Inleiding
Ons ontvang in die begin van Hosea ʼn goeie aanduiding van die tydperk waarin hierdie profeet opgetree het. As ons na die konings van Juda kyk waartydens hy geprofeteer het kon sy tydperk van profesie enige iets van 50 tot 60 jaar geduur het en selfs langer. Ons het baie keer die idee dat die profete vinnig op die toneel verskyn het, hulle boodskap van God gebring het en dan van die toneel verdwyn het. Die teendeel is egter waar. Baie manne van God moes dekades lank aan ʼn volk die boodskap bring waarop daar in die meeste gevalle nie ag geslaan is nie. Die tydperk waarin Hosea optree is van die sogenaamde “beter dae” in die heerskappy van Juda en Israel. Met die regering van Jerobeam (seun van Joas) was Israel finansieel op ʼn baie goeie plek. Wat sou die volk se verwagting wees in verband met ʼn profeet se boodskap aan hulle? Sou hulle verklaar dat God goed is vir hulle? Die boodskap sal jou, en het verseker die volk geskok. God sou nie net die profeet daardie Sabbat laat preek nie, nee, Hy sou met hom ʼn beeld laat uitdra wat die volk elke dag sigbaar sou aankla wanneer hulle hom en sy familie sien.
God begin met Sy boodskap aan Israel.
Hosea word opgeroep om ʼn prostituut te neem as sy vrou. Die beeld moes almal geskok het. Van die profete is verwag om God in elke opdrag te gehoorsaam, maak nie saak wat die prys sou wees nie. Dit is dan ook die oproep wat Jesus maak aan elke persoon wat Hom wil volg. Baie het gekom met oppervlakkige belydenisse van ʼn begeerte om Hom te volg. Jesus maak dit duidelik dat om Hom te volg nie maklik of ʼn ligtelike besluit is nie. Mattheus 16:24-26 Toe het Jesus vir sy dissipels gesê: “As iemand My wil navolg, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Want wie sy lewe wil red, sal dit verloor, maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind. Wat sal dit ‘n mens dan baat as hy die hele wêreld as wins bekom, maar sy lewe verloor? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy lewe? Wat sou jou antwoord wees indien God jou sou vra om hierdie opdrag aan Hosea uit te voer? Hierdie is nie ʼn opdrag sonder langtermyn gevolge nie. Dit sou nie vinnig oor en verby wees, soos wanneer jy vinnig die slegste kos in jou bord eerste eet en dis verby nie. Dit sou ʼn huwelik wees waar jy ʼn gesin sou begin met ʼn sedelose vrou – ʼn vrou wat jy beslis nie kon vertrou nie.
Doel om te skok
Die doel van die opdrag was om te skok. As jy dalk ontsteld is oor wat dit vir Hosea moes beteken, die skuins kyke die gespot van mense wat hy sou moes verduur, sien jy nog nie naastenby die geheelbeeld en innerlike hartseer wat hy moes ervaar nie. Ja, Hosea was ʼn regverdige man wat die wet nagekom het en aan God getrou was, so die “vuilheid” van wat hy nou moes doen moes teen elke grein in sy wese ingegaan het. Wat is sy reinheid egter in vergelyking met die reinheid van die Lewende God. Die God waarvoor engele “met twee vlerke het elkeen sy gesig bedek, met twee het hy sy voete bedek en met twee kon hy vlieg. Hulle het na mekaar geroep en gesê: Heilig, heilig, heilig is die Here, Heerser oor alle magte! Die hele aarde is vol van sy heerlikheid.” Jesaja 6:2-3. Dit is die God wat hierdie volk as sy bruid geneem het en hulle versorg het, al was daar niks in hulle wat dit enigsins verdien het nie. Esegiël, die profeet, verwys na wie hierdie volk was voor God hulle kom soek en verander het. Esegiël 16:6 Ek het by jou verbygegaan, jou sien spartel in jou bloed. Ek het vir jou, waar jy in jou bloed lê, gesê, Bly leef! Ja, Ek het vir jou, waar jy in jou bloed lê, gesê, ‘Bly leef. ʼn Paar verse later lees ons waar God weer by hulle verby gaan en luister na God se genade en hoe Hy hulle oorlaai het: Ek het weer by jou verbygegaan, jou raakgesien, en kyk, jou tyd vir die liefdespel het aangebreek! Ek het die soom van my kleed oor jou gesprei, jou naaktheid bedek. Ek het vir jou ‘n eed afgelê, My in ‘n verbond met jou begewe, is die uitspraak van my Heer, die Here: en jy het Myne geword. Ek het jou met water gewas, jou bloed afgespoel en jou met olie ingevryf. Ek het jou geklee in veelkleurig geweefde klere, vir jou sandale aangetrek van sagte leer, jou in linne gedrapeer en jou met sy bedek. Ek het jou met juwele versier, armbande om jou polse gesit, ‘n halssnoer om jou nek. Ek het ‘n ring in jou neus gesit, oorringe aan jou ore en ‘n sierlike kroon op jou kop. Jy het jouself versier met goud en silwer; jou klere was van linne, van sy en veelkleurig geweefde materiaal. Gesifte meel, heuning en olyfolie het jy geëet. Jy het buitengewoon mooi geword. Jy sou deug as ‘n koningin. Esegiël 16:8-13. Hoe dankbaar moes hierdie volk nie gewees het nie? Hulle het hierdie Heilige God egter geminag en gehoereer met ander gode en volke en Hom as niks geag nie. Hoekom het God dit toegelaat? Hoekom het Hy hulle nie onmiddellik uitgewis nie? Die profeet se boodskap sou ʼn harde boodskap wees, ʼn boodskap aan ʼn volk wat ontrou was. Hy en sy familie sou die spieël wees waarin die volk hulle self moes sien.
Boodskap in ʼn naam
Hosea is getrou en het Gomer geneem en met haar getrou. Gomer beteken verorber en haar pa se naam het verband met vye. Verorber die vye. Waar vye dikwels die teken was van God se seën, sou mens haar naam kon koppel aan die wegneem van seën. Sy vrou het swanger geword en aan ʼn seun geboorte gegee. Sy naam sou Jisreël wees. Jisreël beteken uitdryf. God sou Jehu se familie uitdryf vir die bloed van Agab en sy familie wat hy geskend het. Al het Hy dit in opdrag van God gedoen, het God sy hart geken en geweet dat hy dit nie in gehoorsaamheid gedoen het nie, maar om sy eie wraak en sy eie eer te bevorder. Dit is soortgelyk aan die boodskap van God aan die Assiriese mag wat God teen Israel gebruik het en wat op die ou einde meer verwoesting aangerig het as waarvoor God opdrag gegee het vir hulle eie eer. Jesaja 10:5-8 Wee Assirië, die stok van my toorn! My verontwaardiging – ‘n staf is dit in hulle hand. Teen ‘n nasie, vervreem van God, stuur Ek hom; teen die volk op wie my gramskap rus, gee Ek hom volmag, om oorlogsbuit te roof en buit te maak, om van hulle ‘n vertrapte ding, soos die kleigrond van strate, te maak. Maar hy het dit nie so bedink nie, sy hart het dit nie so beplan nie; want sy voorneme was om uit te delg, om tallose nasies uit te roei. Hy het immers gesê, is my bevelvoerders nie almal konings nie? Die koningshuis van Israel sou tot ʼn einde gebring word. Elke dag as Jisreël deur sy ouers of vriende geroep word, sou die boodskap uitgaan: ”Koning jou regering kom tot ʼn einde, jou familie se heerskappy sal verwoes word.”
Dan het hulle ʼn dogter. Mense moes van die begin van die swangerskap gewonder het wat haar naam sou beteken. Haar naam sou Lo-Rugama wees, wat sonder ontferming beteken, en die betekenis is duidelik, nl. dat God hom nie meer oor die huis van Israel sou ontferm nie. Die name raak net erger. Haar lewe lank sou sy hierdie naam dra en as mense haar naam hoor sou dit ʼn aanklag teen hulle wees. Dit moes nie ʼn maklike naam vir iemand gewees het om uit te spreek nie. As hulle gedink het die boodskap is net teen die koning en dat God die koningshuis sou uitwis en dat Hy niks verder aangaande die volk sou sê nie het hulle ʼn groot ontnugtering gehad. Die derde kind se naam sou Lo-Ammi wees, wat nie my volk nie beteken. Die name sou weerklink in Israel en die gesin sou ʼn boodskap uitdra na ʼn goddelose volk.
Genade
Te midde van die uitwissing van Israel sou God genade aan Juda bewys. Daar sou altyd ʼn oorblyfsel wees wat deur God se genade vasgehou sou word a.g.v. God se beloftes. Terwyl God sou toelaat dat die Assiriese magte die Israeliete verwoes, sou Hy Juda deur Sy magtige hand red sonder enige militêre verdediging van Juda se kant af. God sou Sy engel stuur en in een nag 185000 Assiriese magte uitwis. God se bewaring sou elke slag van Homself kom en in Hom sou die finale verlossing en die Persoon van verlossing kom – Jesus Christus.
Sou dit die einde van hierdie volk wees. Sou Israel vir ewig uitgewis word en sou daar geen meer genade aan hulle bewys word nie. In die middel van hierdie donker wolk breek die son van genade deur op ʼn volk wat beslis nie genade verdien nie. Waarom sou God genade bewys? Kon Hy nie oor begin met ʼn nuwe volk wat heelwaarskynlik meer dankbaarheid teenoor Sy genade sou openbaar nie? God kondig aan dat Hy hulle weer Sy volk sal maak. Hulle sou word Kinders van die Lewende God. Hy sou die belofte aan Abraham hou. Genesis 15:5 Toe neem Hy Abram na buite en sê: Kyk maar op na die hemel en tel die sterre – as jy in staat is om hulle te tel! En Hy sê vir hom: So sal jou nageslag wees. God hou sy belofte ten spyte van die mens se ongeregtigheid. Hy het hulle as volk uitverkies en Hy sou met hulle aanhou handel en Hy sou hulle terugbring. Hulle sou een hoof weer aanstel oor Israel en Juda. Een volk sou weer tot stand kom en een Koning sal oor hulle heers. Kan jy raai na wie dit verwys. Luister na die Psalmdigter: Uit Sion stuur die Here jou magtige septer: Heers te midde van jou vyande! Jou volk bied hulleself gewillig aan op die dag van jou magsvertoon
op die heilige berge. Uit die skoot van die daeraad het Ek jou soos dou verwek. Psalm 100:2-3. Dit sou die wonderlike dag wees waarna Paulus ook gesmag het wanneer die Kerk gevul sou word met die volk wat hulle verhard het teen die God van genade. Romeine 11:25-27 Om te voorkom dat julle eiewys sal wees, broers, wil ek nie hê dat julle onkundig moet wees oor hierdie misterie nie: Daar het gedeeltelik ‘n verharding oor Israel gekom, totdat die volle getal van die heidene ingekom het. Op hierdie manier sal die hele Israel verlos word. Soos daar geskryf staan: Die Redder sal uit Sion kom, en Hy sal die goddeloosheid uit Jakob verwyder. En dit sal my verbond met hulle wees wanneer Ek hulle sondes wegneem.
Slot
God het ʼn volk uitverkies en hulle sy eiendom gemaak. Hy gebruik sy profeet Hosea om aan hulle die afgryse van hul afvalligheid teenoor Hom te wys. Hulle moes God se hart in Hosea se aksies sien en in die name van sy familie hoor. Net so het God voor die grondlegging van die aarde vir Hom ʼn Geestelike volk uitverkies, waarvan alle gelowiges deel is. God sal hierdie geestelike volk bymekaar maak uit elke volk en taal en nasie, maar ook die beloftes aangaande Sy fisiese volk, die volk Israel, sal Hy nakom, want God verander nooit van gedagte nie. Net soos Hy ons vashou en nooit sal begewe en verlaat nie, net so sal Hy die volk wat Hy uitverkies het terug bring in Sy groot genade en hulle sal Christus aanvaar en oor Hom rou – die Een wat hulle deurboor het. Sagaria 12:10 Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek ‘n gees van genade en ‘n gesindheid van smeekgebede uitstort. En hulle sal kyk na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor hom rou soos ‘n mens rou oor ‘n enigste seun, en hulle sal bitterlik huil soos ‘n mens huil oor ‘n eersgebore kind.
