Hosea 10

Inleiding

Die profeet beskryf Israel as ʼn “welige wingerdstok”. Hierdie land wat God aan Israel beloof het sou ʼn land wees wat oorloop van melk en heuning. Dit sou ʼn land wees wat deur God geseën sou word. Die interessante van die grondgebied van Israel is dat dit nie soos die lande van Babilon en Egipte riviere het wat hulle voed nie. Israel het die Jordaan wat aan die ooste van die land is en die see aan die Weste. Die grootste deel van die stamme se grond was totaal afhanklik van reënval om opbrengs te lewer. Hulle was dus afhanklik van God vir elke jaar se oes. In Hosea wys die profeet daarop dat rykdom en voorspoed dikwels, in plaas van dankbaarheid teenoor God, hoogmoed en trots by die mens veroorsaak. Hierdie boodskap word oor en oor herhaal wanneer God waarsku teen Mammon en geldgierigheid.

Ware geloof

Die volk het gelewe asof hulle heeltemal onafhanklik van God was. Hoe meer God voorsien het, deurdat hulle lande vir hulle groter opbrengs gelewer het, hoe meer het hulle afgode toegeneem. Dit is die gevaar waarteen Jesus waarsku as Hy aan sy volgelinge sê dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan as vir ‘n ryk mens om in die koninkryk van God in te gaan. Mattheus 19:24. Hoe maklik is dit nie vir ʼn ryk man om al sy vertroue te plaas in sy eie voorspoed nie. Die ryk man verklaar so maklik dat alles wat hy het te danke is aan sy harde werk en innovasie. Die harte van die mense van Israel was vals. Al hulle liefdesverklarings teenoor God was leeg en sonder enige waarde. Geen mens weet wat in ʼn ander persoon se hart aangaan nie. Jeremia 17:9 Die hart is bedriegliker as alles; dit is ongeneeslik. Wie kan die hart verstaan? Net die Here wat harte deursoek weet wat in elke mens se hart opgesluit is. God het geweet dat hierdie volk liefdesverklarings maak, maar dat dit alles net lippediens was. Jesaja 29:13 My Heer het gesê: Omdat hierdie volk My nader met hulle mond en met hulle lippe My eer, maar hulle hart ver is van My, en hulle ontsag vir My bloot ‘n aangeleerde menslike gebod. Jesus haal hierdie gedeelte van Jesaja aan as hy met die Jode van sy dag praat en hulle aankla dat hulle nog steeds besig is met ʼn godsdiensbeoefening. Matteus 15:8 Hierdie volk eer My  met die lippe, maar hulle harte is ver van My af; tevergeefs vereer hulle My, want hulle onderrig  as leerstellings  die voorskrifte van mense. Terwyl jy Sondag dus mooi belydenisse kan maak en mense kan flous is die vraag of jy deur die week leef dit wat jy op Sondae bely. Glo jy werklik dat God 24uur van die dag by jou is en dat jy elke sekonde in sy teenwoordigheid wandel? My lewe wys vir die wêreld wat ek werklik glo. Die Jode se lewens het gewys dat hulle ʼn “klein god” aanbid het wat hulle kon inkleur soos hulle wou en wie hulle kon aanbid soos wat hulle gepas het.

Leë woorde

Sou God hiermee tevrede wees? “Beslis nie”, is die antwoord van die profeet gedrewe deur die Heilige Gees. God sal al hulle plekke van aanbidding uitwis en hulle so verwoes dat die volk sal erken dat hulle selfs nie meer ʼn koning het nie a.g.v. al hul oortredings. Die tragiese is dat hulle dit sal bely sonder enige hartsverandering. Hulle sal meer bekommerd wees oor hul afgode wat hulle in die vreemde land nie meer sal kan dien nie. Kan jy jouself indink dat iemand wat weet en bely dat dit waardeur hy gaan a.g.v. God se straf is, hom nogtans nie bekeer nie? Alles was maar net leë woorde. Dit laat my so aan Saul se verklarings dink. Saul het Dawid gehaat aangesien hy geweet het dat Dawid vir hom en sy gesin ʼn bedreiging was ten opsigte van die koningskap. Twee keer spaar Dawid Saul se lewe. Na die eerste keer wat Dawid sy lewe spaar doen Saul ʼn belydenis en maak hy ʼn verklaring wat enige mens se hartsnare sal roer. 1 Samuel 24:17-19 … het Saul gevra: Is dit jou stem, my seun Dawid? Saul het hardop begin huil en vir Dawid gesê: Jy is regverdiger as ek, want jy het aan my goed gedoen terwyl ek aan jou kwaad gedoen het. Jy het dit vandag duidelik gemaak dat jy aan my goed doen, dat die Here my in jou hand oorgelewer het, maar dat jy my nie om die lewe gebring het nie. En tog, net ʼn kort tyd later, word Dawid weer deur Saul vervolg met die enkele oogmerk om Dawid dood te maak. Weer maak Saul die wonderlikste liefdesverklaring. 1 Samuel 26:21 Toe sê Saul: Ek het gesondig! Kom terug, my seun Dawid, want ek sal jou nie meer kwaad aandoen nie, omdat my lewe vandag kosbaar was in jou oë. Kyk, ek het dwaas opgetree en die spoor heeltemal byster geraak. Dit is tog interessant dat Dawid elke keer, nadat Saul die liefdesverklarings maak, sy eie koers gaan. Dawid het geweet dat al hierdie verklarings van die koning sonder enige inhoud was. Dade speek harder as woorde.

Wraak

God sal wraak neem. ʼn Wraak van God sal op die mense neerkom wat so vreesaanjaend sal wees dat mense na die berge en heuwels rondom hulle sal kyk en wens dat dié hulle sal bedek. Dit is die kreet wat elke keer met God se straf sal uitgaan. Jesus waarsku die vroue wat weeklaag oor Hom dat hulle eerder moet huil oor hulle en hulle kinders, aangesien daar  ʼn oordeel sal kom. Lukas 23:30 Dan sal hulle vir die berge begin sê, Val op ons! en vir die heuwels, Bedek ons! Met die vernietiging van die aarde en alles wat daarop is, as Christus weer sal kom op die wolke sal hierdie die kreet van die ongelowiges wees. Hierdie profesie het gedeeltelik in vervulling gegaan met die verwoesting van Jerusalem in die jaar 70nC. Josefus, die geskiedskrywer, berig dat meer as ʼn miljoen mense hulle lewens verloor het. Die finale vervulling van hierdie belofte sal plaasvind wanneer Christus weer sal kom. Hierdie dag sal al die ongelowiges op aarde, van die konings tot die slawe, uitroep dat die berge en kranse hulle moet bedek van die toorn van die Lam. Openbaring 6:16-17 Hulle het na die berge en kranse geroep: Val op ons, en verberg ons van die aangesig van Hom wat op die troon sit, en van die toorn van die Lam; want die groot dag van hulle toorn het aangebreek, en wie kan staande bly? Dit is dieselfde Lam wat die opdrag sal gee dat die wêreld afgeoes moet word sodat die bloed vir ongeveer 320km ver, so hoog soos die perde se tome, sal vloei. Openbaring 14:20 En die parskuip is buite die stad getrap. Uit die parskuip het daar bloed gevloei – sestienhonderd stadion ver, tot aan die perde se tooms. Die Een wat genade gebring het, waardeur ons gered word, sal uiteindelik die Een wees wat God se toorn oor die aarde sal uitwoed en voor wie se aangesig die ongelowiges vir ewig gepynig sal word. Openbaring 14:9-10 Ná hom het ‘n ander engel, ‘n derde een, gekom en met ‘n harde stem uitgeroep: As iemand die dier en sy beeld aanbid, en ‘n merk op sy voorkop of op sy hand ontvang het, sal hy ook drink van die wyn van God se toorn, wat onverdun in die beker van God se toorn geskink is. Hy sal ook in die teenwoordigheid van die heilige engele en die Lam met vuur en swael gefolter word.

Saai en maai

God roep die volk op om hulle te bekeer, om in geregtigheid te leef en so ʼn oes te saai wat in ooreenstemming is met die liefde wat geoes sal word. Is dit nie wat die Here begeer nie? Is dit nie die opdrag aan elke individu wat verklaar dat hulle aan God behoort, nl. dat hulle sy opdragte sal gehoorsaam nie? Is dit nie so dat as ons in geregtigheid lewe dat ons die liefde sal oes nie? Wat sal hierdie volk en elkeen wat die Here soek beleef? God belowe dat diegene wat Hom soek, sal Hom sal vind. In die wet(Tora) en die Profete word hierdie belofte gemaak.  Deuteronomium 4:29 Daar sal julle die Here julle God soek en Hom vind, as julle Hom met hart en siel smeek. Jeremia 29:13 Julle sal My soek en vind as julle My met julle hele hart raadpleeg. In Amos laat God die volk weet dat hulle hom moet soek en leef.

Amos 5:4 Ja, so sê die Here vir die huis van Israel: Soek My, dan sal julle leef.

Slot

Om God halfhartig te dien is ʼn godsdiens wat leeg is en nie bevredig nie. Geen van God se beloftes sal jy in jou geestelike lewe beleef nie. Jou geestelike honger sal nooit versadig en dors nooit geles word nie. God belowe slegs aan diegene wat honger en dors na geregtigheid, wat lewe in ooreenstemming met sy opdragte, dat hulle gevul sal word. Matteus 5:6 Gelukkig is dié wat honger en dors na geregtigheid, want hulle sal versadig word. Weet jy wat dit beteken om vergenoegd te wees, om binne in jou ʼn fontein te hê wat opborrel tot die ewige lewe – dit wat Jesus aan die vrou by die put belowe het? Johannes 4:14 maar wie van die water drink wat Ek hom gee, sal tot in ewigheid nooit dors kry nie. Die water wat Ek hom gee, sal in hom ‘n fontein van water word wat opborrel tot die ewige lewe.” Hierdie vrou het misluk in haar soeke na betekenis en die sin van die lewe. Sy kon getuig dat sy al vyf mans gehad het en die sesde man by wie sy nou was, was volgens Jesus nie eers haar man nie. Haar lewe was leeg. Die volk het offers by die altare van die sogenaamde genietinge van die lewe gebring en dit het hulle leeg gelaat. Wat van jou? Moenie uitstel nie, gryp Hom vandag aan! Hebreërs 4:6-7 Aangesien dit dan bly staan dat sommige wel daar sal ingaan – hoewel hulle wat eerste die goeie boodskap gehoor het, vanweë ongehoorsaamheid nie ingegaan het nie – bepaal Hy weer ‘n sekere dag, dit is vandag, wanneer Hy baie later, soos hierbo reeds genoem, deur Dawid sê: Vandag, as julle sy stem hoor, moenie julle harte verhard nie!