Joël 2

Inleiding

Hierdie gedeelte begin met God wat Sy wraak aankondig. Lank genoeg het Hy hulle oorgesien, nou sou daar ʼn besliste verwoesting oor hulle kom. Die profeet word gestuur om die volk op te roep om erns te maak met God se waarskuwing en ag daarop te slaan. Die trompet moet geblaas en alarm gemaak word op die plek van aanbidding in Jerusalem. Wat sou die mense se reaksie wees? Sou hulle wakker skrik en hulle bekeer as hulle die nood alarm hoor. Elke man en vrou van God word ook opgeroep om die trompet te blaas en mense wat in hul beswyming is te ontstel. Dit is soos om ʼn man uit die bed ruk in die middernagtelike ure, aangesien ʼn brand besig is om sy huis te verswelg. Hy verkeer in lewensgevaar! Sal sy eerste reaksie verligting en dankbaarheid wees of sal hy ontsteld wees dat jy dit kon waag om in sy huis te kom om hom op hierdie uur wakker te maak? Al sou hy later tot die besef kom dat jy heel moontlik sy lewe gered het en jou daarvoor bedank is daar ʼn groot moontlikheid dat diegene wat geestelik in ʼn groter penarie verkeer jou nooit sal bedank nie, eerder die teendeel. Mense moet vrees oor hul sondige toestand as God se boodskap aan hulle verkondig word. Hulle moet besef dat hulle sonde hulle aankla voor ʼn lewende God wat sonde haat en sonde sal straf.

Oordeel

Die profeet kondig aan dat God die Assiriërs sou gebruik om hulle te straf vir hulle goddelose lewenswyses. Die Assiriërs word ook Sy leër genoem. Net soos Sodom en Gomorra deur vuur verwoes is sou die vyande Israel ook verwoes sodat daar niks van sou oorbly nie. Hierdie verwoesting van die land sal so groot wees dat dit deur God verduidelik word met die aarde wat bewe, die son en maan wat swart word en die sterre wat hulle glans intrek. Hierdie beelde wys heen na die dag van die finale oordeel wat oor die hele aarde sal kom. Die straf van God oor die volke, deur die geskiedenis, was heenwysings na God se finale koms wanneer die finale oordeel gefel sal word. Mattheus 24:29 Onmiddellik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy lig nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele  sal geskud word.

Hoop

Al lyk die profeet se woorde hoe verdoemend is daar nog steeds ʼn boodskap van hoop wat gebring word. ʼn Oproep word gemaak dat die mense hulle moet bekeer. Hulle word opgeroep om hulle harte, in teenstelling met hulle klere, te skeur. God soek ʼn berou wat uit die diepste wese van ʼn mens gebore is. Oppervlakkige bekerings en berou is nooit vir God aanvaarbaar nie, aangesien Hy ons harte ken. Spreuke 15:11 Die doderyk en die onderwêreld

lê oop voor die Here – hoeveel te meer die harte van mensekinders! As julle met ʼn ware berou na God kom sal Hy julle vergewe. Joël gebruik die volgende woorde om God te beskryf: … want Hy is genadig en barmhartig, geduldig en oorvloedig  in troue liefde, Hy het berou oor die onheil  wat Hy bring. Joël 2:13. Hierdie woorde word aangehaal uit Eksodus 34 waar God aan Moses Sy naam bekend maak. Met “naam” word daar in die Woord Sy wese bedoel, m.a.w. wie Hy is. God is aan die woord net nadat die volk tot die kalf wat hulle gemaak het geoffer het en God hulle straf aangekondig het. Hy het aan Moses gevra om weer twee kliptafels te maak en teen die berg op te klim. Hier beskryf God Homself. Eksodus 34:6-7 Die Here, die Here, ‘n barmhartige en genadige God, geduldig, oorvloedig in troue liefde en waarheid, wat troue liefde vir duisende  bly handhaaf, wat skuld, oortreding en sonde vergewe, maar wat beslis niks ongestraf  laat nie, wat vir die sondeskuld van ouers, kinders en kleinkinders laat boet, ook die derde en vierde geslag. Voor hierdie God kan julle pleit om genade. Hy is die God wat vergewe. Terwyl daar nog vandag is bekeer julle van al julle ongeregtigheid. Voor dit te laat is en die oordeel julle tref. Niks moet belangriker vir die volk wees nie. Almal, oud en jonk, ja selfs bruidegom en bruid, moet uit hulle slaapkamer gaan en God se aangesig gaan soek.

Vergifnis

Die profeet kondig aan dat as hulle berou het God hulle sal verskoon. Al het hulle hierdie verskriklike dinge gedoen en teen Hom gesondig in die land wat Hy aan hulle geskenk het sal hy nogtans hul sondes vergewe. Ons behoort geskok te wees met hierdie moontlikheid. Wie skryf net skuld af omdat mense hulle bekeer en met hartseer voor Hom verskyn. Ons is nie meer oorbluf met God se vergifnis nie, maar eerder vandag geskok as Hy oordeel. Miskien is ons grootste probleem dat ons nie die omvang en die grootsheid van ons sondes begryp nie. As jy die verhaal van Nabot se wingerd lees en Agab, die koning, wat Nabot vermoor om sy wingerd in die hande te kry, kom daar ʼn skok wat jy nie verwag nie. Nadat Elia sy straf aangekondig het vertel God in Sy Woord watter tipe man hierdie Agab was. 1Konings 21:25-26  Daar was werklik niemand wat hom soos Agab daaraan oorgegee het om te doen wat verkeerd is in die oë van die Here nie, want sy vrou Isebel het hom daartoe aangespoor. Hy het uiters afstootlik opgetree deur agter die afgodsbeelde aan te loop, net soos die Amoriete gedoen het, hulle vir wie die Here voor die Israeliete uit verdryf het. Ons kry duidelik die beeld vanuit God se beskrywing dat Agab ʼn slegte man was. Beter kon God hom nie beskryf het nie. Dan vind ons dat Agab sy klere skeur en rouklere aantrek en vas. Dan kom die skok -God gee vir Elia die profeet, wat ook voor hierdie Agab en sy vrou moes vlug, die volgende boodskap: Het jy gesien dat Agab homself voor My verneder het? Omdat hy hom voor My verneder het, sal Ek nie die onheil in sy tyd bring nie. In die tyd van sy seun sal Ek die onheil oor sy huis bring. 1Konings 21:29. Dit is soortgelyk aan die man langs Jesus aan die kruis, wat sy hele lewe in misdaad deurgebring het en a.g.v. sy lewenswyse nou aan die kruis sou sterf. In een oomblik sou al sy ongeregtigheid vergewe word deur die Man langs hom aan die kruis. Of wat van Paulus wat die moord op Christene goedgekeur het en gelowiges gemartel het? Nooit moet God se straf ons verbaas nie, maar eerder Sy vergifnis. Sy straf is altyd geregverdig, maar sy vergifnis is onverdiende guns en genade alleen. Waarom sal jy nog afsydig wou staan? Waarom sou jy nog aan jou sonde wou vasklou as hierdie geskenk vir jou aangebied word?

Herstel

Die volk word opgeroep om God te loof en te prys, want God sal totale herstel bring in die land. Hy sal die vyand uit hulle land verwyder. Dit sal ʼn tydperk wees van ongekende seën wat oor die land sal kom. Dit sal ʼn tydperk van oorvloed wees in die land.  Dit wat die sonde verwoes het sal God omkeer en in ʼn seën verander. Hy sal in hulle midde kom woning maak. Hierdie vervulling het gekom in Jesus Christus. Hy het, soos Johannes sê, tabernakel by ons kom maak. Hy is Immanuel, God met ons. In Hom het daar ʼn volkome herstel gekom en het mense wat deurtrek was met sonde en die gevolge daarvan soos kalwers gespring en vry huis toe gegaan. Vra maar vir die vrou by die put, Saggéüs, Maria Magdalena en vele ander. Elke individu wat saam met Hom sou wandel sou met die Emmausgangers kon verklaar:   Was ons harte nie brandend in ons toe Hy met ons langs die pad gepraat en die Skrifte vir ons uitgelê het nie? Lukas 24:32.

Slot

Straf, bekering, vernuwing. Joël kondig aan dat hierdie tyd gekenmerk sal word deur die Gees wat op elkeen wat saam met God wandel uitgestort sal word. Nie net sal sekere mense die Heilige Gees ontvang soos wat in die Ou Testament gebeur het nie, nee, hierdie tyd sal jonk en oud, man en vrou, ryk en arm die Heilige Gees ontvang. Dit wat Moses se hartewens aan Josua was: Ag, was die hele volk van die Here maar profete, dat die Here sy Gees oor hulle sou laat kom!(Numeri 11:29), sou nou vervul word. Die klem moet dus nie op die verskillende gawes wat ervaar word gelê word nie, maar eerder op die feit dat elke persoon dit sou ontvang in teenstelling met slegs individue in die Ou Testament. Teenoor hierdie dag word die dag van oordeel verkondig wat ook in die Evangelies en in Openbaring beskrywe word. Openbaring 6:12 Ek het gesien toe Hy die sesde seël oopbreek. En daar het ‘n groot aardbewing plaasgevind. Die son het swart geword soos ‘n harige sak, en die maan het geheel en al soos bloed geword. Jy gaan of deel wees van die seën of jy sal die oordeel ontvang. In Jesus Christus sal jy vryspraak ontvang en sal jy nie onder die oordeel val nie. Elkeen wat die naam van die Here aanroep sal gered word! Neem in hierdie oomblik jou toevlug na Christus, jou enigste verlosser en jy sal erken dat hierdie verlossing wat plaasgevind God se werk is soos die Woord verklaar: …Net hulle wat deur die Here geroep word, sal vry wees.”Joël 2:32. Hy het ons geroep!