Inleiding
In die vorige inskrywing het ons gesien dat die kinders van gelowige ouers deur God heilig genoem word. Net soos met enige gelowige volg daar dan, tot die dag van ons dood, ʼn proses van heiligmaking. Hierdie proses begin vir die gelowige kind in die ouerhuis. Dit is ʼn goddelike opdrag aan elke ouer om in gehoorsaamheid hul kinders van God te leer en in hul dade ʼn voorbeeld te stel van ʼn goddelike lewe. Die vrugte van hierdie proses sal, soos vir elke gelowige, sigbaar word afhangende van hoe vinnig geestelike groei plaasvind.
Die werking van die Heilige Gees
Ou Testament
Dit behoort vir elke gelowige baie duidelik te wees dat ons tot niks in staat is sonder God wat ons die krag gee nie. Dit is wonderlik om as gelowige te besef dat die goddelike grootmaak van my kinders, soos elke aspek van my geestelike lewe, alleen kan plaasvind omdat my hulp van Hom af kom. Ons vergeet so maklik dat ons as gelowiges gevul is met die Heilige Gees. Die Ou Testamentiese mense was nie permanent gevul met die Heilige Gees nie. Ons vind dat die Heilige Gees slegs op mense gekom het om hulle te help om ʼn spesifieke taak uit te voer. So het ons Besaleël wat gevul was met die Gees om werk aan die tabernakel te verrig. Eksodus 31:2-5 Kyk, Ek het Besaleël, seun van Uri, seun van Gur, van die stam van Juda, by die naam geroep. Ek het hom met die Gees van God vervul – met wysheid, insig en kennis, en met al die nodige vakmanskap, om vindingryke planne te beraam vir die werk met goud, silwer en brons, en vir die bewerking van edelstene vir monterings, en die bewerking van hout, om dit te doen met al die nodige vakmanskap. Ons vind ook manne soos Moses en Josua en baie van die Rigters wat met die Heilige Gees gevul was om die volk te kon lei of, soos in die geval van Simson, hom met bomenslike fisiese krag te vul. In die Ou Testament, in teenstelling met die Nuwe Testament, word die Heilige Gees weggeneem van individue soos ons kan sien in die geval van Simson Rigters 16:20 Toe sy sê, “Die Filistyne is op jou, Simson!” het hy uit sy slaap wakker geskrik en gedink: “Ek sal uitkom soos elke vorige keer. Ek sal myself losruk.” Hy het egter nie besef dat die Here van hom gewyk het nie” en in die geval van Saul 1 Samuel 16:14 “Die Gees van die Here het van Saul gewyk, en ‘n bose gees wat van die Here af kom, het hom beangs gemaak.”
Nuwe Testament
Na die uitstorting van die Heilige Gees op pinksterdag ontvang elke gelowige nou die Heilige Gees om hom/haar in elke faset van hulle lewens te lei en krag te gee om te doen wat God van hulle vra. Ons kan verseker wees dat die Heilige Gees die gelowige nooit sal verlaat nie. Ons weet dat as die Heilige Gees in ons kom woon God Drie-Enig in ons kom woning maak. Johannes 14:23 Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. In dieselfde hoofstuk verseker Jesus aan sy volgelinge dat die Heilige Gees wat van die Vader gestuur word hulle nooit sal verlaat nie. Johannes 14:16 En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ‘n ander Parakleet gee, sodat Hy vir ewig by julle kan wees. So belowe Jesus aan sy volgelinge dat Hy hulle nooit sal begewe en nooit sal verlaat nie (Mattheus 28:20). Ons word ook in Efesiërs verseker dat ons deur die Heilige Gees verseël word en dat Hy die waarborg is van ons erfdeel. Efesiërs 1:13-14 In Hom is julle, toe julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het, verseël met die Heilige Gees, wat beloof is. Die Gees is die waarborg van ons erfenis, om ons los te koop as God se eiendom, tot lof van sy heerlikheid. Aangesien die Heilige Gees in elke gelowige is kan ons dus die opdragte uitvoer wat God aan ons gee met die belofte dat Hy ons deur Sy krag daartoe in staat sal stel.
Goeie werke
Een van die verse wat vir ons soveel gerustheid en versekering as ouers kan gee is sekerlik in Efesiërs. Efesiërs 2:10 Ons is immers sy maaksel, geskep in Christus Jesus om goeie werke wat God voorberei het, te doen, en daarvolgens te leef. Het jy opgelet wat die vers sê? Nie net word ons opgeroep om in goeie werke te leef nie, maar die teks vertel en verseker ons dat hierdie goeie werke alreeds deur God voorberei is sodat ons daarin kan wandel. Wat beteken dit om hierin te wandel? Dit veronderstel dat die opdragte wat ons van God ontvang het, alreeds vir ons moontlik gemaak is. Hier kom ons weer by die vraag: “Ek het die opdrag ontvang om goddelike kinders groot te maak, hoe kan ek seker wees dat ek dit kan uitvoer?” Hy maak dit moontlik! Hoe? Deur ons te vul met sy Gees sodat ons die krag daartoe sal hê en deur dieselfde Gees aan ons kinders te gee sodat hulle geestelik lewend is en dus kan groei. Watter wonderlike gerustheid en vrede kan ons nie nou hê nie, wetende dat as God dit vra, Hy dit ook sal bewerkstellig sodat ek dit in gehoorsaamheid kan uitvoer. As Hy vra dat ek deur die Rooisee moet trek sal hy die Rooisee oopkloof sodat ek in gehoorsaamheid daardeur kan gaan. Met dit in gedagte kom ons kyk na die oproep wat God maak aan die leiers in die kerk.
Goddelike mans
Ons moet nooit enige van God se beloftes meet aan ervarings en ander mense nie. Ons ken nie die harte van mense nie, en dit is ook nie ons opdrag om mense se harte te ondersoek of beoordeel nie. Wanneer dit egter by God se Kerk kom sien ons dat God sekere eienskappe vereis van die leierskap in die kerk, sodat ons seker kan wees of iemand werklik ʼn goddelike man is. Dit beteken nie dat as iemand nie aan hierdie vereistes voldoen hy nie ʼn gelowige is nie, maar wat seker is, is dat iemand wat al gegroei het in geestelike volwassenheid hierdie vrugte moet dra en daarom leiding in God se kerk kan gee. Die ouderling moet dus nie iemand wees wat onlangs tot bekering gekom het nie. 1 Timoteus 3:6 Hy moet nie ‘n pasbekeerde wees nie, sodat hy nie verwaand word, en in dieselfde oordeel as die Duiwel beland nie.
Ons gaan hier spesifiek kyk na die vereistes van ʼn ouderling aangaande die grootmaak van sy kinders. Van hierdie opdragte sal ons meer breedvoerig bespreek as ons by die praktiese grootmaak van goddelike kinders kom. In Titus word vereistes aan die ouderling gestel rakende sy kinders. Titus 1:6 Dit moet iemand wees wat onberispelik is, ‘n man met een vrou, en met gelowige kinders, wat nie van losbandige gedrag beskuldig kan word, of opstandig is nie. Soos hier vertaal baie vertalings πιστά(pista) as “gelowige”. Al die Afrikaanse vertalings deur die geskiedenis vertaal dit as gelowige kinders. Tot van die Engelse vertalings soos die NET, wat dit as “getroue” kinders vertaal, wys daarop dat dit eerder ʼn afleiding is en dat dit as gelowige kinders vertaal kan word. Ongeag of pista as gelowige of getroue kinders vertaal word, die konklusie bly vir my dieselfde, nl. dat hier van gelowige kinders gepraat word, want indien hulle getrou is, aan wie is hulle getrou en hoe kan hulle getrou wees aan goddelike ouers sonder die Heilige Gees wat hulle daartoe in staat stel? Die teks gaan verder om te vereis dat hulle nie van losbandigheid en opstandigheid beskuldig moet word nie. (Hieroor sal ons in volgende inskrywings meer praat.) Wat belangrik is vir hierdie bespreking is dat die kinders van ouderlinge gelowiges moet wees. Aangesien geen ouer hul kinders suksesvol goddelik kan groot maak as God hulle nie reeds wederbaar het en die Gees vir hulle gegee het nie, volg dit logies dat laasgenoemde waar is in die lewe van ʼn gelowige man se kinders. Hier moet ons tog onthou dat elke gelowige die begeerte moet hê om ʼn ouderling te wees en dat wat vir die ouderling geld ook vir elke gelowige geld. Kan jy jouself indink wat sal gebeur as ons werklik erns maak met hierdie kriteria. Hoeveel predikante en pastore, wat ook ouderlinge is, sal nog in die bediening kan staan? Sal ons 10% ouderlinge of selfs minder hê? Baie dink dat om ʼn ouderling so te evalueer oordeel is. Die vraag is of die vereiste deur mense gemaak word of deur God. Baie gelowiges is ontrou in hulle grootmaak van hulle kinders en volg nie God se vereistes na nie. Hulle skep die teelaarde vir kinders om nie toegewyd aan te God leef nie. Met ander woorde, die proses van heiligmaking wat aan die ouer toevertrou is as opdrag van God, word nie nagekom nie en die gevolg is dat daar geen groei en dus geen vrug in hul kinders se lewens sigbaar is nie. Verder as kinders nie toegewyd lewe nie kan ons nie werklik seker wees of die pa werklik ʼn gelowige is nie.
Gelowige vroue
Daar is ʼn wonderlike vers in die Nuwe Testament waar ons ook ʼn belofte ontvang dat gelowige vroue gelowige kinders het. Kom ons gee net eers die agtergrond en die konteks waarbinne ons hierdie teks vind. In hierdie gedeelte wys die Heilige Gees ons dat Paulus nie die vrou toelaat om te leer of outoriteit oor die man uit te voer nie. In die rede wat aangevoer word, word ons terug geneem na die skeppingsverhaal. Ons word verduidelik dat dit nie Adam was wat verlei was nie, maar wel Eva. 1 Timoteus 2:14 En Adam is nie mislei nie, maar die vrou het haar laat mislei, en het ‘n oortreder geword. Dit is waarom die vrou ook nie mag lei nie, aangesien die vrou makliker mislei kan word as die man. God het die vrou meer emosioneel gemaak as die man, ‘n eienskap wat waardevol is vir haar rol in die huisgesin. Haar besluit om die vrug te eet berus in haar emosies. Genesis 3:6 Die vrou sien toe dat die boom goed was om van te eet, dat dit ‘n lus was vir die oog, en dat die boom begeerlik was om ‘n mens insig te gee. Sy het van die vrugte daarvan geneem, dit geëet en ook vir haar man by haar gegee, en hy het geëet. Adam vervul hier ook nie die rol waarin God hom geplaas het nie. Hy moes as hoof hier die een wees wat sy vrou beskerm het, maar ons sien hom doodstil langs sy vrou sit sonder om enigsins in te tree en haar te beskerm. Die ongehoorsaamheid van Eva veroorsaak die sondeval en elke kind wat hierna uit ʼn vrou (d.w.s. alle kinders) in die wêreld gebore sal word sal die gevolge van haar dade dra. Psalm 51:7 Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang. Paulus gaan dan voort om aan die vrou te toon hoe sy deur haar lewe herstel kan bring. 1 Timoteus 2:15 Maar sy sal gered word deur kinders te baar, as hulle bly in geloof en liefde en heiligmaking, met ingetoënheid. Die woord “gered” in die konteks het nie te make met die geestelike verlossing nie, maar eerder met die herstel wat haar lewe sal bring. Die Griekse woord σῴζω(sózó) word in die Nuwe Testament vir verlossing, herstel of bewaring gebruik. Dus het ons nodig om na die konteks te kyk wat beslis nie wil sê dat ʼn vrou geestelik gered word deur kinders in die wêreld te bring nie. Hierdie gedeelte wil aan die vrou kommunikeer dat sy herstel kan bring van Eva se sonde deur kinders groot te maak wat godvresend lewe. Haar kinders word onder andere genoem, gelowig en heilig. Die heilig en gelowig word hier nie as ʼn werkwoorde geskryf nie, maar as abstrakte selfstandige naamwoorde en dus maak hierdie gedeelte dit duidelik dat elkeen van hierdie woorde kinders beskryf wat alreeds gelowiges is. Dat hulle daarin sal bly is ʼn sekerheid aangesien ons weet dat dit is wat die Woord vir ons belowe. Hier is tog ook ʼn waarskuwing dat die vrou nie ligtelik met hierdie opdrag moet omgaan nie en dat sy dit as haar roeping moet sien. Elke keer in die Nuwe Testament waar daar ʼn soortgelyke waarskuwing is, is dit duidelik vanuit die konteks dat dit van toepassing is op individue wat in die kerk sit en dink dat hulle gelowiges is, maar hulle lewens wys die teendeel.
Slot
Met hierdie belofte en wetende dat die Heilige Gees in my is en my die krag sal gee om te doen wat God van my vra kan ek hierdie opdrag uitvoer. Nie net het ek as ouer die Heilige Gees nie, maar ook my kinders het die Heilige Gees wat hulle sal lei, aangesien elke gelowige vervul is met die Heilige Gees. As die vervulling van kinders deur die Heilige Gees vreemd klink kan Johannes die Doper, die aankondiger van die nuwe verbond, dit net weer bevestig. Lukas 1:15 Inderdaad, hy sal groot wees in die oë van die Here. Hy sal glad nie wyn en gegiste drank drink nie, en hy sal reeds van voor sy geboorte af met die Heilige Gees vervul wees. Maria, reeds swanger met Jesus, besoek vir Elisabet, die moeder van Johannes, wat dan getuienis lewer van wat binne haar gebeur die oomblik toe sy Maria se groet hoor. Lukas 1:44 Kyk, net toe ek jou groet hoor, het die kindjie in my moederskoot van uitbundige blydskap opgespring. God het nie vir die gelowige ouer doodsbeendere gegee, met die onmoontlike opdrag en onbillike vereistes om hulle goddelik groot te maak nie. Inteendeel, Hy skenk aan die gelowige ouer die ongelooflike gawe van Sy kinders in jou huis. Die wêreld se aanslae sal kom en sekere invloede maak die taak sekerlik al hoe moeiliker, maar ons het die opdrag ontvang om nat te lei en te bemes, die onkruid uit te haal en die indringers weg te hou. God belowe dat Hy jou die wysheid en insig sal gee om dit te doen in gehoorsaamheid. Ja, ons maak foute en is swak in ons menswees, maar Hy is getrou en in Sy almag sal Hy die saadjies laat groei en die vrug laat verskyn.
