Inleiding
Hosea 11 is ʼn liefdesbrief. Nie die moderne weergawe van soetsappige, oppervlakkige liefde wat net uitgestort word op die mooiste en die waardevolste en vergaan sodra dit enige weerstand ondervind nie, maar God se weergawe van liefde vir ʼn volk wat dit nie verdien nie, wat dit nie waardeer nie en wat dit aanvanklik nie verstaan nie. God wat weet wat die beste vir hulle is, moet telkens toekyk hoe hulle deur hul rebelsheid hulself vernietig deur ander gode te dien en sonde te doen. Sy liefde word nog duideliker wanneer Hy hulle straf om sodoende terug te bring en hulle uiteindelik in triomf, soos ʼn leeu lei. Goddelike liefde is ware liefde. Dit kies, dit versorg, dit straf, dit vergewe en dit verower.
God kies
In die begin van Hosea 11 word ʼn profesie uitgespreek wat nie net ʼn verwysing is na wat met Israel gebeur het toe God hulle uit Egipte uitgelei het nie, maar ook ʼn heenwysing is na ʼn “groter seun” wat uit Egipte uitgelei sal word. Hierdie profesie word deur Mattheus aangehaal. Mattheus 2:15 Hy het daar gebly tot Herodes se dood, sodat die woorde vervul sou word wat die Here deur die profeet gesê het: Uit Egipte het Ek my Seun geroep. Jesus is die enigste ware Seun van God, terwyl Israel en ook die Kerk aangenome kinders van God is. Dit is baie duidelik vanuit die Skrif dat Israel niks besonders was toe God hulle gevind en Sy liefde oor hulle uitgestort het nie. Hulle het niks opsigself gehad dat hulle bewonder moes word nie. Esegiël 16:6 Ek het by jou verbygegaan, jou sien spartel in jou bloed. Ek het vir jou, waar jy in jou bloed lê, gesê, Bly leef! Ja, Ek het vir jou, waar jy in jou bloed lê, gesê, Bly leef. Net so is die gelowige voor die grondlegging van die wêreld gekies, nie op grond van wie hulle sou wees nie, maar op grond van God se liefde wat Hy oor ons uitgestort het. Efesiërs 1:4 So het Hy ons voor die grondlegging van die wêreld in Hom uitgekies, sodat ons heilig en onberispelik in liefde voor Hom sou wees, nadat Hy ons voorbestem het om ons deur Jesus Christus as sy kinders aan te neem, soos Hy dit volgens sy wil goedgedink het, tot lof van die heerlikheid van sy genade, waarmee Hy ons in die Geliefde begenadig het. Niks wat in hierdie gedeelte aan ons geskryf word aangaande God se uitverkiesende genade vertel ons enigsins iets van ons eie waarde of enige iets wat in onsself was wat veroorsaak het dat ons uitverkies is nie. Daarom, net soos Israel uitgeroep is uit slawerny, is ons ook uitgeroep uit slawerny deur God se enigste Seun. Deur Sy werk aan die kruis is ons ook mede seuns en dogters van die Vader.
God versorg
Die Skrif gaan ook verder en profeteer dat God al vir Israel liefgehad het voor hulle na Egipte gegaan het. In die LXX (Griekse vertaling van die Ou Testament) word na die kind verwys as ʼn baba. Dit stem ooreen met wat die Bybel ons leer, nl. dat God reeds die besluit aangaande hierdie volk gemaak het toe Hy vir Abram die eerste keer geroep het. Selfs die verandering in sy naam sou hom herinner dat God uit hom ʼn groot nasie sal maak. Genesis 17:5 Jy sal nie meer Abram genoem word nie. Jou naam sal Abraham wees, want vader van ‘n menigte nasies maak Ek jou. Die liefde van God vir Israel was voor hul uittog uit Egipte. Ons word net so verseker van God se liefde vir ons voordat enige een van ons verlos is. Johannes 17:23 Ek in hulle en U in My, sodat hulle volledig een kan wees en die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefgehad het, net soos U My liefgehad het.
As ons God se liefde deur die Ou Testament aanskou en Sy bemoeienis met ʼn hardnekkige volk gaan dit ons verstand te bowe dat God se liefde deur die volk in die wind geslaan is. Hoe meer God hulle gewaarsku het en hoe meer Hy aan hulle sy liefde openbaar het, hoe meer het hulle gehunker na afgode en hulle rûe op die profete gekeer. In my geestesoog sien ek God as ʼn vader van ʼn aangenome kind wat al die foto’s van hom uithaal en die verhale aan hom meedeel van toe hy nog ʼn baba was. Foto’s van hoe Hy hom leer loop het en in Sy arms gedra het. ʼn Vader wat sy kinders versorg het en as hulle siek was na hulle omgesien en laat nagte opgebly het. Kyk hoe mooi beskrywe God hierdie liefdesdaad van Hom teenoor hierdie volk in Deuteronomium. Deuteronomium 32:10 Hy het sy volk in ‘n woestynland gevind, in ‘n onherbergsame streek met die wildernis se gehuil. Hy het hom omring, hom versorg, hom beskerm soos die appel van sy oog. Soos ‘n arend sy neskuiken aanspoor, bo sy jong kuiken fladder, sy vlerke oopsprei en hom vang, hom op sy penvere dra.
God straf
God het alle reg gehad om hierdie ondankbare aangenome kinders sleg te behandel na aanleiding van hulle volgehoue sonde. Hy kon hulle as slawe verkoop het of hulle uitgewis het. God het aangehou om in liefde na hulle uit te reik. Hy het hulle hanteer soos ʼn liefdevolle vader. Dit is dan ook God se waarskuwing aan die gelowiges. Hy sal ook soos ʼn liefdevolle vader teenoor hulle optree – ʼn vader wat in liefde sy kinders waarsku en tug. Hebreërs 12:5-6 En julle het die aansporing wat julle as kinders aanspreek, heeltemal vergeet: My seun, moenie die dissiplinering van die Here geringskat nie, en moenie moedeloos word wanneer jy deur Hom bestraf word nie; want die een vir wie die Here liefhet, tug Hy, en Hy straf elke seun wat Hy aanneem. God maak dit duidelik dat die bewys dat Hy ʼn goeie en liefdevolle vader is, juis is dat Hy vermaan en tug. ʼn Vader wat sy kinders nie lief het nie sal hulle nie straf nie. Hoe teen die denke van ons dag gaan God se Woord nie in nie? Die wêreld se wysheid is dat kinders groot gemaak moet word sonder enige tugtiging, terwyl God dit duidelik maak dat ʼn vader wat sy sout werd is sy kinders sal onderrig met vermaning en met tug. Hebreërs 12:7-8 Verdra dit as tugtiging, want God behandel julle as sy seuns. Want watter seun word nie deur sy vader getug nie? Maar as julle sonder tugtiging is, waaraan almal deel gehad het, dan is julle oneg, en nie egte seuns nie. Tugtiging het nie plaasgevind in haat nie, maar juis in liefde. God het Homself neergebuig na hierdie volk om hulle te versorg en te omvou met sy liefde. Het die volk hierdie liefdesdaad van God waardeer? Het hulle met vreugde hulle dae deurgebring en in gehoorsaamheid geleef teenoor hierdie grote God wat hulle in sy liefde omvou het?
Alles behalwe! Daarom kondig God aan dat Hy aan die Assiriese ryk die reg sal gee om oor hulle heerskappy te voer. Nadat die profeet hierdie boodskap aan hulle gegee het, sal jy dink dat dit nou die einde van hierdie volk sou wees. As God hierdie volk totaal afgeskryf het, na ʼn liefdespad van meer as 500 jaar, sou ons verklaar dat God alles moontlik gedoen het en dat Hy die reg het om alle bande met hulle te breek. Die verklaring van hulle oorgawe aan die Assiriese ryk is egter skaars gemaak of die boodskap van genade word weereens verkondig. God se genade verras ons dwarsdeur die bladsye van die Ou Testament en dan praat ons nie eers van die Nuwe testament nie.
God vergewe
God sal hulle beslis nie uitwis nie. Hy sou nooit hierdie liefdesband wat Hy gesmee het verbreek nie. Hy verklaar dat Hy weereens die inisiatief sal neem en sal uitreik na hierdie volk. Hy sou hulle nie geheel en al vernietig soos Hy gedoen het met Adma en Sebóim nie. Adma en Sebóim was die plekke saam met Sodom en Gomorra wat God uitgewis het. Deuteronomium 29:23 Dit is net swael en sout; die hele gebied is verskroei. Daar word nie geplant nie en niks groei daar nie; geen groenigheid kom eers op nie. Dit is soos met die verwoesting van Sodom en Gomorra, soos met Adma en Sebojim wat die Here in sy toorn en woede verwoes het. God kondig deur die profeet aan dat sy hart omgekeer is binne in Hom en dat Hy medelyde met hulle het. God is die God wat medelyde het met Sy kinders. Hy is die herder wat die een skaap gaan soek en blyer oor hom is as oor die nege en negentig regverdiges wat nie bekering nodig het nie. Net tog belangrik om daarop te let dat hierdie regverdiges waarna Jesus verwys dieselfde groep is waarna Jesus verwys as Hy aan sy volgelinge sê dat Hy nie gekom het om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering te roep. Matteus 9:13 Gaan leer wat beteken, Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie. Ek het immers nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars. Aangesien dit baie duidelik vanuit die Skrif is dat daar niemand regverdig is nie en dat almal bekering nodig het, wys hierdie gedeeltes na die Fariseërs wat hulleself as regverdig beskou het teenoor die tollenaars en die sondaars.
God verower
Die herstel sal plaasvind en God sal voor sy volk uitloop en hulle sal Hom volg in vrees. Hy is die leeu wat voor hulle sal uitloop wat hulle in vrees sal volg. Die leeu wat voor hulle loop is ook die Lam wat hulle sondes sou dra aan die kruis, sodat hulle in Hom vergifnis sou ontvang. Daarom word Hy in Openbaring beskrywe deur albei hierdie metafore. Openbaring 5:5-6 Toe sê een van die ouderlinge vir my: Hou op huil! Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die wortel van Dawid, het oorwin, sodat Hy die boekrol en die sewe seëls daarvan kan oopmaak. En ek het tussen die troon en die vier lewende wesens, en tussen die ouderlinge, ‘n Lam, soos een wat geslag is, sien staan. Hy het sewe horings en sewe oë gehad – die sewe Geeste van God – wat oor die hele aarde heen uitgestuur is. Hy is die leeu en ook die lam. Daarom is ons as gelowiges mense wat God kan volg met vrees en in liefde. Hierdie twee gedagtes weerspreek mekaar nie, maar word in een persoon vervul. Die gelowige lê klem op elke deel van God se karakter soos deur Hom geopenbaar in sy Woord. Die beelde van die lam en die leeu gee my as gelowige gerustheid en vrede. Hy is die leeu wat brul en sy kinders sal Hom volg. Hy is die goeie Herder van Johannes 10 wat voor sy skape uitloop en hulle volg Hom want hulle ken Sy stem. Johannes 10:4 Wanneer hy al sy eie skape uitgelei het, gaan hy voor hulle uit, en hulle volg hom, omdat hulle sy stem ken. Elke beeld in die Ou Testament word in Christus vervul.
Slot
Gelowige, voor die grondlegging van die aarde is jy alreeds gekies om aan God te behoort. Nie oor wie jy is nie, maar oor wie Hy is en volgens Sy wil. Jy is nie spesiaal en daarom is jy gekies nie, Nee, jy is spesiaal omdat jy gekies is. Jy is nou saam met Christus ʼn erfgenaam van die Lewende God! God het jou deur jou jare van rebellie – dalk was dit kort en dalk het jy eers laat in jou lewe wedergeboorte ervaar – reeds versorg en liefgehad. Wanneer jy in rebellie jou vuis teen Hom gebal het en ander dinge belangriker as Hom geag het – jou vriende, geld, beroep en aansien, het Hy jou getug en gewaarsku. Net by Hom is daar ware liefde. Hierdie liefde sal jou verower op ʼn wonderlike manier. Nie deur geweld teenoor jou nie, maar deur die geweld van die Kruis. 1 Johannes 4:8-10 Hierin is die liefde van God aan ons geopenbaar: dat God sy unieke Seun na die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan leef. Hierin bestaan die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het, en sy Seun gestuur het as versoening vir ons sondes. Laat ons nou die Leeu volg in vrees en aanbidding.
