Noag bou n Ark

Jare na die verhaal van Kain en Abel het daar baie mense op die aarde gewoon, maar hulle het gedink aan lelike dinge en slegte dinge gedoen, en dit het God baie hartseer gemaak. God het gesien dat die aarde vol was van mense wat nie mooi optree nie, en Hy het besluit om ʼn watervloed te stuur om almal dood te maak.

Maar daar was een man, Noag, wat anders was. Noag was goed en het altyd probeer om te doen wat reg is, daarom het God besluit om hom en sy gesin te red. God het vir Noag ‘n baie groot taak gegee. Hy het vir Noag gesê om ‘n groot boot, ‘n ark, te bou. God het vir Noag presies vertel hoe om dit te maak sodat hy, sy familie en ook die diere veilig en droog daarin sou wees.

God het ook vir Noag gesê om van elke soort dier, twee – ‘n mannetjie en ‘n wyfie – in die ark te bring, sodat die diere ook gered kon word van die groot vloed wat sou kom. Die vloed sou die aarde bedek en al die mense en diere laat verdrink, behalwe Noag en die wat saam met hom in die ark was.

Noag en sy gesin het baie hard gewerk om die ark te bou en kos bymekaar te maak vir die diere en vir hulleself. Toe alles gereed was, het die diere twee-twee na Noag in die ark gegaan. Die Here het self die deur van die ark van buite gesluit. Die reën het begin val, en dit het baie gereën. Die Here het ook al die fonteine op die aarde oopgemaak sodat die water die aarde begin toemaak het. Dit het veertig dae en veertig nagte lank gereën! Die water was so hoog dat al die berge onder die water toe was.

Noag, sy gesin en al die diere was veilig binne-in die ark. Na ‘n lang tyd het die reën opgehou en die water het begin sak. Toe die aarde weer droog was, het God vir Noag gesê hulle kan uit die ark kom.

Noag en sy gesin het uit die ark gekom en gesien hoe mooi en skoon alles was. Hulle het ‘n nuwe begin gehad. Noag het ʼn offer vir God gebring om dankie te sê. God het ‘n pragtige reënboog in die lug gesit as ‘n belofte dat Hy nooit weer die aarde met ‘n vloed sou vernietig nie.