Hosea 9

Inleiding

In hierdie hoofstuk maak God dit duidelik dat Hy verwag dat sy volk, aan Hom getrou moet wees, soos wat ʼn eggenoot verwag dat sy/haar eggenoot getrou moet wees. Wanneer jy weet waarvan jou man of vrou hou en wat hy/sy van jou verwag is dit soveel meer van ʼn belediging indien hulle dit ignoreer. Hierdie volk was met God in ʼn huweliksverbond verbind. Hulle moes getrou wees aan die man aan wie hulle verbind was en tog het hulle gehunker na ander mans. Dit is interessant om daarop te let dat God hulle sonde in ʼn baie erger lig gesien het as die van die volke rondom hulle wat geen verbond met Hom gehad het nie. Dit is heel verstaanbaar in terme van ʼn huwelik. Die ontrouheid van ʼn eggenoot is veel erger as die ontrouheid van ʼn buitestaander. Terwyl baie mense wat vandag in die kerk louwarm sit dink dat hulle “darem nie so sleg” is nie, is dit egter duidelik dat hulle louheid hul oordeel vererger, omdat hulle die waarheid ken en besluit om nie daarop ag te slaan nie.

Met kennis kom verantwoordelikheid

God wys deur die Ou Testament telkemale hoe Hy sy eie volk straf a.g.v. hulle sondes. In die Nuwe Testament maak Hy dit ook duidelik dat diegene wat meer weet van God en sy gebooie erger geoordeel sal word oor hul oortredings as diegene wat min weet.  As Hy die twaalf apostels uitstuur om die evangelie te verkondig aan die mense van Israel, vertel hy aan hulle … En wie ook al julle nie verwelkom en na julle woorde nie luister nie – gaan weg uit daardie huis of stad en skud die stof van julle voete af. Amen, Ek sê vir julle: Dit sal vir die land Sodom en Gomorra op die oordeelsdag draagliker wees as vir daardie stad. Mattheus 10:15. In die volgende hoofstuk spreek Jesus die mense in die dorpe aan waarin Hy die meeste van sy wonderwerke gedoen het. Mattheus 11:21-22 Wee jou, Gorasin! Wee jou, Betsaida! Want as die kragtige dade wat in julle plaasgevind het, in Tirus en Sidon gebeur het, sou hulle lankal in sak en as gesit en hulle bekeer het. Maar Ek sê vir julle, vir Tirus en Sidon sal dit op die oordeelsdag draagliker wees as vir julle. Regdeur die Bybel is daar mense wat liefdesverklarings teenoor God maak en met hulle dade bewys dat hulle liefde vir God slegs lippetaal is. Hulle was godsdienstige mense wat gereeld tempel toe gegaan het en gereeld hulle aalmoese aan die armes gegee het. Kan jy dink dat baie vroom mense, wat elke Sondag in die kerk sit maar nie in gehoorsaamheid aan God se Woord lewe nie, eendag erger in die hel sal brand as mense wat in tronke gesit het en die mees afskuwelik wandade gepleeg het. Hoe gevaarlik kan die kerk, waar jy elke Sondag die ware evangelie hoor, nie wees, indien jy nooit daarop ag slaan nie?

Godsdiens

Die Hebreër skrywer waarsku sy hoorders om nie hulle harte te verhard nie. Hebreërs 3:7-8 Daarom, soos die Heilige Gees sê: Vandag, as julle sy stem hoor, moenie julle harte verhard, soos tydens die opstand die dag van versoeking in die woestyn. Hierdie mense wat hulle harte verhard het, het nooit in die beloofdeland ingegaan nie. Die skrywer gaan dan voort om aan die mense van sy tyd te vertel dat, as hulle deelgenote van Christus geword het, hulle tot die einde toe moet vashou. As jy die boodskap hoor en dit jou aankla moet jy dadelik jou sonde bely en jou toevlug na Christus neem. Moenie uitstel nie. Moenie vir die sonde ʼn vatplek gee nie, want dit sal jou vernietig. Los jou offers as jou gewete jou aankla en moenie deur jou “goeie dade” probeer om die stemmetjie stil te maak nie. Jesus vertel aan die mense wat na Hom luister dat …wanneer jy jou offergawe na die altaar bring en daar onthou dat jou broer iets teen jou het, laat jou offergawe net daar by die altaar en gaan versoen jou eers met jou broer, en gaan gee dan jou offergawe. Mattheus 5:23-24. Regdeur die Skrif en spesifiek hier in die tyd van Hosea, en nog steeds vandag is daar baie wat vir hulle ʼn godsdiens geskep het waarin hulle besluit of hulle dit “maak” of nie. Hulle het ʼn selfgemaakte kontrole lysie wat afgemerk word indien hulle aan hulle eie standaard voldoen. So voel hulle selfvoldaan en beskou hulle hulleself as baie godsdienstig. Die ryk jongman het ook so ʼn kontrolelys gehad. As Jesus vir Hom vra of hy die wet onderhou het hy onmiddellik, sonder om te skroom, bely dat hy dit van kindsbeen nagekom het. In sy eie denke was hy nie besig om ʼn valse verklaring te maak nie. Nee, volgens sy lysie van hoe die wet lyk en wat die wet bepaal kon hy met alle eerlikheid verklaar dat hy dit beslis onderhou het. Jesus druk dan sy vinger, soos wat die Heilige Gees vandag nog doen, op die jongman se sweer en vertel hom dat hy alles moet verkoop en Hom moet volg. Die ironie van hierdie verhaal is dat Jesus hom openbaar as iemand wat skuldig staan voor die eerste tot die tiende gebod. Die eerste, nl. jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie, het hom beslis skuldig verklaar aangesien geld sy god was en ook aan die tiende gebod, nl. jy mag nie begeer nie, was hy per definisie skuldig. Godsdienstigheid wat slegs op ʼn uiterlike verklaring gebou is, sonder ʼn hart wat op ʼn daaglikse gebied vernuwe word, is baie gevaarlik. Daarom is dit so belangrik om jouself te ondersoek. 2Korintiers 13:5 Ondersoek julleself of julle in die geloof is; toets julleself. Ken julle julleself dan nie? Besef julle dan nie dat Jesus Christus in julle is nie? Tensy julle die toets nie deurstaan het nie. Hierdie volk se grootste probleem was dat hulle evaluering van hulle hul geestelike toestand bepaal het deur hoe goed dit met hulle fisies gegaan het. Omdat God nog steeds, ten spyte van hul sonde en ontrouheid vir die land gesorg het, het hulle gedink dat hulle lewens voor Hom reg was. Aangesien die land die opbrengs gelewer het, was hulle vol vertroue dat God met hulle was. Kan iemand regtig so dom wees as om te dink dat sy finansiële toestand ʼn maatstaf is van sy geestelike welvaart? Die ware gelowige is altyd in verwondering en gevul met dankbaarheid dat God hulle ten spyte van hul tekortkomings nog steeds seën en versorg.

Valse feeste

Die Profeet kondig aan dat wanneer hierdie volk gestraf gaan word hulle na ʼn vreemde land sal gaan en dat hulle selfs nie eers meer hulle godsdienstige feeste sal kan beoefen nie. Tog het God van die begin af verklaar dat hulle nooit besig was om Hom te aanbid nie. Deuteronomium 32:17 Hulle het vir demone, vir nie-gode, vir gode wat hulle

nie geken het nie, offers geslag – nuwes wat maar onlangs na vore gekom het, gode wat vir julle voorouers nie bestaan het nie. Daarom as God die volk straf moet jy nooit die idee kry dat God ongeduldig met hulle was nie. Nee die Tenach (Ou Testament) verklaar, net soos die Nuwe Testament,  ʼn God wat baie geduldig is. Sou jy hierdie volk toegelaat het om in die beloofdeland in te gaan? Hoeveel van ons, met die lees van die volk se optrede in die woestyn, sou nie al die volk in die woestyn uitgewis het nie. Vir ongeveer 500 jaar was God met hierdie volk geduldig; het God profete gestuur en hulle gewaarsku. Nou sou God se toorn oor hulle uitbreek. Nou was die tyd wat die volk sou besef dat almal wat mooi woordjies aan hulle verkondig het en voorgegee het dat hulle onder leiding van die Gees gespreek het, vals was. Miga het hulle manne van wyn en sterk drank genoem. Miga 2:11 As iemand maar net voortdurend onsin en die leuen versprei, Ek sal vir jou driftig profeteer oor wyn en sterk drank, dan word hy die driftige profeet van hierdie mense! Dit was die profete wat hulle geniet en graag na geluister het. Dit was die profete wat die wagters op die mure moes wees en die volk moes waarsku dat gevaar aan die kom was, maar hierdie profete wou niemand ontstel nie. Die manne wat met wit kalk die mure van ongeregtigheid bestryk het en verkondig het dat daar wonderlike vrede is. Esegiël 22:28 Sy profete pleister alles vir hulle toe met kalk: Hulle sien vals visioene en voorspel leuens. Hulle sê altyd, So sê my Heer, die Here, terwyl die Here nie gepraat het nie. Tog as die straf kom, en dit gaan verseker kom, sal hulle bely dat hierdie profete vals geprofeteer het.

Slot

Die God wat tot nou toe in oorvloed voorsien het, gaan nou nie net sy hand terugtrek nie, maar hulle daadwerklik straf. God kondig aan dat hy hierdie volk sal vernietig, ook die kinders en die babas. Hy sal veroorsaak dat die moederskoot leeg sal wees en hulle geen voeding in hulle borste sal hê nie. God het hulle begin haat a.g.v. hulle boosheid. Die Psalmdigter waarsku mense wat in goddeloosheid leef op dieselfde manier. Psalm 11:5 Die Here toets die regverdige; maar sy siel haat die goddelose en die wat geweld liefhet. (Net ʼn opmerking is dat die 2020 vertaling die haat van God as weersin vertaal) Dit is belangrik om hier te noem dat daar van die volk gepraat word en nie van die individu nie. Binne hierdie volk was deur die geskiedenis altyd individue wat in gehoorsaamheid aan God gelewe het en onder Sy liefde was. Die vraag is egter of jy onder God se toorn of liefde staan? Haat God jou omdat jy in goddeloosheid wandel? Niemand moet aanspraak maak op God wat hulle liefhet terwyl hulle in hulle sonde voortploeter nie. Baie mense wat in sonde volhard, sal in gesprekke vir jou vertel hoe goed God vir hulle is. Hiermee verklaar hulle hulself regverdig op grond van God se algemene genade, terwyl hulle eintlik onder God se wraak staan. Daar is geen manier waarop ʼn ware kind van die Here in sonde sal bly volhard nie. God het sy kinders lief, maar haat elke persoon wat goddeloos is en sy toorn is oor hulle. Efesiërs 2:3 onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander. (Die Griekse Woord is orgés (ὀργῆς) wat wraak beteken)