In die Begin het God alles Gemaak

Lank, lank gelede was die aarde net een diep, donker watermassa. Voordat daar enigiets was –  geen bome, diere, of selfs lig – was daar net God. God het besluit om ‘n pragtige wêreld te maak.

Op die eerste dag het God lig gemaak. Hy het gesê: “Laat daar lig wees!” En skielik was daar lig en donkerte. Hy het die lig dag genoem en die donkerte nag.

Op die tweede dag  het God die lug gemaak. Hy het ‘n ruimte gemaak tussen die waters, wat alreeds daar was en dit lug genoem.

Op die derde dag het God die land en die see geskep. Toe het Hy besluit om die land mooi te maak met plante, bome en blomme.

Op die vierde dag het God die son, maan en sterre gemaak om die dag van die nag te skei en om lig te gee.

Op die vyfde dag het God al die visse in die see en die voëls in die lug gemaak.

Op die sesde dag het God al die diere gemaak wat op die land loop. Toe het God iets baie spesiaal gemaak: die eerste mens, Adam. Hy het Adam uit die grond gemaak en hom lewe gegee. God het vir Adam gesê hy mag sorg vir alles wat Hy gemaak het.

Nadat alles gemaak was, het God gesê dit is baie goed. Toe, op die sewende dag, het God gerus en gesê dat hierdie dag spesiaal is.

‘n Tuin vol Wonders

God het ‘n pragtige tuin gemaak, die Tuin van Eden, vir Adam om in te woon. Daar was allerhande bome, vrugte en diere. God het vir Adam gesê hy mag enige vrug eet, behalwe die vrug van een spesifieke boom.

God het gedink Adam moet nie alleen wees nie, so, Hy het ‘n slaap oor Adam gebring en een van sy ribbes geneem. Uit daardie rib het God ‘n vrou, Eva, gemaak om Adam se maat te wees. Adam en Eva het saam in die tuin geleef, gesorg vir die diere en plante, en gelukkig saam met God gewandel.

En so begin die storie van alles, met ‘n wonderlike wêreld gemaak deur God, vol van liefde en skoonheid.