Inleiding
Die rol van die man in die huwelik is om die hoof te wees van sy vrou met die hoof opdrag vanuit die Skrif om haar lief te hê. Vir menige jong man klink hierdie opdrag eenvoudig, want die liefde brand nog wild en warm. Hul assosieer liefde met die warm gevoel en vinnige hartklop wat sonder enige inspanning hoogty vier. Liefde is egter nie ʼn gevoel nie, maar ʼn daad. Gaan lees maar gerus 1 Korintiërs 13 oor wat presies die liefde is en dit word baie duidelik dat liefde gaan oor doen eerder as voel. Die goddelike man se opdrag is om lief te hê soos wat die Bybel dit definieer en nie soos wat Hollywood dit definieer nie. Daar bestaan nie ʼn frase soos: “Ek het haar nie meer lief nie!”, want al wat dit in werklikheid sê is dat die persoon nie meer bereid is om te doen dit wat liefde vereis nie. Baie mans het die idee dat die liefde volgens hul definisie genoegsaam is en dat hul vrou, en God, daarmee tevrede moet wees. “As jy nie meer so “voel” nie hoef jy dit nie meer te doen nie.” Wanneer jy egter besef dat hierdie ʼn opdrag tot dade is, weet jy ook uit die vorige inskrywings, dat God die een is wat jou die krag sal gee om dit uit te voer. Verder moet die man onthou dat hy sy vroomheid en sy gebede kan los as hy nie sy vrou in liefde hanteer nie aangesien God nie na hom sal luister nie. 1Petrus 3:7 Net so moet julle, manne, verstandig met hulle saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys, omdat julle ook mede-erfgename van die genade van die lewe is—sodat julle gebede nie verhinder mag word nie.
God is liefde
Hoe om lief te hê word gekoppel aan ʼn “persoon”. Ons moet liefhê soos wat Christus liefhet. Efesiërs 5:25 Mans, julle moet julle vroue liefhê, soos ook Christus die kerk liefgehad het en Homself ter wille van haar oorgegee het. Dit is baie duidelik uit hierdie gedeelte en vele ander, wat alreeds in vorige inskrywings rakende die uitverkiesing bespreek is, dat Christus se sterwe aan die kruis vir ʼn spesifieke groep mense was, naamlik sy bruid. Die oomblik as ons hierdie sterwe of liefde van toepassing maak op die hele wêreld verloor die vergelyking sy krag, aangesien Christus dan gesterf het vir almal en vir almal lief het en nie net die kerk, sy bruid, nie. As Christus met sy Vader in gesprek is in Johannes 17 tree hy ook in vir elke gelowige wat tot inkeer sal kom a.g.v. die Woord wat gepreek sal word. Johannes 17:20 Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde in My glo. Sy intrede voor die Vader in die Hemel is uitsluitlik vir Sy kerk. Die diepe liefde van Christus vir sy kerk is deurgaans in die Woord sigbaar, reeds in metafore in die Ou Testament wat heenwys na die liefde wat Christus vir sy bruid het. Lees gerus die boek Hooglied om die liefde te sien wat Christus, die man, vir sy vrou, die kerk het. Die liefde wat God vir sy kerk het is ʼn liefde wat nooit tot ʼn einde sal kom nie.
Ons kan ook God se liefde vir sy volk waarneem. God kies sy volk nie oor enige iets wat hulle besonders maak nie, maar kies hulle in sy raadsplan om Sy liefde oor uit te stort. Ten spyte van hulle ongehoorsaamheid bly hy nog steeds vir hulle lief en hou hy aan om hulle te versorg. Die liefde van God word so mooi uitgebeeld in die verhaal van Hosea, die Profeet, wat Gomer, die prostituut, as sy vrou neem. Hierdie is ʼn liefde wat heenwys na die liefde van Christus vir sy Bruid. ʼn Liefde wat nie afhanklik is van die ander persoon nie, maar ʼn liefde wat aanhou “ten spyte van.” Daar is nooit ʼn rede vir die man om op te hou om liefde aan sy vrou te bewys nie. Jy moet sterwe vir al jou begeertes en behoeftes en lewe vir jou vrou om haar gelukkig te maak. Is dit nie presies wat Christus gedoen het nie? In Filippense spreek Paulus die gemeente aan dat hulle nie moet omsien na hulle eie belange nie, maar die van die ander en dan wys hy na Christus as voorbeeld. Filippense 2:5-8 Laat dan die gesindheid wat daar in Christus Jesus was, ook in julle wees: Hoewel Hy in die gestalte van God was, het Hy gelykheid aan God nie beskou as iets om aan vas te klem nie, maar Hy het Homself daarvan leeggemaak, deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy in die vorm van ‘n mens verskyn het, het Hy Homself verneder, deurdat Hy gehoorsaam geword het tot die dood toe, ja, die dood aan die kruis. Man is hierdie gesindheid in jou? Is dit hoe jy jou vrou behandel en hanteer in die huis – soos Christus gedoen het vir die kerk?
Jy kan slegs gee dit wat jy het
God se standaard van liefde is nie net hoog nie dit is onbereikbaar sonder die werking van die Heilige Gees. Jy kan slegs aan jou vrou gee, dit wat jy het. Sonder goddelike liefde wat jou elke dag vul, sal jy onmoontlik jou vrou kan liefhê volgens God se standaard. Indien jou verhouding met God nie reg is nie, sal jou verhouding met jou vrou ook nie reg wees nie. Ja, daar is huwelike van ongelowige mense wat van buite baie suksesvol lyk en mense wat romantiese boeke skryf oor hul sielsgenote wat hulle gevind het. Hierdie liefde eindig egter by die graf. Goddelike liefde vereis ʼn liefde waarin jy jou vrou geestelik sterker en mooier afgee as die dag toe God haar aan jou gegee het. Dit moet daagliks die gebed van elke man wees: “O Here, maak my die man wat my vrou so lief het soos Christus die kerk en my lief het.” Net soos God elke dag aan ons werk en ons vernuwe en besig is met ons heiligmaking is dit belangrik dat die man ook volgens Efesiërs 5 die vrou geestelik begelei en haar inspireer om nog meer geestelik te groei, tyd met die Here te spandeer en Sondae in die kerk te wees. Die man het nodig om sy vrou te help deur vir haar tyd in te ruim waarin sy, ondank kinders en ander verpligtinge in haar huis, stil kan raak met die Here. Die geestelike skoonheid van jou vrou moet vir jou van meer waarde wees as haar fisiese skoonheid. ʼn Vrou wat so geestelik groei en versorg word sal vir die hele huisgesin tot seën wees.
Seks
Seks is nie liefde nie en liefde is nie seks nie. Dit is egter so dat wanneer dit in ʼn goddelike huwelik plaasvind dit alles verteenwoordig van wat die liefde moet wees. Dit is twee mense wat mekaar vertrou en bereid is om hulself onbaatsugtig vir mekaar te gee. God spreek die man aan in Efesiërs en sê dat Hy sy vrou moet liefhê soos sy eie liggaam. Efesiërs 5:28a Net so is die mans verplig om hulle eie vroue soos hulle eie liggame lief te hê. Waarom moet die man sy vrou liefhê soos sy eie liggaam? Omdat God weet dat niemand sy eie liggaam haat nie. Elke persoon op hierdie aarde, maak nie saak hoe dit vir jou van buite lyk nie, het sy eie liggaam lief en alles wat hy doen word eerstens deur hierdie impuls beheer, maar daar is meer. Efesiërs 5:28b Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief. Wat beteken dit? Dit beteken dat indien ʼn man nie hierdie opdrag uitvoer nie, dit vir hom tot nadeel sal wees. Hoe meer hy sy vrou lief het hoe meer sal dit vir hom tot voordeel wees. Geen man moet dink dat hy die seksuele op ʼn gereelde basis saam met sy vrou sal geniet as hy haar nie oorlaai met liefde nie. Vroeër jare moes jy ʼn strykyster by die vuur sit om die yster warm te maak sodat jy later kon stryk. My pa het altyd vir ons seuns vertel dat as jy die seksuele saam met jou vrou wil geniet jy al in die oggend moet begin om aan haar liefde te bewys. Hierdie liefde vloei uit in dade van onbaatsugtigheid, dien en opoffering. Dit vra ʼn fyn ingesteldheid in haar behoeftes.
Dit kan koffie en beskuit wees waarmee jy haar wakker maak. Hierdie liefde moet deur die dag aan haar openbaar word en jy kan seker wees dat sy ook uit sal sien na die seksuele in die aand. Mans wat hul vroue deur die dag sleg behandel moenie verbaas wees wanneer sy yskoud teenoor hom reageer nie. Mans wat hulle vroue sleg behandel en nie hulle in liefde versorg nie is van die domste mense wat jy kan kry. Hulle is soos ʼn dwaas wat ʼn hoofpyn het en sy kop teen die muur slaan met die hoop dat sy hoofpyn sal beter raak. Vroue blom onder liefde.
Versorg en koester
Watter vreugde het ʼn vrou nie as sy ʼn man het wat haar liefhet soos sy eie liggaam nie. Die Woord sê dat so ʼn man sy liggaam koester en versorg soos Christus ook die kerk koester en versorg. Die twee woorde vir voed, ἐκτρέφει(ektrephei), en koester, θάλπω(thalpó), is pragtige woorde met ryk voorbeelde waar dit in die LXX gebruik word. Voed word bv. gebruik vir Josef wat belowe om vir sy broers te sorg gedurende die erge droogte in Egipteland. Dit word ook gebruik in die gelykenis wat Natan aan Dawid meegedeel het na sy sonde met Batseba van ʼn man wat ʼn lam gehad het en die lam gevoed en versorg het. 2Samuel 12:3(direk vertaal uit LXX) En die arme man het niks gehad nie, behalwe een klein ooilammetjie, wat hy gekoop en grootgemaak het: en dit het saam met hom en met sy kinders grootgeword; dit het van sy eie kos geëet, en uit sy eie beker gedrink, en in sy skoot geslaap, en was vir hom soos ‘n dogter. Om ʼn vrou lief te hê beteken dus ook om haar te versorg. Die vrou kan rustig wees wetende dat haar man haar sal versorg. Hierdie versorging is ten eerste geestelik en dan fisies volgens die vermoë wat God aan die man gee. Dit het nie te make met rykdom en wêreldse finansiële sekuriteit nie, maar met ʼn man wat sy vrou en huisgesin versorg volgens die opdrag van die Woord. Jou teenwoordigheid as hoof is belangriker as die vakansie oorsee of die goue armband of nuwe rok. Die woord vir koester word in die LXX gebruik toe iemand Dawid, as ʼn ouman, moes warm maak toe hy koud was in die nagte en ook vir ʼn hen wat broei op haar eiers en kuikens. Die man moet dus die huisgesin so versorg, en veral sy vrou, dat sy geestelik kan groei en ontwikkel in veiligheid en vrede. Is dit nie presies wat Christus vir die gemeente doen nie? Kan jy dink hoe kinders in so ʼn huis kan floreer? Jou dogter sal ʼn man soos haar pa soek en jou seun sal strewe om eendag so ʼn man te wees vir sy vrou.
Verlaat
Hierdie liefde word ook uitgebeeld as ʼn liefde wat al die ander dinge in sy lewe verlaat en sy vrou aankleef. Efesiërs 5:31 Om hierdie rede sal ‘n man sy vader en moeder verlaat, en hom aan sy vrou verbind – en hulle twee sal een vlees wees. Jy moet jou liefde kies en dan jou keuse liefhê. Net so min as wat die man steeds enige ander vorige “liefdes” in sy lewe kan koester of mee vriende kan bly, net so min kan die man enige iemand of iets anders hoër ag as sy vrou. Hoe tragies dat daar mans is wat meer aandag gee aan hulle stokperdjies, sporte en vriende as aan hulle eie vroue. Jou vrou word jou beste vriend waarmee jy alles deel. Na God, ontvang sy my hoogste liefde en moet my aandag eerstens aan haar gegee word. Haar behoeftes en begeertes moet eerste na omgesien word. Hierdie verlaat en liefhê word weereens vergelyk met Christus en die gemeente. Efesiërs 5:32 Hierdie geheimenis is groot; ek sê dit met verwysing na Christus en die kerk. Die kerk en Christus het deur Christus se kruisiging een geword. Ons as kerk verlaat alles en ons kleef aan Hom alleen net soos die man ook alles verlaat en kleef aan sy vrou. Daar is nou net een en nie meer twee nie. Ons doen dinge saam. Geen man en vrou kan apart gaan vakansie hou as hulle ʼn eenheid is nie. Dit sal die huweliksband seermaak en die duiwel beslis ʼn vatkans gee in julle huwelik.
Slot
Mans is geskape om dinge te doen. Hulle is oor die algemeen baie minder emosioneel as vrouens en sal eerder aan ʼn projek “werk” as om met ander oor hul gevoelens te praat. Dit is dus moeilik om te verstaan waarom God die liefde as opdrag aan die man gee, terwyl van die vrou verwag word om die man te eer en nêrens gevra word dat sy hom moet liefhê nie. Wanneer ons egter die liefde sien as ʼn daad eerder as ʼn gevoel word hierdie baie duidelik. Daar is ʼn ou liedjie van Don Francisco waar hy sing “Love is not a feeling it is an act of your will” Die dag waarop jy sterf is die dag waarop jy kan ophou om jou vrou lief te hê. Daar gaan dae kom wat die maklik gaan wees en ander waarop jy op jou tande gaan byt van frustrasie. Goddelike liefde is egter onvoorwaardelike vir sy kinders en so moet joune wees vir jou vrou. Wanneer jy eerstens volgens die liefde doen, sal God die gevoel laat volg.
Wees lief, soos Hy jou liefhet.
