Hosea 12

Inleiding

Wie is jy? So dikwels moet ons vraelyste invul waarop die vraag rondom ons identiteit in ons geloof gevra word. Moslem, Hindu, Christen, ateïs, … is deel van die opsies. So baie mense vul vandag in ‘Christen’, bloot omdat hulle nie een van die ander is nie. Dis ‘n vae bekendheid met die Bybel, Jesus en die Skepping, maar die essensie van wat dit beteken om ʼn Christen te wees is nie eers ʼn gedagte nie. Dit lyk asof dit dieselfde probleem is as wat in Hosea 12 deur die profeet aan die volk voorgehou word. Hulle staan bekend as die volk van God en voel selfs trots daarop, maar wat dit behels in terme van hul dade is by die meeste nie eers ʼn gedagte nie. 

God of die wêreld?

Hoe kan dit wees dat ʼn volk soos Israel en Juda hulle vertroue kon plaas in die beloftes van God sonder om die opdragte na te kom wat saam met die beloftes gaan. Hulle het geroem dat hulle aan die volk van God behoort en dat God hulle God is en tog het hulle goddelose lewens gelei en in hulle sondes voort geploeter. Daar is so baie vandag in kerke wat dieselfde doen. Hulle hou vas aan hulle doop, net soos Israel aan sy besnydenis, en tog wys hulle lewens dat dit slegs ʼn uitwendige teken was en ver verwyder is van die realiteit van hulle innerlike lewens. Hulle kom kerk toe net om in die erediens te sit terwyl hulle die volgende besigheidstransaksie beplan, die week se beplanning doen of dagdroom oor wêreldse dinge. God kla hierdie volk aan dat hulle besig is om die oostewind te agtervolg. Die oostewind het in Israel net droogte en storms gebring. Hulle lewens word gekenmerk deur hul beheptheid met nietige dinge (die wind) wat geen betekenis het nie en hulle op die ou ent in ellende en verwoesting sal stort. 

Hierdie volk maak vriende met diegene wat God haat. Hulle het lief dit wat vir God afstootlik is. Jesaja 5:20 Wee hulle wat die slegte dinge goed noem, en die goeie dinge sleg, hulle wat die duisternis tot lig maak en die lig tot duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter. Hulle maak vriendskappe met die Assiriese magte en gee ironies dit waarmee God hulle geseën het,  nl. die olie, as omkoop geskenk aan die Egiptenare om hulle guns te wen. Die mens kan eenvoudig net nie sy vertroue in God alleen plaas nie. Nee, ons plaas ons vertroue in die wêreldse heersers en mense, mense wat self in alles van God afhanklik is. Ons vra paniekerig: “Wat as God nie vir ons deurkom nie? Wat as God ons in die steek laat?” Kan jy dink dat hierdie volk kan bely dat hulle aan God behoort en tog deur hulle lewens aan die wêreld wys dat hulle ʼn “dooie god” aanbid. Onder wie se beskerming lewe jy? Waarin het jy jou vertroue geplaas? 

Deur God gekies

God het nie net ʼn probleem met Israel nie, maar ook met Juda. Hulle moes nie vir een oomblik dink dat hulle vry sou wees van God se oordeel omdat die tempel nog in hulle midde was en hulle nog vasgehou het aan die Godgegewe instellings en gebruike nie. God sou hulle oordeel volgens hulle dade. Dit is die vraag wat Jakobus onder leiding van die Heilige Gees vir sy leser ook vra. Jakobus 2:14 Wat baat dit, my broers, as iemand sê dat hy geloof het, maar hy het nie dade nie? Dié geloof kan hom tog nie verlos nie? Het Jakob a.g.v. sy eie toedoen oor sy broer geheers is die vraag aan die hoorder. God neem hulle terug na die geboorte van Jakob en Esau en wys dat die gryp van Jakob aan Esau se hakskeen dui op die Goddelike ingryping en uitverkiesing van God. Dit is dan ook die argument van Maleagi as hy aan die volk die volgende sê: Ek het julle lief, sê die Here, maar julle vra: Hoe het U ons lief? Die uitspraak van die Here is: Is Esau nie Jakob se broer nie? Tog het Ek Jakob lief. Maleagi 1:2. Voor hierdie klein babatjies enige keuse wat hul eie kon maak het God alreeds Sy besluit geneem. In Romeine 9 sal Paulus weer hierdie gedeelte aanhaal en dan vra of God onregverdig is. Is dit nie die vraag wat so baie vra nie? Is dit dalk jou vraag? Miskien is jy ontevrede en kwaad dat God die keuse kon uitvoer sonder dat hulle nog self die besluit kon neem. “Here, hulle is onskuldige babas” is die ontsteltenis. Niks kan verder van die waarheid wees nie. Psalms 51:7 Kyk, in sondeskuld is ek gebore, sondig toe my moeder met my swanger geraak het. Paulus het alreeds in die voorafgaande hoofstukke van Romeine daarop gewys dat niemand God op sy eie inisiatief sal kies nie en dat elke mens, indien die keuse aan hulle alleen oorgelaat word, teen God sou kies. Die besluit van God om Jakob te kies en nie Esau nie, is dus nie onregverdig nie, want dit sou veronderstel dat albei vir Hom sou kies indien die keuse aan hulle oorgelaat was, maar is ʼn teken van God se genade. Hosea verwys dus na die gryp van Jakob aan sy broer se hakskeen as ʼn bewys van God se genade en nie dat Jakob beter as Esau was nie. Waarom sou Jakob dan hoogmoedig wees as hy niks gedoen het waarop hy kan roem nie. Efesiërs 2:8-9 Want uit genade is julle verlos, deur geloof. En juis dit kom nie uit julle self nie; dit is die gawe van God. Dit kom nie uit eie werke nie, sodat niemand op iets mag roem nie.

Die volk is egter niks soos hulle vader Jakob nie. Jakob het met die Engel geworstel. Hierdie Engel word vir ons aangedui as Jahwe, die lewende God, self. Hier is nog ʼn aanduiding van die tweede persoon van die Drie-Eenheid wat aan Jakob verskyn het en hom toegelaat het om met Hom te worstel. In die verhaal is dit baie duidelik dat God hom toelaat aangesien God net met ʼn aanraking sy heup uit lid laat gaan. Genesis 32:25 Toe hy sien dat hy Jakob nie kan oorweldig nie, het hy hom op sy heupgewrig getref. Jakob se heup is in die worsteling met hom ontwrig. Die Hebreeuse teks, sowel as die LXX, gebruik die woord “aanraak” om aan te toon hoe God sy heup ontwrig het. Jakob het by God geween en God gesmeek. Was dit ʼn kenmerk van hierdie volk wat Jakob hulle vader genoem het? Was hulle in gesprek met God en in smeking voor Hom? God het aan Jakob bekend gemaak dat Hy Jahwe is –  Hy is die Verbondsgod. Die God wat in ʼn verhouding met die mens wil wees. Watter geleentheid is daar nie vir hierdie volk nie? Sou hulle dit nie sien as ʼn voorreg dat God met hulle bemoeienis wil maak nie? Daarop roep die profeet die volk op om terug te keer en hulle hoop op God te plaas. Dit is ook die oproep van die God aan die hoorders van Hebreërs, Joodse mense wat wou terugkeer na hulle ou Joodse gebruike. Hebreërs 4:6-7 Aangesien dit dan bly staan dat sommige wel daar sal ingaan – hoewel hulle wat eerste die goeie boodskap gehoor het, vanweë ongehoorsaamheid nie ingegaan het nie – bepaal Hy weer ‘n sekere dag, dit is “vandag”, wanneer Hy baie later, soos hierbo reeds genoem, deur Dawid sê: Vandag, as julle sy stem hoor, moenie julle harte verhard nie!

Deur God geheilig

Hoe tragies dat hierdie volk wat alles uit God se hand ontvang het, geroem het dat hulle dit deur hulle eie toedoen verwerf het. Kan jy hulle hoor? “Ons het hard gewerk vir wat ons het, ons het ons verstand gebruik, ons het goeie besluite geneem en daarom het ons alles vermag van ons vandag het.” Hulle is selfvoldaan. God herinner hulle dat dit Hy was wat hulle uit Egipte gebring het. Hy is die oorsprong van hul verlossing. Hy het hulle aan Hom gebind deur sy verlossing en hulle behoort aan Hom. God sal nog steeds bemoeienis met hulle maak al het hulle Hom verlaat. Hy sal weereens die inisiatief neem in hulle verlossing. Hy sal hulle weer in tente laat woon en laat besef dat hulle van Hom afhanklik is. Hy sal profete stuur, gesigte vermeerder en deur middel van gelykenisse van die profete spreek tot hulle. Watter genadige God is Hy nie? Te midde van hulle oortredings reik Hy nog steeds na hulle uit. Weer laat God hulle let op hulle vader Jakob. Jakob was niks besonders nie, hy was ʼn vlugteling in Aram en het skape opgepas vir ʼn vrou. Hierdie vader van hulle was niks spesiaal nie. Hy het niks bereik wat van enige waarde was nie. Hy was soos ʼn slaaf in ʼn vreemde land. Met hierdie vergelyking gaan hy hulle nou weer herinner dat, net soos Jakob, hulle ook niks besonders nie. Deuteronomium 7:6-8 want jy is ‘n heilige volk vir die Here jou God. Vir jou het die Here jou God gekies uit al die volke op aarde om as volk sy persoonlike eiendom te wees. Dit is nie omdat julle groter was as al die ander volke dat die Here Hom aan julle verbind en julle uitgekies het nie – julle was immers die kleinste van al die volke. Nee, dit is omdat die Here julle liefgehad het en omdat Hy gebly het by die eed wat Hy vir julle voorvaders afgelê het dat die Here julle met ‘n sterk hand laat wegtrek en julle vrygekoop het uit ‘n plek van slawerny, uit die mag van die farao, die koning van Egipte.

Alles wat jy het en alles wie jy is het jy te danke aan God. Die feit dat jy as ʼn Koningskind bekend kan staan, is omdat Hy jou uitverkies en die gawe van geloof in Hom geskenk het. Jy is nou spesiaal omdat Hy jou syne gemaak het en God sal net soos met die volk, met jou die pad stap totdat Hy jou kom haal. Die werk wat Hy in jou begin het, sal Hy volbring. 

Slot

God sou met sy volk aanhou ten spyte van hulle oortredings. Hy sou hulle tug met die roede en hulle herinner dat hulle afhanklik is van Hom. Die volk van God was deur God op ʼn fisiese manier gered en op fisiese maniere versorg en geseën, maar almal van die volk was beslis nie geestelik gered nie. Dit maak Paulus ook duidelik in Romeine 9-11. Hierdie volk is ʼn voorbeeld vir ons as God se kinders dat God ook nooit sal ophou met ons nie. Hy sal ons tug en kasty, beskerm en bewaar tot met sy wederkoms. Wees verseker dat as jy in sonde volhard God jou nie daarin sal los nie. As jy bely dat jy  gelowige is en in sonde volhard sonder dat God jou straf tot ʼn terugkeer en berou, is jy beslis nie ʼn verloste van die Vader nie. God wat die werk in jou begin het beloof ook dat Hy jou enduit sal lei totdat Hy jou vir ewig kom haal. Filippense 1:6 juis hiervan oortuig dat Hy, wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voltooi tot op die dag van Christus Jesus.