van die gelowige se oproep tot God om hom of haar te help. Psalm 30:11 Hoor, Here, en wees my genadig! Here, wees my ’n helper! Is helper dan iets of iemand ondergeskik aan die een wat die werk moet verrig? Verseker nie!

Skeppings opdrag

God het al die diere verby Adam gebring, maar daar is nie een gevind wat sy helper kon wees, iemand wat by hom pas nie. Genesis 2:20  So het die mens dan name gegee aan al die vee en aan die voëls van die hemel en aan al die wilde diere van die veld, maar vir die mens het hy geen hulp gevind wat by hom pas nie. Die woord vir “pas” in die Hebreeus kan ons vertaal as spieëlbeeld of die teenoorgestelde. Hulle is beslis nie dieselfde gemaak nie. Nie net lyk hulle anders nie, maar ook in hul temperament is hulle in die algemeen teenoorgesteldes van mekaar, aangesien God hulle so gemaak het. Die man en vrou is dikwels soos die Noord en Suid op die magneet. Dit wat my aangetrek het na haar is dat sy anders as ek is. Reeds daarin vul hulle mekaar aan en daar waar die een swak is, is die ander een sterk, sodat hulle as geheel sterker en beter is. Hulle is gemaak om mekaar te komplimenteer en hul verskille moet nooit  spanning veroorsaak nie. Enige man wat besef dat sy vrou daar is om hom te help, te komplimenteer en sterker te maak sal wys wees om die vrou deel te maak van sy besluite en take, sodat hy die opdrag wat God hom gegee het na die beste van sy vermoë kan verrig.

God se opdrag aan die mens vind ons in Genesis. Genesis 1:28  En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip. Hulle het mekaar nodig om hierdie opdrag uit te voer. Om te vermeerder is beslis nie net om die aarde te vul met goddelose kinders nie, maar kinders wat God sal vrees en vir Hom sal leef. Dit is dan ook God se begeerte dat ons sulke kinders sal grootmaak. Maleagi 2:15  Het Hy dan nie een mens gemaak nie, hoewel Hy gees oorgehad het? En waarom die een? Hy het ‘n geslag van God gesoek. Neem julle dan in ag ter wille van julle gees en wees nie ontrou aan die vrou van jou jeug nie.

Verder het God aan elke man die opdrag gegee om te werk in die sweet van sy aangesig, om vir sy familie te versorg, te voorsien en te beskerm. Die vrou moet haar man help met die take waarvoor sy beter deur God toegerus is as hy. ʼn Baie praktiese voorbeeld hiervan, wat vir elke mens duidelik sigbaar moet wees, is dat God die ma toegerus het om vir die baba te sorg soos geen man dit kan doen nie. Sy is immers die een wat die baba vir nege maande in haar liggaam gedra het en wat fisies die bron van voeding is. Wat as die man en vrou besluit om albei na die baba te kyk deur die nag? Wat sal die man die volgende dag in die werksplek kan verrig met sy uitgewaste en moeë liggaam wat geen slaap gekry het nie? Die hartseer van baie huise is dat die arme vrou die volgende dag ook die werksplek moet betree en dat sy dus nie vir die man ʼn hulp kon wees deur die nag nie. Die oomblik as dit gebeur is ons nie meer besig om mekaar te komplimenteer nie, maar eerder die lewe vir albei moeiliker te maak. Het julle werklik die ekstra salaris nodig?

Vrou jy het deernis, sagtheid, geduld en die “voedingsbron” ontvang om jou babatjie te versorg soos geen man of ander vrou dit kan doen nie. Die tragiese is dat soveel gelowige ouers hulle kinders aflaai en laat grootmaak deur mense wat nie dieselfde liefde vir die Woord, prioriteite en waardes as hulle het nie. Tog sal hulle hul kosbaarste geskenk, hul kinders, in ander mense se arms plaas met die “hoop” dat hulle tog ten spyte daarvan goed sal uitdraai. As Goddelike kinders God se vereiste is moet dit ons hoogste doel wees as ouers en moet die ma hierin floreer.

Die bestuurder

Die vrou word in die Woord opgeroep om “huislik” te wees. Titus 2:5  ingetoë te wees, kuis, huislik, goed, aan hul eie mans onderdanig, sodat die woord van God nie belaster word nie. Die woord vir huislik bestaan uit twee woorde naamlik huis + werk. Haar primêre taak is dus om werk in die huis te verrig. Sy is die een wat die huis kleur en geur verskaf. Ek onthou hoe ʼn familielid van my se huis as enkel lopende gelyk het. Die woonstel se mure was spierwit en alles was vreeslik klinies. Jy kon sien hier word net geslaap en gaan werk. ʼn Ruk later ontmoet hy sy toekomstige vrou en toe ons weer in die huis kom was daar ʼn totale transformasie. Kleur, plante, ornamente en kerse het alles verander. In elke faset van die huwelik is dit die vrou wat kleur en geur na die tafel bring. Sy skep ʼn rustige atmosfeer waarin man en kinders, sonder dat hulle altyd besef wat sy doen, vrede kan ervaar. Hulle het “tuis” gekom. Kyk maar wat gebeur as  ʼn vrou se dag deurmekaar was en sy vroeg die huis moes verlaat en laat teruggekeer het en jy sien ʼn resep vir absolute chaos.

Die Bybel gaan nog verder en sê dat die vrou nie net die werker by die huis is nie, maar dat sy ook die bestuurder van die huishouding is. 1Timotheus 5:14  Ek wil dan hê dat die jong weduwees moet trou, kinders baar, hulle huise regeer en die teëparty geen aanleiding gee om kwaad te spreek nie. Die woord vir huise regeer is een woord in die Grieks wat weereens deur twee woorde opgebou is. Die eerste is huis en die tweede is die woord δεσποτεῖν(despotein) waar ons die woord despoot vandaan kry. Haar huis word dus deur God vir haar gegee om te regeer. Dit beteken nie dat sy bo haar man is in die rangorde by die huis nie, maar dat die man haar vertrou met die taak, wat God vir haar gegee het, om die huishouding te bestuur. Hoe tragies dat so baie mans nie hulle vroue vertrou met die geldsake van die huis nie. Baie keer moet vroue bakhand staan voor die man om kos en noodsaaklike dinge vir die huis te koop. Baie keer is dit juis die rykste mans wat die slegste vir hulle vroue voorsien in hierdie afdeling. Hier kan ek net opmerk dat as vroue ten volle ingelig is van die finansies in die huis daar beslis nie ʼn persoon sal wees wat beter na die finansies sal omsien as juis jou vrou nie. As helper moet die vrou die huis inrig en versier soos sy daarvan hou. As sy dit lemmetjie groen wil verf, dan moet die man haar toelaat om dit lemmetjie groen te verf. Natuurlik sal enige goddelike vrou ook die man se insette vra, maar die huis is die domein waarin God wil hê sy moet heers en haarself uitleef. As die vrou hierdie opdrag uitvoer sê die Woord dat sy geen teeparty aanleiding sal gee om kwaad te spreek nie. Ons weet dat as gelowiges mense beslis kwaad van ons sal spreek, maar die Woord maak dit duidelik dat die vrou wat haar huis goed regeer nooit enige aanleiding daar toe sal gee nie.

Het ons enige idee hoeveel van die getuienis van gelowiges lei skade omdat vroue nie hul huise goed regeer nie? Hoeveel keer ly die huisgesin skade, omdat die man en vrou besluit het dat ander dinge van groter belang is as dat die vrou haar Godgegewe talente gebruik om haar huis so te bestuur dat dit ʼn veilige tuiste vir haar man, kinders en besoekers is.

ʼn Knap vrou is meer werd as goud

Hierdie vrou is beslis nie iemand wat op haar louere rus nie. ʼn Vrou wat by die huis sit en heel dag YouTube video’s kyk is beslis nie die goddelike vrou waarvan die Bybel praat nie. Daar is geen groter, harder en meer uitdagende werk as om ʼn huishouding goed te bestuur en regeer nie. Die wêreld skep die idee dat vroue wat by die huis bly leeglê en almal vra gewoonlik ʼn vrou wat by die huis is wat sy die hele dag met haarself doen. Iemand wat hierdie vraag vra het geen idee wat die pligte van ʼn vrou behels nie. Hier kan ons gerus na die vrou van Spreuke 31 gaan kyk. Sy is die voorbeeld van hoe ʼn vrou lyk wat haar huis goed regeer. Hierdie vrou word uitgebeeld as een wat haar man as ʼn welbekende in die dorp laat uitstaan as gevolg van haar optrede. Spreuke 31:23 Haar man is bekend in die poorte as hy saam met die oudstes van die land sit. Watter helper is hierdie vrou nie? Die vrou verklaar dat sy eerstens daar is vir haar man en tweedens daar is vir haar kinders. Sy vind haar vreugde daarin dat haar huisgesin versorg is en die wêreld ingaan met ʼn lekker vol maag en ʼn rustigheid en tevredenheid waarvoor net ʼn ma kan sorg. As die kinders in die middag terugkom van skool vind hulle ʼn ma wat gereed is en hulle met ope arms ontvang. Sy kan haar kinders opgewonde maak oor die feit dat “Pappa huis toe kom.” As die man dan in die aand by die huis kom is daar nie ʼn geskarrel nie, maar alles is gereed en reg sodat almal rondom die tafel stelling kan inneem en van die diepste gesprekke langs die tafel kan plaasvind. By hierdie tafel, wat keurig gedek is, met lekker gesonde kos wat mamma voorberei het volgens wat die huisgesin kan bekostig, word magies, en siele aan die Brood van die lewe, gevoed. By die tafel word daar gesels oor al die dag se gebeure en hartseer en opgewondenheid word bespreek. Hier word die Woord saam gelees en hande gevat en gebid. Alles moontlik gemaak deur ʼn ma wat hard gewerk het, omdat dit haar grootste prioriteit is.

Werk buite die huis

Wat as die man wil hê dat sy vrou eerder buite die huis moet gaan werk en ʼn ekstra inkomste moet verdien. Is die vrou dan nie buite die wil van God vir haar lewe nie? Die vrou se eerste opdrag is om die helper vir haar man te wees en as hy dit as die hoogste prioriteit sien moet sy hom daarin gehoorsaam. Hier moet jy as vrou besef dat God die man eendag tot verantwoording gaan roep oor hoe hy sy gesin en sy vrou gelei en versorg het. Indien hy, in teenstelling met die Woord, ander dinge belangriker geag het as sy gesin sal hy beslis daarvoor verantwoording doen. Hoe tragies dat baie mans en vroue terug kyk na die tye saam met hulle kinders en wens dat hulle net nog meer tyd met hulle spandeer het. Wat sal ʼn man en vrou nie ruil as hulle seun of dogter net vir die Here sal lewe nie? Wat sal jy nie daarvoor prysgee nie? Nog nooit het ek van ʼn man of vrou gehoor wat op hulle sterfbed verklaar: “as ek maar net nog meer geld gemaak het nie”. Nee, die kreet van baie ouers is hard en duidelik: “Ek wens ek het meer tyd met my kinders spandeer, ek wens ek was by meer van hulle sportbyeenkomste, as ons net nog ʼn laaste keer almal rondom die tafel kan sit en saam kan eet”. Hoe baie oumense sit alleen by die ouetehuise om nooit weer hulle kinders te sien nie. Alles omdat hulle in hierdie wêreld geld gejaag het en ander dinge hoër geag het as hulle eie huis.

Wat as die vrou wil gaan werk? Wel die vrou moet haarself afvra of sy die taak wat God aan haar toevertrou het na die beste van haar vermoë sal kan uitvoer ten spyte van haar werk buite die huis. Haar werk buite die huis kan dus nooit haar eerste prioriteit wees nie. Ek is seker dat die persoon vir wie sy werk “net te bly sal wees om dit te hoor”. Terwyl die kinders nog babas of kleuters is, kan daar beslis nie hieraan voldoen word nie en daar sal beslis pap op die grond val. Dit is ʼn fyn balanseer toertjie en die man en die vrou moet verseker weet dat as iets skeef loop in die oggende, siekte of krisis, die man en die vrou se dag in die totale chaos sal ontaard. Wanneer so ʼn toertjie skeefloop, kry iemand gewoonlik seer. Die vrou se eerste roeping vanuit die Woord is duidelik en die prioriteite vir elke vrou kan nie duideliker uitgespel word nie. Die orde is: God, jou man, jou kinders en huis en daarna enige iets anders. Indien enige vrou voel dat hierdie slegs ʼn menslike opinie is en nie die duidelike standpunt vanuit die Skrif nie, wil ek jou uitdaag om vanuit die Skrif jou verstaan van jou roeping van God te verduidelik. Hierdie opdrag geld natuurlik slegs vir ʼn getroude vrou. Baie vroue het al hulle loopbane geprioritiseer en die hoogste echelon in die lewe te bereik net om terug te kyk en te verklaar hoe hulle alles sal opgee as hulle net kinders kon gehad het, en nou is dit te laat. As jou kinders groot is of die huis verlaat het, kan julle weer die gesprek hê of dit nodig is dat die vrou buite die huis moet gaan werk. Hierdie moet beslis nie iets wees wat ligtelik besluit word nie en moet met baie gebed geneem word. Tog moet daar nog steeds in ag geneem word dat God se eerste prioriteit vir die vrou nie verander as die kinders die huis verlaat nie en dat sy nog steeds die werker in die huis en die regeerder van die huishouding moet wees. 

Slot

Vrou jy het ʼn hoë roeping van God ontvang. Man, die Woord is duidelik hoe God wil hê jou vrou jou moet help. Maak haar hande los van ander take en laat sy vervulling vind in die opdrag wat sy van God ontvang het. Die wêreld wil aan elke vrou vertel dat die huis ʼn minderwaardige werksplek is waar vroue kaalvoet en swanger voor die wasbak staan. Wat ʼn absolute belediging aan elke gelowige vrou wat daagliks haar hoogste roeping vervul deur gewone huise te verander in plekke van aanbidding, waar God geëer en Sy vrede ervaar word, wat veilige hawens skep in ʼn stormagtige wêreld vol vyandskap en vrees, wat herinneringe skep en ʼn fondament en basis vestig vanwaar kinders met selfvertroue die wêreld kan ingaan. Dit is juis hierin wat vroue hul vervulling vind. God het jou gemaak en as Hy jou gemaak het kan jy verseker weet dat jy slegs vervulling sal vind as jy doen dit waarvoor God jou bestem het. Alleenlik die soeke na wat God behaag bring ware vreugde en vrede. Jesaja 55:2  Waarom weeg julle geld af vir wat geen brood is nie, en julle arbeid vir wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My en eet die goeie, en laat julle siel hom in vettigheid verlustig.