Inleiding
Dat God deur die volk verneder word is baie duidelik in die verhaal van Hosea. God verneder dan ook sy profeet as ʼn metafoor om vir die volk te illustreer wat hulle sonde aan Hom doen. Die Here se opdrag aan Hosea is dat hy Gomer moet gaan lief hê. Hy moet sy liefde op hierdie ontroue vrou, met wie hy verplig was om te trou, gaan uitstort. Hierdie vrou was volgens God, deur haar minnaar bemin. In die LXX(Griekse vertaling van die Tanakh(Ou Testament)) staan daar dat sy die bose liefgehad het. Jeremia beskryf dit soos volg: Maar soos ‘n vrou verraderlik haar minnaar verlaat, so was julle verraderlik teenoor My, huis van Israel, is die uitspraak van die Here. Jeremia 3:20. Hosea moet weer deur die strate gaan stap en na ʼn prostituut gaan, die vrou waarmee hy in die eg verbind is, en betaal om haar weer sy eie te maak. Wat is dit wat God van hierdie profeet vra? Kan enige man homself so verneder en dit dan nog ʼn man van God wat ʼn regverdige lewe gelei het? Hoeveel te meer is die aanklag teen hierdie volk, dat hulle hunker na ander afgode en silwer en goud en materiële dinge begeer, in plaas van God wat hulle uit Egipteland gebring het en hulle oorlaai het met Sy goedheid? Hulle het gewoon in ʼn land van melk en heuning. Word dit van God verwag om net weer ʼn keer na hulle uit te reik, hulle weer in Sy Liefde te omvou?
Liefde
Die opdrag aan die profeet, soos reeds genoem, was nie net om haar te gaan koop nie, maar om haar lief te hê. Hoe hou jy aan met lief hê terwyl die een wat jy liefhet hunker na ʼn ander? Hoe lank sal ek my verneder? As hierdie metafoor jou nie aan die hart ruk nie sal niks anders nie. Wat sê God moet hy betaal om die vrou te koop? Vyftien sikkels silwer en ʼn anderhalf homer gars. ʼn Slaaf se prys in daardie dae was dertig sikkels silwer en gars was van min waarde. Sy was nie baie werd nie en tog in God se oë was hierdie vrou, Israel, die een waarop Hy besluit het om sy liefde uit te stort. Deuternonomium 7:7-8 Dit is nie omdat julle groter was as al die ander volke dat die Here Hom aan julle verbind en julle uitgekies het nie – julle was immers die kleinste van al die volke. Nee, dit is omdat die Here julle liefgehad het en omdat Hy gebly het by die eed wat Hy vir julle voorvaders afgelê het dat die Here julle met ‘n sterk hand laat wegtrek en julle vrygekoop het uit ‘n plek van slawerny, uit die mag van die farao, die koning van Egipte. Is dit nie ook waar in ons geval as gelowiges nie? Wat in ons was van waarde? Hoekom het Hy Sy liefde oor ons uitgestort en ons gekoop – nie vir vyftien sikkels silwer nie, maar met Sy eie Seun, Jesus Christus. Baie mense vandag bereken Sy prys, net soos Judas, op dertig sikkels silwer, die prys van ʼn slaaf. Lewe ons, ons wat so oorlaai is met Sy liefde en hartlikheid, uit dankbaarheid.
God tug
God was by regte om hierdie volk totaal uit te wis en tog sou hy selfs in die tyd van hulle slawerny in ʼn vreemde land na hulle omsien, al sou dit ʼn tyd van gars, in plaas van melk en heuning, wees. In hierdie tyd van straf roep God hulle op om getrou aan Hom te wees. Dit sou ook ʼn tyd wees wat God aan hulle getrou sal bly ten spyte van hulle ballingskap in ʼn vreemde land. Die verhale van Daniel, sy vriende, Ester, Mordegai en soveel ander getuig van God se sorg en getrouheid aan sy beloftes aan Israel in ballingskap.
Profesie
God kondig aan dat die volk vir ʼn tyd lank sonder die volgende sal wees: Koning, vors(prins), offers, klippilare, efod en huisgode. Koning en vors dui aan dat niemand die volk vir ʼn baie lang tyd sal lei in die nageslag van die konings nie. Die valse godsdiens word teenoor die ware Godsdiens geplaas en dit word vir ons duidelik dat Israel nie meer een van die twee sal doen nie. Daar sal dus geen offers meer wees nie en ook nie meer ʼn efod, die skouerkleed, wat God se teenwoordigheid by die priester verteenwoordig het en waardeur die volk God geraadpleeg het nie. 1Samuel 30:7-8 Dawid sê toe vir Abjatar, die priester, seun van Agimeleg: Bring asseblief vir my die efod nader. Abjatar het die efod na Dawid gebring, en Dawid het die Here geraadpleeg: “Moet ek hierdie rowerbende agtervolg? Sal ek hulle inhaal? Die Here het vir hom gesê: Jy moet, want jy sal hulle beslis inhaal en jy sal beslis jou mense red. Net so sal die valse ook nie meer daar wees in terme van afgode, die klippilare en huisgode nie. Ons weet dat dit vervul is in die ballingskap, maar dat die volk weer daarna offers en ʼn leier gehad het is duidelik vanuit die Skrif in Esra, die priester. Tog is dit vanuit die profesie van Hosea duidelik dat dit sal geld tot die kinders van Israel weer voor die Here Sy goedheid sal soek. Baie van die profesieë in die Bybel het ʼn naby vervulling, ʼn vervulling in Christus en soms ook ʼn vooruitskouing na die wederkoms van Christus. Hierdie profesie het ʼn duidelike vervulling in Christus se eerste koms, maar wys beslis na iets in die toekoms wat nog moet gebeur. In die tyd van Christus was daar nog steeds offers gebring by die tempel. Al is Hy die volmaakte offer en die laaste hoëpriester volgens die Skrif, weet ons dat die Jode offers gebring het tot en met 70 n.C. met die verwoesting van die tempel. Vanaf daardie dag tot op hede word daar geen offer deur enige Jood gebring nie. Daar is en was nog nooit weer ʼn priester wat namens die volk kon offer nie. Vandag bely die ortodokse Jode dat die manier tot versoening plaasvind a.g.v. hulle goeie dade en rituele.
Hoe hartseer is dit dat hulle nie besef dat die Tora (eerste vyf boeke van die Ou Testament) dit duidelik maak dat daar geen versoening kan plaasvind sonder ʼn offer nie en dat hulle selfs volgens die Tanakh geen versoening het nie? Levitikus 17:11 Omdat die lewe van ‘n liggaam in die bloed is, het Ék vir julle die bloed gegee om by die altaar te gebruik, om versoening vir julle lewens te doen. Dit is immers die bloed wat deur die lewe vir ‘n persoon versoening doen. Die Nuwe Testament maak dit verder duidelik dat daardie offers slegs ʼn skaduwee was, wat na Christus gewys het. In 1948 het Israel weer vir die eerste keer ʼn onafhanklike land geword en tog is die offers en die priesters nog steeds nie herstel nie. Die Jode vandag is óf Ortodokse Jode óf sekulêre Jode, wat nog aan sommige feeste en beginsels van die Jode vashou, óf Ateïste. Daar is ook geen afgode aanbidding onder hulle nie. Dit sê die Bybel sal aanhou totdat hulle hulle bekeer tot God en Dawid hulle koning soek. In vers 5 verwys “Dawid hulle koning” na die messias wat aan Dawid belowe is, nl. dat uit sy nageslag daar ʼn heerser vir Israel sal opstaan. Al hierdie dinge sal in die laaste dae voor Christus se wederkoms plaasvind. Hiervan getuig Paulus as hy aan die gelowiges uit die heidene toon dat God aan hulle barmhartigheid bewys het en verharding oor die Jode gestuur het totdat die volle getal uitverkorenes uit die heidene gelowig geword het. God se barmhartigheid sal dan terugkeer na die Jode. Romeine11:28-32 Wat die evangelie betref, is hulle wel vyande ter wille van julle; maar wat die uitverkiesing betref, bemindes ter wille van die vaders. Want die genadegawes en die roeping van God is onberoulik. Want soos julle ook vroeër aan God ongehoorsaam was, maar nou barmhartigheid ontvang het deur hulle ongehoorsaamheid, so het hulle ook nou ongehoorsaam geword deur die barmhartigheid aan julle, sodat hulle ook barmhartigheid kan ontvang. Want God het hulle almal in die ongehoorsaamheid ingesluit om vir almal barmhartig te kan wees. Watter dag sal dit nie wees nie!?
Slot
Is dit nie wonderlik dat God, net soos met Israel, ook met ons as heidene bemoeienis gemaak het nie. Uit Sy barmhartigheid het Hy in liefde met ons gespreek en ons op grond van Sy liefde gekoop uit elke stam en taal en nasie om sy volk te wees. Die prys was Sy Seun aan die kruis. Word jou lewe gekenmerk deur dankbaarheid en ʼn lewe van heiligheid of is jy soos die Israel van ouds wat maar nog steeds hunker na die tydelike en drink by die gebarste reënbakke wat nie water hou nie. Verneder ons God deur te hunker na ander dinge wat ons sogenaamd geluk sal bring terwyl Sy liefde oor ons uitgestort word?
