Hosea 6

Inleiding

God speel nie met sonde in die lewens van sy kinders nie. Hy weet wat die uiteinde van sonde is en waarsku telkens sy kinders daarteen. Wanneer hulle nie na Hom luister nie kondig Hy sy straf aan, maar altyd met die motivering om na Hom terug te keer. God wat tug is ook God wat vergewe. Hierdie hoofstuk van Hosea wys vir ons en die volk hoe ʼn liefdevolle God na sy kinders kyk, hulle waarsku, tug en vergewe.

Sonde verwoes

Sy vergifnis is dan ook volgens die Psalmdigter die rede hoekom Hy gevrees moet word. Psalm 130:3-4 As U, Here, die ongeregtighede in gedagtenis hou, Here, wie sal bestaan? Maar by U is vergewing, dat U gevrees mag word. God wat tug is ook God wat sal genees. Kan jy in die woorde van die profeet God se pleidooi aan Sy volk hoor om terug te keer en genesing vir hulle wonde te vind? God speel nie met die hantering van sonde in Sy kinders se lewens nie. Hy weet wat sonde met die mens wil doen en wat die uiteinde van sonde in jou lewe is. Is dit nie juis waarom God se waarskuwing gekom het tot Kain terwyl hy kwaad en terneergedruk was nie? Genesis 4:7 Is dit nie so dat, as jy goed doen, jy jou kop kan optel nie? As jy egter nie goed doen nie, lê die sonde op die loer voor die deur. Na jou is sy begeerte, maar jy moet oor hom heers. Sonde het een doel voor oë en dit is om jou te verwoes. God waarsku ook sy kinders in Petrus se brief aangaande die duiwel se begeerte ten opsigte van die mens. 1Petrus 5:7 Wees nugter, wees waaksaam! Julle teenstander, die Duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na wie hy kan verslind. Kan jy verstaan hoekom Hy ʼn liefdevolle Vader is, as Hy nie wil hê dat ek myself moet verwoes deur die sonde heerskappy in my lewe te gee nie? Watter liefdevolle vader sal toelaat dat sy kind met vuur speel? Nee, Hy sal hom summier wegruk en waarsku aangaande die gevare van vuur.

Vreemde liefde

Die kerke het vandag ʼn vreemde manier om liefde te beskryf. In hulle oë is liefde om terug te staan en elkeen die geleentheid te gee om hulle self te ontdek en elkeen toe laat om hulle eie hartsbegeertes na te jaag. In baie kerke lê gesneuweldes en is daar verwoeste lewens, omdat hulle carte blanche ontvang het om te lewe na hartelus. Hierdie denke is ligjare verwyder van dit wat die Woord ons leer. Die tug is nie net God wat toetree in die gelowige se lewe nie, maar Hy roep ook elke kerk op om met tugtiging, in liefde teenoor gelowiges wat in sonde volhard op te tree. Hierdie tug handeling, indien die persoon wat gewaarsku word hom/haar nie bekeer nie, eindig met die totale afsny vir so ʼn individu. Mattheus 18:17 As hy weier om na hulle te luister, sê dit vir die gemeente. En as hy ook weier om na die gemeente te luister, laat hy vir jou wees soos die heiden en die tollenaar. Hierdie is die liefde waarvan die Bybel praat. Sodoende word nie net die individu gewaarsku nie, maar word die plaaslike kerk ook bewaar van ʼn kanker wat die kerk sal verwoes en God se naam sal laat skade ly. Daarom word ons opgeroep en ook gewaarsku om sonde aan te spreek en saam as kerk te strewe na heiligheid in ons handel en wandel. Hebreërs 12:14-16a Streef na vrede met almal en na die heiligmaking, waarsonder niemand die Here sal sien nie. Sien toe dat niemand die genade van God verspeel nie, sodat geen wortel van bitterheid opskiet, en moeilikheid veroorsaak, en baie daardeur besoedel word nie; ook dat niemand sedeloos of goddeloos optree…

God maak lewend

In vers 2 van Hosea 6 maak God dit duidelik dat hierdie volk wel deur Hom lewendig gemaak sal word en weer sal opstaan. Dit is dan ook die profesie wat Esegiël van God ontvang as God hom laat staan voor doodsbeendere. Esegiël word opgeroep om vir hierdie doodsbeendere te preek en terwyl hy preek  gebeur die volgende: Ek het geprofeteer soos ek beveel is. Daar was ‘n geluid net toe ek profeteer – ‘n geratel! Die beendere het nader aan mekaar beweeg, been na been toe. Ek het gekyk, en sowaar, aan hulle is daar senings, en vleis kom te voorskyn! Vel is van bo af oor hulle getrek, maar daar was nog geen asem in hulle nie. Esegiël 37:7-8. Dan roep God Esegiël op om te profeteer aan die gees om te kom en hulle te vul. Die gees vul hulle en ʼn leërmag staan op hulle voete. (Dit is interessant om daarop te let dat die woord in die Hebreeus vir wind en gees dieselfde woord is.) Die boodskap is duidelik: God sal Sy Gees in die mens stuur wat geestelik dood is en hulle sal nuut gemaak word. Dit was Jesus se boodskap aan Nikodemus aangaande die geboorte wat van bo moes plaasvind. Johannes 3:3 Jesus het hom geantwoord: Amen, amen, Ek sê vir jou: As iemand nie van bo gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. Jesus maak dit dan aan Hom bekend dat dit deur die Gees, wat Hy vergelyk met die wind wat waai, plaasvind. Nikodemus verstaan dit nie en Jesus wys hom tereg, aangesien hy ʼn leermeester van Israel is wat veronderstel is om te begryp wat Jesus sê.

Wat kan belangriker wees as om God, die Een wat ons lewendig gemaak het en ons oorlaai met Sy seëninge, te leer ken? Waaraan kan jy meer waarde heg as om die Koning van alle konings te ken deur Sy Woord te bestudeer waarin Hy homself aan ons openbaar het?

Valse beloftes

Tog, soos baie mense vandag, maak die volk liefdesverklarings aan God wat maar net vir ʼn oomblik hou. God vergelyk hulle liefde met ʼn môre wolk en met dou wat net vir ʼn oomblik daar is en dan verdwyn. God gebruik vir Judas om die mense in die kerk op dieselfde manier te beskryf. Judas 1:12 Hierdie mense is skandvlekke by julle liefdesmaaltye; hulle vier skaamteloos  saam met julle fees; hulle sorg net vir hulleself. Hulle is wolke wat nie reën bring nie, en deur winde voortgedryf word, bome in die laat herfs wat sonder vrugte staan,

twee maal dood, ontwortel. Al hulle mooi belydenisse is van korte duur. Jy luister hoe hulle Sondae, na die eredienste, liefdesverklarings aan God maak, net om Maandae weer te gaan rol in die modder. Hulle was hulleself skoon van buite, maar niks het binne verander nie. Daar is nooit vrug in hulle lewens nie. Daar is geen geestelike groei nie. Daarom stuur God sy profete om hierdie mense, wat hulle hoop in hulle uiterlike offers en gawes gestel het, te verwoes met die Woord uit Sy mond. Mense wat in sonde lewe moet “gedood” word deur Sy woorde. Net soos Adam God se verbond oortree het en homself buite Eden bevind het, so sal elke individu wat in sonde volhard hom/haarself bevind. Israel moes ophou om ʼn valse sekerheid te vind in God se verbond met Abraham terwyl hulle soos onegte kinders lewe. Jesus spreek die Jode van sy dag op soortgelyke wyse aan. Hulle het ook hul vertroue daarin geplaas dat hulle uit die nageslag van Abraham afkomstig was, eerder as om aan God se Woord gehoorsaam te wees.  Johannes 8:39 Hulle het Hom geantwoord: Ons vader is Abraham. Jesus sê vir hulle: As julle werklik kinders van Abraham was, sou julle die dade van Abraham gedoen het. Net so het Johannes die Doper ook die volk gewaarsku. Lukas 3:8 Dra liewer vrugte wat by die bekering pas. Moenie vir julleself begin sê, Ons het Abraham as voorvader nie, want ek sê vir julle, God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek. Nie net was hierdie leë, valse liefdesverklarings eie aan die volk nie, maar ook die priesters, wat God se Woord moes geken en verkondig het, het hulle hieraan skuldig gemaak. Hulle word as ʼn rowerbende beskryf. Hulle verwoes mense deur hulle goddelose lewens en omdat hulle stil bly aangaande God se toorn oor die volk. Die kerke vandag is netso gevul met rowers vir predikante en pastore. Hulle verkondig God se liefde, terwyl sy toorn oor die mense is. Hulle is soos die mense van Romeine 1. Romeine1:32 – mense wat die voorskrif van God ken, naamlik dat die mense wat hierdie dinge doen, die dood verdien. Tog doen hulle dit nie net nie, maar praat hulle dit boonop goed wanneer ander dit doen. Gemeentes lewe in sonde voort en almal draai ʼn blinde oog. Daar is in die kerk geen haat meer vir sonde nie. Ons haat nie meer wat God haat nie, tog is dit duidelik dat dit is wat God verwag van diegene wat Hom liefhet. Psalm 139:20-21 Dit is hulle wat valshede oor U verkondig, u vyande wat die stem tevergeefs verhef. Sou ek u haters nie haat nie, Here, in hulle wat teen U opstaan, nie ‘n weersin hê nie?

Slot

Jy sal nooit enige belofte van God ontvang of in sy vreugde lewe solank as wat jy vaskleef aan jou sonde nie. Die vreugde en die genot wat die gelowige ervaar is in die aflê van die oue en die aantrek van die nuwe. Die wandeling in die aandwind saam met Christus kan alleen plaasvind in die belydenis van sonde. Sonde veroorsaak altyd ʼn wegkruip van God, terwyl belydenis daarvan jou bring na die Een by wie alleen daar vergifnis kan wees. Hy voorsien in die tuin die dierevel wat Adam en Eva se naaktheid bedek. Die kleed wys na God se versoening aan die kruis waar Sy lewe gegee word vir ons. Sy bruilofskleed waardeur ons beklee word, word die toegangskaart na die Bruilof. Mattheus 22:11-12 Toe die koning ingaan om die gaste te sien, sien hy daar ‘n man sonder ‘n bruilofskleed aan. En hy vra hom, Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder ‘n bruilofskleed? Maar die man het geswyg. Bely vandag jou sonde en word deel van die bruilof deur jou te beklee met die vergifnis van sonde, die kleed deur Jesus se bloed bewerk.