Adam en Eva het twee seuns gehad, Kain en Abel. Kain het die grond bewerk en was ʼn saaiboer, terwyl Abel ʼn veeboer was.
Op ‘n dag het Kain van die vrugte van sy land gebring en dit as ‘n offer aan die Here gegee. Abel het ook ‘n offer gebring: hy het van die eersgeborenes van sy skape geneem, saam met hul vet. God was baie bly oor Abel en sy offer, maar Hy was nie tevrede met Kain en sy offer nie. Dit het Kain baie kwaad gemaak en hy was jaloers omdat sy broer se offer aanvaar is en syne nie.
God het vir Kain gevra waarom hy kwaad is en sy gesig so lank is. God het vir Kain gesê dat, as hy die regte dinge doen, sy offer ook aanvaar sal word. Kain het nie in gehoorsaamheid aan God se opdragte die regte offer gebring nie. God wou Kain waarsku dat die sonde in sy hart hom nog meer verkeerde dinge sal laat doen.
Al het God vir Kain gewaarsku, het Kain sy broer Abel na die veld geneem en hom daar doodgemaak. God het geweet wat Kain gedoen het en het vir Kain gevra, “Waar is jou broer Abel?” Kain het geantwoord, “Ek weet nie; is ek my broer se oppasser?”
God het aan Kain gesê dat Abel se bloed van die grond af roep. Dit beteken dat God geweet het dat Kain Abel onskuldig vermoor het en daarom het God vir Kain gestraf. Al ploeg en bewerk jy die grond, daar sal niks van kom nie, en jy sal rondswerwe en ʼn vlugteling op die aarde wees. Kain het vir God gesê dat sy straf te groot is om te dra en dat enigiemand wat hom vind, hom sou doodmaak. Maar God het Kain ‘n teken gegee om hom te beskerm sodat niemand wat hom vind, hom sou doodmaak nie.
So het Kain weggegaan van die teenwoordigheid van die Here en in die land Nod gewoon, oos van Eden.
