Inleiding
ʼn Basuin word geblaas in Israel. God se profeet word beskryf as ʼn man wat op ʼn basuin blaas, beslis ʼn raak beskrywing van gelowiges deur die eeue. God kondig aan dat die vyand aan die beweeg is en dat Israel se val naby is. Die aanklagte teen die volk is deur die profeet verkondig, hulle het God se verbond nie nagekom nie en na Sy wette nie geluister nie. Tog, ten spyte van hulle ongehoorsaamheid, het die volk voortdurend daarop geroem dat hulle God geken het. Hul liefdesverklarings was egter altyd net lippediens. In Jesaja word hierdie volk goed beskryf en saam met hulle baie individue vandag in die kerk. Jesaja 29:13 “My Heer het gesê: Omdat hierdie volk My nader met hulle mond en met hulle lippe My eer, maar hulle hart ver is van My, en hulle ontsag vir My bloot ‘n aangeleerde menslike gebod…” Hierdie gedeelte word deur Jesus aangehaal as Hy die fariseërs en skrifkenners teregwys, nadat hulle sy dissipels daarvan beskuldig het dat hulle die tradisie van hul voorouers oortree, omdat hulle nie hulle hande gewas het voordat hulle geëet het nie. Jesus wys hulle dan daarop dat hulle Sy wette aanpas en deur hulle tradisies die woord van God kragteloos maak. Vandag nog speel dit wat God vra tweede viool in mense se lewe teenoor mens gemaakte wette en reëls.
Leiers
Hierdie volk het leiers aangestel, maar nie volgens God se vereistes nie. In Deuteronomium spel God baie duidelik uit hoe ʼn koning wat oor Israel sou heers moet lyk. As jy deur Deuteronomium 17 lees is jy geskok oor hoe ver verwyder die konings van Israel al vanaf die begin van God se vereistes was. Hier is ʼn paar voorbeelde. Die koning mag nie vir hom baie perde aangeskaf het nie. Dit het beteken dat hy nie sy weermag so groot moes maak dat die volk se vertroue in die weermag sou wees i.p.v. in God nie. Ons sien dit in die versoeking van Dawid as hy die volk wou tel om te weet hoe sterk sy weermag was. Hy het gedink sy sterkte en mag word bepaal deur wat hy kon sien, terwyl God die volk wou leer dat dit bepaal word deur dit wat nie gesien kan word nie, nl. God se beskermende hand. Verder mag die koning nie vir hom baie vroue aangeskaf het nie. Dit was om te verhoed dat die koning verlei word om ander gode te dien. Ook mag die koning nie baie goud en silwer gehad het nie. Gierigheid word deur die Bybel beskryf as afgodediens. Kolossense 3:5 Daarom moet julle daardie deel van julle wat op die aardse gerig is, doodmaak: onsedelikheid, onreinheid, wellus en slegte begeertes, en ook gierigheid, wat afgodediens is. Die laaste opdrag aan die koning was dat hy ʼn afskrif van die Torah moes laat maak en lewenslank daaruit moes lees. Die konings het by nie een van hierdie vereistes gehou nie en daarom het hulle afgewyk van God se opdragte en agter afgode aan gehoereer. Net so word die leiers in kerke vandag aangestel in stryd met die vereistes in God se Woord. Die vereistes van hoe ʼn ouderling en diaken se lewe moet lyk word as vae riglyne beskou en nie vereistes nie. Hoe baie keer het ek al ervaar dat individue gekies word as leiers, omdat hulle lanklaas die eredienste bygewoon het of omdat daar ʼn pos gevul moet word en niemand anders dit wil doen nie. Dan is ons geskok oor die toestand van die kerk. Ons kies vroue in leierskap posisies en laat hulle toe om lering te gee al is dit in stryd met God se opdragte en orde in die plaaslike kerk. 1Timotheus 2:11-12 ‘n Vrou moet haar stilweg laat onderrig, in volle gehoorsaamheid. Ek laat nie toe dat ‘n vrou onderrig gee, of oor ‘n man gesag uitoefen nie; sy moet haar stil gedra. Kan die totale afvalligheid in kerke rondom ons, ons dan verbaas? Die oomblik as die kerk soos die volk van ouds begin dink dat dit beter as God weet, is die ineenstorting onafwendbaar.
Dwase
Afgode maak die mens dom. Hulle het ʼn lewende God wat hulle, vanaf hul ontstaan, gelei en bevry het deur Sy magtige hand. Hoe baie verhale van God se voorsienigheid en almag kon die Israeliete nie aan mekaar vertel het nie en tog het hierdie volk ʼn dooie kalf gemaak en dit aanbid. Miskien kan ons namens hulle verskoning soek en redeneer dat hulle heelwaarskynlik teen hierdie tyd al alles aangaande God se opdragte vergeet het, aangesien hulle nie meer die Torah by hulle gehad het nie en ouers nie aan hul kinders die verhale van God oorgedra het nie. Rigters 2:10 Nadat ook daardie hele geslag met hulle voorouers verenig is, het daar ‘n ander geslag ná hulle opgestaan wat nie die Here geken het, en ook nie die dade wat Hy vir Israel gedoen het nie. Hulle het egter alreeds afgode gebou net na hulle uittog deur die Rooisee en die magtige dade van God in die woestyn. Calvyn was reg toe hy gesê het dat die mens se hart ʼn fabriek is wat afgode vervaardig. Gee die mens oor aan sy eie denke en hy maak ʼn afgod van Christus, al noem hy hom nog steeds Jesus. Dit is hoekom dit so belangrik is dat die mens moet bly by wat God oor homself in die Bybel openbaar het en nie sy eie opinies moet volg nie. Die volk het in die woestyn gedink God is te ver weg en wou hom op hul manier nader bring deur Hom in die vorm van ʼn kalf te probeer giet. Eksodus 32:4-5 Hy het dit uit hulle hand aanvaar. Toe het hy dit met ‘n stilus vorm gegee en ‘n gegote kalf daarvan gemaak. Hulle sê toe: Dit is jou gode, Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het. Toe Aäron sien wat gebeur, het hy ‘n altaar voor die beeld gebou. Aäron roep toe uit en sê: Môre is daar ‘n fees vir die Here! Baie mense se “Jesus” lyk meer soos ʼn genie wat jy vryf om te kry dit wat jou hart begeer as soos die Jesus van die Woord. Die profeet kondig aan dat die volk met hul dade wind gesaai het en daarom sal hulle ʼn storm oes. Hulle lewens is leeg en dit is duidelik in wat hulle saai. Tydelike genot en materialisme laat mense leeg en hopeloos. Die oes wat dit voortbring is verwoesting. Dit lyk of hulle ook soos ander besig is om geestelike dinge te doen, maar aan die einde sal hulle lewe in dwaasheid vir almal sigbaar wees. Die ware saad is die Woord van God en dit word deur mense gesaai nadat dit alreeds in hul eie lewens ontkiem en vrug voortgebring het. Jesus waarsku sy volgelinge dat valse profete aan hulle vrugte geken sal word. Mattheus 7:15-17 Wees op julle hoede vir die vals profete wat in skaapsklere na julle kom, maar in hulle binneste wolwe is wat verskeur. Aan hulle vrugte sal julle hulle uitken. Pluk ‘n mens miskien druiwe van doringstruike of vye van dissels? Net so dra elke goeie boom goeie vrugte, maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte.
O waar sal my hulp vandaan kom?
Kyk maar waar hierdie mense gaan hulp soek het ten tye van nood. Hulle het hulp gaan soek by Assur en bondgenootskappe met ander volke gesmee. Hulle word deur God beskryf as ʼn wilde-esel wat rondloop en nie getem is nie. Jeremia beskryf die volk op soortgelyke wyse. Jeremia 2:23-24 Hoe kan jy sê, Ek het my nie verontreinig nie; die Baäls het ek nie gevolg nie? Kyk net na jou pad in die dal! Besef wat jy gedoen het! Jy is ‘n vinnige jong kameelkoei wat heen en weer rondhardloop, soos ‘n wilde donkie gewoond aan die woestyn. In haar heftige drang snuif sy die wind. Haar bronstigheid – wie kan dit beteuel? Almal wat haar soek, hoef hulle nie te vermoei nie. In haar bronstyd sal hulle haar vind. Kyk maar waarna hulle hunker en jy sal weet waar hul ware liefde lê en waarna hulle smag. Waarop spandeer jy tyd en wat is vir jou belangrik? Waarin plaas jy jou vertroue? Antwoord hierdie vrae en ek sal jou vertel wie jou god is.
Hul godsdiens en offerandes word alles vir eie gewin gedoen. Al hul plekke van aanbidding het vir hulle ʼn sonde geword. Baie mense se wonderlike godsdiensbeoefening hoop net sonde teen hulle op, aangesien hulle hierdie godsdiens geskep het om in te val by hul eie begeertes. Dit is afgodediens. God het geen behae daarin nie, aangesien al God se opdragte en leringe nie deur sulke mense as waardevol geag word as iets wat hulle moet gehoorsaam nie. Is God se Woord vir jou belangrik? Sal jy daarop ag slaan al staan jy alleen teen die mense en kerke van jou dag? Is jy bereid om te sê: “So sê die Here Here” en omdat Hy dit sê is dit genoeg vir my? Is jy die verstandige man van die Woord? Mattheus 7:24 Daarom sal elkeen wat na my woorde luister en daarvolgens handel, soos ‘n verstandige man wees wat sy huis op rots gebou het.
Slot
Hierdie volk het hul Maker vergeet. Watter aanklag teen ʼn volk wat van beter moes geweet het? Hulle het voortgegaan met hul alledaagse take en het hulle paleise gebou en hulle stede versterk. Is jou lewe hier op aarde vir jou van baie waarde? Is hierdie wêreld die koninkryk waarvoor jy leef? Jesus waarsku die mense van sy dag met hierdie woorde: Wat sal dit ‘n mens dan baat as hy die hele wêreld as wins bekom, maar sy lewe verloor? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy lewe? Mattheus 16:26. Slaan ag op Sy Woord! Buig jou knie voor Hom en gehoorsaam Hom. Niks is van groter waarde as om jou lewe vir Hom te lewe en jou vertroue in Hom te plaas nie. Niks in hierdie wêreld sal vrede en vreugde verskaf nie. Nee ware vrede en ware vreugde kom slegs van God. Dit is die ware, jaloerse God soos wat Hy Homself aan ons deur Sy Woord openbaar.
