Joël 3

Inleiding

Dit verstom my hoe baie keer gedeeltes soos Joël 3 uitgelê word sonder dat daar aandag gegee word aan die fisiese Israel wat herstel sal word. Baie sal na hierdie gedeelte verwys en na die Kerk verwys as die nuwe Israel. In die Tenach (Ou Testament) word baie keer en met verskeie beelde na die nasies gewys wat by Israel sal aansluit en God wat bemoeienis sal maak met alle nasies. Tog sal enige teoloog onverskillig met die teks omgaan om nie daarop te wys dat die Israeliete of Jode deel is van die uitverkore volk waarmee God sal aanhou bemoeienis maak nie. Ons haal tekste aan soos Johannes 10 waarin daar duidelik staan dat niemand ons sal uitruk as uitverkorenes van God nie, maar as dit by die Jode kom het ons die idee dat Hy hierdie uitverkore volk van Hom net sal vergeet en nie ag op hulle sal slaan en Sy beloftes aan hulle sal vervul nie. Luister na Jesaja wat God se liefde vir Israel beskryf as die vraag gevra word van Sion, die heilige stad, dat God hom verlaat het. Jesaja 49:14-15 Sion het gesê, Die Here het my verlaat, my Heer het my vergeet. Kan ‘n vrou haar suigeling vergeet, haar nie ontferm oor die seun van haar moederskoot nie? Selfs al sou hulle vergeet, Ek, ja, Ek sal jou nie vergeet nie. Dit is dan ook Paulus se argument in Romeine 9-11. Hierdie is nou die tydperk van die heidene, van wie die meeste gelowiges wat inkom deel is. Dit sal aanhou tot die volle getal heidene ingekom het soos wat God bepaal het voor die grondlegging van die aarde. Dan sal die oorblywende Jode hulle toevlug na Christus neem soos wat die profete en ook die Nuwe testament voorspel.

Die vrou en haar nageslag

God dui aan wat in die dae waarin God die herstel van Israel gaan bewerkstellig sal gebeur. Deur die geskiedenis van die mens was daar nog nooit ʼn volk wat so gehaat en vervolg is soos die Jode nie. Die gelowiges, as ʼn volk, kan ook bely dat die aanvalle van die wêreld deur die geskiedenis net so fel op ons was en steeds is. Hierdie vervolging en haat word uitgebeeld in Openbaring met ʼn beeld van ʼn vrou en ʼn baba waaraan sy geboorte skenk en die duiwel se begeerte om hulle te vernietig. Openbaring 12:13 En toe die draak sien dat hy op die aarde neergegooi is, het hy die vrou agtervolg wat geboorte geskenk het aan die manlike kind. Wie is die vrou? Sy is die een wat geboorte gee aan die Een wat die nasies met ʼn ysterstaf sal regeer en die Een wat weggevoer word na die troon van God. Die kind is dus Christus. Die vrou word soos volg beskryf in Openbaring 12:1 Toe het daar ‘n indrukwekkende teken in die hemel verskyn: ‘n vrou beklee met die son, met die maan onder haar voete, en op haar kop ‘n kroon van twaalf sterre. Die vrou is dus Israel, aangesien die beeld ʼn verwysing is na die droom van Josef waarin dit duidelik is dat die son en die maan en die twaalf sterre verwys na Jakob, sy vrou en sy twaalf seuns. Die draak wat as die duiwel geïdentifiseer word sal Israel probeer uitwis, maar God sal hulle beskerm. Israel sal nie die enigste gehate groep wees wat die duiwel sal probeer uitwis nie, nee die teks wys na nog ʼn groep wat Hy met woede sal wil uitwis. Openbaring 12:17 Die draak was woedend vir die vrou, en het weggegaan om oorlog te voer teen die res van haar nageslag wat die gebooie van God nakom en vashou aan die getuienis wat Jesus gelewer het. Hierdie groep is die Kerk. Die haat van die duiwel en die wêreld teenoor die Here se uitverkorenes sal altyd daar wees en die Woord is duidelik dat dit ook ʼn teken is dat ons aan Hom behoort. Johannes 15:19 As julle van die wêreld was, sou die wêreld julle as sy eie liefhê. Omdat julle egter nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, juis daarom haat die wêreld julle.

Oorlog

Hierdie haat sal op ʼn spits gedryf word wanneer die finale oorlog plaasvind. Die nasies word opgeroep om na die dal van Josafat op te trek sodat God oor hulle kan oordeel. Hierdie oorlog word ook in Openbaring beskrywe as die oorlog van Armageddon. Dit sal ʼn oorlog wees soos geen ander nie. Die demone wat wonderwerke doen sal die konings van die aarde versamel vir hierdie groot oorlog. Dit sal ʼn tyd van oordeel wees volgens Joël en Openbaring. Joël roep op dat die sekel ingesteek moet word en dat die parskuip getrap moet word, aangesien die mense se boosheid groot is. ʼn Soortgelyke beeld word beskryf in Openbaring waar die Een op die wit perd, en wie se kleed in bloed gedoop is, die Woord van God, Christus self die oordeel sal fel. Openbaring 19:15 Uit sy mond het ‘n vlymskerp swaard gekom om die nasies mee te tref, en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer. Hy sal ook self die parskuip van die geweldige toorn van God, die Almagtige, trap. Vergelyk hierdie gedeelte gerus met Joël 3:13. Steek die sekel in, want die oes is ryp! Klim in, trap, want die parskuip is vol en die giskuipe loop oor, want hulle boosheid is groot! Die dag sal die son en die maan hulle glans verloor soos wat dit ook beskrywe word deur Jesus in Mattheus. Onmiddellik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy lig nie gee nie, en die sterre sal van die hemel  val, en die kragte van die hemele  sal geskud word. Mattheus 24:29.

God ons toevlug

Wanneer al hierdie tekens in vervulling gaan en die aarde en die hemel bewe sal die Here die toevlug wees vir die kinders van Israel. Dit is so wonderlik om deur die Bybel te lees dat God ons toevlug moet wees in tye van nood en tye van toetse. Waarin is jou vertroue geplaas? Wat dink jy sal staande bly en die rots wees waaronder jy kan skuiling vind. Ons as gelowiges is diegene wat gerus is wanneer enige slegte tyding ons tref. Psalm 112:7  Vir slegte tyding  is hy nie bang nie; sy hart is standvastig in vertroue op die Here. Sal ons enige iets vrees? Sal ons bang wees terwyl God in ons midde is? Ons roem is in God alleen. Psalm 20:8 Party beroem hulle  op strydwaens, ander weer op perde, maar ons, ons beroem ons  op die Naam van die Here ons God. God sal brul uit Sion en Hy sal ʼn einde bring aan hierdie wêreld.

Slot

God gaan nuut skep! ʼn Nuwe Hemel en Nuwe aarde sal geskep word. In hierdie plek sal daar geen sondaar meer kan inkom volgens Joël 3:17 en Openbaring nie. Openbaring21:27 En niks wat besoedel is, en niemand wat iets gruweliks en vals gedoen het, sal ooit toegang tot haar kry nie, slegs hulle wat opgeteken is in die boekrol van die lewe van die Lam. Hierdie nuwe hemel en aarde sal ʼn plek van heerlikheid wees. Oral in die Skrif waar hierdie nuwe tuiste van elke gelowige verduidelik word, word dit verduidelik met beelde wat ons herinner aan Kanaän, die beloofde land van Israel, ʼn land van melk en heuning. Levitikus 20:24 Ek het vir julle gesê, Julle sal hulle grondgebied in besit neem. Ek self gee dit vir julle as besitting – ‘n land wat oorloop van melk en heuning. Ek, die Here, is julle God wat julle van die ander volke afgesonder het. Alhoewel die beskrywing in die Skrif van hierdie nuwe tuiste wonderlik is, is daar iets nog meer wonderliks vir elke gelowige. Die Here sal tussen ons kom woning maak. Die Jode het ʼn tabernakel in hulle midde gehad wat God se teenwoordigheid verteenwoordig het. As Christus in die Nuwe Testament kom word Sy teenwoordigheid beskrywe met die konsep van “tabernakel maak” by ons. Met die uitstorting van die Heilige Gees maak God woning met ons deur Sy Gees. Johannes 14:23 Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy ter harte neem wat Ek sê, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. Niks kan vergelyk word met dit wat in die Nuwe tyd sal aanbreek nie. 1 Johannes 3:2 Geliefdes, nou is ons kinders van God, maar dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie. Wat ons weet, is dat wanneer Hy verskyn, ons soos Hy sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. Daar sal nie meer ʼn son en ook nie meer ʼn maan wees nie, aangesien God met ons sal wees. Openbaring 22:5 Daar sal ook nie meer nag wees nie. Die behoefte aan die lig van ‘n lamp en die lig van die son sal nie meer bestaan nie, omdat die Here God hulle sal verlig, en hulle vir ewig en ewig as konings sal heers.

Watter wonderlike dag sal dit nie wees nie. Hoeveel meer brandend sal ons harte nie wees as die van die Emmausgangers nie. En ons sal met Hom wees vir ewig en altyd.