Inleiding
Deur die profete word die tema weer en weer herhaal. Die volk doen sonde en loop hulle eie weg. God kondig hulle straf aan en wys hulle op alles wat hulle uit Sy hand ontvang het. God steek sy hand uit en red die volk te midde van al hulle oortredinge. Nêrens vind ons dat die volk ooit die eerste tree na God neem nie. Nee, elke keer is dit God wat die inisiatief neem in die verlossing van Sy volk. Hulle ontvang genade op genade. Elke regverdige ontvang die opdrag om te midde van hul mede-volksgenote se verharding in sonde, hulle op te roep om terug te keer na hul ware God. Al is dit God se werk om mense in te trek, aan te neem en deel van Sy familie te maak, het die gelowige nog steeds die taak om mense tot bekering op te roep. Soos Esegiël preek ons God se boodskap aan doodsbeendere, wetende dat as Hy hulle nie lewendig maak en vul met Sy Gees nie, daar geen lewe sal wees nie.
Ontevrede en ondankbaar
Die volk het agter haar minnaars aangeloop, want in hulle gedagte was hierdie die individue en die volke van wie hulle werklik afhanklik was. Al die groot moondhede rondom Israel was Israel se hoop op welvaart en sekuriteit indien enige iets slegs met hulle sou gebeur. In hulle gedagtes het hulle geredeneer dat as hulle in ʼn goeie verhouding met hierdie lande staan hulle nooit hoef te vrees vir enige onheil nie. God noem dit hoerery – om jou vertroue op mense en dinge buiten God te plaas. Hulle was nooit tevrede met wat God aan hulle gegee het nie. In die Nuwe Testament word hierdie gierigheid as afgodediens beskryf. Kolossense 3:5 Daarom moet julle daardie deel van julle wat op die aarde gerig is, doodmaak: onsedelikheid, onreinheid, wellus en slegte begeertes, en ook gierigheid, wat afgodediens is. Daarom word die gelowige opgeroep om in alles vergenoegd te wees. Ons moet dankbaar wees vir wat ons uit die hand van God ontvang het. Tog het die volk nie net na meer gehunker nie, nee, hulle het ook alles wat hulle gehad het toegeskryf aan hulle vennootskappe met ander volkere. Wat hulle ontvang het was volgens hulle te danke aan alles behalwe aan God wat dit uit genade aan hulle geskenk het. Gelowiges is baie keer so bang om in die werksplek of. ander terreine van hulle lewens getrou aan God se Woord te bly, omdat hulle bang is dat hulle dalk daardie kontrak, hulle werk, goeie aanbod of vriendskapsverhoudings kan verloor of skade doen. Sal dit werklik met my finansieel goed gaan as ek alles presies doen soos die Woord my leer? Dalk is die antwoord dat, in die meerderheid gevalle, jy heel moontlik nie geld sal maak nie, maar as dit dan so is, is dit wat jy in Christus het vir jou van groter waarde. Sê die Bybel nie dat as ons kos en klere het ons daarmee te vrede moet wees nie. 1Timotheus 6:8 Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees. As God môre alles van jou sou wegvat en al wat oorbly is net jou kos en klere sal jy daarmee tevrede wees? Miskien het ons dieselfde probleem as die volk van Israel, nl. dat God se liefde nie vir ons genoeg is nie. Begryp ons werklik wat ons het in Christus? Efesiërs 3:18-19 en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God. Van wie is jy werklik afhanklik? Van wie het jy ontvang wat jy het? Die Jode sou heelwaarskynlik bely het dat dit van God afkomstig was, maar hulle leefwyses het van die teendeel getuig.
God as vyand
God sou kom en alles wat Hy aan Israel gegee het, terugneem. Hosea, as man van hierdie vrou, vir wie hy oorlaai het, sal nou alles terugneem. Die interessante is dat, net soos in die geval van egskeiding, as die vader die moeder verlaat, word die kinders dikwels groot met woede en haat vir die vader, ongeag die rol wat die moeder dalk in die egskeiding gespeel het. So was dit ook met die kinders van Israel. Waarom is hulle nie skaam oor wat hulle vaders gedoen het nie? Hoekom word hulle nie blameer vir die toestand waarin hulle hulle bevind nie? Die mens sal in stryd met God se opdragte lewe en as hulle lewens dan uitmekaar val sal hulle heel eerste die blaam voor God lê. Daar is die verhaal in die Bybel van ʼn goddelose koning wat geheers het oor Israel. God straf die volk en dit gaan bitter swaar met hulle. In hierdie tyd is die mense so honger dat twee vroue besluit om hulle babas te eet. Hierdie is dan ook ʼn vloek wat God aankondig wat sal plaasvind a.g.v. mense se ongehoorsaamheid. Deuteronomium 28:53 En jy sal die vrug van jou liggaam eet, die vlees van jou seuns en jou dogters wat die HERE jou God jou gegee het, in die beleëring en in die benoudheid waarmee jou vyand jou benoud sal maak. Die koning word egter kwaad en kondig aan dat hy sy wraak op die profeet sou uithaal. 2Konings 6:31 en hy sê: Mag God so aan my doen en so daaraan toedoen, as die hoof van Elísa, die seun van Safat, vandag op hom sal bly staan. Kan jy glo dat hierdie koning selfs God wil inroep as getuie as hy nie doen wat hy belowe nie? Moes hy nie eerder in sak en as homself verneder het voor God nie? Mense se lewens getuig dat God se Woord waar is. Huwelike en gesinne getuig dat as jy nie doen wat God sê nie jy die gevolge daarvoor sal dra en tog word daar nie belydenis gedoen dat God se Woord waar is nie. Dink jy dat God dit ligtelik sal opneem as jy met die sonde speel en Sy Woord verontagsaam?Psalm 7:12 God is ‘n regverdige regter, en ‘n God wat elke dag toornig is.
Herstel
God se straf is ook ʼn manier om Israel terug te bring na Hom. Hulle moet terug verlang na die tyd toe Hy vir hulle gesorg het. Dit is dan ook wat gebeur in die gelykenis van die verlore seun. Die jongste seun het net soos Israel sy geld deurgebring op hoere en in die soeke na genot. Die uiteinde van hierdie soeke na plesier weg van die huis van sy vader, is ʼn vark plaas. Hier moet hy elke dag die stank van varke ervaar en ʼn honger so groot, dat hy, self as ʼn Jood, die begeerte het om met die peule van hierdie onrein diere gevoed te word. Lukas 15:16 En hy het verlang om sy maag te vul met die peule wat die varke eet, en niemand het dit aan hom gegee nie. Is dit nie interessant dat Jesus aan ons vertel dat niemand vir Hom eers die peule wou gee nie. Die Bybel is duidelik dat as God se oordeel kom niemand jou sal kan red nie. Hierdie beginsel word ook in Hosea bevestig. Hosea 2:9 …en niemand sal haar uit my hand red nie. Die seun dink terug oor al die voordele wat hy gehad het in die huis van sy vader en besef dat selfs ʼn slaaf in die huis van sy vader beter af is. Die psalmdigter stel dit so mooi. Psalm 84:11 Want ‘n dag in u voorhowe is beter as duisend; ek wil liewer by die drumpel staan in die huis van my God as om te woon in die tente van goddeloosheid.
Aan die einde van hoofstuk 2 is dit weer God wat die inisiatief neem in die herstel en die verlossing van hierdie hardnekkige volk. Dit is Hy wat tot hulle sal nader voordat hulle enigsins ʼn tree van hulle kant geneem het. Dit is nooit 50/50 by die Here nie, maar altyd 100% Sy werk. Die mens kan nooit uit sy eie God soek nie. Dit is altyd God wat die mens soek. Romeine 3:11 Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie. God bring weer rus in die land. Hy verwyder die name van die Baäls uit die volk se mond en bring weer die getuienis op haar lippe dat God haar man is. Die herstel sal ʼn ewige herstel wees wat God te weeg sal bring. Hierdie volk sal ten volle herstel word en God sal hulle oorlaai met hartlikheid. Elke persoon wat hierdie herstel, wat van God alleen kan kom, ervaar kan bely dat God die jare van verwoesting herstel het en in my siel ʼn rus en vergenoegdheid gestuur het wat ongekend is. Nie net sal daar ʼn geestelike herstel plaasvind nie, maar die Bybel belowe ook aan elke gelowige ʼn ewige herstel en seën wat sal plaasvind die dag as ons bruidegom ons, Sy bruid, kom haal.
Slot
Het jy ʼn geestelike honger en dors. Dit kan alleen in Christus tevrede gestel word. Net Hy kan gee wat ons waarlik na hunker. Jesaja 55:1-2 o Almal wat dors het, kom na die waters; en wie geen geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder prys, wyn en melk! Waarom weeg julle geld af vir wat geen brood is nie, en julle arbeid vir wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My en eet die goeie, en laat julle siel hom in vettigheid verlustig.
