Inleiding
Die boek Joel kan ons nie in ʼn spesifieke tydperk plaas nie aangesien geen regeerder in die boek genoem word nie. Daar word wel koninkryke genoem, maar selfs dit gee ons nie ʼn spesifieke aanduiding van die tydperk waarin dit geskrywe is nie. Tog is dit nie wat van belang is nie. Die profeet Joel het geen gesag op sy eie wat hy op die volk wil afdwing nie. Nee, hy maak dit duidelik dat die boodskap wat hy bring die Woord van die Here is. Dit is baie belangrik vir elke persoon wat die boodskap van die Woord aan ander wil oordra dat ons nie ons eie gedagtes oordra in plaas van die Woord van God nie. So baie mense is meer bekommerd dat hulle opinies en gedagtes gevolg word as dat God gevolg word. Ons sien dit in die Fariseërs van Jesus se dag. Jesus wys hulle male sonder tal daarop dat hulle besig is met leringe van mense en nie met die Woord van God nie. Mense moet nooit jou gesag as die hoogste ag nie, nee, God se Woord is die hoogste gesag – dit is die rigtingwyser vir hulle lewens. As jy dus Joel lees is dit God wat met jou praat en net so was dit God wat met die volk gepraat het deur Sy profeet.
Slaan ag en onthou
Hy roep die volk op om wakker te word en ag te slaan op God se straf wat oor die volk gekom het. Hy roep tot die oudstes om daaraan te dink of die plaag wat hulle tref ooit te vore al hulle of hulle vaders getref het. Daarna roep hy die hele bevolking op om hierdie vraag te beantwoord. Hy wil hê dit wat God doen moet oorgedra word van geslag tot geslag sodat dit nie vergeet word nie. Hy wil hê dat een geslag die volgende moet waarsku dat God nie die sonde van sy volk oorsien of hulle toelaat om in sonde te leef nie. God roep sy volk op om van geslag tot geslag nie net die goeie dinge wat God gedoen het oor te dra nie, maar ook die straf wat God gebring het as gevolg van hulle oortredings.
God se straf is gestuur in die vorm van sprinkane. Die Jode was bekend met sprinkane. In die Hebreeuse taal is daar tien name vir verskillende sprinkane waarvan vier hier deur die profeet gebruik word. Sprinkane was dus deel van hulle lewe en tog was die plaag wat God hierdie keer gestuur het ongekend. Elke ontwikkelingsfase waardeur die sprinkaan gegaan het, het alles wat voor hulle was verorber en daar was geen keer aan hulle verwoesting nie. Hierdie verwoesting was anders as enige vorige jaar. Die lande is leeg en daar is niks om te eet nie. Hoe het dit niemand laat besef dat God besig was om hulle te straf nie? Dit is dieselfde gedagte wat jou tref as jy Paulus se waarskuwing lees aan die Korintiër gemeente en verneem dat Paulus dit duidelik maak dat die siekte van baie en die sterftes in die gemeente ʼn gevolg was van hulle misbruik van die nagmaal. 1Korintiers 11:27-30 Daarom, wie op onwaardige wyse die brood eet of uit die beker van die Here drink, sal skuldig wees teenoor die liggaam en die bloed van die Here. Maar laat elkeen homself ondersoek, en daarvolgens van die brood eet en uit die beker drink. Want die een wat eet en drink sonder om die liggaam van die Here daarin te onderskei, is besig om ‘n oordeel oor homself te eet en te drink. Daarom is daar onder julle baie swakkes en siekes, en ‘n hele paar het reeds ontslaap. Ons het dieselfde vraag as Joel as ons na Paulus luister. Hoe het julle dit nie gesien nie? Miskien is ons grootste probleem as gelowiges vandag dat ons ook nie ag slaan op God se straf en waarskuwings nie. Vra ons onsself ooit af of iets wat in my lewe gebeur nie dalk ʼn straf kan wees, omdat ek volhard in sonde nie.
Straf of toets
Niks in ons lewens gebeur toevallig nie, maar alles is ʼn besturing van die Here. Die vraag moet altyd wees is dit ʼn straf, m.a.w. is ek besig met sonde, of is dit ʼn toets waardeur God wil hê ek moet groei. Die verskil tussen ʼn toets en ʼn straf het te make met my volharding in sonde al dan nie. Vir toetse kan ek dankbaar wees soos Jakobus dit ook duidelik maak. Jakobus 1:2-3 Beskou dit as ‘n groot vreugde, my broers, wanneer allerhande versoekings julle oorval, omdat julle weet dat, as julle geloof getoets word, dit volharding meebring. Straf daarenteen moet droefheid veroorsaak, wetende ek sondig teen ʼn liefde volle Vader wat my in Sy genade terug wil bring en wil red van die sonde wat my wil verwoes. Hebreërs 12:5-6 En julle het die aansporing wat julle as kinders aanspreek, heeltemal vergeet: My seun, moenie die dissiplinering van die Here geringskat nie, en moenie moedeloos word wanneer jy deur Hom bestraf word nie; want die een vir wie die Here liefhet, tug Hy, en Hy straf elke seun wat Hy aanneem. Daarom word ons net soos hierdie eerste hoorders opgeroep om uit ons beswyming wakker te word en ag te slaan op God se waarskuwings.
Tog was dit nie die enigste waarskuwing wat God gestuur het nie. Dit was nie net die plaag nie, maar God het ook hulle vyande teen hulle gestuur. Hy het dit oor Sy land gestuur. Hierdie land waarin hulle woon behoort aan Hom; dit is Sy eiendom. Die wingerde en die vyebome word ook Syne genoem. Hy het dit vir hulle geleen en hulle as bestuurders van sy eiendom aangestel en nou gaan God sy eie eiendom verwoes om die Jode se aandag te kry en hulle op te roep tot bekering. As die straf in hul eie lewens nie genoeg is nie roep die profeet hulle op om te kyk na God se tempel, hulle plek van aanbidding waar daar geen meer offer is wat aan God gebring kan word nie. Daar is geen dier of deel van die oes wat vir God gebring kan word nie a.g.v. God se straf oor die land. Sien julle dit raak! Slaan julle ag daarop!
Droefheid
God roep hulle op om diep bedroef te word aangaande hulle sondes. Hy vergelyk die hartseer wat hulle moet beleef met die van ʼn bruid wat haar bruidegom verloor het en met ʼn roukleed bedek is. Is dit nie die droefheid waarvan Paulus skrywe wat in elke gelowige moet wees wat hom van sy sonde bekeer nie? 2Korintiers 7:10 Want die droefheid, volgens die wil van God, bewerk inkeer, wat tot verlossing lei, en waaroor niemand ooit spyt is nie; maar wêreldse droefheid lei tot die dood. Is dit die droefheid wat jy ervaar as jy in sonde geval het, of het sonde iets geraak wat jy so maklik oorsien en net weer aangaan met jou lewe asof niks gebeur het nie? Die stryd teen sonde word beskryf as ʼn stryd tussen lewe en dood. Hebreërs 12:4 Julle het nog nie ten bloede toe teenstand gebied in julle stryd teen die sonde nie. Joel sê dat die hele volk moet saam kom om te kom treur oor hulle sonde. Almal moet saamkom en hulle toevlug neem na die Here. Daar moet ʼn dag van verootmoediging wees. Van die priester tot die oudstes tot die inwoner van die land moet saam kom en pleit om genade voor God, aangesien hulle moet weet dat alles wat hulle oorgekom het hulle verdiende loën is. Hulle moet weer verlang na die dae van vreugde en vrolikheid in die tempel, toe hulle met opgewondenheid na die tempel gekom het om voor God te verskyn.
Vroegtydige waarskuwing
Die volk moet beslis daarop ag slaan dat daar ʼn dag in die toekoms sal wees wat baie erger sal wees as dit wat hulle nou ervaar. Die dag van die Here waarna verwys word, is die dag van sy wederkoms, die finale oordeel wat sal kom as God op Sy troon sal sit en die wêreld sal oordeel. Dit sal ʼn vreesaanjaende dag wees vir diegene wat in sonde bly leef het. Die Bybel is baie duidelik dat diegene wat in sonde volhard nie ʼn kind van die Here kan wees nie. 1 Johannes 3:8-9 Wie sonde doen, is uit die Duiwel, omdat die Duiwel van die begin af sondig. Hiervoor het die Seun van God verskyn: om die dade van die Duiwel te vernietig. Elkeen wat uit God gebore is, doen nie meer sonde nie, omdat God se saad in hom bly, en hy kan nie meer aanhou sonde doen nie, omdat hy uit God gebore is. Hierdie teks verwys nie na iemand wat sondig en dit bely nie, maar na iemand wat volhard in sonde. In 1 Johannes 1 was dit alreeds genoem dat niemand moet sê dat hy nie sonde doen nie. 1 Johannes 1:8 As ons sê dat ons nie sonde het nie, mislei ons onsself, en is die waarheid nie in ons nie. Dit gaan dus oor ʼn berou en wegdraai van sonde.
Slot
Die profeet ervaar dat die mense nie ag slaan op sy boodskap nie en daarom gaan hy alleen roep tot God. Die hartseer van die profeet se gebed tot God is dat hy erken dat selfs die diere van die veld ʼn smagting het na God a.g.v. die waterstrome wat opgedroog het en die kos wat vernietig is. Het die diere meer insig as die mense van die land? Is daar ʼn groter sugting en verlange na God by die natuur as by die kinders van God? Die Woord van God leer ons dat daar vandag ʼn smagting is in die natuur na die koms van die Here. Romeine 8:20-21 Want die skepping is onderwerp aan ‘n sinlose bestaan, nie uit eie keuse nie, maar deur Hom wat dit daaraan onderwerp het. Die skepping hoop om self vrygemaak te word van verslawing aan die verganklikheid, met die oog op die heerlike vryheid van die kinders van God. Is dit jou verlange en versugting? Doen jy afstand van die sonde en smag jy na Hom meer as na enige iets op hierdie aarde? Indien wel kan jy saam met Johannes uitroep in Openbaring “Kom, Here Jesus!” Openbaring 22:20
