Onderdanigheid

Inleiding

God het die man en vrou gelyk geskape. Na Sy beeld het hy hulle geskape met die doel om Hom op aarde te verteenwoordig en Hom te eer. ʼn Vrou is nie in God se oë minderwaardig teenoor ʼn man nie. Ongelukkig het die moderne era die woord onderdanig verander om te beteken minderwaardig!  God het egter binne die huwelik, verskillende rolverdelings vir ʼn man en ʼn vrou. Hierdie rolverdeling is ingestel deur Hom wat ons gemaak het en ons die beste ken, met die oog op die grootmaak van ʼn goddelike geslag en die eer van Sy naam. In die Woord leer ons dat ons moet sterwe aan onsself en ons kruis moet opneem en Christus moet volg. Dit geld vir man sowel as vrou. Dit beteken dat daar dinge sal wees waarteen ons daagliks ʼn stryd sal voer om sodoende aan God eerder as aan ons vlees gehoorsaam te wees.  God het die rol van hoofskap in die huwelik aan die man gegee. Daarteenoor het God die rol van onderdanigheid aan die vrou toevertrou. Efesiërs 5:22  Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here. Dit is nie die rol wat die vrou kies nie, net so min as wat die man kies om hoof te wees. Dit is ʼn opdrag van God. In die moderne konteks van feminisme en vroueregte klink hierdie na ʼn chauvinistiese poging van ʼn “manlike” God om vrouens op hul plek te sit. Indien dit jou uitkyk op die goddelike instelling van die huwelik en op die karakter van God is, is hierdie blog inskrywing waarskynlik nie vir jou nie. Aan ons ander kom die opdrag helder en duidelik en ons gehoorsaam omdat Hy ons eerste liefgehad het.

Aan wie moet die vrou onderdanig wees

Die teks is duidelik dat die vrou slegs aan haar eie man onderdanig moet wees. ʼn Vrou word nêrens in die Woord verplig om aan alle mans onderdanig te wees nie. Dit geld slegs vir die vrou in haar eie huis onder haar eie man.  Die woord onderdanig in die Grieks ὑποτάσσω(hupotassó) bestaan uit twee woorde wat opgemaak is uit onder + rangskik. Dit beteken dus om jouself onder iets of iemand te “rangskik”. Die woord in die Grieks is nie in die passief, wat sou beteken dat die man die vrou aan hom onderdanig moet maak, nie, maar wel in die medium, wat beteken dat die vrou die man uit eie keuse gehoorsaam. Dit impliseer dat haar gehoorsaamheid inherent aan God is, en tot uitvoering kom as gehoorsaamheid aan haar man. Dit is verseker makliker vir ʼn vrou om onderdanig te wees aan ʼn man wat saam met haar in gehoorsaamheid aan die Here leef en daarom wil ek dit weer eens vir elke jong ongetroude vrou beklemtoon om nie met ʼn ongelowige man te trou nie. Om onderdanig te wees beteken om jou man se arms op te hou as hy moeg raak, hom te ondersteun, te eer en te gehoorsaam. Om ʼn omgewing te skep waarin hy kan floreer en gerespekteer word om te lei. Waar hy voor kan loop met selfvertroue, sonder om die heeltyd bevraagteken te word deur ʼn neulende, beterweterige vrou. Statistiek toon dat talle mans vandag passief word, drank misbruik of selfs aggressief word, juis omdat hulle vrouens hul hoofskap oorgeneem het. Hoewel niks die man se sonde verskoon nie, is die oorsaak daarvan sy ongehoorsaamheid aan die rol van hoofskap soos dit deur God bepaal is. Soms is dit nodig dat vrouens wat jare lank hierdie rol oorgeneem het, om terug te staan en met hul gedrag hul mans te motiveer om weer die hoofskap oor te neem. 1 Petrus 3 Net so moet julle, vroue, aan jul eie mans onderdanig wees, sodat, as sommige aan die woord ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel van die vroue sonder woorde gewin kan word. Om onderdanig te wees beteken dus om aktief onder jou man te kom staan en hom op te lig, eerder as die passiewe idee van ʼn vrou wat net onder haar man se voete gaan lê.

Christus ons rolmodel

Soos reeds genoem ervaar baie vroue negatiewe emosies wat sommer vanself opborrel van diep binne wanneer hulle die woord “onderdanig’ hoor. Die mens hou nou maar eenmaal nie daarvan om deur enige iemand voorgesê te word nie. “Ek wil doen wat ek wil.”  Tog sal ons in hierdie inskrywing sien dat hierdie gevoel nie uniek is aan die vrou in die 21ste eeu nie. Christus kom egter en wys vir ons die pad aan. Hierdie rol, net soos die van die man, word deur Christus ten volle uitgebeeld. Christus as die tweede persoon van die Drie-Eenheid was te alle tye, voor sy koms na die wêreld, gelyk aan die Vader en die Heilige Gees. Net so het God die man en die vrou na sy beeld geskep. Genesis 1:27  En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. Die vrou is nie minder as die man na die beeld van God geskep nie. Nie net is hulle albei na die beeld van God geskep nie, maar dit is ook duidelik vanuit die Nuwe Testament dat die man en die vrou gelyk is. Galasiërs 3:28  Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus. Nie teen staande hul gelyke skeppings status is die opdrag aan die vrou in die rol van die huwelik om onderdanig te wees aan die man. Hier kan ons sien hoe die vergelyking met Christus helder na vore kom. Christus het reeds voor die skepping van die wêreld besluit om aan die mens gelyk te word en die vorm van ʼn slaaf aan te neem om na hierdie wêreld te kom, wat Hy geskep het. Filippense 2:5-8 Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was. Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis. Dit was ʼn vrye keuse van God die Seun, Jesus Christus, om in hierdie rol na die wêreld te kom. Hy was in alles gehoorsaam aan die opdrag van Sy Vader en het in alles gehoorsaamheid geleer. Hebreërs 5:8  Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het. In Getsemane sien ons die worstelstryd op pad na die kruis om die sonde van elke individu wat deur die Vader aan Hom gegee is op Hom te neem. Dit is bloed wat Hy sweet in die tuin! Elke vrou in die huwelik kan verseker weet dat as hulle deur tye gaan wat moeilik is, hulle Meester in elke opsig verstaan waardeur hulle gaan. Die vrou, in haar rol van onderdanigheid, beeld Christus uit en as ander na haar kyk moet hulle Christus deur haar lewe sien.

Kinders leer gehoorsaamheid

Elke ouer wil gehoorsame kinders hê. Hulle leer deur nabootsing en doen dit wat hulle sien. Soos elke dissipline in ʼn mens se lewe begin dit met baba treetjies en hoewel mens soms dadelik wil verwys na moeilik situasies en probleme begin gehoorsaamheid in die alledaagse. Pa: “Kom ons gaan stap ʼn entjie”. Ma: “Ja dis reg”, maar sy talm so lank dat dit donker raak en hulle nie meer kan gaan stap nie. Pa: “Ek wil graag in die middae 13:00 eet”. Elke dag is die kos egter eers teen 14:00 klaar. Pa: “Kom ons gaan slaap”, maar mamma praat nog met haar vriendin vir 20 minute op die telefoon. Ja, ek besef hierdie is eenvoudige goed, maar ons vind dat goddelike vroue nie eers hierin aan hul mans onderdanig kan/wil wees nie. Wat nog meer wanneer dinge soos finansies, beroep, seks, kinders, siekte ens. op die toneel verskyn? Indien jy nie in die klein dingetjies onderdanig kan wees nie, sal jou kinders ook nie aan jou gehoorsaam wees nie – nie in die klein dingetjies nie, maar later ook nie in die lewensbelangrike dinge en in hul geestelike waardes en keuses nie. Die vrou moet altyd in gedagte hou dat haar gehoorsaamheid aan haar man is soos wat sy gehoorsaam moet wees aan die Here.

Wanneer moet ek gehoorsaam wees

Net soos ek in my lewe aan die Here gehoorsaam moet wees vra die Here van my om ook aan my man gehoorsaam te wees. Die vrou kan baie maklik hier redeneer dat God in alle opsigte en te alle tye vol geregtigheid is en dat Sy besluite volmaak is, maar my man? Wat as hy foute maak en ek en die res van die huisgesin skade ly as gevolg van sy besluit. Dit is belangrik om te gaan kyk wat die Skrif ons hier leer. God gaan nie deur elke moontlike scenario om te sê waar daar uitsonderings ten opsigte van Sy opdrag is nie. Hy skep egter ʼn raamwerk waarbinne die gelowige vrou met vertroue gehoorsaam kan wees, wetende dat God in beheer is van haar man en so ook elke moontlike situasie wat kan ontstaan.

Die verhaal van Sara word deur God gebruik om vir elke vrou ʼn voorbeeld te wees. Selfs vroue wat ongeredde mans het kan vir Sara as voorbeeld neem. In  1 Petrus 3 word Sara as voorbeeld gestel van ʼn vrou wat stil gebly het al was haar man duidelik aan God ongehoorsaam. Die verhaal speel af in Genesis as Abraham a.g.v. ʼn hongersnood in sy area na Egipte vlug. Ons maak kennis met Abram, voor sy naam na Abraham verander is, as ʼn patetiese figuur. Hy is ʼn absolute bangbroek en ʼn man wat skaars ʼn man genoem moet word. Indien jy sy papbroekigheid enigsins wil probeer verskoon kom kan jy darem verklaar dat hy ʼn kompliment aan sy vrou gegee het. Hy besef dat sy baie mooi is en dat skoonheid hom in jare se moeilikheid kan laat beland. Hy vra haar om haarself voor te doen as sy suster sodat hy nie dalk a.g.v. haar skoonheid doodgemaak kan word nie. Watter galante heer, is hy nie?  Sarai, voor haar naam na Sara verander is, gehoorsaam haar man en onderwerp haarself aan hom. Die wonderlike van die verhaal is dat God ingryp en die Farao tot orde roep. Jy mag dalk dink dat Abraham sy les geleer het, maar jy sal verkeerd wees. In Genesis 20 vind ons Abraham in dieselfde toets situasie en hy struikel weer.  Die keer is hy ʼn vreemdeling in Gerar en hy maak dieselfde plan om sy vrou Sara as sy suster voor te stel. Weereens is Sara gehoorsaam en weer gryp God in om Sara te beskerm. Die Woord vertel ons dat God die koning nie toegelaat het om aan Sara te raak nie. Genesis 20:6  Daarop antwoord God hom in die droom: Ek weet ook dat jy dit in die onskuld van jou hart gedoen het, en Ek self het jou daarvan teruggehou om nie teen My te sondig nie. Daarom het Ek jou nie toegelaat om haar aan te raak nie. As hierdie verhaal dalk net vir jou te erg raak sal jy dalk verbaas wees om te hoor dat Abraham se seun Isak dieselfde met sy vrou Rebekka gedoen het. Genesis 26:7  En toe die manne van die plek hom na sy vrou vra, antwoord hy: Sy is my suster. Want hy was bang om te sê: My vrou—anders sal die manne van die plek, so het hy gedink, my miskien doodmaak ter wille van Rebekka; want sy was mooi van aansien. Watter gehoorsaamheid vind ons nie by Sara en daarna by haar skoondogter Rebekka nie. Wat baie interessant is van hierdie drie verhale is dat God elke keer ingegryp het voordat die mans iets aan hierdie godvresende vroue kon doen. Wat wil God vir die vrou leer? Kan sy werklik haar lewe aan God toevertrou? Sal God sy beloftes gestand doen?

Sara word as ʼn voorbeeld genoem vir vroue in 1 Petrus waar sy na haar man verwys as haar heer. Die woord vir heer kan in Afrikaans as baas vertaal word. Watter skok is dit nie vir die vrou van vandag nie. Miskien is daar diegene wat sê: “Ja, dit is wat die vroue van daardie tyd maar moes doen aangesien hulle geen keuse gehad het nie, ons kan vandag self besluit en ons hoef nie meer toe te laat dat mans oor ons loop nie.” As jy die idee het dat vroue in daardie tyd nie ook dieselfde versoeking gehad het ten opsigte van onderdanigheid aan hulle mans nie het jy dalk nie genoeg die Woord onder oë gehad nie. Ons kan Sara ook as voorbeeld neem van hoe die vrou nie haar man moet hanteer nie. Sy het die idee gehad dat aangesien sy nie kinders vir haar man kan gee nie, Abram met haar slavin moet trou. Hier vind ons weer, soos in die tuin van Eden, die vrou in die hoofrol en die man wat maar ewe gedwee die vrou se opdrag uitvoer. Toe die opdrag van Sarai haar in die hakskeen byt sien ons ʼn ander Sarai na vore kom. Genesis 16:5  En Sarai sê vir Abram: Die onreg my aangedoen, is op jou! Ek self het my slavin in jou skoot gegee, en nou dat sy sien dat sy swanger is, het ek veragtelik in haar oë geword. Laat die HERE oordeel tussen my en jou. Klink sy nou meer soos ʼn vrou van die 21ste eeu? Die stryd teen die vlees se begeertes verander nie met die eeue wat verby gaan nie. Onder haar man is sy ook onder die beskerming van God, sodra Sy in ongehoorsaamheid gesag oor hom probeer uitoefen maak sy die lewe vir haarself ingewikkeld en onuithoudbaar.

Rebekka het ook in haar lewe die vlees nagevolg. Sy kom ook by ʼn plek in haar lewe waar sy haar man, Isak, nie eer nie en haar seun, Jakob, voorsê sodat hulle saam vir Isak kan verkul. Jakob word deur sy ma gehelp om homself voor te doen as sy broer Esau en vir sy pa kos voor te berei, sodat sy pa hom die eersgeboorte seën kan gee. Die uiteinde is ʼn familie wat uitmekaar geskeur word en Jakob wat moet vlug vir sy broer. Wat gebeur as ons in plaas van God, omstandighede begin vrees. Goddelike vroue soos Sara en Rebekka wat aan hulle mans gehoorsaam was is voorbeelde van hoe dit lyk as die vrou God vrees bo enige iets anders. 1Petrus 3:6  soos Sara gehoorsaam was aan Abraham en hom heer genoem het; wie se kinders julle geword het as julle goed doen en geen enkele verskrikking vrees nie. Glo jy werklik dat God in beheer is van alles. Is die God wat jy aanbid groot genoeg om ʼn koning te keer om aan Sarai te raak? As gelowige weet en glo ek dat wat ook al God toelaat in my lewe dit sal meewerk ten goede. Daarom as vrou hoef ek niks te vrees nie – ook nie die verkeerde besluite van my man nie. God sal eendag van Hom verantwoording eis oor hoe hy sy familie gelei het.

Jesus in die storm

Dit is bepaald so dat sommige gelowige vroue hulle in stormagtige huwelike bevind, omdat hulle getroud is met ongelowige mans, aangesien hulle eers nadat hulle in die eg verbind is  deur God wederbaar is. Alle huwelike beland egter soms in donker stormagtige tye en dit is belangrik om te alle tye te weet dat die Heerser oor die storm saam met jou in die boot is. Watter mooi beeld vind ons nie van Jesus wat in die boot te midde van die storm vas aan die slaap is nie. Mattheus 8:24  En daar het ‘n groot storm op die see gekom, sodat die skuit toe was onder die golwe; maar Hy was aan die slaap. Die een wat die storm gemaak het en die storm beheer is aan die slaap. Terwyl Jesus slaap is die res van die boot in ʼn konsternasie. Almal hardloop rond om die boot van ondergang te red. Vrou, jy kan rustig wees te midde van ʼn storm in jou huwelik, wetende dat die een wat storms in ʼn oomblik kan stil maak, saam met jou in die boot is. Hoeveel anders sou die optrede van die dissipels gewees het indien hulle net die Woord van God onthou het. Psalm 107:28-29  Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid, en uit hul angste het Hy hulle uitgelei. Hy het die storm ‘n gesuis gemaak, en hulle golwe het stil geword. Hulle kennis van die Een op die boot was gebrekkig en daarom was daar vrees in hulle harte.

Slot

ʼn Ma wat wandel saam met God en in tye van storms rustig is en selfs, as hulle dink dat hul mans die gesin se boot op ʼn ramp afstuur, aan die Here kan vashou en kalm kan wees, is ʼn voorbeeld in die gesin waarna die kinders kan opkyk. In so ʼn huwelik leer kinders om die Here te vertrou bo hulle vader en moeder, aangesien dit presies is wat hulle Ma as voorbeeld doen. Die onderdanigheid van die ma aan die pa as hoof van die huis, net soos ons verwag van die kinders teenoor die ouers, is gehoorsaamheid eerstens aan die Here.  Die oomblik as die vrou haar rol verlaat waarin God haar geplaas het stel sy haar hele gesin in gevaar en die geskiedenis getuig dat sy vir haar en haar gesin baie hartseer op die hals haal. Die veiligste plek is binne God se wil – as onderdanige eggenoot aan jou eie man. Indien jy neerkyk op hierdie rol, kyk jy neer op die voorbeeld wat Christus vir ons kom stel het en waardeur Hy jou gered het van die ewige dood. Goddelike vroue wees hierin dus vir jul kinders die voorbeeld, sodat Sy naam verheerlik sal word. Die duiwel sal jou eie vlees en die samelewing gebruik om hierdie opdrag van God te bevraagteken en te beveg, maar wees getrou en staan vas. God sal jou as ʼn magtige instrument gebruik in Sy koninkryk – ʼn koninkryk wat begin by jou gesin.  

Volgende week gaan ons kyk na die opdrag van die man om die vrou lief te hê.