Inleiding
God vergelyk homself met ʼn dokter wat besig is om Israel te genees. Hoe meer hy met die pasiënt werk hoe meer kom al die probleme wat nie opsigtelik was nie na vore. Dit is soos ʼn kanker wat in een deel van die liggaam gevind word en dan met toetse vind die dokter dat die kanker na baie ander dele van die liggaam versprei het. Tot die hoofstad van Israel, Samaria, is deurtrek met boosheid en bedrog. Daar is geen berou by hierdie volk nie, om die waarheid te sê, hulle geniet hulle sondes. Die leiers word verbly en geniet die boosheid en die leuens van die mense. Die land is totaal korrup as hy gebou word op leuens en as leiers leuenaars en goddelose mense rondom hulle bymekaar maak. Dit klink soos die mense wat beskryf word in die Psalms. Psalm 12:9 Oral loop goddeloses rond, terwyl die gemeenheid van mensekinders hoogty vier. Watter vreesaanjaende tyd is dit nie wanneer goddeloosheid die oorhand kry nie?
Die sout het laf geword.
Die volk van Israel moes soos sout die wêreld rondom hulle preserveer en smaak gee. Hulle moes die wêreld bekend stel aan ʼn liefdevolle en genadige God deur sy gebooie te gehoorsaam. Die sout is nêrens meer te vinde nie. Waar is die manne en vroue van God, die geestelike leiers, wat moes voorgaan om die volk te lei in die aanbidding van die Here? Hierdie klink soos die toestand van die wêreld in die laaste dae waarvan Jesus sy volgelinge vertel het. Mattheus 24:10-13 Dan sal baie tot ‘n val kom, mekaar oorlewer en mekaar haat. Baie vals profete sal verskyn en hulle sal baie mense mislei. En omdat die wetteloosheid sal toeneem, sal baie se liefde afkoel. Wie egter volhard tot aan die einde, dié sal verlos word. Hierdie beskrywing van Jesus is nie hoe die wêreld sal verander nie maar wel die kerk. Die wêreld is klaar yskoud en die valse profete is net daar om die mense in die kerk te mislei. Net soos Israel totaal deurtrek is met hulle sonde so sal die kerke ook deurtrek word met sonde. Die kerk sal lyk net soos die wêreld. Daarom moet elkeen van ons waak. Niemand moet speel met sonde of die sonde ʼn vatplek gee in hulle lewens nie. Stry met alles in jou deur die krag van die Gees. Hebreërs 12:4 Julle het nog nie ten bloede toe teenstand gebied in julle stryd teen die sonde nie. Het jy dalk soos die koning en die leiers van Israel geword en het jy jou begin vermaak met boosheid? Het leuens oral in jou lewe ʼn vesting gemaak? Sonde word nooit net in een deel van jou lewe gehou nie. Jy begin lieg oor iets kleins in jou besigheid en voor jy jouself kry is jou hele lewe deurtrek van leuens. Dit bly nie net by die belasting wat jy in verkul nie. Net so bly die haat teenoor ʼn sekere individu of volk nie net teenoor daardie partye nie, maar deurtrek jou hele lewe. Soos die stank van ʼn rioolgat in die hoekie van jou erf jou hele huis sal vul al probeer jy die deure hoe dig toemaak. Die sonde wil heerskappy oor jou voer en versprei soos ʼn veldbrand. Jou lewe en getuienis verloor al hul smaak en jou hele lewe word nutteloos – soos nuttelose sout word dit buite weggegooi en vertrap. Dit is wat sonde doen.
Oorheers deur vleeslike begeertes
Hierdie volk, soos baie keer te vore, word beskryf as owerspelers. Hulle het so baie ander dinge liewer as vir God. Die tragiese is dat ons nie net praat van een of twee mense in die volk nie maar wel van “almal” wat owerspelers is. Die sonde het die volk deurtrek. Die profeet kondig aan dat die sonde van binne af gekom het. Gee vir die mens net geleentheid en die boosheid sal brand sonder enige inperking. Word die mens deur sy omstandige sleg en sondig of is daar ʼn dieperliggende probleem? Hierdie vraag word ten volle in die Bybel beantwoord. Luister maar net wat Jesus aan sy volgelinge sê: …Wat uit ‘n mens uitgaan, dit maak ‘n mens onrein. Want van binne af, uit die hart van mense, kom slegte gedagtes, onsedelikheid, diefstal, moord, owerspel, hebsug, kwaadwilligheid, geslepenheid, onwelvoeglikheid, jaloesie, lastering, hoogmoed, dwaasheid. Al hierdie slegte dinge kom van binne af en maak ‘n mens onrein. Markus 7:20-23. Daarom skryf Jakobus dat die rede hoekom versoekings ons meesleur nie te make het met die versoeking as sulks nie, maar met die begeerlikheid wat alreeds in my hart is. Jakobus 1:14-15 Elkeen word versoek wanneer hy deur sy eie begeerte meegevoer en verlei word. Dan, wanneer die begeerte bevrug is, gee dit geboorte aan die sonde, en wanneer die sonde volgroei is, gee dit geboorte aan die dood. Die versoeking het dus slegs ʼn inpak of, anders gestel, ʼn aanloklikheid, omdat ek alreeds die begeerte in my hart daarvoor het. Daarom sal twee persone verby ʼn drankwinkel loop, die een se hande sal begin sweet en die versoeking sal erg wees en die ander persoon sal nie eers aan die drankwinkel aandag gee nie, maar sal eerder aangetrek word deur die sjokolade koek in die winkel aan die anderkant van die pad. Die sonde waarmee jy jouself voed sal bepaal watter begeerte jou sal meevoer, maar hiervan kan jy seker wees, die Woord sê dit sal die dood voortbring. Daarom word ons opgeroep: bedink die dinge daarbo, nie die dinge op aarde nie. Kolossense 3:2. Verder ook om klein kindertjies te wees wat die kwaad betref. 1Kor14:20 Broers, moenie kinders wees in julle denke nie; wees wel klein kindertjies wat die kwaad betref, maar volwassenes in julle denke.
Wêreldse kerke
Kan jy verstaan waarom tug so belangrik is in die kerk of waarom dit so belangrik was dat die volk ag moes slaan op die profete se boodskappe? Hierdie volk het nie net hierdie begeertes aangeblaas soos ʼn vuurwarm oond nie, maar het ook veroorsaak dat die suurdeeg van sonde die hele volk nou deurtrek. Die sonde van hierdie volk het net al hoe erger geword. Deur die geskiedenis van die konings van Israel vind ons nie ʼn koning wat na God gevra het nie. Hulle almal het gegloei in hulle sondes en die land is verteer deur hul ongeregtigheid. Hier was ʼn volk wat hul oorsprong in God se voorsienigheid gehad het en sou roem dat God met hulle was en tog was daar nie een wat na die stem van die Here geluister het of op Sy Woord ag geslaan het nie. Hoe kan jy jouself die volk van God noem of kerk van God en tog slaan jy sy Woorde in die wind. Efraim, die uitverkore volk, het geword soos die nasies rondom hulle. Daar is geen onderskeiding tussen mense in die wêreld en diegene in die kerk nie. Die in die kerk se egskeidings syfer is net so hoog soos die van die wêreld, daar is soortgelyke gebrokenheid en dieselfde beheptheid met die wêreldse dinge. Lyk jy anders as die wêreld waarin jy leef? Is mense geskok met hoe jy dink en wat jou begeertes is of is dit soortgelyk aan hulle sin. Die Skrif roep ons op om vreemdelinge en bywoners in hierdie wêreld te wees. 1 Petrus 2:11 Geliefdes, ek dring daarop aan dat julle, as bywoners en vreemdelinge, julle weerhou van liggaamlike begeertes wat stryd voer teen die siel. Ons spraak en lewensuitkyk behoort openlik te verklaar dat ons nie hier hoort nie, dat hierdie nie ons tuiste is nie.
Waar sal my hulp vandaan kom?
Die volk het nie na God om hulp geroep terwyl hulle verwoesting op hande was nie. Niemand het hulle tot God bekeer of Sy aangesig gesoek nie. Nee, hulle het hulle toevlug geneem na die “sterk ryke” wat rondom hulle was. Kan jy dink dat mense so onnosel is om hulp te soek by diegene wat ook net soos hulle vlees en bloed is? Is dit nie presies waarteen die Psalmdigter die hoorder waarsku nie. Psalm 146:3-4 Moenie op vooraanstaandes
vertrou nie, op ‘n mens, by wie daar geen verlossing is nie. Sy asem gaan uit, hy keer terug na die grond; op daardie dag is sy planne daarmee heen. As hy aankondig in wie hulle nie hulle vertroue moet plaas nie, gaan hy in die volgende vers voort om hulle op te roep om hulle vertroue in God te plaas. Hy wat alles gemaak het. Sou iemand nie wys wees om so te leef nie? Sou dit nie wys wees om eerder jou vertroue in die Skepper as die skepsel te plaas nie? Die een wat biljoene sterrestelsel in sy hande het, sal Hy nie beter na my behoeftes kan omsien as ʼn blote mens nie? Hoe kan my fisiese besittings opweeg in terme van die voorsienigheid van die almagtige God aan wie alles behoort? Daarom word hierdie volk, en miskien jy wat jou vertroue in enige iets buiten God stel, vergelyk met ʼn onnosele duif.
Slot
Hierdie volk sal deur God getug word en tog kondig God aan dat hulle berou nie ʼn ware berou sal wees nie. Hulle sal op hulle beddens lê en rou omdat hulle koring en mos van hulle ontneem is. Hulle kerwe hulleself stukkend en is opstandig teen God. Hoe durf God hierdie “lekker dinge” van my ontneem? God steel net my vreugde en my genot. Niemand het berou omdat hulle teen God gesondig het nie. Niemand is in sak en as en slaan teen hulle bors omdat hulle gedurf waag het om hulle vuiste teen God te bal nie. Hierdie God, uit wie se hand hulle alles ontvang het, was die God wat hulle eerder ontslae van wou raak. Hulle het al die plesier gesoek, sonder die Een wat plesier self gemaak het. Hulle soek vryheid om hul lewe te geniet sonder om te besef dat daar geen genot buite God is nie. “As daar net nie ʼn God was nie of as Hy my net sou laat aangaan met my begeertes.” Die wêreld en baie in die kerk wil hê dat God en elke profeet, gelowige, hulle net sal los sodat hulle kan voortploeter in hulle riool. Dit is egter nie liefde nie. Die waarheid is dat jou sonde jou sal verwoes net soos dit Israel verwoes het. God sal jou straf net soos vir Israel. God sal met hulle spot as Hy hulle verwoes. Psalm 2:2-5 Die konings van die aarde neem stelling in en die heersers span saam teen die Here en sy gesalfde: Kom ons breek hulle boeie stukkend, kom ons gooi hulle bande van ons af! Hy wat in die hemel sit, lag; my Heer dryf die spot met hulle. Dan spreek Hy hulle in sy toorn aan, met sy woede verskrik Hy hulle.
