Hosea 4

Inleiding

God roep hulle op om in hierdie regsaak wat Hy met die volk het te luister as Hy al die beskuldigings oor hulle optrede teen Hom voor hulle bring. Die volk het ontrou geword en afskuwelike dinge in die land gedoen. Hulle het Hom nie lief nie en het geen kennis van Hom meer nie. Hulle het ook al sy wette wat Hy aan hulle gegee het, oortree. As ons na die Ou Testament kyk is dit interessant dat God dit duidelik maak dat die mense wat gelewe het in die land, voor dit aan Israel gegee is, a.g.v. hulle misdade deur die land uitgespoeg is. Levitikus 18:24-25 Julle moet julle nie op al hierdie maniere verontreinig nie, want op al hierdie maniere het die nasies wat Ek voor julle gaan uitdryf, hulle verontreinig. Die land het onrein geword. Ek het die land tot verantwoording geroep oor haar sondeskuld en sy het haar inwoners uitgespoeg. Lees gerus die hele Levitikus 18. God waarsku die volk dat as hulle die sondes doen van die volkere wat voor hulle in Kanaän geleef het, hulle ook deur die land uitgespoeg sal word. Hier kondig God dit weer aan dat die land treur a.g.v. Israel se sonde en daarom is alles besig om weg te kwyn.

Morele verval

Die interessante is dat elke groot moondheid deur die geskiedenis a.g.v. hulle dekadente seksuele praktyke totaal tot ʼn val gekom het. God laat die land treur en die volk moet oplet dat God die wilde diere en die voëls en die visse in die see laat wegkwyn a.g.v. hulle oortredings. Hulle moes nie vir een oomblik dink dat die land wat nie meer ʼn oes lewer, die diere wat vrek en die nette wat leeg ingetrek word, toevallig is nie. Dit is dan ook die waarskuwing van Jeremia aan die volk. Jeremia 14:5-6 Ja, selfs wildsbokke in die veld lam, maar gooi die lammers weg, omdat daar geen groenigheid is nie. Wildedonkies staan op die kaal hoogtes; hulle snuif die lug soos jakkalse. Hulle oë raak dof, want daar is geen veldplante nie. Nee God is besig om sy straf te voltrek en Hy begin by die onskuldige van die land, die diere, die voëls en die visse.

Die volk is vasgevang in hulle sondes. Hulle geniet hulle lewens weg van God. Hulle laat nie toe dat enige iemand ʼn boodskap bring wat hulle aanspreek aangaande hulle sondes nie. Hierdie twis met die priester verwys heel moontlik na Sagaria, die seun van Jojada, wat aan die volk ʼn boodskap van God gelewer het en vir wie hulle gestenig het. 2Kronieke 24:20-21 Die Gees van God het toe van Sagaria, seun van die priester Jojada, besit geneem. Hy het hoër as die volk gaan staan en vir hulle gesê: So sê God, Waarom oortree julle die gebooie van die Here? Julle sal nie voorspoedig wees nie. Omdat julle die Here verlaat het, het Hy julle verlaat. Hulle het egter ‘n komplot teen Sagaria gesmee en hom op bevel van die koning met klippe doodgegooi in die voorhof van die huis van die Here. Omdat hulle nie na God geluister het nie sal hulle en ook die valse profete tot ʼn val kom.

Gebrekkige kennis

God kla die volk aan dat hulle ten gronde gaan weens ʼn gebrek aan kennis. As hulle net Sy Woord bestudeer het en dit so goed geken het as wat hulle die verkeerde paaie geken het. Daar was geen kennis van Sy geskrifte nie. Ons vind dat dit ook die oorsaak was van die verval van Israel toe hulle in die beloofde land gekom het. As jy wil weet waarom die mense in Rigters so goddeloos was het jy nodig om die inleiding van Rigters te lees waarin God dit duidelik maak hoekom hierdie generasie, wat na die leiers van die volk, Moses en Josua, sulke afskuwelike wandade gepleeg het. Rigters 2:10 Nadat ook daardie hele geslag met hulle voorouers verenig is, het daar ‘n ander geslag ná hulle opgestaan wat nie die Here geken het, en ook nie die dade wat Hy vir Israel gedoen het nie. Hoe is dit moontlik dat daar ʼn geslag kon opstaan, na die geslag wat uit slawerny bevry is, al God se wonders gesien het en die beloofdeland ontvang het, wat tog nie die dade van die Here geken het nie? Wat het met die ouers gebeur? Wat het vir hulle so belangrik geword dat hulle nie met hulle kinders oor die dade van die Here gepraat het nie? God het die volk in Deuteronomium gewaarsku dat hulle moet oppas dat as dit met hulle goedgaan in die beloofdeland, hulle Hom nie sal vergeet nie. Deuteronomium 8:11-15 Wees versigtig dat jy nie die Here jou God vergeet deur nie sy gebooie, sy beslissings en vaste voorskrifte wat ek vandag vir jou voorskryf, na te kom nie. Wees versigtig dat, wanneer jy eet en versadig word en goeie huise bou en bewoon, en jou beeste en kleinvee vermeerder, en jy vir jouself baie silwer en goud verkry, en alles wat jy het, meer word, dat jou hart dan nie hoogmoedig raak en jy die Here jou God vergeet wat jou uit Egipteland, uit ‘n plek van slawerny, uitgelei het nie. Hoe maklik vergeet mense God wanneer dit met hulle goedgaan? Wanneer ons ʼn strewe het na die wêreldse dinge en om deur die wêreld geëer te word, is die val naby. Dit is dan wanneer die bestudering van God se Woord en om dit met ons kinders te deel, nie meer van so belangrik is as hul akademiese prestasies en wat hulle in ander se oë bereik nie. Die wêreldse maatstaf is dan van meer belang. Hoe swak ken ons nie die Woord van God nie? Miskien is dit omdat ons dink dat dit die predikant of die ouderling se taak is. As ons begeerte in hierdie wêreld is om Sy naam te verheerlik en om die take wat hy aan ons toevertrou het na te kom sal niks vir ons belangriker wees as Sy Woord nie. 2Timoteus 3:16-17 Elke Skrifdeel is deur God geïnspireer en is nuttig vir onderrig, weerlegging, teregwysing, en opvoeding om God se wil te gehoorsaam, sodat die mens wat aan God behoort, bekwaam kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie taak. Die woord in die Grieks vir geïnspireer is om te blaas. God het die Woord geblaas en daarom is elke jota en tittel van die Woord heilig en moet ons erns met dit maak, aangesien dit nie mense se woorde is nie. Volgens die Tora (Eerste vyf boeke van die Bybel) moet jy jou kinders elke dag vanuit sy Woord leer. Deuteronomium 6:7-9 Herhaal dit vir jou kinders en praat met hulle daaroor wanneer jy in jou huis sit en wanneer jy op pad is, wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan. Bind dit as ‘n teken om jou hand en laat dit ‘n versiering op jou voorkop wees. Skryf dit op die deurkosyne van jou huis en op jou stadspoorte.

Leë Godsdienstigheid

Die uiteinde van ʼn generasie wat sonder God grootword met net ʼn dun lagie “godsdienstigheid” is ʼn generasie wie se dogters en skoondogters hoereer. Die ergste is dat hulle verwag dat God hulle dogters en skoondogters moet straf en tog doen die mans dieselfde. Hulle het ook offers gebring saam met die tempelhoere. Hulle het hulle godsdiens so ingepas dat hulle ook aan hulle fisiese wellus, uiting kan gee by die plekke van aanbidding. Hoe vals kan die mens nie wees nie? Hulle wil ander oordeel vir die dade wat hulle self pleeg. God beskuldig Israel dat hy so wederstrewig is soos ʼn wederstrewige koei. Altyd onwillig om onder beheer van God te staan, net soos ʼn koei wat na links en regs druk om weg te kom. Sy hunker na die juk van die sonde i.p.v. die sagte juk van God. Jesus stel dit so mooi as Hy aan die hoorders sê: Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle, en leer van My, omdat Ek sagmoedig en nederig van hart is, en julle sal rus vind vir julle gemoed. Want my juk is draaglik en my las is lig. Mattheus 11:28-30. Daarom, omdat hulle wederstrewig is, sal God hulle laat wei soos ʼn lam in ʼn oop veld. Hoe lank sal ʼn lam kan oorleef in ʼn oop land? Waar sal hy sy water en kos kry en wat van beskerming van wilde diere? Dit is baie duidelik dat die mens of ʼn slaaf van God sal wees of ʼn slaaf van die sonde. Romeine 6:16 Besef julle nie dat as julle julleself vir iemand beskikbaar stel om hom as slawe te gehoorsaam, julle slawe is van die persoon aan wie julle gehoorsaam is nie? Julle is óf slawe van die sonde, wat tot die dood lei, óf slawe van gehoorsaamheid, wat lei tot geregtigheid.

Slot

Ons lewe in ʼn tyd van ongekende morele verval en ʼn totale wegval van alles wat heilig en reg is volgens God se woord. God sal hierdie dinge nie ongestraf laat bly nie. Behalwe dat die sonde mense sal verwoes straf God ook aktief die wêreld. Valse teoloë skep ʼn skyn godsdiens wat mense paai met ʼn oppervlakkige gevoel van moraliteit. “Ons is OK” is die meeste mense se antwoord wanneer hulle met ʼn direkte vraag oor hul lewe gekonfronteer word. “Ons is goeie mense” is die valse wiegeliedjie wat almal aan die slaap sus. Dit is nodig dat ons weer terugkeer na God se Woord. Die meeste mense is soos die volk tydens Josia, wat moes ween in sak en as toe hulle die vergete wetboek in die tempel gekry het. Mense gaan ten gronde omdat hulle God se Woord nie meer ken nie en deur elke valse storie, soos branders in die wind, heen en weer gewaai word. God waarsku sy volk dat hulle totaal verwoes en uitmekaar gejaag sal word en dan eers sal hulle hulle skaam vir hul misdade teen God. Wat moet plaasvind voordat die mens homself in sak en as bekeer? Wat moet God in jou lewe doen voordat jy jouself tot Hom bekeer?