Hosea 5

Inleiding
Die profeet begin om elke deel van die huis van Israel aan te spreek. Van die priester tot by die koning en sy huis. Dit was juis die priesters en die koning en sy huis wat gedink het dat hulle bo die wet van God staan. Die profeet moet God se boodskap aan elke deel van die samelewing verkondig. Van die armste tot die rykste en van die mees geleerde tot die mees eenvoudige moet besef dat as God praat moet jy daarop ag moet slaan. Ons sien deurgaans in die Skrif dat manne van God aan konings en hooggeplaastes die Woord van God bring ongeag of hulle wou luister of nie. So vind ons bv. Johannes die Doper wat aan Herodes verkondig dat die neem van sy broer se vrou ongeoorloof was. Mattheus 14:4 Want Johannes het herhaaldelik vir Herodes gesê: U mag haar nie as vrou hê nie. Die interessante van hierdie gedeelte is dat die Grieks vir ons aandui, hier in die 2020 is dit korrek vertaal, dat Johannes dit meer as eenkeer aan Herodes gekommunikeer het. Kan jy jou indink om voor hierdie magtige en ongenaakbare koning te staan en elke keer as jy hom sien vir hom te sê dat sy huwelik met sy broer se vrou verkeerd was. Die profete en manne van God het geen vrees gehad om die waarheid van God se Woord oor te dra nie, al sou dit die koning vertoorn. Hulle het nie mense gevrees nie, maar vir God. Mattheus 10:28 En moenie diegene vrees wat die liggaam kan doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Vrees eerder Hom wat beide die siel en die liggaam in Gehenna kan laat vergaan.

Alles is bekend
Weereens kondig Hosea God se straf oor die volk aan. God gee aan hulle die boodskap dat Hy alles van hulle weet. Niks wat hulle doen is verborge vir Hom nie. Lukas 8:17 Daar is niks verborge wat nie blootgelê sal word nie, en niks weggesteek wat nie bekend sal word en aan die lig sal kom nie. Dink jy dat jy iets kan wegsteek vir die Here? Is Hy nie bewus van elke gedagte wat jy het en gehad het nie? Elihu, in Job maak dit duidelik dat geen mens iets kan wegsteek vir God nie. Job 34:22 Daar is geen donker, geen pikdonkerte, waar hulle wat onreg pleeg, kan wegkruip nie. Sou daar ʼn plek kon wees waar jy sou kon wegvlug van God se aangesig? Luister na die Psalmdigter. Psalm 139:7-8 Waarheen kan ek gaan, weg van u Gees; waarheen kan ek vlug, weg van u teenwoordigheid? Klim ek op na die hemel – U is daar; gaan lê ek in die doderyk – ook daar is U! Hoe kan ons as mense dink dat ons in die donkerte kan besig wees met onheiligheid en dat ons daarmee sal wegkom? Al sou dit ook lyk of ons hier op aarde ongestraf wegkom, sal ons nie daarmee wegkom as ons eendag voor Hom staan nie. Is dit nie juis ʼn vertroosting dat, as ons aan Hom behoort, Hy ons hier op aarde tug, sodat ons nie eendag in die helse vuur gestraf sal word nie? Hebreërs 12:5-6 En julle het die aansporing wat julle as kinders aanspreek, heeltemal vergeet: My seun, moenie die dissiplinering van die Here geringskat nie, en moenie moedeloos word wanneer jy deur Hom bestraf word nie; want die een vir wie die Here liefhet, tug Hy, en Hy straf elke seun wat Hy aanneem. Is dit nie tot ons voordeel dat ons, net soos die Israeliete, profete het wat God stuur om aan ons God se Woord bekend te maak nie? Nie net het ons leraars wat ons leer nie, maar ons word geleer met die bestudering God se Woord.

Trots
Tog was Israel te trots. Hulle was van die gedagte dat niemand hulle sal voorskryf nie. Dit is juis wat hoogmoed in die mens veroorsaak. Geen mens wat hoogmoedig is sal na God se Woord luister nie. Nee hulle sal net daarop ag slaan solank dit hulle pas. Daarom is Jesus se boodskap baie duidelik as Hy in die bergpredikasie aan die skare verkondig dat die wat arm van gees is die Koninkryk van die hemele sal ontvang. Daar is twee woorde in die Grieks om arm te wees. Die een is pενιχρός (penichros), wat beteken om arm te wees en die woord in die bergpredikasie is die woord πτωχοὶ (ptochoi), wat beteken om ʼn bedelaar te wees. Miskien is dit weer goed om die voorbeeld van die weduwee te gebruik. Die woord vir arm word gebruik vir die weduwee wat na die tempel kom en die laaste geldstukkies in die skatkis ingegooi. Markus 12:42: en daar kom een arm weduwee en gooi twee geldstukkies in, dit is ‘n oortjie. Hierop sê Jesus die volgende aan sy dissipels …Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie arm weduwee het meer ingegooi as almal wat in die skatkis gegooi het. Want hulle het almal uit hulle oorvloed ingegooi; maar sy het uit haar gebrek ingegooi alles wat sy gehad het, haar hele lewensonderhoud. Dus het hierdie weduwee gegaan van penichros na ptochoi, van arm tot iemand wat totaal afhanklik was, aangesien sy niks meer gehad het nie. Hierdie afhanklikheid is dit wat Jesus besing as iemand wat gelukkig is. Hoe vreemd sou hierdie gedagte nie op die ore van die mense van Israel geval het nie? Hulle was so voortvarend in hulle sondige gedrag. Dink ook aan die Kanaänitiese vrou wat sê dat sy soos ʼn hondjie bereid is om die krummeltjies wat van die tafel afval te eet, net solank sy iets van Jesus kan ervaar. Jou trots en hoogmoed maak dat jy kwaad word wanneer jy deur die Woord tereg gewys word. God vra nederigheid.

Ons gawes
Die volk het ten spyte van hulle sondige gedrag gedink dat hulle die troefkaart in hulle hande gehad het, nl. hulle offers. Dit is ʼn humoristiese beeld. Jy kan hulle sien met al hulle vee, besig om die Here te soek, terwyl hulle Hom nie kan vind nie. “Here, waar is U? Ons het ons vee vir U gebring.” Hulle het die idee gehad dat hulle die Here se arm kan draai deur hulle offers wat hulle aan Hom gee. Die mens dink vandag nog dat hulle ʼn guns aan die Here bewys met hulle offergawes. Asof die Here afhanklik is van die mens se gawes. Luister wat God aan die volk deur die Psalmdigter aankondig. Psalm 50:10-13 want aan My behoort al die wild in die bos, die diere op ‘n duisend berge. Ek ken al die voëls op die berge en die insekte van die veld is aan My bekend. As Ek honger word, sal Ek jou nie sê nie, want die wêreld en die volheid daarvan is myne. Eet Ek die vleis van bulle, en die bloed van bokramme, drink Ek dit? Moet die Here jou bedank vir dit wat jy sogenaamd vir Hom gee? Hoe arrogant kan die mens nie wees nie! Die profeet kondig aan dat God Hom onttrek het van hulle. Kan daar ʼn boodskap wees wat slegter is as dat God nie meer te vinde is nie?

Grense
Die leiers van hierdie volk het die grense verskuif. God se bakens wat baie duidelik in sy Woord opgerig is, het hulle besluit om net so ʼn bietjie aan te pas. Sou ʼn mens dit durf waag om God se Woord te verander? Sou die mens besluit, in sy eie “wysheid”, dat hy beter weet as die Skepper van hemel en aarde? Dit is presies wat hierdie leiers gedoen het. I.p.v. om net te hou by God se Woord, het hulle hulle eie gedagtes verkondig. Mens wonder hoe mense die Tora kon gehad het en nog steeds vergeet het wat met manne gebeur het wat gedink het dat hulle God se opdragte kon aanpas. So was dit met die seuns van Aaron. God het duidelik aan Aaron en sy seuns die opdragte gegee hoe hulle aan Hom moes offer en nie teenstaande het hulle gegaan en “vreemde vuur” aan Hom gebring. Het God dit so aanvaar? Levitikus 10:1-2 Nadab en Abihu, die seuns van Aäron, het elkeen sy vuurpan gevat, gloeiende kole daarin gesit en reukwerk daarop gegooi. Toe het hulle hierdie ongeoorloofde vuur voor die Here nadergebring – wat nie volgens sy bevel was nie. Vuur het van voor die Here uitgegaan en hulle verteer, sodat hulle daar voor die Here gesterf het. Dit maak nie saak hoe opreg jy is nie, jy is beslis opreg verkeerd as jy nie doen wat God in Sy Woord van jou gevra het nie. Of as jy in jou “wysheid” besluit om God se Woord aan te pas om by jou “ingeligte” wêrelds beskouing te pas.

Slot
Al het God die volk gestraf en aan hulle getoon dat hulle dade walglik voor Hom is en al is hulle gewond, het hulle nooit hul toevlug na Hom geneem nie. In hulle sonde het hulle gaan hulp soek by vreemde volke. So baie keer sien ons dit ook in ander en in ons eie lewens. Ons sal hulp gaan soek op verskeie plekke in plaas daarvan om eerstens stil te raak voor God en ons lewens voor Hom te ontbloot, nie asof Hy nie alles weet nie, maar om te erken dat ek voor Hom skuldig is; dat ek afhanklik is van Sy genesende hand vir my geestelik gebroke lewe. Is dit nie so dat as ons ons sondes bely Hy ons sal vergewe nie? Die volk Israel, net soos baie vandag in die kerk, is gebroke, omdat God hulle gewond het en hulle, i.p.v. by God, hulp gaan soek by mense. God kondig aan dat Hy terug sal keer na Sy woonplek totdat hulle Sy aangesig sal soek. In hulle geval verkondig God dat hulle Hom in hulle nood sal soek. Wat van jou? Kan jy soos Dawid na sy sonde met Batseba bely: “want ek is deeglik bewus van my oortredings en my sonde is voortdurend voor my. Teen U, teen U alleen, het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U gelyk sal hê as U uitspraak lewer, volkome reg wanneer U oordeel.” Psalm 51:5-6.