Inleiding
God het in die huwelik orde geskep waarbinne die kind kan ontwikkel en veiligheid kan ervaar. God het man en vrou geskep en gesê dat dit goed is. Kinders is ʼn welkome toevoeging tot hierdie verbintenis en is nie die middelpunt daarvan nie. Dit is belangrik om dit te noem omdat baie ouers se hele bestaan om hul kinders draai in plaas daarvan dat hulle eerstens aandag aan God en tweedens aan hul huweliksmaats gee. Hierdie orde vorm die struktuur waarbinne groei kan plaasvind. Jy kan die mooiste plante, beste dekor en wonderlikste kos in ʼn huis hê, indien die mure besig is om inmekaar te val sal geen persoon daar kan floreer nie. Dit geld in besonder vir kinders in die huwelik. Die Here is die bouer van hierdie huis en sy bouplan moet te alle tye gevolg word. Hierdie struktuur is dan ook die besprekingspunt van hierdie inskrywing met meer aandag aan die rol van die vader.
As die Here die huis nie bou nie
Egskeiding kan gesien word as die grootste vyand van die gesin vandag. Die belofte wat in alle erns voor God en sy gemeente gemaak word, het vandag vervaag na ʼn stukkie papier wat binne sekondes in ʼn hof tot niet verklaar kan word. Die huwelik is heilig en moet deur die kerk beskerm word deur gesonde lering, vermaning en dissipline. Die oomblik wat egskeiding die eenheid verbreek is daar verwoesting van nie net die huwelikspaar nie, maar ook van die kinders, daarom noem God egskeiding geweldpleging. Maleagi 2:16 Want Ek haat egskeiding, sê die HERE, die God van Israel, en dat ‘n mens sy kleed met geweldpleging bedek, sê die HERE van die leërskare. Neem julle dan in ag ter wille van julle gees en wees nie ontrou nie. Die orde wat God in die huwelik skep is om elke individu in die huwelik ʼn bepaalde rol te gee. Geen persoon het die gesag of die mag om aan God se orde in die huwelik te verander nie. Hierdie orde bly staan al verander kulture en mense se opinies rakende hoe die huwelikspaar moet optree in die huwelik. Die interessante is dat God se orde by geen kultuur inpas nie. Die vlees van die mens sal altyd in opstand kom teenoor God se orde en ons sien voorbeelde daarvan reg deur die Bybel en steeds vandag. As God die man en die vrou gemaak en gevorm het, kan ons verseker weet dat Hy alleen die orde in die huwelik kan bepaal. Sy opdragte aan die man en vrou is dit waarbinne hulle ware geluk sal vind en hulle kinders kan opgroei in veiligheid en vreugde. God het die man as die hoof van die huis aangestel en die vrou as die een wat onderdanig aan die man moet wees. Daar word nie vir hulle hierin ʼn keuse gegee nie. God gee die opdrag aan die man om die hoof te wees en aan die vrou om onderdanig te wees. Die man en vrou kan nie albei die hoof wees nie, want enige twee kop gedierte is ʼn monster. Albei kan ook nie onderdanig wees nie, aangesien geen besluite geneem sal word nie. Nee, die goeie orde wat God bepaal het is dat die man die hoof is en die vrou onderdanig.
Gesag en orde
Elke ouer se begeerte is om kinders groot te maak wat vir hulle respek het en hulle sal gehoorsaam. Ons weet dat kinders leer deur nabootsing en hierin lê die groot probleem. “Doen wat ek sê, nie wat ek doen nie!” het ongelukkig die mantra van vandag geword, omdat baie mense in hul eie lewens sukkel om gesag te gehoorsaam. Daar is in elke gebied in die samelewing ʼn hiërargie deur God geskep. God wil hê dat die mens hom moet onderwerp aan alle gesag wat oor hom gestel is. Romeine 13:1-2 Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel, sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan; en die wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang. Nie net kom alle gesag van God nie, maar die gelowige word gewaarsku dat indien ons in opstand kom teen enige gesag wat oor ons geplaas is, ons in werklikheid in opstand kom teen God. Hier is dit baie belangrik om daarop te let dat as jy êrens hierdie ketting breek, jy die anker sal verloor en dat jou lewe sal ronddryf in die storm van die lewe sonder enige standvastigheid. Kom ons neem ʼn voorbeeld uit die alledaagse lewe. Pa en die gesin ry saam in die kar en soos nuuskierige agies, wil die kinders weet hoekom Pa vinniger ry as wat die bordjie sê. Wat as die pa ʼn verskoning sou maak dat hy haastig is of dat dit belaglik is om hier ag te slaan op die spoedgrens? Die kind leer onmiddellik dat daar tye is wat ons reëls kan oortree as ons dink dat die reëls nie reg is nie of as dit ons nie pas nie. Môre, maak Pa ʼn reël waarvan hulle nie hou nie, so dan sal dieselfde koers van aksie seker mag geld, of hoe? Jou kind moet elke oomblik van die dag deur jou lewe geleer word wat dit beteken om God te gehoorsaam en jou aan gesag te onderwerp. Onthou jou kind leer deur nabootsing en jou lewe getuig baie harder as jou woorde. In Efesiërs word ons as gelowiges opgeroep om soos kinders God na te volg. Efesiers 5:1 Wees dan navolgers van God soos geliefde kinders.
Dieselfde geld vir die ma wat die gesag van haar man nooit voor die kinders moet bevraagteken nie. Ek wil gesag bo my onmiddellik gehoorsaam of ek daarmee saam stem of nie, want dit is wat ek ook wil hê my kinders moet doen vir hulle veiligheid en beskerming. Ek het al tot my skok gesien hoe ouers dit as iets ligtelik afmaak as hulle kinders hulle nie gehoorsaam nie of selfs dink dit is oulik as hulle weghardloop as hulle geroep word. Miskien kan ons iemand skok deur hom mee te deel dat die kind dalk voor ʼn kar kan beland, omdat hy nie onmiddellik reageer as jy hom roep nie. Al gebeur dit nie kan jy verseker wees dat so ʼn kind se bootjie baie vinnig op die rotse sal beland. Ongehoorsaamheid is nie “cute” nie! Daar is geen groter beskerming vir ʼn kind as om te leer om dadelik te reageer as sy ouers praat nie. Hier is ook die ma se optrede teenoor haar man as hoof van uiterste belang. Jy as ma kan seker wees dat as jy jou man se gesag gaan bevraagteken, hom gaan afbreek of sy opdragte gaan ignoreer voor jou kinders, dit presies gaan wees wat jou kinders gaan doen teenoor jou, onderwysers en selfs God se gesag.
In hierdie inskrywing gaan ons eerstens fokus op die rol van die pa as hoof van sy huis.
Pa is die hoof
Die man is die hoof van die huis soos Christus die hoof is van die gemeente. Efesiërs 5:23 Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam. Die man se hoofskap word met die van Christus vergelyk. As die man wil weet hoe om ʼn goeie hoof te wees kan hy na Christus se lewe gaan kyk en dit navolg. Christus het gekom om die liggaam, die Kerk, te verlos. ʼn Pa moet verstaan dat sy grootste taak is om te lewe vir sy gesin. Sy grootste taak is om sy gesin te verdedig en te beskerm teen enige iets wat hulle skade mag doen. Dit begin by die versorging van sy eggenoot. Sy is sy mede-vegter en beskermer en haar gesag moet ook erken word. Die grootste geskenk wat enige pa aan hul kinders kan gee is om hul ma lief te hê. Hulle moet weet dat as hulle haar nie met respek behandel nie, hulle met hom te doen gaan kry en nie op ʼn lekker manier nie. Van my grootste pak slae was omdat ek teë gepraat het teenoor my ma.
ʼn Pa sal elke dag keuses moet maak sodat sy gesin op die beste moontlike manier versorg kan word. Baie pa’s in hierdie wêreld is al te bewus van hierdie feit, maar dit is die gelowige pa wat besef dat versorging veel meer behels as fisiese versorging. Die probleem wat ons baie keer vind is dat pa’s die idee het dat hul belangrikste rol as hoof daar is om vir hulle gesin finansieel te versorg. Al is dit belangrik is dit beslis nie al waaraan hy moet aandag gee nie. Baie pa’s jaag geld na en laat na om aandag aan hul kinders te gee. Baie pa’s het die idee dat as hulle net nou en dan kwaliteit aandag aan hulle kinders gee, dit meer as genoeg is. Die Bybel maak dit duidelik dat my kind saam met my moet leef op ʼn daaglikse basis waarin hy kan leer van die Here. Deuteronomium 6:6-7 En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan. ‘n Goeie leier loop nie alleen voor nie, maar maak seker dat diegene onder sy gesag hom volg. Om dit te bewerkstellig is dit nodig dat die pa betrokke moet wees en sy kinders moet ken. Menigte kinders het vandag probleme a.g.v. afwesige pa’s. Hier praat ek ook van ʼn pa wat by die huis is, maar homself in die aande en naweke voor die tv neerplak, terwyl sy kinders aandag-honger gaan slaap. Die afwesige pa se impak word op verskeie plekke in ons samelewing waargeneem. 70% van mans in die gevangenis het geen vader figuur in hulle lewens gehad nie. Homoseksualiteit vier hooggety as gevolg van afwesige vader figure. Daar is meer as genoeg navorsing gedoen aangaande die rol van die vader in die seksuele ontwikkeling van die kind, binne sowel as buite die kerk, om die erns van die rol van die vader in die kind se lewe te beklemtoon. As jy hoof is, is jy soos wat Christus die verlosser is van die Liggaam, die verlosser of beter gestel, bewaarder, van jou gesin. Ons sal nog oor tug gesels, maar hier reeds is dit nodig om te beklemtoon dat jy nie jou kinders kan tug sonder dat jy genoegsaam aan hulle aandag gee nie. Die kinders sal die tug verwar met aandag en die verkeerde doen om van jou aandag te kry.
Verantwoordelikheid
Hoof beteken dat die finale besluit by jou berus. Moenie wegdeins van hierdie groot verantwoordelikheid of dit na jou vrou oorskuif nie. God het jou die taak gegee – gryp dit met albei hande aan. Geen pa is goed genoeg voorbereid of in staat om sonder foute die hoofskap uit te voer nie. Daarom is dit so belangrik om konstant in gebed te wees vir wysheid en leiding, vir jou huwelik en jou gesin en om in Sy Woord jou toevlug te neem. Gesels met jou vrou en luister na haar advies rakende aandag aan jou kinders. Omdat God haar meer emosioneel gemaak het sal sy baie meer in voeling wees met jou kinders se emosies as jy. Jy het slegs nodig om alleen die finale besluit te neem as jy en jou vrou na ʼn bespreking nie tot ʼn vergelyk kan kom nie. Jy mag dalk vra, wat as ek verkeerd besluit? Besluiteloosheid is egter altyd erger, selfs as om moontlik die verkeerde besluit te neem. Besluiteloosheid skep verwarring en onsekerheid, wat lei tot anargie en elkeen wat doen wat hy/sy dink die beste is. ʼn Volwasse man kan altyd en gaan baie keer terug kom en erken dat sy besluit nie die beste was nie. Selfs my verkeerde besluite weet ek kan God gebruik tot my gesin en my geestelike groei. Romeine 8:28 En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. Iemand wat kan sê ek: “Ek is jammer” stel die voorbeeld van ware nederigheid en gee aan die kind die vrymoedigheid en vryheid om besluite te neem en foute te maak.
Beskerming
Baie het die idee dat om jou huis te beskerm jy vuurwapens nodig het. Die vyand is vir hulle iemand wat hulle kan sien en met wapens kan uitoorlê. Die grootste vyand van my huis is egter die wêreldse leerstelling en aanvalle op Christelike norme en waardes. Hierdie aanvalle is nie fisies nie, maar geestelik en moet geestelik beveg word. Efesiërs 6:12 Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. As hoof wil ek seker maak wat in my huis gelees, gekyk en geleer word. Wat ookal in my huis inkom moet tot opbou en geestelike groei van my kinders en gesin wees. Partykeer het ek nodig om soos Christus die duiweverkopers en die wat handeldryf uit die tempel te dryf en klem lê dat hierdie plek ʼn plek van gebed is. Mattheus 21:12-13 En Jesus het in die tempel van God ingegaan en almal wat in die tempel verkoop en koop, uitgejaag en die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers omgegooi. En Hy sê vir hulle: Daar is geskrywe: My huis moet ‘n huis van gebed genoem word. Maar julle het dit ‘n rowerspelonk gemaak. Die huisgesin is ook die tempel van God en die Kerk in die kleine. Daarom kan ons verseker wees dat die aanval op die gesin fel sal wees. Ons het soos Josua nodig om elke dag voor die wêreld te staan en te bely dat ons en ons gesinne die Here gaan dien. Josua 24:15 Maar as dit verkeerd is in julle oë om die HERE te dien, kies dan vir julle vandag wie julle wil dien: òf die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien het, òf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon; maar ek en my huis, ons sal die HERE dien.
Afhanklikheid
Wanneer jou kinders jou ooit soek in die vroeë oggendure moet hulle ʼn vader vind wat besig is met die Woord van God en in gebed. Jy het leiding nodig by die Alleenwyse en Almagtige God voordat jy die dag kan betree. Hier kan jy verseker vashou aan al die beloftes wat God jou gee aangaande jou gesin en hul redding, die feit dat God in beheer is in tye van nood en skaarste. Hy het jou en jou gesin lief. Soms sal dit nodig wees dat jy en God alleen in gesprek is aangaande moeilike besluite en soms sal jy dit met jou kinders deel. Te alle tye moet jou kinders egter bewus wees van die feit dat alhoewel jy die hoof is van jul huis, God die Hoogste gesag is van jul gesin en dat Hy allereers in alles geëer moet word. So sal julle saam geestelik groei en jou kinders sal eendag op jou geestelike skouers staan en terugkyk na ʼn pad gevul met monumente van waar God voorsien het.
Slot
Die gelowige se huis is gebou op Christus. Die struktuur is ʼn huwelik gebou op grond van God se orde. Hierdie orde geld waar daar slegs een gelowige is of waar albei gelowiges is. Binne hierdie struktuur of raamwerk kan dit ingekleur word met praktiese riglyne wat deur die Woord en ander gelowiges vir ons daar gestel word. Daarsonder sal enige poging verkrummel teen die aanslag van die wêreld. In totale afhanklikheid van God, met die krag van die Heilige Gees is hierdie taak en opdrag moontlik.
Volgende week sal ons meer aandag gee aan die rol van die vrou binne hierdie gegewe struktuur.
